Oproer nadat kragdiewe doodskok

Sowat 500 oproeriges versper tans die R102 by Tongaat, noord van Durban met brandende bande en klippe.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Zwane sê die gemeenskap eis wateraansluitings en elektrisiteit.

Die oproer het begin toe drie mense Dinsdag doodgeskok het terwyl hulle elektrisiteit gesteel het.

Die drie het na bewering gepoog om onwettige kragverbindings aan te lê.

Zwane sê die polisie is na die gebied ontplooi, en monitor die situasie.

DA kla oor rubberkoeëls op oproerige kragdiewe

Thokoza in die sewentigerjare. Foto deur Raymond Preston
Thokoza in die sewentigerjare. Foto deur Raymond Preston

Polisieversterkings is na Thokoza aan die Oos-Rand gestuur nadat inwoners paaie met klippe en brandende voorwerpe versper het.

Die inwoners probeer om die Rooi Miere verhinder om die gebied in te gaan om onwettige kragverbindings te verwyder.

Die polisie moes Maandag rubberkoeëls op woedende inwoners vuur om hulle uiteen te jaag.

Die polisie sê Cerama en Khumalo-strate is afgesper. Drie mense is gister in hegtenis geneem en sal môre in die hof verskyn op aanklagte van openbare geweld.

Die DA het die toenemende gebruik van rubberkoeëls deur die Gauteng polisie gekritiseer.

Die party sê die SAPD gebruik rubberkoeëls ten spyte van ‘n verbod op die gebruik van dié ammunisie.

Die party sê rubberkoeëls is sedert Augustus in ses voorvalle soos Bekkersdal, Diepsloot en Thokoza gebruik om protesgangers uiteen te jaag. – RSG