SA: Hervormde Veiligheidsraad sal vrede en veiligheid verbeter

Suid-Afrika het onderneem voort te gaan om die hervorming van die VN tydens ons land se deelname aan die sitting van die VN se Algemene Vergadering, op die agenda te hou. President Jacob Zuma sal die afvaardiging na die jaarvergadering in New York lei.

Die vergadering sal die vordering bespreek wat gemaak is met die bereiking van die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte voor die sperdatum van 2015, waarby ontwikkelende lande veral kan baat.

President Zuma sal die sitting van die wêreldliggaam met ten minste agt ANC-ministers in New York bywoon. Dit sal die 69ste sitting van die VN se Algemene Raad wees op die vooraand van dié instelling se 70ste herdenking.

Dit sal die 15de herdenking van die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte vir 2015 wees.

Zuma het gesê dat ontwikkeling en veiligheid twee kante van dieselfde munt is. Die Veiligheidsraad moet onder die indruk gebring word dat probleme sal voortduur tensy die VN hervorm word.

Die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad verskil tans oor die hantering van belangrike veiligheidskwessies in Sirië en Irak.

Suid-Afrika het gesê ‘n hervorming van die VN se Veiligheidsraad sal daartoe lei dat sulke kwessies vinniger opgelos word.

Suid-Afrika het wêreldleiers ook versoek om internasionale vrede en veiligheid hoog op die sakelys vir die komende sitting van die VN se Algemene Vergadering te plaas.

Die Minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabane, het voor die vergadering aan die SAUK gesê wêreldvrede en ontwikkeling is onderling vervleg.