Tsoenami-waarskuwing na aardbewing by Chile

Drie mense is dood toe ’n aardbewing wat 8.3 op die Richter-skaal gemeet het, neffens die kus van Chili aangeteken is.

Geboue in die hoofstad Santiago het geruk en tsoenami-waarskuwings is uitgereik aan Chili, Peru, Frans-Polinesië en die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

Die president van Chili, Michelle Bachelet, het aangekondig dat sy die gebiede sal besoek wat die ergste getref is.

Dit is die ergste aardbewing wat Chili in vyf jaar tref. Dit het ook ernstige vloede in sommige kusdorpe veroorsaak.

’n Vrou (26) is dood toe ’n muur op haar ineengestort het en ’n ander persoon is aan ’n hartaanval dood. Dit is nog nie bekend gemaak hoe die derde persoon dood is nie.

Die aardbewing is tot sover as Buenos Aires in Argentinië gevoel en het ook verskeie huise en geboue beskadig en mense beseer.

Die kusdorp Coquimbo is deur golwe so hoog as 4,5 m getref, het Chili se vloot bekend gemaak.

Skudding tref Tokio

‘n Aardbewing met ‘n voorlopige sterkte van 5,6 op die Richterskaal gemeet het die Japanse hoofstad, Tokio, en omliggende gebiede vroeër geskud.

Die land se meteorologiese agentskap sê dit was nie nodig om ‘n tsoenami-waarskuwing uit te reik nie.

Die episentrum was net noordoos van Tokio, maar geen onmiddellike berigte oor skade of ongevalle is ontvang nie.

Japan skenk R30 miljoen vir SA rampbestuur

Japan het 30 miljoen rand geskenk vir die opleiding van rampbestuurspanne in Suider-Afrika, het RSG berig.

Dit volg nadat Redding Suid-Afrika Japan in 2011 na die aardbewing en tsoenami bygestaan het. Meer as 20 000 mense is in die ramp dood.

Suid-Afrika se span was die enigste uit Afrika wat gaan help het. Gister was die vierde herdenking van die ramp.

Die Japanse ambassadeur in Suid-Afrika, Shigeyuki Hiroki, sê daar het sedertdien ‘n band van vriendskap ontstaan, wat uitgeloop het op die vennootskap tussen die Japanse regering en Redding Suid-Afrika.

Hiroki het gesê rampe tref verskeie dele van die wêreld onverwags en hulle wil graag vaardighede ontwikkel en veral in Suid-Afrika se buurlande.

Indonesiërs lewer munte by Australiese ambassade af

Indonesiërs het “Maak Abbott se mond stil en “Abbott, sê jammer”, geskree en op’n plakkaat met die Australiese premier, mnr. Tony Abbot, se foto getrap, terwyl hulle sakke met muntstukke by die Australiese ambassade in Jakarta afgelewer het.

Abbott het verlede maand gesê Jakarta moet die US$1 miljard wat Australië as bystandshulp aan Indonesië gegee het in die nadraai van die 2004 Indiese Oseaan-tsoenami onthou. Die tsoenami het die lewens van ongeveer 220 000 mense geëis.

Sy opmerkings was daarop gemik om die teregstelling van die Australiese dwelmsmokkelaars, wat deel uitmaak van die sogenaamde “Bali nege, te stop. Andrew Chan en Myuran Sukumaran sal na verwagting enige dag tereggestel word.

Abbott se poging het egter misluk en n lelike nadraai gehad met betogers in Indonesië wat met n veldtog begin het om muntstukke in te samel om Australiese hulp “terug te betaal.

Sewe sakke muntstukke ter waarde van ongeveer sewe miljoen rupiah (US$535) is gister by die Australiese ambassade afgelewer.

Die koördineerder van die veldtog, Andi Sinulingga, sê Abbott se opmerkings was laakbaar.

“Ons het nooit gevra vir hulp nie, maar Australië het dit aangebied. As ons geweet het hulle was nie opreg nie, sou ons dit nooit aanvaar het nie, het hy gesê.