Tsoenami-waarskuwing na aardbewing by Chile

Drie mense is dood toe ’n aardbewing wat 8.3 op die Richter-skaal gemeet het, neffens die kus van Chili aangeteken is.

Geboue in die hoofstad Santiago het geruk en tsoenami-waarskuwings is uitgereik aan Chili, Peru, Frans-Polinesië en die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

Die president van Chili, Michelle Bachelet, het aangekondig dat sy die gebiede sal besoek wat die ergste getref is.

Dit is die ergste aardbewing wat Chili in vyf jaar tref. Dit het ook ernstige vloede in sommige kusdorpe veroorsaak.

’n Vrou (26) is dood toe ’n muur op haar ineengestort het en ’n ander persoon is aan ’n hartaanval dood. Dit is nog nie bekend gemaak hoe die derde persoon dood is nie.

Die aardbewing is tot sover as Buenos Aires in Argentinië gevoel en het ook verskeie huise en geboue beskadig en mense beseer.

Die kusdorp Coquimbo is deur golwe so hoog as 4,5 m getref, het Chili se vloot bekend gemaak.

Bomaanval by Chileense stasie beseer 14

Minstens 14 mense is Maandag beseer ná ‘n bomontploffing by ‘n treinstasie in Santiago, Chili.

Twee vroue verkeer in ‘n ernstige toestand.

President Michelle Bachelet het ‘n noodvergadering gehou met die minister van binnelandse sake, Rodrigo Penailillo, om die voorval te bespreek.

Die bom was binne ‘n vullisblik naby die militêre kollege geplaas. Dit is die derde bomaanval dié jaar.

Die regering het die aanval as “terreur” beskryf. Niemand het nog verantwoordelikheid vir die ontploffing aanvaar nie.

Die herdenking van die militêre staatsgreep deur genl. Augusto Pinochet op 11 September vind eersdaags plaas en is al voorheen deur bomaanvalle gekenmerk.

SA en Chile verdiep handel en belegging

Suid-Afrika en Chile het ooreengekom oor ‘n reeks nuwe maatreëls om handels- en beleggingsbande tussen dié twee lande te verbeter, het RSG berig.

President Jacob Zuma en sy Chileense ampsgenoot, Michelle Bachelet het samesprekings by die Uniegebou gehou. Suid-Afrika en Chile wil in sektore inbeweeg soos energie, verdediging, wetenskap en tegnologie en minerale hulpbronne om die handels-en beleggingsgeleenthede te verbreed.

Zuma sê Suid-Afrika is gretig om met Chile saam te werk in ruil vir kundigheid oor maritieme veiligheid en die benutting van hernubare energiebronne.

Hy sê hulle voorsien ook samewerking tussen die twee lande se Vlote in die lig van die uitgebreide kuslyne en uitdagings soos seerowery en dwelm-en mensehandel.

Suid-Afrika is ‘n groot belegger in Chile se mynsektor en daar is groot moontlikhede vir die uitruil van tegnologie om ‘n veiliger myn-omgewing te bevorder.

Bachelet het toegegee dat baie nog gedoen moet word om handels-en beleggingsbetrekkinge tussen die twee lande te versterk. Sy het gesê haar besoek is deel van die pogings om sterker momentum aan die talle ooreenkomste te gee wat onderteken is.

Daar is ook ooreengekom om ‘n gesamentlike kommissie op die been te bring om die proses te bespoedig.

Chile skort handelsooreenkoms met Israel op

Chili het alle samesprekinge oor ‘n Vryehandelsooreekoms met die Israeliese regime opgeskort.

Chile het ook aangekondig dat hy oorweeg om sy ambassadeur uit Tel Aviv te onttrek.

Hulle sal die Veiligheidsraad van die VN nader oor die skendings teen Palestyne, volgens ‘n parlementêre groep wat Maandag met die Minister van Buitelandse Sake, Heraldo Muñoz, vergader het.

Senatore het die ministerie van buitelandse sake gevra om ‘n meer kritiese posisie oor die tragedie wat tans in die Gasa-gebied afspeel, in te neem.

Met die groeiende aantal slagoffers van die Israeliese aanvalle, het parlementariërs van alle partye dringende optrede van die regering geëis.

Michelle Bachelet, premier, het verlede week die Israeliese aggressie veroordeel, maar wou nog geen konkrete stappe teen Israel oorweeg nie.

Kragtige naskok skud noordelike Chile

chileaardbewing‘n Kragtige naskok van 7,6 op die Richterskaal het die noordelike deel van Chile geskud.

Die VSA se Geologiese Opname, USGS het aanvanklik berig dat die grootte van die aardbewing 7,8 was, maar dit is later afgegradeer tot 7.6.

Dit is oor die grens gevoel in Suid-Peru, Tacna en Arequipa waar mense in vrees in die strate uitgehardloop het.

Dinsdag, het die owerhede net ses sterftes gerapporteer, maar het gesê dit is moontlik dat nog mense gedood kon gewees het in afgeleë gemeenskappe en dus was verdere besonderhede nie onmiddellik beskikbaar nie.

Meer as 2500 huise is beskadig in ‘n arm buurt bo Iquique, ‘n stad van byna 200,000 mense.

‘n Verpligte ontruiming voor ‘n tsunami die kusinwoners getref het, het plaasgevind. Die water het gestyg tot 2,5 meter en miljoene dollar se skade aan vissersbote aangerig.

Dit volg nadat die regering gister ‘n noodtoestand afgekondig het ná die kragtige aardbewing van agt-komma-twee in die gebied.

Die naskok het gevolg na vroeëre naskokke en was sowat 19 kilometer suid van die hawe van Iquique.