Peiling wys ANC sal skoonskip maak in meeste provinsies

ipsosDie African National Congress (ANC), sal na verwagting ‘n duidelike meerderheid in ses van die nege provinsies in die komende algemene verkiesing inpalm.

Dit is volgens ‘n onlangse opname wat deur die marknavorsingsmaatskappy, Ipsos gedoen is.

Die opname het bevind dat die Demokratiese Alliansie (DA) waarskynlik die meerderheid stemme sal trek om beheer te hou oor die Wes-Kaap.

Die opname het voorts getoon dat die Demokratiese Alliansie (DA) se steun buite die Weskaap slegs in Gauteng en die Noord-Kaap lê.

Ander opposisiepartye mag egter magsdelingsalliansies oorweeg ten einde hierdie provinsies te beheer wat die DA se kanse verder verskraal.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gelei deur die voormalige ANC-jeugligaleier Julius Malema, kan die amptelike opposisie na die verkiesing in beide Limpopo en die Noord-Wes word.

Meer as 3000 mense het aan die opname deelgeneem. Die opname is tussen 22 Oktober – 21 November 2013 gedoen.

‘Armes kan ook presteer’

Weskaapse skole vol bendes en dwelms
Weskaapse skole vol bendes en dwelms

Die Departement van Basiese Onderwys het woedend gereageer op oproepe van die Demokratiese Alliansie dat ‘n volskaalse oudit van verlede jaar se matriekuitslae gehou word.

Die DA-leier, Helen Zille het gister gesê die regering moet dringend en onafhanklik die geloofwaardigheid van verlede jaar se uitslae en dié van toekomstige matriekeksamens ondersoek.

Die departement voer aan dat die DA, wat die Wes-Kaap beheer, jaloers is omdat ‘n ander provinsie die beste in die eksamen gevaar het.

Die Vrystaat is vanjaar as die beste presteerder aangewys, nadat die Wes-Kaap sedert 2008 die plek beklee het.

Die departement se woordvoerder, Panyaza Lesufi, sê die DA wil nie erken dat arm mense ook goed kan presteer nie. – RSG

ANC maak skoonskip in Tlokwe

tlokweDie ANC het weer beheer oor die Tlokwe-munisipaliteit in Potchefstroom oorgeneem, nadat die DA probeer het om die skyn te skep dat hulle in die kussings sal bly.

Die regerende party het al ses tussenverkiesings gewen. Die tussenverkiesings is gehou nadat die ANC die raadslede afgedank het.

Dié raadslede het gehelp om die burgemeester Maphetle Maphetle vroeër vanjaar uit te stem.

Die voorsitter van die ANC in Noordwes, Supra Mahumapelo het die oorwinnig aan oudpresident Nelson Mandela opgedra.

Hy sê daar was geen manier wat die ANC in Noordwes ‘n situasie sou toelaat waar hy nie in beheer van die Tlokwe-munisipaliteit kan wees nie.

Gaan die VF+ die DA se krisis vermors?

delport_manfred_600

deur Manfred Delport

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

Ai, hoe het ek my verlekker aan die DA se onlangse bontstanery oor rassistiese regstellende aksie!  Laasgenoemde is eintlik ‘n toutologie; daar is geen ander soort “regstellende” aksie as rassistiese regstellende aksie nie, en RA kan net sowel ‘n afkorting wees vir rassistiese aksie. Dit is niks anders as anti-blanke rassisme nie.

Dié herrie het begin toe James Myburgh op Politicsweb.co.za gevra het of die DA pas ‘n koeël deur sy eie brein gejaag het, nádat die DA willens en wetens vir verskerpte rassistiese wetgewing in die parlement gestem het. Die DA se steun vir rassistiese reaksie is terloops nie nuut nie – rassistiese aksie en transformasie word jare lank al deur die DA gesteun, maar die DA het dit stilletjies probeer doen, en met sy stilswye vir die blankes wat soos kalkoene vir Kersfees vir die DA stem, gelieg.

Hierdie keer was dit anders, want skielik het almal daaroor gepraat. Rooi Helen Zille het inderhaas ‘n paar mense oor die kole gehaal. Met geweldige ironie is die verantwoordelikes, beide die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, en die persoon wat die DA se arbeidsportefeulje beklee het, Sej Motau, beide synde onbekwame rassistiese-aksie-aanstellings, aangespreek. Motau is inderhaas herontplooi (lees: “afgedank”). Die blinde sambok piets darem maar seer, of hoe, DA?   Die DA se benadering jeens rassisme is gevolglik onlangs op ‘n kongres bespreek, nádat ‘n warboel onsinnige en teenstrydige boodskappe oor rassistiese aksie die wêreld ingestuur is. Die uitslag van die konferensie was egter dat die DA inderdaad rassisme steun wat op sy eie kiesers gemik is, alhoewel die DA hierdie warm patat vergeefs probeer verdoesel het met vae snert en dubbelpratery soos die volgende: “Ons steun wel rassistiese aksie, maar nie kwotas nie.” Ons almal weet al hoe linkses hulself moedswillig kranksinnig moet hou, en dikwels twee teenstrydige konsepte moet internaliseer, en hierdie is nog ‘n voorbeeld. Apartheid was volgens Rooi Helen ‘n onding, maar rassistiese aksie is sommer in die haak, want blankes is die slagoffers.

Ewenwel, die uitslag van die DA se konferensie was dat rassisme springlewendig in die DA is, en dat die DA in wese die ANC se ganse beleid pens en pootjies sy eie gemaak het. Ek was selfs meer geamuseerd dat ek nêrens op die internet enige noemenswaardige reaksie van Naspers oor die uitkoms van die DA se kongres, en sy amptelike besluit om blankes uit te verkoop, kon lees nie. Naspers het wel oor die aanvanklike herrie kommentaar gelewer, maar oor die amptelike besluit dat anti-blanke rassisme inderdaad DA-beleid is, is Naspers doodstil. Miskien het ek dit misgelees, of miskien was daar iewers ‘n klein beriggie op bladsy 15 van een of ander Nasperskoerant, maar Naspers het hard probeer om hierdie ganse petalje te ignoreer. Naspers wil duidelik nie sy lesers laat begryp dat ‘n DA-regering net so rassisties soos ‘n ANC-regering sal wees nie. ‘n Dom en oningeligte leser is klaarblyklik ‘n goeie Naspersleser.

Twee persone wat in ekstase hoort te wees oor die DA se uitverkopery van blankes, is dr Pieter Mulder en adv Anton Alberts. Rooi Helen het aan die VF+ ‘n gulde geleentheid gebied met haar ongeërgde aanbeveling dat blankes wat nie hou van rassisme wat op ons gemik is nie, gerus vir ‘n ander party kan loop stem. Rooi Helen het ook terloops laat val dat die DA meen dat rassistiese aksie “slegs vir een geslag” (maw sowat 30 jaar) nodig sou wees.

Wat ‘n droom vir die VF+! Jou hoofopponent sê prontuit dat haar party nog minstens vir 30 jaar rassisme teen jou kernkiesers en hul kinders sal pleeg, en sy nooi blankes wat nie van anti-blanke rassisme hou nie, prontuit uit om vir iemand anders te gaan stem.

Gaan die VF+ hierop kapitaliseer, en hóé gaan hy hierop kapitaliseer? Tot op hede was die VF+ maar versigtig met sy uitsprake oor rassistiese aksie, maar dit het hom niks in die sak gebring nie, siende dat sy steun met elke verkiesing afneem. Die VF+ kan nou gerus die handskoene uittrek en rassistiese aksie trompop loop – hy het niks om te verloor nie.

Daar is verskeie maniere waarop die VF+ myns insiens uit hierdie wonderlike geleentheid munt kan slaan. Die voor-die-hand-liggende manier is om ‘n aggressiewe veldtog tydens die 2014-verkiesing te loods, wat die DA se achillieshiel, rassistiese aksie, aggressief en moedswillig teiken. Ek kan nou al die plakkate sien: “RA = Rassisme!” en “Die DA steun anti-blanke rassisme” en “Nee vir Rassistiese Aksie!” ensovoorts.

Daar is ook ‘n geleentheid om die VF+ se krimpende steun om te swaai, met potensiaal vir groei in twee nuwe teikenmarkte: Die Engelse blankes en die jonger werkende blankes. Ek verstout my om te sê dat die VF+-kieser se demografiese profiel meestal uit ouer blanke Afrikaners bestaan. Die groot meerderheid Afrikaners en blanke Engelssprekendes word egter verenig deur ‘n intense wrokkigheid oor rassistiese aksie, en ‘n oorweldigende meerderheid van beide Afrikaners en Engelse beskou RA as blote anti-blanke rassisme en diskriminasie. Daar is sekerlik baie van hierdie Engelse blankes wat swaar sluk aan die DA se rassisme. Ek wonder of dit nie wys sou wees om ‘n Engelssprekende persoon in ‘n senior pos in die VF+ aan te stel, en om hom baie lugtyd in die media as VF+ -spreekbuis te gee nie. Ek besef daar sou diegene wees wat voel dat die VF+ se kernmark eintlik Afrikaners is wat die volkstaatgedagte steun, maar deesdae hoor mens ook niks oor die volkstaat by die VF+ self nie, en moontlik is dit tyd om bietjie meer innoverend te dink.

Die tweede groei-area is jong, werkende blankes. Die VF+ doen reeds goed onder die blanke jeug – sy politieke studente-organisasies vaar goed op kampusse –  maar ek dink spesifiek hier aan jonger mense, in hul twintigs en dertigs, wat nie noodwendig baie begaan is oor ‘n volkstaat of Afrikaanse taalbelange nie, maar wat minder gelukkig is met Rooi Helen se dreigemente dat die DA minstens nog vir 30 jaar rassisme teen hulle sal pleeg. Die VF+ kan hom gerus daarop toespits om by elke moontlike geleentheid die boodskap by jong blankes tuis te bring dat ‘n stem vir die DA neerkom op ‘n stem téén jong werknemers se eie toekomstige professionele lewens.

Ek hoop terdeë dat die sinieses onder ons, wat beweer die VF+ verkeer in ‘n gemaksone, is verkeerd, en dat die VF+ hierdie geleentheid met albei hande sal aangryp. Dit sou ‘n sonde wees om hierdie DA-krisis te vermors.

[followbutton username=’ManfredDelport’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Volg Manfred op Facebook.

DA sal op benadeling van net een rassegroep fokus

Lindiwe Mazibuko
Lindiwe Mazibuko

Leiers van die Demokratiese Alliansie het Sondag na sy beleidskonferensie die noodsaaklikheid vir rasbeleid beklemtoon ten einde die “nalatenskap van apartheid” reg te stel.

By ‘n perskonferensie in Kaapstad, het die DA -leier, Helen Zille gesê die party erken dat daar “beduidende korrelasie tussen ras en benadeling” is, en dat haar party “onomwonde” die behoefte aan “regstelling” ondersteun.

Zille en ander partyleiers, het gesê die beleidskonferensie die naweek het beklemtoon dat “ras ‘n grondige rede” vir benadeling is. Dit beteken die ras van die benadeeldes – waarvan almal swart is – kan vrylik erken word.

Die party het voorgestel dat die groeiende rassedruk van binne die party duidelik geïdentifiseer word en verteenwoordig word in beleid. Maar Zille het ontken dat die debat “rasgedrewe” was.

“Daar was nie onmin of rassepolarisasie oor die kwessies nie,” het sy gesê. Daarmee het Zille te kenne gegee dat wit DA-leiers nie beswaar gemaak het teen die swart rassebeleid wat die party tans omhels nie.

Die DA het tradisioneel staatgemaak op ‘n rasblinde benadering tot ontwikkeling, waar die regering se doeltreffendheid en ‘n kultuur van vrye onderneming benadruk is, en sou lei tot die opheffing van armes.

Terwyl Zille die dramatiese ommeswaai in die party se beleidsrigting probeer onderspeel het, het die parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko haar kans waargeneem om die belang daarvan te beklemtoon.

Sy het gesê die erkenning van “ras” as ‘n belangrike filter in die DA se benadering tot regstelling sal voortaan hul beleid bepaal.

“Ek dink die groot ding wat uit die Federale Raad gekom het het in terme van leierskap was die vraag of die DA ras as ‘n wettige plaasvervanger vir benadeling aanvaar … en die antwoord was ‘ja’.”

Daar was berigte in die aanloop tot die konferensie dat swart lede van die Swart Koukus ‘n rassebeleid voorstaan.

Dit is na dese nie meer duidelik waar die party se benadering verskil van die ANC s’n nie.

“Ons uitdaging is om die balans tussen die behoefte aan rasseregstelling en ons verbintenis tot nie-rassigheid te behou,” het Zille erken.

 

Swart Koukus druk wit DA-leiers oor BSEB

Vasgevang in haar eie rasseteenstrydighede
Vasgevang in haar eie rasseteenstrydighede

Die Demokratiese Alliansie se beleidskonferensie sal vandag in Kaapstad begin te midde van groot spanning oor BSEB (Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging).

Groot verwarring oor die DA se beleid oor regstellende aksie heers binne en buite die party. Die DA het verlede week in die Nasionale Wetgewer ten gunste van die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Geleenthede gestem, net om daarteen te stem in die Nasionale Raad van Provinsies.

Khume Ramulifho, die DA se Suid- Gautengse streeksvoorsitter, het gesê daar is beleidsrigtings wat aanpassing verg, insluitend dié wat met grondhervorming, ekonomiese bemagtiging en regstelling te make het.

Die party se “Swart Koukus” voel die beleid word deur ‘n paar wittes bepaal en nie deur die mense op grondvlak nie. Hulle voel ook dat sulke rigtings nie bindend behoort te wees nie.

‘n Ander lid van die Koukus sê hy ondersteun [die BSEB-wetsontwerpe] want hy “is ‘n slagoffer” in die DA. “Ek ondersteun die DA omdat ek gedink het hulle is bewus van die uitdaging,” het hy gesê.

“Ons [swartes] is bewus van die onreg van die verlede. Jou gewete kan dus nie die feit ontken dat ons iets moet doen vandag as deel van die regstelling nie.

Masizole Mnqasela, ‘n LP en federale lid wat Khayelitsha verteenwoordig sê: “Mense moet toegelaat word om individueel te stem, gelei deur hul eie gewete oor hierdie wetsontwerpe. Ons moet nie ‘n partyposisie hê daaroor nie, want ek word nie goed verteenwoordig wanneer een sê dat hy diensbillikheid ondersteun nie.”

Mnqasela wil ook dat die DA sy energie fokus op BSEB.

“Ons het nog baie min swart miljoenêrs, in teenstelling met wit miljoenêrs, so ons moet nie bekommer daaroor dat swartes miljoenêrs word nie. Hoekom moet ons bekommerd wees wanneer ‘n swart persoon ryk word?”

Hy beskou BSEB as die “beenmurg” wat sal bepaal of die DA in die toekoms sal groei of vergaan.

Twintig beleidsrigtings sal bespreek word. Dit wissel van onderwys en ekonomiese groei tot gesondheid.

Tweehonderd afgevaardigdes van regdeur die land sal die konferensie bywoon.

Die federale voorsitter, Wilmot James sê die beleidskonferensie moet sy standpunt oor BSEB opklaar.

Zille veroordeel vir minagting van parlement

Pierre Uys
Pierre Uys

Opposisiepartye in die Wes-Kaapse parlement het die premier, Helen Zille se besluit om nie Donderdag ‘n vraagsessie by te woon nie, veroordeel.

Die ANC sê Zille toon minagting vir die parlement.

Die ANC se hoofsweep, Pierre Uys sê hulle is geen rede gegee vir Zille se afwesigheid nie.

Uys sê Zille kan nie rigting of leierskap verskaf indien sy nie daar is om haar party se beleid bekend te maak of vrae van die opposisiepartye te beantwoord nie.

Zille se woordvoerder, Zak Mbhele sê egter sy moes ‘n belangrike geleentheid in Gauteng bywoon, en sal vrae beantwoord by die volgende sessie. – RSG

DA-raadslid vas vir bedrog

sassaDie Burger berig dat ’n DA-raadslid vasgetrek is vir bedrog met maatskaplike toelae.

Die DA het gesê hulle sal eers kommentaar lewer nadat hulle ‘n “eie ondersoek” gedoen het.

Die ANC het Toko se bedanking geëis, en sê bedrog steel die armes se “brood uit hul monde“.

Michael Sandile Toko (61) van Delft is Woensdag deur die Valke by sy huis in hegtenis geneem en het Donderdag in die Bellville-landdroshof op ’n aanklag van bedrog verskyn.

Toko wat sowat R400 000 per jaar verdien, het Donderdag om regshulp aansoek gedoen. Hy het benewens sy salarsis ook ‘n selfoon- en reistoelaag ontvang.

Hy het glo voorgegee dat hy werkloos is en by die regering om ’n maatskaplike toelaag aansoek gedoen.

Dit is goedgekeur en Toko het glo die laaste paar maande sowat R30 000 aan toelaes ontvang.

Die saak teen Toko is tot 22 November uitgestel. Hy is uit op borgtog.

DA se mediadekking neem met byna 40% toe

Politieke ontrimpeling...
Politieke ontrimpeling…

Die African National Congress het ’n groot deel van hul mediadekking aan veral die DA verloor, ’n jaar voor die algemene verkiesings.

Volgens ’n opname deur die medianavorsingsmaatskappy Media Tenor het Julius Malema se nuwe politieke party, die Ekonomiese Vryheidsvegters, en ’n verbetering aan die dekking vir die Demokratiese Alliansie tot die afname in dekking in die druk- én TV-media gelei.

Die grootste deel van die gedrukte media sowel as DSTV behoort aan Suid-Afrika se mediamonopolie, Naspers.

Volgens ’n navorser, Stephano Radaelli, moet Agang SA eintlik bekommerd wees, “want dié party bly taamlik onsigbaar vir die media in vergelyking met ander politieke partye”.

Die resultate van die opname is gegrond op ’n ontleding 119 005 berigte of verklarings oor die land se politieke partye in 47 toonaangewende druk- en TV-nuusprodukte vanaf 1 Januarie tot 30 September 2013.

 Die DA het ’n toename in dekking tot 37% gekry en die ANC staan op 52%. Die EFF het 3%. – Sapa

Die blou Malema

zilleberetVolgende jaar se verkiesing kan ‘n geval van wees van wat die jongste politieke bykomstighede is om die massas mee te beïndruk.

Julius Malema en sy Ekonomiese Freedom Fighters (EFF) het bekend geword vir hul rooi barette, maar Saterdag was dit die DA-leier Helen Zille se bloue wat vir opwinding gesorg het.

Duidelik verwar Zille haar rol as politikus met dié van ‘n vermaaklikheidspersoonlikheid soos Lady Gaga wat skares met haar aandagsugtige, leë manewales meevoer.

Die baret is lank reeds die verkose hoofbedekking van revolusionêre, swart ousies, intellektuele, Beatniks, militêre spierpaleise en les bes, die Franse.

Ché Guevara was die beroemde gesig wat ‘n swarte verkies het. Pablo Picasso het by dieselfde kleur as die Latyns-Amerikaanse kommunis gehou.

Die Amerikaanse spesiale magte dra groen. Die VN-vredesmagte dra ligblou. En ons eie plaaslike hanswors Juju, het vir syne rewolusionêre rooi gekies.

Zille, wat verlede week in Mitchellsplein vir die bekendstelling van haar party se veldtog opgedaag het om kiesers aan te moedig om te registreer, het soos ‘n wafferse Malema die verhoog met ‘n blou mus bestyg.

Vol van dieselfde rewolusionêre ywer van ‘n paar weke gelede toe sy vlamme gespuug het oor die “ongelykheid wat apartheid-onderwys geskep het”, het sy vir een vrou in die skare geskree: “Joune is ‘n Halaal-baret!”

“Ons moet almal barette kry,” het sy ernstig gesê.

Haar roerende politieke boodskap het heeltemal met die DA se etos gestrook: “Het jy [die pop -ster] Rihanna in die koerante hierdie week gesien? Sy dra blou lipstick. Sy weet hoe om voor die mode te bly. Ons moet almal blou lipstick kry. Die hele wêreld word blou.”

Dié diepsinnige politieke insigte het sy in Afrikaans oorgedra, in weerwil van haar party se geswore eentaligheid, waarskynlik uit vrees dat dit op Engels vir haar gehoor sou verlore gaan.

Sy het egter moeite gedoen om in Engels te verduidelik dat die DA se promosievideo’s wat by die geleentheid vertoon is, nie “blue movies” is nie.

Zille en partyleiers Ivan Meyer, Lindiwe Mazibuko en Yusuf Cassim het die skare van ongeveer 1 000 mense aangemoedig om te registreer om te stem. Meyer, wat leier van die DA in die Wes-Kaap is, het gesê die party is op soek na 30 persent van die nasionale stem.

Hulle wil volgende jaar die Wes-Kaap, Gauteng en die Noord-Kaap inpalm, ongetwyfeld om Suid-Afrika se modesin te verbeter ten einde mee te ding met dié van Juju, asook die gelykheid van vreemde kleur lipstiffies te bevorder.

Niekie van den Berg speel Afrikaners af teen bruines

Niekie van den Berg
Niekie van den Berg

deur Danie Langner

Net ʼn kort voetnota oor Niekie van den Berg wat in vandag se Beeld dit nodig gevind het om Afrikaners sleg te sê en af te speel teen bruin Afrikaanssprekendes. Dit is die diepte van kulturele denke en strategiese insig van hulle skadu-minister vir kultuur wat my ernstig laat wonder oor die DA se vermoë om ʼn billiker bedeling vir Afrikaners te bring as hulle miskien eendag sal regeer.

In Augustus was ek saam met ʼn afvaardiging van die ATR by die parlement om juis met die DA gesprek te voer oor hulle moedswillige verwaarlosing van Afrikaans. Dit was ʼn erg flouerige vergadering wat maande later nog niks opgelewer het, anders as ʼn lekker ete. Die humor van die dag was toe daar oor en weer gestry is oor wie het nou “agter die skerms” die grootste bydrae gelewer om die swakkerige talewet met die ANC te beding.

In die vergadering het ek teenoor die voorsitter die opmerking gemaak dat kiesers meer verwag van die DA as blote partypolitiek. ʼn Party wat skadu-ministers aanstel en eendag die land wil regeer behoort in woorde, dade en beleid te kan toon watter alternatiewe regering hulle vir Suid-Afrikaanse burgers bied. Na hierdie tweede Afrikanerblaps in een jaar dink ek die DA gaan nie vir ʼn minderheid soos die Afrikaner ʼn beter bedeling bied nie. Ironies genoeg is dit hierdie mense wat die skadu-minister so lelik vloek oor die foon wat die meeste vir hom stem.

Op ʼn ander plek in vandag se Beeld is daar ʼn mooi artikel waar Tutu in Swellendam gesê het Afrikaners is wonderlike mense. Dit is seker die verskil tussen ʼn staatsman en ʼn politikus.

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK.

City Press redaktrise met verlof oor rassisme

haffajee
Ferial Haffajee

Die redaktrise van City Press, Ferial Haffajee, is tans met verlof te midde van ʼn rassisme-debakel by die koerant, het die Sunday Independent berig.

“Julle bitsige redaktrise is met verlof. Dit sal julle in staat stel om die vure wat ek begin het te blus,” het Haffajee glo aan die koerant gesê.

Haffajee het in ʼn brief aan haar personeel om verskoning gevra en gesê sy kyk nou vorentoe. Dit kom nadat daar glo ʼn uitval tussen Haffajee en van haar personeel was oor “swart-teen-wit-rassisme”.

Haffajee het vroeër die week op Twitter geskryf: “Ek duld nie wit rassiste nie, so wat maak swart rassiste enigsins anders? Vandag trek ek ʼn streep in die sand. Twee kante: een aaklige munt.” Van die koerant se joernaliste wil nou glo strafregtelike klagte teen Haffajee aanhangig maak nadat hulle haar van rassisme beskuldig het.

Die joernaliste het ook die koerant daarvan beskuldig dat die publikasie te veel daarop fokus om stories te doen wat kap na president Jacob Zuma, maar nie na die Demokratiese Alliansie (DA) nie. 

Hulle beskuldig Haffajee daarvan dat sy nie swart nuusredakteurs met politieke kontakte wil aanstel om stories vanaf ʼn “swart perspektief” te vertel nie. 

Haffajee het beswaar gemaak teen die “rassistiese aanvalle” op haar drie nuusredakteurs. Sy het die joernaliste daarvan beskuldig dat hulle rassisties is en hulle ʼn week gegee om te besluit of hulle steeds by die koerant wil werk. Haffajee sê egter dat die koerant sterker aan die ander kant sal uitkom. 

Sy het aan personeellede die versekering gegee dat daar niks buitengewoon is aan die uitval nie aangesien sulke insidente dikwels voorkom. ʼn Interne ondersoek is intussen by die koerant van stapel gestuur. – Sapa

DA en ANC stem vir baie strenger regstellende aksie, SEB

Adv. Aton Alberts van die Vryheidsfront verduidelik hoe die DA “die minderhede verraai” het en die aandeelhoudingsvereiste vir “SEB-punte” van 25% tot 40% opgestoot het. Die party ondersteun nou openlik ANC-beleid oor regstellende aksie deur in die parlement en in komitees daarvoor te stem.

DA sal nie e-tol afskaf in Gauteng nie

zillezuma2Die DA sal nie die e-tolstelsel afskaf nie, al neem die party beheer van Gauteng in 2014 na die verkiesing.

Die DA sê hoewel hy teen e-tol gekant is en hard teen die inwerkingstelling van die omstrede stelsel baklei, sal dit nie gekeer kan word in Gauteng nie.

Die leier van die party, Helen Zille het dié stelling gemaak tydens ‘n geleentheid by die Johannesburg-buiteklub.

Sy sê dit is moeilik om kontrakte wat deur die ANC aangegaan is, ongedaan te maak.

Zille het gesê dat die DA versigtig is ná die onlangse terugslag wat die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol in die Appèlhof in Bloemfontein toegedien is, nadat die party R1 miljoen verloor het.

Die DA steun die oprigting van ‘n soortgelyke e-tolstelsel in die Wes-Kaap as in Gauteng.