Die buitestaander deur Albert Camus

DIE BUITESTAANDER is 'n klassieke roman uit die twintigste eeu wat 'n hele geslag Afrikaanse skrywers en lesers in die vyftiger- en sestigerjare beïnvloed het. Jan Rabie se keurige vertaling uit die oorspronklike Frans het self reeds klassieke status verwerf en is nou opnuut beskikbaar nadat dit jare lank 'n gesogte item in tweedehandse boekwinkels was. Die begrip "buitestaander" het ná Camus se roman deel geword van die internasionale woordeskat in vele tale, ook in Afrikaans. Meursault is iemand wat die wêreld op 'n onbetrokke manier beleef en sonder dat hy werklik enige besluite neem, ingesleep raak by 'n konflik tussen blanke Franse en Arabiere in die dae toe Algerië nog 'n Franse kolonie was. Selfs wanneer hy van moord aangekla word, ervaar hy alles wat met hom gebeur as natuurlik, byna vanselfsprekend. DIE BUITESTAANDER is sekerlik een van die aangrypendste romans wat daar ooit geskryf is, veral die grootse einde waar Camus se filosofie van "absurde vryheid" verwoord word. Vir die Afrikaanse leser bevat dit die bykomende bekoring dat dit op die Afrikakontinent, weliswaar in die Noorde, afspeel. Ook die amorele manier waarop die rasse- en kultuurkonflik tussen blankes en Arabiere uitgebeeld word, is tydloos. Die briljante wending in die tweede helfte van die boek waar Meursault se hele geskiedenis skielik in 'n nuwe lig geïnterpreteer word, kan selfs as 'n gelykenis van politieke en morele skuld gelees word, wat aansluit by die Afrikaner se eietydse problematiek.

Albert Camus het in 1957 die Nobelprys vir letterkunde ontvang. Hy is in 1913 in Algerië gebore as seun van Franse en Spaanse ouers. Ná sy skoolopleiding gaan vestig hy hom in Parys waar hy een van die leidende "eksistensialistiese" intellektuele word. Gedurende die Duitse besetting van Frankryk in die 1940s speel hy 'n aktiewe rol in die weerstandsbeweging en word redakteur van die ondergrondse koerant Combat. Ná die oorlog verbreek hy sy vriendskap met Jean-Paul Sartre a.g.v. laasgenoemde se steun vir kommunisme. In 1960 kom hy in 'n motorongeluk om.

Kies die opsie vir SA pos met opsporing teen R22,80 as u bestel.

As u navraag het of probleme ondervind, kontak ons gerus by inlig@praag.org.

Quantity

Price: ZAR150.00

Shipping: ZAR22.80

Loading Updating cart...

People who bought this item also bought