Miljarde Namibiese dollar vloei na Noord-Korea

Die regering van Namibië het klaarblyklik hegte bande met Noord-Korea.

Die vermoede bestaan dat dié vriendskap om Namibië se uraanneerslae gesmee is.

Namibiese dollar, miljarde daarvan, vloei jaarliks uit die staatskas na die Noord-Koreaanse wapenvervaardiger KOMID se verskansingsmaatskappy, Mansudae Overseas Project Group of Companies.

Dié belegging is gemaak in weerwil van ‘n Veiligheidsraad-resolusie wat bepaal dat alle lidlande van die VN bates van individue en maatskappe betrokke by Noord-Korea se wapenprogramme bevries.

Trouens, nie alleen verontagsaam Namibië die Veiligheidsraadresolusie nie, maar twee van KOMID se base woon ondanks die reisverbod teen hulle, in Namibië.

Noord-Korea is weens sy kernarsenaal deur wêreldleiers veroordeel, maar die Namibiese regering verkies om diplomatieke betrekkinge vol te hou.

Dit is nie seker hoe Namibië se belegging in KOMID die SAOG-streeksooreenkomste soos SIPO II betreffende veiligheid in Suider-Afrika raak nie.

Noord-Korea se leier, Kim Jong-un, se verbintenis aan kernwapens en herhaaldelike dreigemente om dit aan te wend, is rede tot kommer.

 

Veiligheidsraad sit oor Israeliese besetting

Palestynse betogers het Dinsdag brandende motorbande opgestapel tydens ’n betoging teen die ont­eiening van Palestynse grond, het AFP berig.

Die stuk grond is deur Israel in die Kafr Qaddum-nedersetting naby Nablus in die besette Wesoewer-gebied­ teruggevat.

Onderhandelinge tussen Israel en Palestina om ’n blywende skikking oor Gaza te bereik, sal eers na die middel van November­ hervat word.

Dit was aanvanklik vir Dinsdag geskeduleer.

Die VN Veiligheidsraad sal nog dié week ‘n noodvergadering hou oor die spanning tussen Israel en die Palestyne in Oos-Jerusalem as gevolg van Israel se plan om meer nedersettings te bou.

Die vergadering is geskeduleer vir Woensdagmiddag, in reaksie op ‘n versoek deur Jordanië aan Argentinië se VN-ambassadeur Maria Cristina Perceval, roterende voorsitter van Veiligheidsraad hierdie maand.

Jordanië, die enigste Arabiese land op die raad van 15 lande, het Palestynse klagtes oor die gevaarlik stygende spanning in Oos-Jerusalem geopper.

Die e-posversoek is gesien deur Reuters.

Nuwe anti-Amerikaanse lede vir Veiligheidsraad

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies sal Donderdag bykomende lede verkies vir vyf setels in die raad van 15 lede.

Die 193 lede van die Algemene Vergadering sal die nuwe lede aanwys wat op 1 Januarie 2015 hul poste sal opneem.

Die verkose lande sal aansluit by die vyf permanente lede, Brittanje, China, Frankryk, Rusland en Amerika en sal twee jaar lank verteenwoordig word.

Die lande wat waarskynlik verteenwoordiging sal kry is Angola, wat deur Afrika voorgestel is, Venezuela wat deur Latyns-Amerika voorgestel is, en Maleisië wat deur Asiatiese moondhede benoem is.

Dié drie sal die leë stoele van Argentina, Rwanda en Suid-Korea vul.

Spanje, Turkye en Nieu-Seeland sal sake uitspook vir die ander twee setels wat tans deur Australië en Luxemburg gevul word.

Met die moontlike toetrede van Turkye en Maleisië, tesame met Tsjad en Jordanië reeds op die Raad, sal dit die eerste keer in sy geskiedenis wees dat vier Moslem lande verteenwoordig word.

Baie aandag is gefokus op Venezuela se deelname en die aanstelling van wyle president Hugo Chavez se dogter, Maria Gabriela, as adjunk-ambassadeur by die Verenigde Nasies. Na verwagting sal Venezuela teen Anglo-Amerikaanse resolusies opstaan.

As die hoogste besluitnemingsliggaam van die Verenigde Nasies, kan die Veiligheidsraad sanksies op lande en individue instel, verdagtes vir oorlogsmisdade vervolg, vredesooreenkomste bekragtig en die gebruik van geweld magtig.

Die Veiliheidsraad hou ook toesig oor 16 vredesendings in die wêreld, met ‘n begroting van byna $8 miljard.

Swart SA jeugaktivis in Marokko aangehou

Die Departement van Internasionale Betrekkinge sê die Suid-Afrikaanse jeugaktivis en skrywer, Malaika Mahlatsi, wat na bewering in Marokko in hegtenis geneem is, is net vir ‘n “kort rukkie” op die lughawe in Cassablanca aangehou.

Mahlatsi het onlangs die Marokkaanse regering gekritiseer weens hul houding teenoor die onafhanklikheidstrewe van die Wes-Sahara.

Die departement beweer sy en ander het sonder visums in die land aangekom.

Mahlatsi se ma het egter gesê dat die visa-kwessie nie sin maak nie, want haar dogter reis as ‘n lid van die AU wat haar reisagenda bepaal. Marokko is nie deel van die AU nie.

“Malaika is baie versigtig oor die beeld wat sy uitstraal. Dit is nie moontlik nie. Sy is altyd op reis. Die AU reël altyd hulle reise,” het haar ma gesê.

Mahlatsi is verbied om oproepe te maak en die departement het glo eers 24 uur later van die inhegtenisname verneem.

Haar moeder het gesê sommige amptenare by die departement het haar ingelig dat hulle die saak probeer oplos en dat hulle met die minister vergader het.

‘n Woordvoerder van die Departement, Clayson Monyela, sê hulle het probeer om met Mahlatsi se familie in aanraking te kom.

Monyela het gesê volgens die Suid-Afrikaanse sending in Marokko is sy nie in hegtenis geneem nie.

Sy en haar geselskap het sonder visums uit die Verenigde Arabiese Emirate in die land aangekom en gesê hulle is in die land om ‘n konferensie by te woon.

Die Marokkaanse owerhede het hulle toe op die lughawe aangehou terwyl hulle met die organiseerders van die konferensie in verbinding was om vas te stel of hulle wel gaste by die konferensie is.

Intussen het die ANC-jeugliga ‘n beroep op die Marokkaanse regering gedoen om haar vry te laat.

“Die ANC-jeugliga hoop dat die regering van Marokko nie Malaika vir haar siening aanhou nie. Ons kan geen ander geloofwaardige of regverdigbare rede vir die onregverdige optrede vind nie.”

Die liga het gesê Mahlatsi is bekend as ‘n uitgesproke jong persoon wat onlangs haar mening uitgespreek oor die Marokkaanse regering en die onafhanklikheid van die mense van die Wes-Sahara.

“Ons het ook ‘n beroep op ons regering gedoen om haar onmiddellike vrylating te eis.”

Palestyne nader Veiligheidsraad oor Israeli-onttrekking

Die Palestyne het die VN Veiligheidsraad versoek om ‘n sperdatum in te stel vir Israel om uit die besette gebiede te onttrek.

Die sperdatum sal vir November 2016 wees vir Israelse magte om uit alle gebiede wat sedert 1967 deur hulle beset word, te onttrek.

‘n Voorlopige resolusie in dié verband is aan alle Veiligheidraadslede gestuur.

Die Palestyne eis dat ‘n besluit oor die status van Jerusalem as die hoofstad van twee state geneem word.

Hulle het ook gevra dat die Palestynse vlugtelinge-kwessie aandag kry.

Die Palestynse president, Mahmoud Abbas het verlede Vrydag aangekondig dat hulle ‘n versoek vir ‘n sperdatum sal indien.

Zuma vra VN om Palestynse kwessie op te los

President Jacob Zuma sê die mislukking van die Verenigde Nasies om die Israel-Palestynse konflik op te los, het die oproep vir die hervorming van die VN se Veiligheidsraad verskerp. Hy het die Algemene Vergadering van die VN in New York toegespreek.

President Jacob Zuma het die rol van die Verenigde Nasies in die ondersteuning van die stryd van selfbeskikking en vryheid as “merkwaardig” beskryf. Hy het Suid-Afrika as ‘n skitterende voorbeeld uitgesonder.

Zuma het gesê Suid-Afrikaners is bewus van ‘n historiese en morele verantwoordelikheid in die globale stryd teen rassisme, rassediskriminasie en ander vorme van onverdraagsaamheid.

Hy het na die Durban-verklaring verwys as die “primêre raamwerk” in die stryd teen rassisme.

Hy het gesê Suid-Afrika sal daarom voortgaan om die stryd vir vryheid en selfbeskikking te ondersteun vir die Palestyne en Wes-Sahara wat steeds onder kolonialisme gebuk gaan.
  
Hy het daarop gewys dat die Israeli-Palestynse kwessie een van die oudste items op die VN-agenda is, maar geen vordering toon nie.

Zuma het die onlangse “verwoestende konflik wat ‘n humanitêre krisis van skokkende afmetings gelaat het” skerp veroordeel.

Hy het gesê die Palestyne is dakloos gelaat, met geen mediese geriewe, geen veilige drinkwater, en geen sorg vir die gewondes nie, na die vernietigende militêre optrede deur Israel.

SA: Hervormde Veiligheidsraad sal vrede en veiligheid verbeter

Suid-Afrika het onderneem voort te gaan om die hervorming van die VN tydens ons land se deelname aan die sitting van die VN se Algemene Vergadering, op die agenda te hou. President Jacob Zuma sal die afvaardiging na die jaarvergadering in New York lei.

Die vergadering sal die vordering bespreek wat gemaak is met die bereiking van die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte voor die sperdatum van 2015, waarby ontwikkelende lande veral kan baat.

President Zuma sal die sitting van die wêreldliggaam met ten minste agt ANC-ministers in New York bywoon. Dit sal die 69ste sitting van die VN se Algemene Raad wees op die vooraand van dié instelling se 70ste herdenking.

Dit sal die 15de herdenking van die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte vir 2015 wees.

Zuma het gesê dat ontwikkeling en veiligheid twee kante van dieselfde munt is. Die Veiligheidsraad moet onder die indruk gebring word dat probleme sal voortduur tensy die VN hervorm word.

Die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad verskil tans oor die hantering van belangrike veiligheidskwessies in Sirië en Irak.

Suid-Afrika het gesê ‘n hervorming van die VN se Veiligheidsraad sal daartoe lei dat sulke kwessies vinniger opgelos word.

Suid-Afrika het wêreldleiers ook versoek om internasionale vrede en veiligheid hoog op die sakelys vir die komende sitting van die VN se Algemene Vergadering te plaas.

Die Minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, het voor die vergadering aan die SAUK gesê wêreldvrede en ontwikkeling is onderling vervleg.

Argentinië, Egipte smee opnuut bande

Die Argentynse minister van buitelandse sake Hector Timerman het besoek gebring aan Egipte met ‘n groot sake-afvaardiging waar hy verlede naweek met president Al-Sisi en Sameh Shoukry, die minister van buitelandse sake ontmoet het.

Die samewerking tussen die twee lande het ‘n lang geskiedenis, sedert die regerings van Juan Peron in Argentinië en Gamal Abdel Nasser in Egipte na die Tweede Wêreldoorlog ontmoet het.

Shoukry het trots gesê dat sy pa in die eerste regering van Peron ambassadeur in Buenos Aires was. Hy sal Argentinië in 2015 besoek. Die minister van buitelandse sake het beklemtoon in ‘n gesamentlike verklaring van beide lande dat hulle moet saamstaan teen roofkapitaliste.

Timerman het die Egiptenare in die besonder bedank vir steun met die skuldresolusie tov Argentinië by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering op 9 September.

President Al-Sisi en Timerman het ook oor Argentinië se belangstelling in die “groot potensiaal” van Egiptiese landbou en landbou-tegnologie samesprekinge gevoer, asook die samewerking wat kerntegnologie betref. Die Argentynse maatskappy INVAP is reeds werksaam in Egipte.

Daarbenewens het Timerman met die sekretaris-generaal van die Arabiese Liga, Nabil Elaraby, oor die stryd teen terrorisme en ander kwessies gesels. Hy het beklemtoon dat Argentinië sy roterende voorsitterskap van die Veiligheidsraad van die VN volgende maand sal gebruik om die behoeftes van die Palestyne te beklemtoon.

Op 14 September het die Argentynse minister van Nywerheid, Debora Giorgi met ‘n honderdsterk sake-afvaardiging na Moskou vertrek. Daar word verwag dat die toekenning van kontrakte ter waarde van $5 miljard sal volg, waarvan $4 miljard Argentynse voedseluitvoere as ‘n plaasvervanger vir EU-produkte onder sanksies sal wees.

Argentinië kan glo onmiddellik benewens pluimvee, wyn, suiwelprodukte, gedroogde vrugte en vis, ook landboutoerusting lewer.

China sal soldate in Suid-Soedan ontplooi

’n Woordvoerder van die Verenigde Nasies (VN) se sending in Suid-Soedan sê China sal na verwagting ongeveer 700 vredesmagsoldate na Suid-Soedan ontplooi.

Dit sal deel vorm van die VN se Veiligheidraad se 2013-plan om militêre teenwoordigheid in dié land te verhoog.

Joe Contreras, woordvoerder, het Woensdag gesê die soldate het nog gearriveer nie en ’n finale besluit oor presies waar hulle ontplooi sal word, is nog nie geneem nie.

Ongeveer 350 Chinese militêre personeellede – meestal ingenieurs – dien reeds in die VN se sending in Suid-Soedan.

Suid-Soedan word sedert Desember 2013 deur etniese geweld geteister wat talle ontwortel het en die land se oliebronne bedreig.

VSA al nader aan lugaanvalle op Sirië

Die Amerikaanse weermag sê vegvliegtuie van Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate het ‘n reeks lugaanvalle op ISIS-groepe in Libië uitgevoer.

‘n Woordvoerder van die Pentagon, John Kirby, wou nie nadere besonderhede gee oor hoekom dié twee lande die aanvalle uitgevoer het nie.

Dié aanvalle kom nadat ‘n video vrygestel is waarin ‘n Amerikaner glo onthoof word. Die opname is intussen deur spesialiste as ‘n foefie afgemaak.

Nadat die VSA Moemmar Ghaddafi laat vermoor het sonder verhoor om Libië sogenaamd te “bevry”, is die land besig om al dieper in chaos te versink.

Faksies in verskeie stede wat deur die VSA bewapen is om die naburige Sirië te destabiliseer, asook twee strydende Parlemente veg om die mag te behou.

Amerika het reeds begin met vlugte oor Sirië, het Amerikaanse amptenare gesê. Washington beoog lugaanvalle teen die Islamitiese Kalifaat, maar daar is geen plan om die anti-terreur-aanvalle met die Siriese regering te koördineer nie.

Dit laat die vermoede ontstaan dat die VSA ‘n nuwe verskoning gekry het om Sirië aan te val soos hulle voorheen beplan het om te doen na hulle ‘n giftige gasaanval deur Amerikaans-gesteunde rebelle op die regering van Bashar al-Assad probeer blameer het.

Een Amerikaanse amptenaar, het op voorwaarde van anonimiteit aan AP gesê dat die administrasie betroubare intelligensie op die grond in Sirië insamel voordat enige lugaanvalle gedoen word.

Intussen is ‘n langtermyn skietstaking in die Gasastrook bereik. Israel en die Palestynse groep Hamas het in Kairo ‘n ooreenkoms bereik tydens samesprekings waarin Egipte as bemiddelaar opgetree het.

Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki Moon en die VSA is optimisties dat dit sal hou, maar nogtans ‘n beroep op albei partye gedoen om die ooreenkoms na te kom.

Meer as tweeduisend Palestyne en sowat 70 Israeli’s is in die 50 dae van geweld dood.

VN sal oorlogsmisdade in Gasa ondersoek

Die VN het drie kenners aangestel op ‘n internasionale kommissie van ondersoek na moontlike menseregteskendings en oorlogsmisdade in Gasa.

Dié stap volg nadat Israel van oorlogsmisdade teen die Palestyne beskuldig is. Die kommissie sal egter vergrype van albei kante ondersoek.

‘n Professor van internasionale reg, William Schabas, van die Middelsex Universiteit in Londen, sal die ondersoek lei.

Die ander lede is Doudou Diene van Senegal en Amal Alamuddin, ‘n Brits-Libanese regsverteenwoordiger wat verloof is aan die akteur George Clooney.

Bykans twee duisend Palestynse inwoners en 67 Israeli’s is in die maandlange konflik dood, wat gekenmerk is deur Israelse lugaanvalle en die honderde vuurpyle wat deur Hamas na Israel gevuur is.

Die paneel sal teen Maart aanstaande jaar aan die VN Veiligheidsraad verslag doen.

Israel een van vier ongewildste lande ter wêreld

Israel en Hamas het ingestem tot ‘n 12 uur lange humanitêre skietstilstand, nadat Israel onder geweldige internasionale druk gekom het.

Israel het voorheen die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry se versoek om ‘n skietstilstand verwerp, maar moes bes gee weens dié druk, nadat Amerika onder skoot gekom het omdat hulle ‘n ondersoek na beweerde oorlogsmisdade deur Israel geveto het.

Israel word tans as een van die mees ongewilde lande ter wêreld gesien, in die onderste vier plekke, tesame met Pakistan, Noord-Korea en Iran.

Israel is egter die land wat die meeste resolusies deur die VN verontagsaam, maar nogtans op Amerikaanse steun kan staatmaak.

Internasionale regskenners sê dit kan die Verenigde Nasies se legitimiteit om konflik te besleg, skaad.

Die Israelse weermag het gesê hy sal tydens die skietstaking voortgaan om na “tonnels” te soek wat deur “Hamas-militante” op die Gasa-grens gebruik word. Die tonnels word glo ook deur joernaliste gebruik wat oor die toestand in die gebied berig.

Etlike duisende mense het die strate van New York Vrydag binnegevaar om teen Israel se offensief te betoog waarin hospitale, skole en ouetehuise geteiken word.

Hulle eis ‘n einde aan die geweld wat die lewens van byna 850 Palestyne gekos het, die meeste van hulle burgerlikes.

Palestynse vlae en slagspreuke wat Israel vir die aanval veroordeel was volop in Times Square. ‘n Oproep om ‘n einde te maak aan Amerikaanse steun aan die land, is ook gemaak.

Die demografie van Israelse steun in die VSA het gekrimp tot wit mans oor die ouderdom van 55 met ‘n lae opvoedingspeil.

Volgens Pew, verwar die meeste Judaïsme met Sionisme en is hulle evangeliese Christene. Lidmate van ouer Protestantse Kerke is fel gekant teen wat hulle Israel se “onwettige optrede” noem en het hul steun aan die BDS-veldtog toegesê.

‘n Militêre prokureur vir die IDF, Joel Zinger, het vroeër gesê wat Israel se beweerde oortredings in die konflik betref, maak hulle staat op Amerikaanse openbare betrekkinge om dit te hanteer.

Op 23 Julie was die VSA die enigste land om ‘n VN-voorstel oor ‘n ondersoek na Israel se beweerde oortredings in Gasa te veto.

Die VN stem elke jaar ten gunste van die wetlike vereiste om ‘n einde aan die Israeliese besetting en kolonisering van Palestina te maak met ongeveer 165 teen 2, teen die VSA en Israel. Israel het reeds 32 resolusies geïgnoreer.

Chile skort handelsooreenkoms met Israel op

Chili het alle samesprekinge oor ‘n Vryehandelsooreekoms met die Israeliese regime opgeskort.

Chile het ook aangekondig dat hy oorweeg om sy ambassadeur uit Tel Aviv te onttrek.

Hulle sal die Veiligheidsraad van die VN nader oor die skendings teen Palestyne, volgens ‘n parlementêre groep wat Maandag met die Minister van Buitelandse Sake, Heraldo Muñoz, vergader het.

Senatore het die ministerie van buitelandse sake gevra om ‘n meer kritiese posisie oor die tragedie wat tans in die Gasa-gebied afspeel, in te neem.

Met die groeiende aantal slagoffers van die Israeliese aanvalle, het parlementariërs van alle partye dringende optrede van die regering geëis.

Michelle Bachelet, premier, het verlede week die Israeliese aggressie veroordeel, maar wou nog geen konkrete stappe teen Israel oorweeg nie.

VN erken gay huwelike

​Die jongste verwikkeling by die Verenigde Nasies toon dat dié wêreldliggaam byna geheel en al deur Amerikaanse befondsing oorgeneem is.

Die VN het besluit om al sy gay werknemers se huwelike te erken. Dit sluit burgers van lande in waar gay huwelike onwettig is.

“Dit is ‘n stap vorentoe,” het Farhan Haq, die VN se adjunkwoordvoerder aan die Guardian gesê. “Baie van ons werknemers wag al lank hiervoor.”

Die nuwe beleid sluit alleen die VN se 43 000 werknemers wêreldwyd in.

Unicef, die VN-kinderfonds, en Unesco is nie deel van die beleidsaankondiging nie aangesien hul kantore nie net in New York gesetel is nie.

Unesco se hoofkantoor is in Parys, Frankryk waar gay huwelike uiters omstrede is.

Volgens die Pew-navorsingsentrum word gay huwelike slegs in 18 lande en dele van die VSA en Mexiko as wettig beskou.

In verreweg die meeste lande wat Afrika sowel as Asië en Rusland insluit, sien inwoners dit as besonder afkeurenswaardig.

Dit is nie seker waarom gay huwelike in Suid-Afrika wettig is nie, maar ontleders meen dat die swart bevolking nie ingelig genoeg is oor sekere agendas wat op hulle afgedwing word nie.

In Rusland word aannemings deur gay ouerpare verbied aangesien die Russe dit as ‘n onverkwiklike voorbeeld vir jong kinders beskou.