Minister vergader met mynbase na Glencore lisensie verloor

Die bestuur van Glencore is in die ANC se visier.

Die Departement van Minerale Hulpbronne het die seldsame stap Dinsdag geneem om die mynbou-lisensie van Glencore se Optimum-steenkoolmyn op te skort omdat hulle personeel glo sleg behandel.

Dit val saam met die nuus dat Glencore ‘n sakereddingstrategie aangekondig het omdat die kontrak met Eskom onekonomies is.

Beplande afleggings in die mynbedryf en dalings in kommoditeitspryse, het ekonomiese an arbeidsvooruitsigte vir die land nog meer beroerd laat lyk.

Intussen sal die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi met mynbase in Pretoria vergader om die werksverliese te bespreek wat onlangs aangekondig is.

Anglo American en Lonmin het die afgelope tyd bekend gemaak dat hulle beplan om poste te besnoei. Lonmin wil sesduisend werkers aflê.

Parlementslede het vroeër ‘n beroep op die regering gedoen om dringende stappe te doen om werksverliese in die mynwese te beperk.

Die ANC het intussen sy oproepe hernu om ‘n staatsbeheerde mynmaatskappy te stig. Die regerende party voer aan dat die staat immers meer as een mynmaatskappy moet besit om werksverliese te voorkom.

Glencore het Dinsdagoggend aankondig dat hy die Optimum-myn, wat 5,5 miljoen ton steenkool per jaar aan die Hendrina-kragstasie lewer, in sakeredding plaas. Dit beteken groot afleggings by die myn.

Die myn het probeer om beter steenkoolpryse met Eskom te beding, terwyl Eskom verlede week boetes van R2 miljard van Optimum teruggeëis het.

Volgens Glencore is daar die afgelope twee jaar skuld van R2,5 miljard aangegaan om Optimum aan die gang te hou en nog R900 miljoen van sy eie kontantbronne aangewend om die myn aan die gang te hou.

Lonmin verwerp gerugte oor afleggings

Die platinumprodusent Lonmin het aannames van bronne in die mynbedryf verwerp dat die maatskappy beplan om sowat 5.700 poste te sny as deel van sy veldtog om winste na die vyfmaandelange staking in die bedryf te herstel.

Die maatskappy se uitvoerende hoof, Ben Magara, sê daar is geen planne om enigiemand uit diens te stel nie en die prioriteit is om produksie te verskerp, het RSG berig.

Twee bronne in die mynbedryf het aan die nuusagentskap Reuters gesê volgens die beplande afleggings sal ses skagte gesluit word.

AMCU se staking het ook Anglo American Platinum en Impala Platinum ontwrig. Amplats het intussen aangekondig dat hy beplan om van sy myne te verkoop.

Impala sal na verwagting die mark inlig oor potensiële herstrukturering wanneer hy Donderdag verslag doen oor sy jaarverdienste.

Medupi: Swart woonbuurt in oproer oor afleggings

Oproer in Julie 2013
Oproer in Julie 2013

Inwoners van die swart woonbuurt Ga-Seleka by Ellisras (Lephalale) in Limpopo het oproerig geraak oor afleggings by die Medupi-kragstasie.

Hulle het met geweldadige protesoptrede begin teen die ontslag van werkers by die aanleg.

Die polisie is tans in die gebied ontplooi.

Die kragstasie nader uiteindelik voltooiing nadat die werk weens arbeidsonrus maande lank gesloer het.

Meer as tweeduisend poste sal vanjaar verlore gaan by Medupi wanneer verskeie projekte ten einde loop.

Die gesamentlike projekspan het begin om die werkmag van 17.000 te verminder na 800 wanneer die aanleg voltooi is.

Eskom en sy hoofkontrakteurs het vaardigheidsopleiding beskikbaar gestel aan werkers om vir die grootskaalse werkloosheid wat gaan volg te probeer vergoed.

Paaie is met brandende bande en klippe versper.

Busse wat werkers vervoer na die kragstasie, word verhoed om te ry.

Die betogers is glo ontstoke omdat plaaslike werkers geteiken word.