praag.co.za

Tag: vrede

  • SAR hoop op vrede

    SAR hoop op vrede

    Verkiesingsbeamptes het begin om die stemme te tel nadat kiesers in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in verkiesings wat eers uitgestel is, vir die wetgewende liggaam en die president gestem het.

    Die hoop is uitgespreek dat ’n einde aan die ergste sektariese geweld sedert die land se onafhanklikwording in 1960 nou gemaak sal word, het AFP berig.

    Die stemmery het onder streng veiligheidsmaatreëls plaasgevind met duisende vredesbewaarders van die Verenigde Nasies wat landwyd ­ontplooi is. Sover vasgestel kon word, het die verkiesings vreed­saam verloop.

    Die eerste amptelike uitslae word nie vir etlike dae verwag nie.

    Anicet Georges Dologuele, ’n 58-jarige voormalige bankier van die sentrale bank, wat as “Mnr. Skoon” bekend staan vir sy pogings om deursigtigheid in die deurmekaar openbare finansies teweeg te bring, het in die eerste ronde van die presidentsverkiesing op 30 Desember 23,78 persent van die stemme op hom verenig.

    Sy naaste teenstaander, Faustin Archange Touadera, ’n voormalige wiskunde professor, ook 58 jaar oud, wat as ’n onafhanklike kandidaat gestaan het, het vir ’n verrassing gesorg en 19,4 persent van die stemme ingepalm.

    Kiesers het ook in ’n herverkiesing vir die wetgewende vergadering gestem nadat die aanvanklike verkiesing, wat ook op 30 Desember gehou is, ongeldig verklaar is ná talle onreël­matighede aan die lig gekom het.

    Altesaam 1 800 kandidate ding mee om 105 setels in die Nasionale Vergadering.

    Die Sentraal-Afrikaanse Republiek se mees onlangse bloedvergieting is begin nadat die bewind van die ­veteraanpresident, Francois Bozize, ’n Christen, in Maart 2013 deur hoofsaaklik Moslem Seleka-­rebelle omvergewerp is.

    Die staatsgreep het ’n reeks vergeldingsaanvalle deur Christen “anti-balaka” (anti-kapmes) milisies en Moslem-rebelle meegebring. Duisende mense is dood en ongeveer ’n tiende van die land se 4,8 miljoen inwoners, het op die vlug geslaan.

    Sowel Dologuele as Touadera is Christene.

  • Voedoe in Benin kry politieke kleur

    Voedoe in Benin kry politieke kleur

    Die nasionale voedoe-vakansiedag in die Wes-Afrikaland, Benin het vanjaar ‘n politieke kleur gehad met beoefenaars van die tradisie wat gebid en offerhande vir vrede gebring het, het Reuters berig.

    Honderde volgelinge van die tradisionele godsdiens het in die kusdorp Ouidah, eens ‘n belangrike hawe in die slawehandel, byeengekom om vir kalmte te bid voor die presidentsverkiesing wat in Februarie plaasvind.

    Benin het nie ‘n geskiedenis van verkiesingsgeweld nie, maar David Kofi Aza, ‘n bekende priester, het verlede maand gesê ‘n orakel met die naam Fa het die dood van tientalle mense in naverkiesinggeweld voorspel omdat die verloorder nie die uitslae sou aanvaar nie.

    Aza sê die orakel het nie onthul hoe die krisis afgeweer kan word nie.

    By die seremonie in Ouidah het die geestelike leier, Daagbo Hounan Houna II, die dooies gevra om die orde tydens die verkiesing te help handhaaf.

    In die binneland in Savalou, die tuisdorp van eerste minister Lionel Zinsou, het priesters en hoogwaardigheidsbekleërs ‘n hoender aan die brand gesteek tydens ‘n seremonie, voordat bloed en palmolie op ‘n fetisj bestaande uit muntskulpe en sand uitgegooi is.

    Die verkiesingsveldtog word oorskadu deur omstredenheid oor die regerende party se besluit om Zinsou as kandidaat te stel, ‘n besluit wat deur die uittredende president, Thomas Boni Yayi, goedgekeur word.

    Verlede Dinsdag het politici van opposisiepartye vergader vir besprekings oor die moontlike vorming van ‘n koalisie om Zinsou se kanse te belemmer om verkies te word.

    Zinsou het sowel Franse as Beninese burgerskap en hy het ‘n groot deel van sy lewe in Frankryk deurgebring. Sy kritici voer aan dat hy ‘n buitestaander is, sonder werklike begrip vir die realiteite van die lewe in Benin.

  • Nóg ’n Nobelprys vir Afrika

    Afrika word deesdae toegegooi onder sulke pryse, maar die vooruitgang ontbreek steeds.

    Die Nobel-vredesprys wat vanjaar aan die “Tunisiese Nasionale Dialoog-kwartet” toegeken is, is deur die hoofrolspelers van dié vier burgerlike samelewinggroepe in Oslo in ontvangs geneem.

    Die kwartet het ná die Jasmyn-­rewolusie van 2011 Tunisië se oorgang na sogenaamde “demokrasie” gelei.

    Die voormalige president, wat nou as ‘n “diktator” beskryf word deur diue VSA, was egter ‘n gematigde Moslem.

    Die sekretaris-generaal van die Tunisiese algemene werkersunie, Houcine Abbassi; die president van die Tunisiese werkgewersunie (UTICA), Wided Bouchamaoui; die Tunisiese menseregteliga (LTDH) se Abdessatar Ben Moussa; en die president van die nasionale orde van Tunisiese regsgeleerdes, Mohamed Fadhel Mahfoudh, het die prys in ontvangs geneem.

    Die kwartet is in 2013 gestig om die land van ‘n ineenstorting te red, onder meer vanweë politieke sluipmoorde en verspreide onluste.

    Ten spyte van die toekennings, gaan Tunisië steeds beguk onder islamitiese geweld. Die afgelope jaar is drie aanvalle deur ISIS suksesvol geloods.

    Talle toeriste is ook gedood, wat die land se toersime tot stilstand gedwing het. Die Nobel-vredesprys raak toenemend gestigmatiseer as ‘n kwade politieke instrument.

  • Tunisiërs wen Nobelvredesprys vir Arabiese Lente

    Tunisië se Nasionale Dialoogkwartet het Vrydag die Nobelvredesprys gewen vir sy bydrae om demokrasie te bevorder.

    Die Arabiese Lente in Tunisië, is deur die Nobelkomitee voorgehou as ‘n voorbeeld van vreedsame oorgang in ’n streek wat onder geweld en opstand gebuk gaan.

    Die kwartet, bestaande uit die Tunisiese algemene werkersvakbond, die konfederasie van nywerheid, handel en kunshandwerk, die menseregteliga en die orde van regspraktisyns, het in 2013 tot stand gekom.

    Die kwartet het die demokratiseringsproses ondersteun toe dit die gevaar geloop het om in duie te stort, het die Nobelkomitee gesê.

    “Dit is ’n blye en trotse dag vir Tunisië, maar ook ’n dag van hoop vir die Arabiese wêreld,” het Hussein Abassi, hoof van die Tunisiese werkgewersvakbond, Vrydag gesê.

    “Die prys stuur ’n boodskap na ons streek om wapens neer te lê en ’n gesprek om ’n onderhandelings­tafel te voer.”

    Met sy nuwe grondwet, vrye verkiesings en ’n politiek van kompromie tussen Islamitiese en sekulêre leiers, word Tunisië voorgehou as ’n model vir die oorgang van ’n diktatorskap na ’n demokrasie.

    “Dit is wonderlik. Tunisië is ’n Arabiese land wat uitstekend gevaar het sedert die Arabiese Lente,” het Ahmad Fawzi, ‘n woordvoerder van die Verenigde Nasies, gesê.

    Intussen het die Libiese konflik oorgespoel na Tunisië met ‘n gewapende groep in die noordwestelike Libiese kusstad Sabratha wat honderde Tunisiërs Maandagnag ontvoer het.

    Die aantal gyselaars is nog nie bevestig nie, maar volgens plaaslike nuusberigte is 300 Tunisiërs ontvoer.

    Militante uit Libië het verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar.

    Die ontvoering was glo uit wraak teen die Tunisiese regering, omdat Tunisiese veiligheidsmagte onlangs ‘n Libiese politikus in hegtenis geneem het weens sy betrokkenheid by terreur.

    Betogings is in Libië gehou dié week op Martelaarsplein in sentraal Tripoli teen die nasionale eenheidsregering wat deur die Verenigde Nasies se gesant, Bernardino Leon, voorgestel is.

    Libiese politici­ het ingestem tot ’n nuwe nasionale regering onder leiding van eerste minister Fayez el-Sarraj ná maande van uitgerekte onderhandelinge.

    Libië is sedert die val van Moeammar Ghaddafi in chaos gedompel. Die land het twee mededingende parlemente en verskeie groepe veg om beheer van die land se energiehulpbronne.

  • Skoppensboer: Obama en Mandela wen Nobelprys vir ‘n tweede keer

    Skoppensboer: Obama en Mandela wen Nobelprys vir ‘n tweede keer

    In ‘n verrassende skuif het die Nobelpryskomitee sy vorige besluit hersien en die 2015 Nobelprys vir Vrede gesamentlik aan die Amerikaanse president Obama en postuum aan Nelson Mandela toegeken.

    “Die besluit was nie ‘n maklike een nie,” het ‘n woordvoerder van die Noorse Nobelpryskomitee verduidelik.

    “Beide Obama en Mandela het bygedra tot globale vrede!”

    ‘n Uittreksel uit die lofprysingstoespraak:

    Ons bewonder die Amerikaanse president soveel te meer omdat hy aan al die verwagtinge voldoen het wat ons van Obama in 2008 gekoester het.

    Om al sy suksesse saam te vat: Daar was die eerste omvattende troeponttrekking uit Afghanistan en Irak, net soos hy belowe het. En daar was die bevryding van Libië, sonder enige ongevalle en sy vredesendings in Sirië en die Oekraïne.

    Obama het onlangs oneindig bygedra tot vrede, vryheid en voorspoed in die Midde-Ooste en die Oekraïne. Die belangrikste kwessie vir Obama was om demokrasie en Westerse waardes aan dié lande te bring, en hy het nooit demokrasie versaak nie, ook nie in Suid-Afrika nie.

    Obama en Mandela is nou twee van net vyf individue wat die Nobelprys twee keer ontvang het, ‘n buitengewone eer!

    Na aanleiding van hierdie kriteria was dit nie moeilik vir ons om ‘n ander kandidaat en mede-wenner van 2015 se Nobelprys vir Vrede te kies nie. Ons het ‘n dapper man postuum in Mandela ontdek.

    Verder was hierdie dapper man in staat om ‘n vredesooreenkoms te wring uit ‘n wit Suid-Afrika en dit was slegs moontlik met die energieke ondersteuning van die swart Amerikaanse president Obama.

    En die Nobelpryskomitee het beklemtoon dat Mandela opgestaan het teen ​​die voortgesette afskuwelike oorheersing van wittes in die wêreld.

    Hy het sy stem hard verhef teen die daaglikse ongekende wreedhede in wit lande.

    Mandela kon die maklike pad geneem het en Afrikaners voor die voet uitgewis het, waar dit maklik was om die teenwoordigheid van Amerikaanse militêre teenwoordigheid te demonstreer.

    Maar Mandela het gekies vir die moeilike alternatief. Hy het plaasmoorde van stapel gestuur om agteraf van Afrikaners ontslae te raak en hul bates te vervreem.

    Hierdie meesterskuif om Amerikaanse satellietfoto’s van landelike Suid-Afrika te laat lyk asof dit afkomstig is van die 60’s van die vorige eeu, was ongetwyfeld die rede hoekom die prys postuum aan hom toegeken moes word.

    Misdaad het duisendvoudig toegeneem in Suid-Afrika, maar Mandela kon dit verbloem met swart baasskap, sonder dat ‘n enkele skoot tydens die bevryding geskiet is.

    Dit is presies die stoffasie waarvan Nobelprysbekroondes gemaak word!

    [Waarskuwing: Satire]

  • Suid-Soedan verwerp vredesooreenkoms

    Suid-Soedan se regering het Dinsdag ’n vredesvoorstel veroordeel, het AFP berig.

    Die regering is onder toenemende diplomatieke druk om die ooreenkoms te sluit nadat rebelle toegestem het om dit te doen en sodoende die burgeroorlog te beëindig.

    “Ons is van mening dat hierdie dokument nie die mense van Suid-Soedan sal red nie,” het die minister van inligting, Michael Makuei, gesê.

    Pres. Salva Kiir het pas teruggekeer van vredesamesprekings in Ethiopië en het nou 15 dae om die ooreenkoms met die volk te bespreek.

    Diplomatieke frustrasie het breekpunt bereik oor die konflik wat reeds die lewe van tienduisende mense geëis het.

    Die internasionale gemeen­skap dreig ook met sanksies indien ’n ooreenkoms nie teen Maandag bereik is nie.

    “Indien hulle nie gehoor gee nie, sal dit gevolge hê,” het ’n woordvoerder van die Europese Unie gesê.

    Die rebelleleier, Riek Machar, het laat Maandag die ooreenkoms onderteken en ’n beroep op Kiir gedoen om sy voorbeeld te volg.

    Kiir, wat by was met die ondertekening en self hand geskud het met Machar, het egter gewaarsku dat dit nie moontlik sou wees om ’n geloofwaardige ooreenkoms te sluit nie, omdat die rebellemagte verdeeld is.

    Die oorlog in Suid-Soedan het in Desember 2013 uitgebreek toe Kirr sy voormalige adjunkpresident, Machar, daarvan be­skuldig het dat hy ’n staatsgreep beplan het.

    Dit het tot weerwraakaanvalle in die armoede-geteisterde land gelei en die land etnies verdeel.

  • Al-Basjir skort doodsvonnisse op in vredespoging

    Soedan se eerste visepresident, Bakri Hassan Saleh, het Maandag aangedui dat die vonnisse, insluitende die doodsvonnis van gewapende rebelle, opgeskort kan word.

    Die aanbod is aanvanklik vir die duur van die samespre­kings vir nasionale versoe­ning geldig. Die samespre­kings is ’n hernude poging deur die regering om ’n einde aan gevegte te maak waarin die land gedompel is.

    Kartoem is sedert 2011 teen insurgente in die Blou Nyl en Suid-Kordofan provinsies in ’n stryd gewikkel. Die insurgente bestaan meestal uit vegters van die burgeroorlog wat in Soedan agtergebly het, nadat Suid-Soedan daardie jaar afgestig het.

    Pres. Omar al-Basjir het verlede jaar die nasionale dialoog geïnisieer, maar min vordering is gemaak.

    Hy het ook ’n algemene amnestie vir gewapende groepe hernu wat “’n opregte begeerte het om terug te keer en aan die dialoog deel te neem”.

    “Ons kan die hof se bevindinge vries vir die duur van die onderhandelinge asook ander maatreëls implementeer waaroor ons konsensus bereik. Ons kan egter nie amnestie gee tensy ons meen die onderhande­linge sal slaag nie, omdat ons nie vir hulle amnestie wil gee sodat hulle net weer die wapen kan opneem nie,” het hy gesê.

    Twee leiers en 15 lede van die hoof rebelle alliansie teen Basjir is reeds in Maart 2014 in hul afwesigheid die doodsvonnis opgelê.

    ’n Woordvoerder van die rebellegroep bekend as die beweging vir justisie en gelykheid (JEM) het egter gesê hulle vertrou nie die regering wat krygsgevangenes en vreedsame betogers om die lewe gebring het nie.

    Basjir het in April sy 25-jarige bewind verleng toe hy met meer as 94 persent van die stemme in die land se verkiesing herkies is. Opposisiepartye het die verkiesing geboikot.

  • Verdagtes van Vrede-plaasaanval weer voor

    Verdagtes van Vrede-plaasaanval weer voor

    Die saak teen twee swartes wat in die rondgaande hof op Vrede verskyn het weens die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas buite die dorp, sal na verwagting vandag hervat word.

    Vrystaatse polisiewoordvoerder Zweli Mohobeleli sê Thabo Motloung sal na verwagting Augustus om borgtog aansoek doen, terwyl Paul Mei Zulu, wat slegs ure ná die aanval op Johannes en Rita Kritzinger in hegtenis geneem is, nie beplan om aansoek te doen nie.

    Die verdagtes staan tereg op ‘n aanklag van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof. Johannes is vier keer en Rita drie geskiet.

    OFM-nuus het verlede week berig dat die egpaar steeds in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton se hoësorgeenheid is.

    Hulle was onder pynverdowing en Johannes het al gepraat en reageer op sy kinders se stemme. Woordvoerder Ruan Combrink het gesê die egpaar is bewus dat twee verdagtes aangekeer is.

  • Polisiekantoor wat plaasaanvalle moet keer onbeman

    Polisiekantoor wat plaasaanvalle moet keer onbeman

    Die waarnemende polisiekommissaris vir Noordwes, Jacob Tsumane het vandag die situasie by die Assen-polisiekantoor in die verre oostelike deel van die provinsie, sterk veroordeel.

    Dit volg nadat die kantoor Dinsdagmiddag glo onbeman aangetref is. Die stasie bedien hoofsaaklik landbougemeenskappe.

    Tsumane het vanoggend in ‘n verklaring gesê die stand van sake is onaanvaarbaar. Hy het opdrag gegee dat die groepsbevelvoerder ‘n formele ondersoek begin.

    Afsonderlike voorvalle in Coligny en Vrede hierdie afgelope maand het intussen weer die kollig op plaasaanvalle geplaas.

    Agri-Noordwes se Boeta du Toit sê met dit in gedagte, moet daar streng opgetree word teen skuldige partye.

  • Verdagtes in Vrede-plaasaanval voor

    Twee verdagtes wat in hegtenis is vir die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas naby Vrede verskyn na verwagting vandag weer in die plaaslike periodieke hof.

    Paul May Zulu (39) en Thabho Shadrac Motloung (31) sal formeel om borgtog aansoek doen. Beide staar aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof in die gesig.

    Johannes Kritzinger en sy vrou Rita is op 12 Julie ernstig beseer toe hulle op hul plaas Brakdam aangeval is. Beide het skietwonde opgedoen.

  • Verdagtes verskyn volgende week ivm Vrede-plaasaanval

    Twee swart verdagtes wat in hegtenis is vir die plaasaanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas naby Vrede verlede naweek sal volgende Maandag weer in die plaaslike periodieke hof verskyn.

    Volgens Vrystaatse polisiewoordvoerder, Peter Kareli sal Paul Mei Zulu (39) en Thabho Shadrac Motloung (31) dan formeel om borgtog aansoek doen.

    Beide staar aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof in die gesig.

    Intussen het familiewoordvoerder Ruan Combrink aan OFM-nuus gesê dat Johannes Kritzinger en sy vrou Rita se toestand steeds ernstig is.

  • Tweede verdagte van Vrede-plaasaanval vas

    ‘n Tweede verdagte sal binnekort in die hof verskyn nadat hy gister in hegtenis geneem is in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas by Vrede, Sondag.

    Vrystaatse polisiewoordvoerder, Sam Makhele, sê ‘n 30-jarige man het homself gister op Vrede oorgegee nadat die polisie warm op sy spoor was. Die polisie het ook op ‘n vuurwapen beslag gelê.

    Johannes en Rita Kritzinger het Sondag van die kerk op die dorp teruggekeer toe hulle deur twee gewapende mans ingewag is. Hulle het verskeie skietwonde opgedoen.

    Intussen het die 39-jarige Paul May Zulu, wat kort na die voorval in hegtenis geneem is, gister in die plaaslike hof op aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof verskyn.

    Die saak is uitgestel tot Maandag wanneer hy na verwagting om regshulp aansoek sal doen. Hy is ‘n oudwerknemer van die Kritzingers.

  • Boere trek vermeende plaasaanvaller by Vrede vas

    Die inhegtenisneming van ‘n 38-jarige swart verdagte in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas by Vrede, kom na flinke optrede van die gemeenskap.

    Die polisie het hulp van boere ontvang wat gelei het tot die inhegtenisneming Sondagaand op Vrede etlike ure nadat Johannes Kritzinger en sy vrou Rita vroeër die middag in hul huis op die plaas Brakdam deur twee mans oorval en geskiet is.

    Plaaslike boere was vinnig op die toneel.

    Die egpaar kon nog nie verklarings aflê nie.

    Die twee swart aanvallers het omstreeks eenuur gistermiddag op die plaas aangekom. Volgens die polisie se voorlopige ondersoek het een van die aanvallers vroeër op die plaas gewerk.

    Terwyl plaasmoorde en-aanvalle toeneem, weier die polisie om dié geweld teen blankes as priotriteitsmisdaad te verklaar.

    Die egpaar word in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton vir skietwonde in die maag behandel. Johannes verkeer in ‘n kritieke toestand en sy vrou se toestand is ernstig.

    Die verdagte sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van poging tot moord verskyn.

    Die ander verdagte is nog op vrye voet.

  • Oorlogsmisdadiger Blair kry skop onder die sitvlak

    Die voormalige Britse eerste-minister Tony Blair, wat deesdae vir sy gruwelike menseregskendings en oorlogsmisdade onthou word, het bedank as die spesiale vredesgesant vir die Midde-Ooste.

    Sy bedanking kom te midde van Anglo-Amerikaanse pogings om kernsamesprekings met Iran te voltrek tot hulle voordeel.

    Behalwe dat Blair se posbeskrywing aangedui het dat hy vrede in die Israelse konflik met die Palestyne sal probeer bewerkstellig vir die agt jaar wat hy as vredesgesant gedien het, was sy ander taak om vyande teen Iran saam te snoer.

    Hy het kennelik klaaglik misluk as gesant van die “Kwartet” (waaronder die VSA, Rusland, die EU en VN verstaan word) om vrede te skep.

    In sy termyn het Israel ‘n bloedige aanval op Palestynse burgerlikes geloods.

    Blair het sy bedanking skriftelik aan die VN se sekretaris-generaal gestuur. Selfs ondersteuners van hom sê Blair het “min impak” op die situasie in die Midde-Ooste gehad.

    Blair het nooit om verskoning gevra vir die politieke ramp in Irak nie, waar ISIS vandag oorheers.

    Hy het eenvoudig vier jaar later in Jerusalem opgedaag met ‘n span wat honderde miljoene in akkommodasie en lugtariewe verkwis het, en daarin geslaag om absoluut niks in byna ‘n dekade te vermag nie, behalwe chaos.

    Dit het hy reggekry deur glo meer as 100 keer na die gebied te reis!