Swartes van die Bronkhorstspruit-omgewing in Gauteng het geboue, waaronder ook ‘n kliniek aan die brand gesteek.
‘n Polisiewoordvoerder, Johannes Japhta, sê ‘n kliniek, ‘n huis en ‘n saal is in Rethabiseng afgebrand.
Hy het bevestig dat die onrus wat verlede week in Zithobeni uitgebreek het, nou na ander gebiede uitgebrei het.
Japhta sê twee mense is tot dusver in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld.
Meer as 50 mense is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ‘n biblioteek en huis aan die brand gesteek is.
Die lokasie-inwoners het oproerig geraak omdat hulle sukkel om voorafbetaalde elektrisiteit te kry.
Hulle het ‘n satelliet-polisiestasie in Zithobeni en die munisipale kantore aan die brand gesteek.
Die polisie is opnuut in Sebokeng in die Vaaldriehoek ontplooi. Sommige krotbewoners is glo ontevrede oor behuising en ander oor ‘n gebrek aan dienste.
Swartes het toegang tot die gebied byna heeltemal afgesper. Die oproer het vroeg vanoggend uitgebreek.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Faith Mazibuko het vroeër die geweld veroordeel en as misdadigheid bestempel.
Mazibuko sê die talle voorvalle waar staatseiendom beskadig word en sakeondernemings geplunder, is kommerwekkend.
Sy het in Parktown in Johannesburg Februarie as die Maand vir Veiligheid aangekondig, en mense aangemoedig om hul griewe op ‘n passende wyse te lug.
Inwoners van die swart woonbuurt Ga-Seleka by Ellisras (Lephalale) in Limpopo het oproerig geraak oor afleggings by die Medupi-kragstasie.
Hulle het met geweldadige protesoptrede begin teen die ontslag van werkers by die aanleg.
Die polisie is tans in die gebied ontplooi.
Die kragstasie nader uiteindelik voltooiing nadat die werk weens arbeidsonrus maande lank gesloer het.
Meer as tweeduisend poste sal vanjaar verlore gaan by Medupi wanneer verskeie projekte ten einde loop.
Die gesamentlike projekspan het begin om die werkmag van 17.000 te verminder na 800 wanneer die aanleg voltooi is.
Eskom en sy hoofkontrakteurs het vaardigheidsopleiding beskikbaar gestel aan werkers om vir die grootskaalse werkloosheid wat gaan volg te probeer vergoed.
Paaie is met brandende bande en klippe versper.
Busse wat werkers vervoer na die kragstasie, word verhoed om te ry.
Die betogers is glo ontstoke omdat plaaslike werkers geteiken word.
Die polisie in Limpopo sê hulle het geen ander keuse gehad nie as om hulself te verdedig teen die oproerige inwoners in Rhelela buite Tzaneen.
Hangwani Mulaudzi , polisiewoordvoerder, het het gereageer op die dood van twee lede van die gemeenskap wat omgekom het na skote buite ‘n satellietpolisiestasie in die gebied Dinsdagnag weerklink het.
Woedende inwoners is sedert Vrydag verlede week in oproer ná die noodlottige skietery van ‘n 15-jarige seun en die moord van ‘n 20-jarige vrou.
Hulle het ‘n satellietpolisiekantoor aangeval en beamptes met klippe gegooi. Die aanval het gevolg nadat woedende inwoners deur ‘n provinsiale leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters toegespreek is.
Skote is afgevuur wat gelei het tot twee sterftes. Die skare is verwilder nadat die polisie versterkings ingeroep het.
Agt mense is dood in botsings tussen oproermakers en die polisie in die afgelope twee weke.
Twintig studente is geskors na betogings by die Universiteit van Johannesburg (UJ) oor ‘n tekort aan befondsing deur die regering se nasionale studente-finansiële hulpskema (NSFAS).
Sowat ‘n honderd studente het vandag buite die universiteit se Kingsway-kampus betoog.
Geregistreerde studente is geskors hangende dissiplinêre optrede en moontlik kriminele klagte teen hulle.
Studente wat nog nie geregistreer is nie en wat deel was van die protes sal aangekla word van kriminele gedrag, het die universiteit gesê.
Die universiteit sê die studente het administratiewe en registrasie-aktiwiteite ontwrig.
“Die universiteit respekteer die reg van studente om vreedsaam te protesteer , so lank as wat akademiese en administratiewe aktiwiteite nie ontwrig word nie en die veiligheid van studente en personeel is nie in die gedrang gebring word nie.”
Die vise-kanselier, Tinyiko Maluleke sê die studente het ‘n persooneellid aangehou, en van die studente het gedreig om die universiteit af te brand.
Studente by tien universiteite sê hulle gaan registrasie en klasse ontwrig uit protes teen onvoldoende befondsing deur die NSFAS.
Die SA Studentekongres ( Sasco ) het Sondag ‘n oproep om massaprotes oor die befondsingstekort gedoen.
Mangosuthu Universiteit van Tegnologie en die Durban Universiteit van Tegnologie in KwaZulu-Natal ervaar ook ontwrigting as gevolg van die protes.
“Geen registrasie by die universiteite nie totdat alle studente gelyke geleenthede gegee word,” het Sasco se president Ntuthuko Makhombothi aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
Betogers het paaie in Roodepoort in Gauteng met klippe en brandende voorwerpe versper en verkeer tussen Randfontein en Krugersdorp word negatief geraak.
Motoriste wat die pad tussen Randfontein en Krugersdorp gebruik, is aangeraai om alternatiewe roetes te oorweeg weens oproer in die gebied.
Voorvalle waar betogers verbygaande motors met klippe bestook het, is aangemeld, volgens Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie.
Die Johannesburgse Metroplisie het motoriste aangeraai om alternatiewe roetes via Albertina Sisulu-, Impala- en Ontdekkersweg te gebruik.
Volgens berigte is die oproermakers by die saamvloei van Main Reef-, Randfontein-, Miles Stoker- en Cemeteryweg saamgetrek.
Minnaar sê die oproerigheid het net ná 05:00 begin en polisiebeamptes is op die toneel.
In Alexandra, Johannesburg, betoog inwoners teen uitsetting.
Llt.kol Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, sê plakkers wat ‘n pakhuis beset het kennisgewing ontvang dat hulle uitgesit gaan word.
Hulle het glo vroeg vanoggend motorbande aan die brand gesteek naby ‘n kliniek in Wynbergweg. Die SAPD monitor die situasie.
‘n Woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie, Wayne Minnaar het motoriste afgeraai om Hoofrifweg en Corlettweg in Roodepoort te gebruik.
Protesoptrede deur die inwoners van die Princess-woonbuurt kan die roete onveilig maak, het hy gesê. Oproermakers bestook verbygaande voertuie met klippe.
Die betogers eis beter dienslewering en eis dat die regering vir hulle HOP-huise bou.
Hulle is ontevrede oor ‘n gemeenskaplike kraan wat deur talle gedeel moet word en geen behoorlike fasiliteite vir sanitasie nie.
Motoriste word aangeraai om Ontdekkersweg as ‘n alternatiewe roete te gebruik.
Swart inwoners van Bekkersdal aan die Wesrand kan binnekort weer begin protesteer, hangende die besluit wat Donderdag by ‘n openbare vergadering geneem word.
Bekkersdal is aan die einde van verlede jaar deur gewelddadige protesaksie geskud vir meer as ‘n maand lank.
Meestal jong kinders was op die voorpunt van die oproer.
Die woordvoerder vir die groter Westonaria se Concerned Residents’ Association Thabang Wesi sê frustrasies het kookpunt bereik as gevolg van die leë beloftes van regeringsamptenare.
Inwoners het geëis dat die Westonaria Plaaslike Munisipaliteit onder administrasie geplaas word en beskuldig die burgemeester Nonkoliso en ander senior amptenare van wanadministrasie en nepotisme .
Wesi het aan die Citizen gesê.dat hulle geen ander opsie het as om te betoog as beloftes nie nagekom word nie.
Die Stad Kaapstad het besluit om behuising vir dakloses tydelik te laat vaar nadat betogings uitgebreek het oor die karige bystand.
Planne is nou van die baan geskuif om blyplekke vir inwoners van Agstelaan in Valhallapark op te rig nadat brande honderde plakkers dakloos gelaat het.
Oproer en chaos het Donderdag in die gebied uitgebreek met inwoners wat buitebande aan die brand gesteek het toe die Stad Kaapstad “net vier sinkplate” aan Maandag se brandslagoffers gegee het.
Die Stad het met voorheen beloftes gemaak oor hoe hulle die lewens van mense gaan verbeter met die nuwe wonings.
Brandende bande en versperrings is op die Robert Sobukwe-pad aangebring.
Van die mense bly tans in die Nooitgedacht-gemeenskapsaal.
Inwoners het gesê dat hulle eintlik ou skeepshouers verkies. Hulle sê die sinkplate sal maar net een of ander tyd weer afbrand.
Die woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuur, Wilfred Solomons-Johannes sê die moeilikheidmakers is ‘n klein minderheid.
Die meerderheid dakloses is bereid om die stad se hulp te aanvaar. Samesprekings word tans met die gemeenskap gevoer om die probleem te besleg.
Aanvanklik is besluit om die ramp as ‘n “geleentheid” te sien om 580 nuwe sinkkaias te bou. Dit sou deel uitmaak van ‘n twee-jaar plan om munisipale opknappings in die woongebied te bespoedig.
Dit is alles egter voorlopig van die baan geskuif nadat die besluit tot oproer gelei het met plakkers wat paaie in die gebied afgesper het en aandring op beter behuising of baksteenhuise.
Die hooggeregshof in Kaapstad het ‘n dringende hofbevel aan die Kaapstadse metroraad toegestaan om enige onwettige protesoptogte te keer.
‘n Optog van EFF-simpatiseerders en die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep wat vandag gehou word, het sake-ondernemings in die middestad reeds gewaarsku dat hulle hul deure moet sluit.
Vroeër die maand het oproermakers in die middestad omstanders aangerand, vensters gebreek en winkels geplunder.
‘n Woordvoerder van die metroraad, Wilfred Solomons-Johannes, sê die Wes-Kaapse hooggeregshof het die hofbevel tydens ‘n spesiale sitting toegestaan.
Hy sê enige iemand wat help om lede van die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep vir potesoptredes aan te ry, sal met die gereg kennis maak.
Die groep het vroeër gesê die optog sal voortgaan, en hulle sal nie deur ‘n hofbevel verhoed word nie.
Andile Lili, ‘n lid van die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep het egter na die hofbevel teen die optog gesê hulle sal nie meer voortgaan nie.
Lili sê hulle sal appèl aanteken teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se bevel. Hy sê hulle veg vir wat hulle glo is die beste belang van armes.
Volgens Solomons-Johannes is wetstoepassers op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas.
Ontstoke inwoners van Letlhabile naby Brits in Noordwes het paaie met brandende bande, klippe en skrotmetaal versper.
Die polisie sê die mense het ‘n munisipale watertenkwa weggewys omdat hulle lopende water in hul huise wil hê.
Die gemeenskap is sedert Saterdag sonder water.
‘n Polisiebeampte op die toneel het gesê dat die inwoners dreig om die paaie te versper totdat die Madibeng-burgemeester, Popi Mogongwa op hul eise reageer. – RSG
Thokoza in die sewentigerjare. Foto deur Raymond Preston
Polisieversterkings is na Thokoza aan die Oos-Rand gestuur nadat inwoners paaie met klippe en brandende voorwerpe versper het.
Die inwoners probeer om die Rooi Miere verhinder om die gebied in te gaan om onwettige kragverbindings te verwyder.
Die polisie moes Maandag rubberkoeëls op woedende inwoners vuur om hulle uiteen te jaag.
Die polisie sê Cerama en Khumalo-strate is afgesper. Drie mense is gister in hegtenis geneem en sal môre in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld.
Die DA het die toenemende gebruik van rubberkoeëls deur die Gauteng polisie gekritiseer.
Die party sê die SAPD gebruik rubberkoeëls ten spyte van ‘n verbod op die gebruik van dié ammunisie.
Die party sê rubberkoeëls is sedert Augustus in ses voorvalle soos Bekkersdal, Diepsloot en Thokoza gebruik om protesgangers uiteen te jaag. – RSG
’n 12-jarige seun is gewond tydens ’n betoging in Jabulani, Soweto, het die polisie in Gauteng Dinsdag gesê.
Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, het gesê die kind is Vrydag geskiet.
“Die seun is na bewering in die kop geskiet en was teen gister [Maandag] steeds in die hospitaal.
“Ons weet nie wie hom geskiet het nie. Dit is tussen die Johannesburgse metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ons ondersoek die saak.”
’n Saak van poging tot moord is Maandag geopen nadat die polisie die seun se familie opgespoor het.
Makhubela het gesê inwoners het Vrydag betoog en geëis dat spoedhobbels in die paaie aangebring word omdat motors te vinnig ry in die gebied.
Drie mense is tydens die betoging in hegtenis geneem vir openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging en het Maandag in die Protea-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot volgende Maandag, wanneer hulle ’n formele borgtogaansoek sal bring. – Sapa
Ontstoke inwoners van Bekkersdal aan die Verre Wes-Rand dreig met anargie nadat die ANC gesê het hulle het nie inwoners se “vuil stemme” nodig nie.
Samesprekings met die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Lechesa Tsenoli het in duie gestort.
Verteenwoordigers het Sondag uit die samesprekings gestap nadat hulle sowat agt ure lank geredekawel het.
Die samesprekings het gevolg na dae van gewelddadige betogings in die gebied waarin een persoon dood is.
Inwoners eis onder meer die skorsing van die burgemeester en raadslede van die gebied en vra dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.
Tsenoli sê die munisipaliteit kan nie sonder konkrete redes onder administrasie geplaas word nie, maar dat daar onmiddellik opgetree sal word indien bewys kan word dat die burgemeester en raadslede korrup en onbevoeg is.
Maar Bekkersdal was nie in die bui vir die ANC se pogings om hulle te paai nie.
Die gemeenskap het opstandig geraak ná ‘n ernstige teregwysing van die Gautengse provinsiale leier Nomvula Mokonyane oor hul oproerigheid. “Mense ons kan dreig en sê dat hulle nie sal stem nie, maar die ANC het nie hulle vuil stemme nodig nie,” het sy glo aan hulle gesê.
Die Bekkersdalgemeenskap dreig nou om die ANC uit die kussings te lig deur hul stemme aan die EFF te gee.
Mokonyane is deur Westonaria se burgemeester, Nonkoliso Tundz, ondersteun wat haarself na bewering nog meer ongewild as die premier gemaak het deur inwoners te beledig toe sy na hulle as “inkwenkwe” verwys het, ‘n term vir diegene wat nog nie by die inisiasieskool was nie en gesien word as seuns.
Inwoners sê die ANC nie hulle “vuil stemme” nodig het nie, is daar ander politieke partye wat dit beter sal aanwend om effektief na die kiesers om te sien in teenstelling met hoe die ANC hulle behandel.
Baie inwoners van Bekkersdal sal vir die EFF [ Ekonomiese Freedom Fighters ] stem, het ‘n swart student in mediastudies gesê.
Advokaat Dali Mpofu het intussen vir nog ‘n opskudding in die ANC gesorg nadat hy bedank uit die party om by die EFF aan te sluit.
“Interne verlamming [ in die ANC ] is sodanig dat dit ‘n kwessie van tyd is voordat dit irrelevant tot die breër revolusie raak,” het Mpofu aan City Press gesê .
Mpofu was vir 33 jaar ‘n lid van die ANC.
Hy is tans by die Farlam Kommissie van Ondersoek om gesinne van die mynwerkers wat dood is by Marikana verlede jaar, te verteenwoordig.
Die advokaat het aan City Press gesê dat hy glo dat “radikale beleid ” nodig is om die armes te help. Hy het gesê die rykes moet aan die armes gee om “stabiliteit” te bewerkstellig.
“My enigste voorspelling is dat kiesers met die verloop van tyd sal sien dat hulle net weens die sentiment en die naam [van die ANC] ondersteun.”
Gauteng se premier, Nomvula Mokonyane, het Sondag in Bekkersdal aan die Wesrand verklaar dat sy nie deur betogers geïntimideer sal word nie.
“Ek sal nooit van enigiets weghardloop nie. Ek sal nie weghardloop van ons mense terwyl hulle ‘n ’n krisis verkeer nie.” Seweduisend inwoners het opgedaag om haar te troef.
Paaie in die lokasie is Sondag met klippe en brandende boomstompe versper. Skole en eksamens is ook ontwrig. Inwoners eis onder meer dat die burgemeester van Westonaria, Nonkuliso Thunzi, die trekpas kry.
Die betogings duur nou al weke lank en 59 mense is reeds in hegtenis geneem vir poging tot moord, diefstal en openbare geweld.
Mokonyane sê sy het gehoor daar word geëis dat dié mense vrygelaat word anders sal die plundery voortduur. Hierop het sy gesê die regering “sal nie as gyselaar aangehou word nie”.
Sy het inwoners skerp gekritiseer omdat hulle Sondag kerkdienste ontwrig het, iets wat selfs nie in die apartheidsjare gebeur het nie. “Kerke was ons vestings,” het sy gesê.
Die polisie is in die gebied ontplooi. Die oproerige inwoners sê hulle sal aanhou totdat die Westonaria plaaslike munisipaliteit onder administrasie geplaas word.
Hulle het Sondag met Gautengse regeringsamptenare vergader om die swak dienslewering in die munisipaliteit te bespreek.
Die regering het onderneem om die bewerings van korrupsie in die munisipaliteit te ondersoek.
Thunzi sê die inwoners keer dat die munisipaliteit sy werk kan kom doen, soos vullisverwydering. – Sapa