Plakkers in opstand oor Kaapstad se karige hulp

valhallaparkDie Stad Kaapstad het besluit om behuising vir dakloses tydelik te laat vaar nadat betogings uitgebreek het oor die karige bystand.

Planne is nou van die baan geskuif om blyplekke vir inwoners van Agstelaan in Valhallapark op te rig nadat brande honderde plakkers dakloos gelaat het.

Oproer en chaos het Donderdag in die gebied uitgebreek met inwoners wat buitebande aan die brand gesteek het toe die Stad Kaapstad “net vier sinkplate” aan Maandag se brandslagoffers gegee het.

Die Stad het met voorheen beloftes gemaak oor hoe hulle die lewens van mense gaan verbeter met die nuwe wonings.

Brandende bande en versperrings is op die Robert Sobukwe-pad aangebring.

Van die mense bly tans in die Nooitgedacht-gemeenskapsaal.

Inwoners het gesê dat hulle eintlik ou skeepshouers verkies. Hulle sê die sinkplate sal maar net een of ander tyd weer afbrand.

Die woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuur, Wilfred Solomons-Johannes sê die moeilikheidmakers is ‘n klein minderheid.

Die meerderheid dakloses is bereid om die stad se hulp te aanvaar. Samesprekings word tans met die gemeenskap gevoer om die probleem te besleg.

Aanvanklik is besluit om die ramp as ‘n “geleentheid” te sien om 580 nuwe sinkkaias te bou. Dit sou deel uitmaak van ‘n twee-jaar plan om munisipale opknappings in die woongebied te bespoedig.

Dit is alles egter voorlopig van die baan geskuif nadat die besluit tot oproer gelei het met plakkers wat paaie in die gebied afgesper het en aandring op beter behuising of baksteenhuise.