Tsoenami-waarskuwing na aardbewing by Chile

Drie mense is dood toe ’n aardbewing wat 8.3 op die Richter-skaal gemeet het, neffens die kus van Chili aangeteken is.

Geboue in die hoofstad Santiago het geruk en tsoenami-waarskuwings is uitgereik aan Chili, Peru, Frans-Polinesië en die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

Die president van Chili, Michelle Bachelet, het aangekondig dat sy die gebiede sal besoek wat die ergste getref is.

Dit is die ergste aardbewing wat Chili in vyf jaar tref. Dit het ook ernstige vloede in sommige kusdorpe veroorsaak.

’n Vrou (26) is dood toe ’n muur op haar ineengestort het en ’n ander persoon is aan ’n hartaanval dood. Dit is nog nie bekend gemaak hoe die derde persoon dood is nie.

Die aardbewing is tot sover as Buenos Aires in Argentinië gevoel en het ook verskeie huise en geboue beskadig en mense beseer.

Die kusdorp Coquimbo is deur golwe so hoog as 4,5 m getref, het Chili se vloot bekend gemaak.

Nog ‘n aardbewing skud Nepal

Nog ’n aardbewing­, wat 7,3 op die Richterskaal geregistreer­ het, het Nepal geruk.

Bevreesde inwoners van die land se hoofstad, Katmandoe­, het gister verskrik in die strate uitgehardloop.

Die aardbewing het om 12:35 plaaslike­ tyd die Himalajas-nasie­ getref. Die middelpunt van die aardbewin­g was ongeveer 76 kilomete­r oos van Katmandoe.

Die jongste skok vir die land kom skaars twee weke nadat ’n 7,8-aardbewing­ die lewe van meer as 8 000 mense geëis het.

Die trillings in Katmandoe het byna ’n minuut lank geduur.

Die aardbewing is so ver soos die Indiese hoofstad, Nieu-Delhi­, ongeveer­ ’n 1 000 kilometer­ verder, gevoel.
Teen gistermiddag is berig dat vier mense gesterf het.

Nóg ’n aardbewing, wat 5,6 op die Richterskaal geregistreer het, het Nepal enkele minute later getref.

Hele nedersettings is in die aardbewing­ van 25 April in puin gelê en tienduisende mense is dakloos gelaat.

Reddingswerkers van oor die wêreld werk steeds om water, kos en mediese bystand aan Nepal ná die eerste aardbewing te lewer.

Raad vir Geowetenskap sê skudding was 3,8 nie 4,6

Die Raad vir Geowetenskap, sê die aardbewing wat Suid-Afrika Vrydagoggend vroeg getref het, was 3,8, en nie 4,6 soos deur die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) aangedui nie.

“Dit is dieselfde gebeurtenis. Die USGS meting word gedoen deur ‘n masjien, en die stasies wat hulle gebruik is nie in die nabyheid van die aardbewing soos wat ons s’n is nie, en dit is hoekom dit anders is,” het die Raad se seismologie-eenheidbestuurder Michelle Grobbelaar gesê.

“As hulle dit ontleed, sal dit begin verander.”

Die USGS het gesê die aardbewing plaasgevind 12km wes van Orange Farm, ‘n dorp suid van Johannesburg.

Maar Grobbelaar het gesê die aardbewing het Carletonville getref, wat sowat 70 km weg is, om ongeveer 01:14.

“Daarna was daar verskeie naskokke,” het sy gesê.

Die twee groot naskokke was ‘n 3,2 om 01:15, en ‘n tweede om 01:16.

“Die ander naskokke was kleiner,” het sy gesê.

Die nooddienste was op bystand, maar geen ongevalle is aangemeld nie.

Die Raad het ook gewaarsku dat nog talle aardskokke verwag kan word.