City Press redaktrise met verlof oor rassisme

haffajee
Ferial Haffajee

Die redaktrise van City Press, Ferial Haffajee, is tans met verlof te midde van ʼn rassisme-debakel by die koerant, het die Sunday Independent berig.

“Julle bitsige redaktrise is met verlof. Dit sal julle in staat stel om die vure wat ek begin het te blus,” het Haffajee glo aan die koerant gesê.

Haffajee het in ʼn brief aan haar personeel om verskoning gevra en gesê sy kyk nou vorentoe. Dit kom nadat daar glo ʼn uitval tussen Haffajee en van haar personeel was oor “swart-teen-wit-rassisme”.

Haffajee het vroeër die week op Twitter geskryf: “Ek duld nie wit rassiste nie, so wat maak swart rassiste enigsins anders? Vandag trek ek ʼn streep in die sand. Twee kante: een aaklige munt.” Van die koerant se joernaliste wil nou glo strafregtelike klagte teen Haffajee aanhangig maak nadat hulle haar van rassisme beskuldig het.

Die joernaliste het ook die koerant daarvan beskuldig dat die publikasie te veel daarop fokus om stories te doen wat kap na president Jacob Zuma, maar nie na die Demokratiese Alliansie (DA) nie. 

Hulle beskuldig Haffajee daarvan dat sy nie swart nuusredakteurs met politieke kontakte wil aanstel om stories vanaf ʼn “swart perspektief” te vertel nie. 

Haffajee het beswaar gemaak teen die “rassistiese aanvalle” op haar drie nuusredakteurs. Sy het die joernaliste daarvan beskuldig dat hulle rassisties is en hulle ʼn week gegee om te besluit of hulle steeds by die koerant wil werk. Haffajee sê egter dat die koerant sterker aan die ander kant sal uitkom. 

Sy het aan personeellede die versekering gegee dat daar niks buitengewoon is aan die uitval nie aangesien sulke insidente dikwels voorkom. ʼn Interne ondersoek is intussen by die koerant van stapel gestuur. – Sapa