Verskeie winkels wat aan Somaliërs behoort, is by Pienaar naby Nelspruit geplunder. Die aanvalle het gevolg op die dood van ‘n 20-jarige man, wat na bewering aan die hand van ‘n winkeleienaar gesterf het.
Die plundering het begin nadat die slagoffer begrawe is. Een van die Somaliese winkel-eienaars Ali Mohamed sê die polisie doen nie genoeg om hulle te beskerm nie.
Mohamed sê hulle het die saak drie dae gelede by die polisie aangemeld, maar niks word gedoen nie.
Hy sê die polisie daag altyd eers op nadat die winkels reeds geplunder is. Die eienaar se verteenwoordiger voeg by dat die mense wat dit doen, skoolgaande kinders is.
Mpumalanga se polisiewoordvoerder, Jabu Ndubane, het die bewering ontken. “Ons het nie versuim nie maar die winkels is te veel en ons het ‘n paar ander eenhede versoek om ons te kom help hier by die stasie.”
Ndubane het beklemtoon dat hulle die Somaliese winkeleienaars voor die begrafnis gevra het om uit te beweeg, maar hulle het nie.





