Weens Michael le Cordeur se groot liefde vir die ANC en by name Nelson Mandela, wat hy by voorkeur “Madiba” noem, is Jeugdag ‘n bron van groot vreugde vir hom. By hierdie opvoedkundige, wat graag voorgee dat hy ‘n kampvegter vir Afrikaans is, kom dit nie op dat die gebeure van 1976 as anti-Afrikaans geplooi word nie; ook nie dat dit ‘n hoogs destruktiewe gebeurtenis is wat jaarliks as openbare vakansiedag gevier word nie. Baie skole het tydens die oproer landswyd in die slag gebly. Geboue van die Universiteit van Wes-Kaapland is afgebrand. Le Cordeur was daardie jaar in matriek. Vier van sy klasmaats het die Hoërskool Bergrivier aan die brand gesteek. Nie een van hierdie misdade word deur Le Cordeur veroordeel nie omdat hy meer waarde aan sy linkse politiek as aan opvoedkundige oorwegings heg.
Le Cordeur het die destydse blanke regering verkwalik omdat vereis is dat die Bergrivier-misdadigers jaarliks by die polisie moet aanmeld; ‘n baie ligte straf vir die groot skade wat hulle doelbewus aan openbare eiendom aangerig het. Pleks van hulle te verplig om lewenslank dwangarbeid te verrig, het die ANC-regering hierdie vier misdadigers van skuld vrygeskeld. Die nuwe Suid-Afrika het immers in beduidende mate weens misdaad tot stand gekom. Die land word sedertdien in ‘n soortgelyke mate met hierdie suksesresep bestuur en geadministreer. Desnieteenstaande is daar verbasing omdat die era sedert 1990/1994 gekenmerk word deur misdaad wat hom golf op golf dwarsoor die land voordoen.
Le Cordeur is ‘n dosent in opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Daarmee is alles nog nie gesê nie. Kort na vanjaar se Jeugdag (16 Junie) is ‘n artikel deur Le Cordeur op Maroelamedia se webwerf (18 deser) hergepubliseer. Dit is sy bydrae tot die redakteurs Danie Langner en Chrisna Nel se FAK-bundel, Hoekom Afrikaans? (2014, 142p, R150). Daarin verwys Le Cordeur nie net na sy geliefde “Madiba” nie, maar ook onbeskeie na homself as ‘n “gerespekteerde dosent en leier op vele gebiede.”* Dit herinner aan die keer toe hy beweer het dat hy deel van die Who’s Who van Afrikaans is. Aan die positiewe kant vertel hy dat hy sy kinders Afrikaans opgevoed en in Afrikaans laat skoolgaan het. Sy gebondenheid aan Afrikaans is egter nie passievol in dieselfde sin as by blankes nie. Soos by Neville Alexander gooi hy sy voorkeur vir Afrikaans hoofsaaklik oor die boeg van entoesiasme vir moedertaalonderrig; dus nie as lewensnoodsaaklike kulturele uitdrukkingsmiddel nie. Dit is waarom Le Cordeur kan beweer dat die Wellingtonse Klopse glo vreeslik lief vir Afrikaans is terwyl elke groep met ‘n Engelse naam pronk. [*In sy jongste artikel (hier onder) beweer Le Cordeur dat hy ‘n “verantwoordelike pos” beklee. Die vraag is: In hoeverre tree hy verantwoordelik (bv nie-misleidend) in daardie pos op?]
Soos vorige jare het die Universiteit Stellenbosch (US) op sy webwerf sy studente en personeel aangemoedig om Jeugdag te vier. Dit word ook gedoen vir iedere openbare vakansiedag wat ter viering van die ANC se gewelddadige geskiedenis ingestel is. Die aankoms van Europese beskawing word egter nie op 6 April deur die US gevier nie, al is die universiteitswese een van die vele produkte van Europese beskawing. Teen hierdie absurditeit spreek Le Cordeur hom nie uit nie. In ruil vir Le Cordeur se gedienstigheid (kyk hier onder) word die aandag op die US-webwerf op Le Cordeur se jongste artikel in Die Burger (16 Junie, p 11) gevestig. Hy het dit klaarblyklik met voorbedagte rade vir publikasie op Jeugdag geskryf en vir publikasie aangebied. Die Burger het dit graag gepubliseer, “versier” met ‘n groot weergawe van Sam Nzima se “beroemde foto van Hector Pieterson”. Asof dit vir hierdie koerant nie eensydig genoeg is nie, is hierdie foto aangevul met die afbeelding van ‘n swart seuntjie wat heeltemal onskuldig met sy (leë?) hande agter sy rug staan. [“Klonkie” is volgens die HAT ‘n rassistiese woord, gevolglik vermy ek dit. Talle woorde uit die (tradisionele) leefwêreld van die Afrikaner word deur die HAT en WAT goedsmoeds as “rassisties” bestempel.]
Le Cordeur skryf oor twee onderwerpe: Jeugdag en Afrikaans. Hy vertel dat die jeug (skoliere en studente) na 1976 elke jaar ‘n “eie vakansiedag” op 16 Junie gereël en gevier het totdat die ANC-regering die herdenking van daardie gewelddadigheid tot openbare vakansiedag verklaar het. “Stadigaan skud Afrikaans die juk van apartheidstaal af danksy organisasies soos die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging [ATKV], Het Jan Marais Fonds en die Afrikaanse Taalraad [ATR].” In die geval van die ATKV hou Le Cordeur veral van sy kultuurhoof, Danny Titus, en die oorverligte uitvoerende hoof, Japie Gouws. Die Marais-fonds bevorder Afrikaans, maar dit pas Le Cordeur en die US-bestuur om selfs nie eens vanjaar, by die honderdste herdenking van Marais se sterfte, sy stigtingsvoorwaarde vir die US te opper nie, naamlik dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels mag beklee nie; wat nog te sê om die US ondubbelsinning daartoe te verbind. Ek stel dit onomwonde dat enigeen wat hierdie stigtingsvoorwaarde ignoreer of vertrap myns insiens effektief ‘n vyand van Afrikaans is. Le Cordeur is ‘n ATR-direksielid en -oud-voorsitter. Volgens eie vertolking is die ATR nie ‘n Afrikaanse taalraad in die ware sin van die woord nie, maar ‘n versoenings- en meertaligheidsraad. In hierdie opsig is die ATR en die ATKV soortgelyke instansies.
Let op waar Le Cordeur sy selektiewe klem plaas wanneer hy aan Afrikaans as nie-apartheidstaal dink: “Digters soos Adam Small en Breyten Breytenbach, skrywers soos Mathews Phosa en Abraham de Vries, akademici soos Russel Botman en Wannie Carstens, sangers soos Les Javan en Hemelbesem, organiseerders soos Japie Gouws, Danny Titus en Christo van der Rheede, teaterbestuurders soos Marlene en Neil le Roux en Theo Kemp, en selfs politici soos Renier Schoeman en Franklin Sonn het Afrikaans – eens ‘n verdrukkerstaal – ‘n versoenings- en bemagtigingstaal help maak en van sy rassistiese verlede bevry.” Le Cordeur sal nooit moeg daarvoor word om Afrikaans met apartheid, rassisme en verdrukking te assosieer nie. As ANC-kornuit gaan hy sonder meer uit van die veronderstelling dat ons huidige situasie dié van nie-rassisme en vryheid is, terwyl daar blatant teen blankes gediskrimineer word en daar talle beperkings is op wat in bv Afrikaans gesê mag word. Le Cordeur se norme vir insluiting in sy genoemde lysie is politieke linksheid en dikwels etnisiteit. Vergelyk die rol wat daardie mense gespeel het en die gewig van hulle bydrae tot die heil van Afrikaans met wat in gesaghebbende literatuurgeskiedenisboeke staan. Hoe eensydig en bevooroordeeld Le Cordeur is, blyk dan duidelik. Le Cordeur se kernprobleem is dat sy ANC-verknogtheid sy siening van Afrikaans dikteer. ‘n Soortgelyke eensydige benadering van die Afrikaans taal- en letterkunde is te sien op die inligtingspanele in die besoekersentrum van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.
Dan kom Le Cordeur by een van sy troetelonderwerpe uit: sy afsydigheid van Standaardafrikaans en sy voorliefde vir die mengeltaal Kaaps. “Dis nie net óns wat vry* is nie, maar ook ons taal. Vandag word Afrikaans met meer vrymoedigheid en kleurryker as ooit gepraat. Vandag weet ons dat die opstande destyds nie so seer oor Afrikaans was nie, maar oor die paswette, die martelings, die Groepsgebiedewet en die diskriminasie in die onderwys en die ekonomie. Afrikaans was maar die laaste strooi vir ‘n groep mense wat op te veel ander gebiede moes ly.” [*Hierdie vryheid is glo “duur gekoop”. Le Cordeur verorber politieke segswyses soos ‘n honger vis aas sluk.]
Dat Le Cordeur erken dat onderrig in Afrikaans bloot as voorwendsel vir die onbeskaafde 1976-gewelddadigheid gebruik is, is ‘n wins. Hy kon gerus ook bygevoeg het dat die populêre propagandastorie dat die opstand spontaan by skoolkinders ontstaan het, dus asof dit nie deur volwassenes georkestreer is nie, vals is. Hy kan gerus ook kennis neem dat die paswette nie deur die slegte Afrikaners/Boere uitgedink is nie. Die eerste paswette is deur die goeie Britte, by name deur George Macartney, in 1797 aan die Kaap ingestel. Die “martelings” waarna hy verwys, is seker die wat na bewering deur die “apartheidsregime”, bv die veiligheidspolisie, gepleeg is. Le Cordeur dink seker nie aan die martelings in die ANC se strafkampe of die martelings wat blankes aan die hand van veral swartes in die nuwe Suid-Afrika te beurt val nie. Die diskriminasie waarna hy verwys, is dié in die ou Suid-Afrika. Hy reken nie die rassediskriminasie wat teen blankes in die nuwe Suid-Afrika, insluitende aan die US, gepleeg word nie.
Le Cordeur praat selfs die ANC-regering se diskriminasie teen Afrikaans en Afrikaanssprekendes goed. Hy begin deur te skryf: “Wat ek vir Afrikaans wil hê, moet ek immers ook vir ander tale gun.” Maar die teenoorgestelde, dus wederkerigheid, geld blykbaar nie. “Dit verg ‘n nuwe soort opoffering [dus] begrip as ‘n Afrikaanse leerder in parallelmediumonderrig ‘n klas met ‘n nie-Afrikaanse leerder moet deel.” Hier is Le Cordeur die kluts kwyt. In parallelmediumonderrig word klasse nie gedeel nie. Klasse word bv uitsluitlik in Afrikaans of uitsluitlik in Engels aangebied. Wat hy blykbaar wou sê, is dat Afrikaanssprekendes in gesamentlike tweetalige klasse vir lief daarmee moet neem as die onderrig grootliks in Engels geskied (veral as die skoliere/studente swart is). Dit is waarmee Le Cordeur genoeë neem selfs aan die US, wat histories ‘n Afrikaanse universiteit is en kragtens sy stigtingsvoorwaarde oorwegend Afrikaans moet bly. Le Cordeur wys ook nie die oneerlikheid van die US uit nie, naamlik dat gesamentlike klasse as 50% Engels en 50% Afrikaans gereken word om die skyn te wek dat die US in groter mate Afrikaans is as wat hy is. In die praktyk is gesamentlike klasse oorwegend Engels, indien nie feitlik uitsluitlik Engels nie.
Die selfverklaarde Afrikaans-entoesias Le Cordeur is ook tevrede as daar by die toekenning van studiebeurse teen Afrikaanssprekendes (en veral blankes) gediskrimineer word, want dit is in ooreenstemming met die ANC se beleid van Afrikaans- en blanke benadeling. Hy pleit vir “begrip dat beurse aan nie-Afrikaanssprekende student[e] nou prioriteit is om diegene wat so lank agtergelaat is, by hoofstroomonderwys in te sluit. Gedagtig aan ons gedeelde verlede is dit ‘n klein prys om te betaal.”
As US-dosent praat Le Cordeur die rektor, Wim de Villiers, en die res van die US-bestuur na. “Van die Universiteit Stellenbosch (US) vereis dit [die nuwe Suid-Afrika] dat beleidsvormers taal só sal bestuur dat niemand uitgesluit voel van dié mooi kampus nie.” Le Cordeur is dus ten gunste van die verdere verengelsing van die US totdat almal (veral die swartes) tevrede is. Hy veronderstel blykbaar dat so ‘n stadium bereik sal word. Oor die verskansing van Afrikaans rep hy geen woord nie. “Dit vereis van die universiteitsbestuur om te luister as die jeug praat, selfs al doen hulle dit onkonvensioneel [soos in 1976?]; om die jeug te nooi om saam aan ‘n toekomstige taalmodel te beplan. Want die toekoms behoort aan hulle. Nooit weer mag Afrikaans, of enige ander taal, die muishond van Suid-Afrikaanse tale gemaak word nie. Daarom moet ons jeug besef meertaligheid sal al hoe belangriker word. Om suksesvol met alle studente, ook uit die res van Afrika, om te gaan, sal ons soms die gemaksone van Afrikaans moet verlaat.”
Die universiteitsbestuur moet na die studente luister, maar Le Cordeur noem glad nie dat die studente na die universiteitsbestuur moet luister nie. Toegegee, die De Villiers-US het nog geen eise/ultimatums aan oproerige swart studente gestel nie. Hoe kan van studente, wat in baie gevalle nie weet hoe ‘n behoorlike skool lyk nie en wat nog minder weet van wat ‘n universiteit is of behoort te wees, help met die beplanning daarvan, bv die taalopset? Die meertaligheid wat Le Cordeur in die ATR-idioom bepleit, beteken nie bloot dat wittes bv Engels magtig moet wees nie, maar ook dat swartes (soos in 1976) verplig moet word om hulle Engelse “gemaksone” te verlaat en Afrikaans aan te leer. Die hele tyd hamer Le Cordeur op die opofferings wat Afrikaanssprekendes moet maak, selfs aan die US. Dit kom nie by hom op dat van die inkommers verwag kan word om aan te pas nie, des te meer as hulle uit die buiteland gelok word.
Siende blind neem Le Cordeur nie die agteruitgang van Afrikaans aan universiteite waar nie. “Al dink sommige daar is ‘n gekoördineerde poging om Afrikaans in die hoër onderwys te diskrediteer, het verskeie rektore onlangs hul steun aan Afrikaans toegesê. Volgens Cheryl de la Rey is daar ‘n tuiste vir Afrikaans by Tukkies, waar parallelmediumonderrig studente in staat stel om in sowel Afrikaans as Engels onderrig te ontvang.” Die feit is dat die Universiteit Pretoria (UP) ‘n (eksklusief) Afrikaanse universiteit was en dat dit nou oorwegend ‘n Engelse universiteit is en Afrikaans deurlopend afgeskaal word. Waarom mislei Le Cordeur doelbewus sy lesers met die storie dat die UP ‘n “tuiste vir Afrikaans” bied, sonder om te verduidelik hoedanig daardie tuiste is?
“Dan Kgwadi van die Noordwes-Universiteit [NWU] bevestig Afrikaans sal as akademiese taal voortbestaan solank skole Afrikaanse studente lewer.” Weereens, die Potchefstroomse Universiteit was, soos die UP, ‘n (eksklusief) Afrikaanse universiteit. Kgwadi wil ‘n eenvormige “institusionele kultuur” op al drie die NWU-kampusse afdwing. Die Potchefstroomse kampus se oorwegend Afrikaanse karakter sal in die slag bly. Maar dit is hierdie einste Le Cordeur wat verkondig het dat “diegene wat huil oor die dood van Afrikaans in Potch [moet] weet hulle huil by die verkeerde begrafnis” (Rapport, Weekliks, 9.11.2014, p 7).
“Wat die US betref, het wyle prof Botman herhaaldelik gesê Stellenbosch moet ‘n meertalige universiteit wees met plek vir Afrikaans as onderrig- en navorsingstaal.” Die US was (eksklusief) Afrikaans. Veral Chris Brink het hom vir ‘n tweetalige US beywer. Botman het hom so ver moontlik van ‘n Afrikaanse (en natuurlik blanke) US gedistansieer deur die US ‘n meertalige universiteit te noem, want Xhosa moes volgens hom ook in die prentjie kom. Wat Botman oor Afrikaans gesê het en wat hy gedoen het, het nogal verskil; net soos Jonathan Jansen in sy intreerede as rektor gesê het dat die Universiteit Vrystaat (UV) onder sy leiding ‘n Afrikaanse universiteit sal bly, terwyl hy hom openlik vir ‘n eentalige Engelse UV beywer. Om politieke en etniese redes is Botman en Jansen vir Le Cordeur heiliges. Nog so ‘n heilige is die joernalis Henry Jeffreys wat doelbewus valslik beweer het: “In Botman het Maties ‘n ware taalstryder vir Afrikaans gehad” (Die Burger, 26.11.2014, p 10). Maar wat is taalgewys die werklike nalatenskap van Botman aan die US? Onlangs is berig dat die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe wat studente betref 70% Engels is (Die Burger, 15 Junie, p 1). Dit is wat tydens die Botman-bewind gebeur het, al sou De Villiers hoe graag pa hiervoor wou staan.
“Uiteindelik kan toegewydes aan Afrikaans ook daaruit moed skep dat die Grondwet genoeg geleentheid bied om Afrikaans as universiteitstaal te bevorder. Solank daar ‘n groot genoeg vraag is na Afrikaanse onderrig aan instellings, moet ons daarin voorsien. Tog moet ons ook ontvanklik wees vir inklusiewe kommunikasie [wat word bedoel?] en die rol van Engels in dié verband.” Nogeens dieselfde soort logika. Die hele tyd staan Le Cordeur nie vas vir Afrikaans nie en gee hy eerder toe aan druk vir Engels. Hy skep valse moed uit die grondwet. Hy is sekerlik nie een van die “toegewydes aan Afrikaans” nie. As hy was, sou hy besef het dat die grondwet Afrikaans nie vertroetel en sekerlik nie doeltreffend beskerm nie. Afgesien van wat daarin staan, is dit die nuwe bewindhebbers wat die grondwet vertolk soos dit hulle pas en dan daarvolgens handel, bv befonds of nie befonds nie.
“Die nuwe US-rektor, prof Wim de Villiers, moes al vure doodslaan en ‘n memorandum van ongelukkige [veral swart] studente en dosente ontvang. Maar sy vasberadenheid [!] gee Afrikaanssprekendes hoop wanneer hy sê hy steun onder meer ‘die ondersteuning en uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal.'” Weer koester Le Cordeur valse hoop. Wanneer Afrikaans ter sprake was, het De Villiers, sedert sy diensaanvaarding as rektor op 1 April, bloot klakkeloos herhaal wat in die huidige US-taalbeleid staan. Hy het nog nie met sy persoonlike gevoelens en standpunt oor Afrikaans vorendag gekom nie. Nog minder het hy hom daartoe verbind om die posisie van Afrikaans aan die US (permanent) te verskans. Tydens die herdenking van Jannie Marais op 30 Mei, ‘n eeu na sy dood, het De Villiers hom opmerklik skaars gehou. Sover ek weet, het De Villiers nog nooit Marais se stigtingsvoorwaarde vir die US opgehaal en homself tot die eerbiediging daarvan verbind nie. Die punt is: As De Villiers Marais se kardinale skenkingsvoorwaarde in hierdie herdenkingsjaar ignoreer, sal hy nooit erns daarmee maak nie. Le Cordeur opper (doelbewus) ook geen beswaar dat daar geen huldiging van Marais op die US-kampus, bv op die Rooiplein, was waarby die studente en personeel betrek is nie. Waarom vier die US sedert die Botman-era jaarliks Jeugdag en ander openbare vakansiedae wat ANC-gewelddadigheid loof, maar na ‘n eeu word Marais glad nie amptelik deur die De Villiers-US gehuldig nie? Dit is gewoon ‘n skande wat aan die groot klok gehang behoort te word; veral deur “toegewydes aan Afrikaans”.
As ANC-entoesias onderskryf Le Cordeur die minister van hoër onderwys, die kommunis Blade Nzimane, se standpunt. “Is ‘n eksklusiewe Afrikaanse universiteit die oplossing? Nee, sê minister Blade Nzimande, dit sal diversiteit en transformasie in die hoër onderwys ondermyn. ‘Die idee is juis om universiteite te skep waarvan die identiteit en institusionele kultuur nie swart, wit, Afrikaans óf Engels is nie, maar onbeskaamd Suid-Afrikaans in die ware sin van die woord.'” Nzimande en die ANC se doel is die verswelging van Afrikaans en blankes deur Engels en swartes. Hier is geen sprake van die nuutgevonde vryheid waaroor Le Cordeur so hoog opgee nie. Dit gaan om gedwonge rasse-integrasie; nie vryheid van assosiasie en moedertaalgebruik nie.
Die US-rektor eggo Nzimande se standpunt en hy kan op Le Cordeur se steun reken. Daar word soos volg uit De Villiers se intreerede aangehaal: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ‘n Xhosa-universiteit nie; Stellenbosch is ‘n meertalige Suid-Afrikaans universiteit. Ons is ‘n wêreldklas-universiteit wat verseker taal is nie ‘n versperring tot toegang nie, maar ‘n hulpmiddel vir sukses.” Le Cordeur sien nie in dat die opstelling van Afrikaans teenoor Engels, asook die uitgesproke begeerte om die US te verswart en die universiteit in die breë Suid-Afrikaanse en selfs Afrika-konteks te plaas, die dood in die pot vir Afrikaans is nie. Leopoldt Scholtz het na die aanvaarding van die huidige US-taalplan in November 2014, waarvolgens Afrikaans en Engels amptelik gelyke status as onderrigtale sou hê, voorspel dat die US binne 15 tot 20 jaar eentalig Engels sou wees. Hy het pas sy standpunt hersien: “Dit lyk my ek was hopeloos te optimisties. Dit kan reeds binne vyf jaar die geval wees” (Die Burger, 18 deser, p 14).
Steeds sien Le Cordeur geen gevaar vir Afrikaans nie. Hy weier om die ANC en Engels as dié twee vyande van Afrikaans te identifiseer. “Ek verskil dus met diegene wat meen Afrikaans as universiteitsonderrigtaal loop gevaar om uit te sterf. Die literatuur wat ek lees, gesprekke in die groter gemeenskap, my ondervinding op die kampus en die wind van verandering [ja, waarheen waai hy? – myns insiens na verswarting en verengelsing] wat tans vanuit die US-leiers se kantore waai, stem my positief. Dus, 39 jaar ná die opstande teen Afrikaans glo ek daar is ‘n plek [hoedanig?] vir Afrikaans as onderrig- en wetenskapstaal op universiteit. In die lig van ons diverse kampus en die US se strewe na voortgesette transformasie [wesenlik verswarting en verengelsing] blyk ‘n meertalige taalbeleid, eerder as ‘n eksklusiewe Afrikaanse universiteit, die antwoord [en die grafskrif vir Afrikaans] te wees.”
Slegs in enkele reaksie, deur Kassie van Kaapstad, op Le Cordeur se artikel is in die gedrukte uitgawe van Die Burger (18 deser, p 15) gepubliseer: “Dr Le Cordeur, waarom die klem op Afrikaans as verdrukkerstaal en nie ook op Engels nie, en op Afrikaanse universiteite om meertalig te word en nie ook op eentalige Engelse universiteite nie?” Die Britte het wêreldwyd mense verdruk en Engels kan ook as uitsluitingsmeganisme funksioneer, maar mense soos Le Cordeur verkies om blankes en veral Afrikaners, asook Afrikaans, vir kritiek uit te sonder.
Hoe verkeerd en kortsigtig Le Cordeur se siening is, het op 14 deser duidelik geblyk toe Rapport berig het dat Jan Botha voorgestel het dat die US se fakulteit lettere en sosiale wetenskappe eentalig Engels moet word. Die dekaan, Johan Hattingh, het hierdie voorstel aan die departementshoofde gesirkuleer. Hattingh was al in 1992 van mening dat Afrikaans nie aan die US beskerm hoef te word nie (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 62). Wat opval, is dat dit Afrikaanssprekendes is wat ook hier die voortou in die ondergang van Afrikaans neem. Die grondslag vir die verengelsing van die fakulteit is eintlik tydens die dekaanskap van Anton van Niekerk gelê. Van Niekerk het as voorsitter van die Taalkomitee ook ‘n groot rol in die verengelsing van die US in sy geheel gespeel. Sy redenasie is “dat taal in onderrig minder belangrik is as die kwaliteit van die kennis wat oorgedra word” (p 151). Oftewel “dat die taal in die opleiding van wetenskaplikes en die oordrag van kennis van minder belang is – dit is die kwaliteit en uitnemendheid van die kennis wat die swaarste moet weeg” (p 208). As Van Niekerk sitgemaak kan word in ‘n lesing wat uitmunt in “kwaliteit en uitnemendheid van kennis” maar wat in Mandaryns aangebied word, sal hy gou besef dat hy deur sy nek oor taal praat. Woord- en begrips/betekenis-herkenning is noodsaaklik vir verstaan. In hoeverre verstaan word, word nie net deur die subjek se intelligensie bepaal nie, maar ook deur sy taalkennis. In 2007 is Van Niekerk nie weer as die senaatsverteenwoordiger in die US-raad verkies nie. “Dit het wyd die indruk geskep dat Van Niekerk vanweë sy rol in die afskaling van Afrikaans nie verkies is nie” (p 159). Van Niekerk assosieer Afrikaans kennelik met verkramptheid en Engels met verligtheid.
Die Burger (15 deser, p 1) het grootliks die inligting in die Rapport-berig herhaal. Anders as wanneer swartes met eise kom, het die rektor of ‘n ander lid van die US-bestuur nie op die Afrikaans-kwessie gereageer nie. Dit is as ‘n saak van mindere belang vir kommentaar aan ‘n woordvoerder toevertrou. Steeds word daar nie gesê nie: Tot hiertoe en nie verder nie. Die berigte in Rapport en Die Burger word op die US-webwerf (15 deser) afgemaak as bloot deel van die “waagmoedige debat” wat De Villiers aanmoedig. Elke fakulteit mag glo “konteksspesifieke taalplanne” hê mits dit nie strydig met die oorkoepelende taalbeleid is nie. In hierdie gebeure vind Leopoldt Scholtz tereg “‘n duidelike, ontstellende patroon” (Die Burger, 18 deser, p 14).
Daar is twee here wat ‘n mens nie gelyktydig (in dieselfde mate) kan dien nie, naamlik die ANC en Afrikaans. Le Cordeur het sy siel aan die ANC verkwansel. In sy kern behoort sy gees nie aan Afrikaans nie. Le Cordeur het die ANC gekies. Daarom lyk dit vir my asof hy “inklusief” al die kenmerke van ‘n valse profeet van Afrikaans openbaar.


