Die hooggeregshof in Kaapstad het ‘n dringende hofbevel aan die Kaapstadse metroraad toegestaan om enige onwettige protesoptogte te keer.
‘n Optog van EFF-simpatiseerders en die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep wat vandag gehou word, het sake-ondernemings in die middestad reeds gewaarsku dat hulle hul deure moet sluit.
Vroeër die maand het oproermakers in die middestad omstanders aangerand, vensters gebreek en winkels geplunder.
‘n Woordvoerder van die metroraad, Wilfred Solomons-Johannes, sê die Wes-Kaapse hooggeregshof het die hofbevel tydens ‘n spesiale sitting toegestaan.
Hy sê enige iemand wat help om lede van die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep vir potesoptredes aan te ry, sal met die gereg kennis maak.
Die groep het vroeër gesê die optog sal voortgaan, en hulle sal nie deur ‘n hofbevel verhoed word nie.
Andile Lili, ‘n lid van die Kaapstadse Informele Nedersettingsgroep het egter na die hofbevel teen die optog gesê hulle sal nie meer voortgaan nie.
Lili sê hulle sal appèl aanteken teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se bevel. Hy sê hulle veg vir wat hulle glo is die beste belang van armes.
Volgens Solomons-Johannes is wetstoepassers op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas.
