Argentinië, Egipte smee opnuut bande

Die Argentynse minister van buitelandse sake Hector Timerman het besoek gebring aan Egipte met ‘n groot sake-afvaardiging waar hy verlede naweek met president Al-Sisi en Sameh Shoukry, die minister van buitelandse sake ontmoet het.

Die samewerking tussen die twee lande het ‘n lang geskiedenis, sedert die regerings van Juan Peron in Argentinië en Gamal Abdel Nasser in Egipte na die Tweede Wêreldoorlog ontmoet het.

Shoukry het trots gesê dat sy pa in die eerste regering van Peron ambassadeur in Buenos Aires was. Hy sal Argentinië in 2015 besoek. Die minister van buitelandse sake het beklemtoon in ‘n gesamentlike verklaring van beide lande dat hulle moet saamstaan teen roofkapitaliste.

Timerman het die Egiptenare in die besonder bedank vir steun met die skuldresolusie tov Argentinië by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering op 9 September.

President Al-Sisi en Timerman het ook oor Argentinië se belangstelling in die “groot potensiaal” van Egiptiese landbou en landbou-tegnologie samesprekinge gevoer, asook die samewerking wat kerntegnologie betref. Die Argentynse maatskappy INVAP is reeds werksaam in Egipte.

Daarbenewens het Timerman met die sekretaris-generaal van die Arabiese Liga, Nabil Elaraby, oor die stryd teen terrorisme en ander kwessies gesels. Hy het beklemtoon dat Argentinië sy roterende voorsitterskap van die Veiligheidsraad van die VN volgende maand sal gebruik om die behoeftes van die Palestyne te beklemtoon.

Op 14 September het die Argentynse minister van Nywerheid, Debora Giorgi met ‘n honderdsterk sake-afvaardiging na Moskou vertrek. Daar word verwag dat die toekenning van kontrakte ter waarde van $5 miljard sal volg, waarvan $4 miljard Argentynse voedseluitvoere as ‘n plaasvervanger vir EU-produkte onder sanksies sal wees.

Argentinië kan glo onmiddellik benewens pluimvee, wyn, suiwelprodukte, gedroogde vrugte en vis, ook landboutoerusting lewer.