Die Ugandese man wat vlugtelingstatus in Namibië gesoek het omdat hy homoseksueel is en mense van dié ‘minderheidsgroep’ in Uganda vervolg word, het nou in Kanada aansoek om asiel gedoen.
Kris Kelly (21) het verlede jaar daarin geslaag om ’n hofbevel te kry wat Namibië se immigrasie-owerhede verbied om hom uit Namibië te deporteer. Hy het in Desember 2013 homself by die polisiekantoor in Walvisbaai as ’n vlugteling van Uganda aangemeld.
Volgens Namibiese immigrasiebeamptes het Kelly egter eers beweer hy is van Barbados in die Karibiese Eilande afkomstig. Kelly, wat geen identiteitsdokumente het nie, het glo vir die beamptes vertel hy is in Oktober 2013 in Bridgetown, Barbados, deur vyf onbekende mans ontvoer. Dié mans het na bewering vir Kelly op ’n boot gevange gehou totdat hy naby die Namibiese kuslyn van die boot afgespring en ontsnap het.
Kelly beweer egter hy het sy geboorteland, Uganda, in November 2013 verlaat, omdat hy weens sy seksuele voorkeur in Uganda vervolg word.
In sy beëdigde verklaring beweer Kelly Namibiese immigrasiebeamptes het, ten spyte van die hofbevel, hom op 29 November 2014 oor die Namibiese grens na Lusaka in Zambië geneem. In Lusaka is hy glo per vliegtuig na Naïrobi en toe Entebbe in Uganda toe gestuur. Hy beweer die Ugandese owerhede het geweier om hom in die land toe te laat en dat hy teruggestuur is Lusaka toe.
’n Verteenwoordiger van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge (UNHCR) het na bewering vir Kelly in Lusaka besoek en vir hom gesê hy is wederregtelik deur Namibiese owerhede uit die land gedeporteer.
Hy het verlede maand wéér die hoërhof genader vir ’n bevel dat hy uit aanhouding by die polisieselle op Seeis vrygelaat moet word. Kelly het ook die hof gevra om te las dat hy by die Osire-vlugtelingskamp geplaas word, terwyl hy probeer om die besluit om nie vir hom vlugtelingstatus in Namibië te gee nie, uit te daag. Kelly se appèl in April teen dié besluit het misluk.
Kelly se regsverteenwoordiger, Norman Tjombe, het egter gister tydens ’n vlugtige verskyning in die hoërhof vir Republikein gesê dié hofaansoek sal moontlik teruggetrek word. Volgens hom sal die saak eers teruggetrek word sodra Kelly se aansoek om asiel in Kanada aanvaar word en ’n paspoort aan hom uitgereik word.
“Die Namibiese regering wil nie ’n presedent skep dat vlugtelingstatus op die grondslag van ’n persoon se seksuele voorkeer gegee sal word nie. Hoewel ons hierdie stryd nie voltooi het nie, het ons die gesprek begin,” het Tjombe gesê.
Bron: Die Republikein