Suidpunt: Skryf vandag nog jou lewensverhaal!

Soos ek deur mnr. Leon Lemmer se weeklikse rubriek lees, raak dit vir my gans te duidelik wie die geskiedenis skryf. Of, wie ‘n platform gegee word om geskiedenis te skrywe. Baie van ons lesers dink miskien: “Mastig, net mense met ‘n hoë dunk van hulself skryf ‘n boek oor hulself”.

Ek stem nie saam nie. Nou minder as ooit. Om ‘n voorbeeld te noem. Iewers in M.E.R. se outobiografie (bl. 208-209) word geskryf sy het die benaming “toebroodjie” bedink as vertaling vir “sandwich” toe sy vir “Die Burger” gewerk het, al was daar reeds “planksny” êrens in die Noordwes-Kaapland in omloop. Tot dusver kon ek in geen etimologiese woordeboek steun of weerlegging vir hierdie stelling kry nie, slegs wat sy neergeskryf het. As mens maar geweet het in watter artikel sy die woord die eerste maal gebruik het, sou dit gerusstellend gewees het. En dit is juis hierdie soort “verlies van feite” wat my geweldig bekommer.  Elke detail wat weggelaat word, se bewyse gaan verlore vir die volgende geslag. Party gaan deur snippermasjiene, huisbrand of die asblik verlore. Indrukke gaan verlore. Ervaring gaan verlore. Die belangrikste weer: FEITE gaan verlore. Want nou is jy maklik vatbaar vir die denkfout “argumentum ad ignorantiam” – alles is waar as daar geen teenbewyse is nie. Dit weet die rasionaliste, maar nie jou tipiese progressiewe skrywer wat geen tyd vir die rede het of deeglike navorsing nie. Vir hom of haar is enigiets gangbaar solank dit net byderwets KLINK of eerder, VOEL. Fiksie het die nuwe norm geword.

Ek dink die Afrikaner/Boer is net skaam, of het nog geen skryfkultuur ontwikkel nie. Party Duitsers en Hollanders bring skaars 30 dae in Afrika deur, en skryf ‘n “lewensveranderende” boek daaroor wat maklik-maklik oor die 100 tot 240 bladsye strek. Ek dink nou sommer in die verbygaan aan Barbara Imgrund se “Wild Woman: Die Fremde in mir” (2010). En dominee Herman Huber Kuyper se reisverhaal, “Zuid-Afrika: Reisindrukken”, op archive.org ( https://archive.org/details/HermanHuberKuyperZuidAfrikaReisindrukken ) uit die jaar 1925.

Skaamheid kan nie, mag nie in die weg staan van verantwoordelikheid nie! Hieronder behandel ek die noodsaak, enkele voorbeelde, en “groei”.

Die noodsaak

Ten eerste, om misleiding te voorkom.

Voorbeeld, rondom Apartheid: “Ons moet onthou dat die lewenstandaarde van blankes toe baie hoër was as dié van swartes, so dis glad nie snaaks dat die blanke bevolking ‘n stadiger verhoging in lewenstandaarde gehad het as die swart bevolking tydens ‘n tydperk van ekonomiese ontwikkeling nie.”

Dit is natuurlik ‘n growwe veralgemening wat dag na dag gebeeldsend of op die internet geskryf word. Ek sou die teendeel kon bied met my eie moeder as voorbeeld in die 1950’s tot 1960’s – sy was ‘n plaasbywoner se dogter. Het ook nie krag, water, spoeltoilette en vullisverwydering gehad nie, en alles maar so geiserloos aanvaar. My moeder moes maar water winter en somer, in wind en weer, uit die nabygeleë sloot gaan haal met die emmer of skottel. Die sloot was altyd skoongehou, met krappies wat na jou toe aangeskarrel het. Hordes van die goed. En ‘n paar klein vissies. So skoon was die water. Vandag word daardie huisie bewoon deur ander, die doringbome en bosse het die sloot ingeneem. Die stroom vloei dus nie meer nie. Die krappies en varswatervissies lê seker dekades onder sediment begrawe. Daar was destyds ook geen openbare vervoer skole toe nie, my moeder en haar broer moes kaalvoet skool toe stap. Winter en somer. Maak jy in die winter langs die pad vuur net om jou hande warm te maak, word jy deur die onderwyser geslaan omdat jou hande en naels vuil is. Maklik was die lewe nie. My vader was wel ‘n stedeling in Johannesburg, en hy het wel al hierdie stadsgeriewe gehad. Vir my moeder was dit seker desjare ‘n skandvlek, vir my is dit vandag ‘n eer. ‘n Eer om die progressiewe vooroordele verkeerd te bewys.

Ten tweede, dink hier ook aan stamboomnavorsing. Jy het name, vanne, geboortedatums en sterftedatums voor jou. En dit is al. Jy weet nie waarvan die persoon gehou het nie, weet nie wat die persoon deurgemaak het nie. Inteendeel, jy weet nie eens wat die persoon se gunstelingkleur of -kos was nie. Jy weet nie deur hoeveel lyding jou oumagrootjie was nie. Jy weet nie hoe sy gelyk het nie. Weliswaar weet jy nie eens of die persone ooit gedink het nie. Al wat jy weet: iewers het betoorgrootvader en betoorgrootmoeder mekaar waarskynlik op die muwwe strooimatras beetgepak en geliefkoos, sodat oupagrootjie min of meer 9 maande later gebore moes word. En die lewensverwelkomende raps sadisties op die boud gekry het. So loop die ritueel nou maar verby die doopvont, die katkisasie, voorstelling en aanneming, die eerste nagmaal en… die res hoop jy maar om by GISA of die kerkkantoor uit te vis. Dikwels vrugteloos. Waarom jou oupagrootjie tog so ‘n nukkerige ou man uitgedraai het, weet nugter. Dalk het hy verbitterd geword omdat hy nooit suiglekkers kon kou nie, hoe sal ons weet? Of dalk het sy boesemvriend sy droommeisie afgevry – daar was immers nog nie invoerbruide op bestelling nie. Wat hy van godsdiens, God, die kerk, die staat, die landsgenote gedink het, weet jy ook nie. Wat sy lewensarbeid betref, weet jy heeltemal niks. Al wat jy het, is rudimentêre gegewens wat jy êrens op ‘n foto van ‘n swambedekte grafsteen miskien gekry het op eggsa.org. En miskien identitynumber.org. Dit is al.

Deficit omne quod nasciture: alles wat gebore word, vergaan. Tensy mens iets aan die saak doen, is ons doodgewone mense na drie geslagte ook vir die geskiedenis vergete. Nou ja, as jy dink iemand gaan ‘eendag’ ‘n biografie oor jou skryf, gaan jy lank wag. Jy kan maar netsowel self aan die werk spring. ‘n Biograaf soos J.C. Kannemeyer is buitendien in 2011 oorlede. Ek sien nog geen soortgelyke opvolger nie.

Skryf die oorwinnaars werklik AL die geskiedenisboeke? Leerplanne miskien, ja. TV/radio-programme, miskien ja. Die koerante, miskien ja. Boekpryskortlyste, miskien ja. Die “commendationes”, miskien ja. Maar vir die res? Dis eenvoudig ‘n gebrek aan belangstelling van die behoudendes se kant af. En oor 50 jaar is almal buitendien uitgekuier met die “bespotlike standaard” van die 1990’s, 2000’s en 2010’s – as daar ooit nog iets van oor is. Jou eenvoudige bietjie slêngtaal hier en daar wat jy vandag skryf, is oor ‘n honderd jaar of so “verhewe taalgebruik”. Vra maar vir Joost van den Vondel en William Shakespeare.

Ten derde is die groot gelykmaker (naas die dood) die internet. En mense is nou ook nie almal onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, hoor. Heelwat mense sal nie belangstel in broodskrywers van Netwerk24 wat steeds aanvoer Verwoerd was bang vir televisie omdat hierdie medium die NP sou sink nie. Gelukkig is hierdie skrywers se ondeurvorste prulstukke in elk geval agter ‘n betaalmuur, amper soos ‘n pornokanaal wat uit maatskaplike verantwoordelikheidsin ledegeld begin vra, veilig weggesteek van jong onskuldige blink Afrikanerogies wat maar huiwerig is om koerant onder die blad gesien te word. Dit pas my goed. Nee, dit pas my UITSTEKEND! Mense met gesonde verstand sal eerder na “Verwoerd aan die woord” (1963) gaan en sy toesprake deurlees, veral vanaf bl. 326 tot 333. ‘n Gewigtige bronteks. Maar het Verwoerd se tekste nooit gebundeld bestaan nie, dan moes ek seker maar alles vir soetkoek opvreet op ‘n werf wat hom CNN-styl uitgee “vir nuus wat jy kan vertrou”? Vragie: waarom is Verwoerd se toesprake nooit herdruk nie? Ek bedoel, “Mein Kampf” (vir die ou progressiewes wat mos Apartheid voortdurend met die Nazi-Duitsland vergelyk) het al derduisende, miljoene herdrukke beleef. En vertaal. En vandag is sy werk selfs vryelik beskikbaar vir Jood en nie-Jood om te lees. Waarom nie Verwoerd s’n nie? Verwoerd is mos langer as 50 jaar al dood – sy werk is immers streng gesproke in die openbare besit. Omdat Verwoerd te logies gedink het? Om die waarheid doelbewus te verswyg? Waarom Verwoerd vrees as hy dan storietjies in die parlement sou opdis? Wat is daar dan om weg te steek?

Juis daarom stel ek voor jy moet jou werk orals gaan berg en rondversprei. Persoonlik sal ek nie my boek na my dood geberg wil hê by GISA, saam met my in my uitgevoerde geelhoutdoodskis (soos Heinrich Schörbech gewens het), by die Kaapse Argief, bankkluis, by openbare dorpsbiblioteke of in ‘n tydkapsule onder die preekstoel nie, maar eerder digitaal opgelaai by Amazon, WikiCommons, archive.org, Dropbox of selfs Google Drive wil kry. Brandstigting hinder my, onder andere. En die drukkoste is peperduur. As jy bang is die rekenaarwêreld gaan in die toekoms heeltemal verander of in duie stort, kan jy jou werk liewers laat uitdruk en vir jou kinders en familielede aanstuur – maar jy weet seker nou reeds wat het met al jou ouma se erfstukke gebeur. Dit kry voete en verdwyn spoorloos. Jy kan altyd 600 kopieë laat druk en regoor die wêreld laat versprei, as jy werklik moet. Een van hulle behoort die tyd te deurstaan; net soos die Qumranrolle.

‘n Paradoks soos dit mag klink – ongeveer 5.000 bladsye oor daaglikse gebeurtenisse wat oor 5 jaar strek, is steeds ‘n opsomming van 1.826 dae se 21.912 uur dink- en doenwerk (ek neem ‘n uiters lae 12-uur-gemiddelde). Deesdae kan mens maklik tot 3 bladsye per dag tik, soos jy inligting vergader, beredeneer, kiekies steel en plak (met bronverwysing), aanhalings knip en plak, kommentaar oor jou werk berg, metakritiek oor jou kritiek op ander se kommentare knip en plak, Youtubevideo’s opsom, “podsendings” opsom, ou webblaaie op web.archive.org of archive.is gaan argiveer en hierdie webadresse êrens wil neerskryf. As mens op reis gaan, begin mens nie meer uurliks opsommings maak nie, maar per minuut (soos terloopse notas, foto’s, videos en stemopnames op jou selfoon). Elke kosbare oomblik raak belangrik – wat is gesê, wat is gedink, wat is die indruk van die plek. Met ‘n pen en papier neem dit my dikwels ‘n volle uur om ‘n A4-bladsytjie vol te skryf, want jy moet eers die sin formuleer, dan neerskryf, dan ‘n verkeerdgevormde lettertjie doodkrap. Of ‘n hele sin doodtrek. En ek skryf boonop met my linkerhand, teen ‘n slakkepas. En dit lyk slordig en onleesbaar. Met die toetsbord word my woorde egter leesbaar gevorm terwyl ek tik. Soos ek dink, skryf ek neer. Ek het geen beperking hoe lank ek wil skryf of dink nie. Hoe meer jy skryf, hoe meer wil jy skryf.

Ten vierde. Die mens het ‘n besonder kort geheue. Ek neem hom of haar nie kwalik nie – ons word doodgegooi met inligting en snert. En ons arme verstandjies kan ook maar net soveel verduur. Kan jy onthou wat die dominee drie Sondae gelede gepreek het? Was seker dan nie belangrik nie. Kan jy dag en datum presies onthou wat jy verlede jaar dié tyd gedoen het? “Ja, maar dit steek tog êrens vas!” is die verweer. En diegene wat nie daar was nie? Ek neem aan jou ervarings is nie vir hulle belangrik nie? Eintlik verbasend hoeveel mense aand vir aand sepies kyk en nie oor die sin daarvan nadink nie. ‘n Halfuur, uur, anderhalf uur, twee uur van jou lewe word elke dag vernietig, want jy vergeet dit tog. Jy kon netsowel nie gekyk het nie.

Voorbeelde

Die hele doel van ‘n dagboek (of, daglêer?) is om soveel inligting moontlik na een sentrale punt byeen te bring. By ‘n outobiografie los jy verkieslik die té persoonlike en “minder belangrike” feite uit. En tog is dit ook feite wat verlore gaan. Feite wat verhoed dat mens dieselfde foute maak. En dis daardie voorkoming van foute wat mens tyd en geld spaar.

Veelmaal raak mens teleurgesteld, soos met Jan Rabie se “Paryse dagboek”. Vir my moet mens op 27-jarige ouderdom darem al ‘n gesonde weerstand teen nuwe giere en geite begin ontwikkel het. Ek bedoel nie jy moet ‘n remskoen wees nie. Plek-plek vind ek Rabie hier soos ‘n naïewe kind wat in ‘n speelgoedwinkel losgelaat word van filosofie en jolyt weens “ontkoppeling van die Calvinisme in die vreemde”. Dis ‘n meesleuring, meevoering, oe en a, oor niks. Sy teks, “‘n Boek vir Onrus” (1982) en “Buidel” (1989), toon in hierdie geval veel meer volwassenheid – dit wil sê, nuttige inligting, toe sy woonhuis op Onrus klaar aangebou is (ook daardie bouery het nie seepglad verloop nie). In daardie boeke redeneer hy oor die voordele en nadele van vertalings (wat ek besonder nuttig vind, want dit spaar my dinktyd), oor boeke wat geskryf word slegs vir die uitvoerwaarde daarvan (“culture for export, is culture no longer”), sy bekommernis oor die omgewing en oorbenutting van die seelewe (hierdie vind ek geskiedkundig, want nou kon jy uitvind wanneer die dorp begin uitbrei het), sy wisselvallige groenteboerdery in die agterplaas as gevolg van voëls wat in die slaai- en koolblare nesmaak. Selfs smaaklike seewierresepte sal jy daarin vind. Die alewige gaste wat tydig en ontydig wil kom afpak en teedrink kom ook onder skoot, hoewel dit nie in ‘n geskinder ontaard nie.

Maar laat ek jou hierdie meer eietydse outobiografie vertel. Baie weet reeds van hom, maar ek gaan dit tog weer vertel. Ek het op ‘n besonderse outobiografie afgekom, geskryf deur Klaus Dieter Vaqué, getiteld “An der Hand Gottes… von Pommern nach Südafrika” (2004). Mense mag bekend wees met Klaus Vaqué se “Verraad teen Suid-Afrika” (1989-vertaling), en dat hy ‘n koerant hier in Suid-Afrika vanuit sy huis bedryf het, bekend as die “Insider”. Miskien sal die naam Aida Parker ook ‘n klokkie lui.

Sou hierdie afgetrede Duits-Deense miljoenêr genoeg rede gehad het om ‘n outobiografie te skryf? Wel, seker nou nie soos Raymond Ackerman wat tot drie boeke (2001, 2005, 2010) die lig laat sien het wat tans in sy eie supermarkte verkoop word nie. En tog, ons sou armer gewees het sonder hierdie boek met ‘n bitter kleine oplaag. Ek sou nie geweet het “Verrat an Südafrika” (1988) het tesame met sy Engelse en Afrikaanse vertalings ‘n oplaag van 21 000 kopieë met 7 drukke beleef nie – nogal ‘n rekord vir desjare. Ek sou nog minder geweet het die afgetrede Oudpresident P.W. Botha het Vaqué persoonlik vanuit sy strandhuis op Wildernis geskakel om hom met die boek (“Verraad teen Suid-Afrika”) geluk te wens (die agt Afrikaanse boeke wat Botha by Vaqué wou aanvra was op daardie stadium uitverkoop). Botha het ook destyds, voor hy afgetree het, sy hoogste generaals in die hoofkwartier te Pretoria aangeraai om hierdie boek te lees. Die “Insider”-koerant sou later “pligleesstof” word in die parlement. Die “Insider” is ook gelees in Hamburg, Bonn, die Staatsbiblioteek in Leipzig, asook die vier grootste staatsbiblioteke in Suid-Afrika. Ook is P.W. Botha deur die “Financial Mail” fotografeer met die boek in sy hand; sy “gunstelingboek”, soos Botha dit self stel. Toe skiet die boekverkope die hoogte in.

Uit die telefoonoproep kom ons nogal heelwat te wete (wat aanvanklik in Afrikaans geskied, maar dan oorskakel na Engels):

  1. Botha het sy inskrywing by die “Insider” gestaak (wat hy al twee jaar lank gelees het), omdat hy hom van die politiek wil distansieer. Hy lees nou slegs Christelike boeke en geskrifte wat vir hom belangriker en relevant is.
  1. Botha het “kein gutes Haar” vir De Klerk. De Klerk word deur Botha beskou as ‘n verraaier wat sy land en sy volk uitverkoop het. “Hy, Botha, het ook hervormings voorgestaan (“befürwortet”) en was bereid gewees om ‘met die swartes van die land die politieke mag te deel’ (verbatim: “mit den Schwarzen des Landes die politische Macht zu teilen”), maar dit sou in ‘n ander raamwerk moes geskied, waar die blankes van ‘n absoluut sekere toekoms gewaarborg sou word”.
  1. Botha was verheug oor die kommunistiese stelsel van die Sowjetunie wat in duie gestort het. Hy glo Mandela het hom in die tronk verander, en dit was ‘n geluk. Mandela is vir Botha ‘n “nice chap”, met wie mens ‘n gesprek kan voer. Van hom sou die blankes niks hoef te vrees nie. (verbatim: “Von ihm hätten die Weißen nichts zu befürchten”). Maar hy weet nie wat ná Mandela sou kom nie. Daaroor was Botha bekommerd.
  1. Vaqué stel dit duidelik: Botha was uiters hoflik oor die telefoon, en glad nie die mens soos wat mens hom op televisie gesien het met die vermanende vingertjie wat sy opponente die Leviete voorlees nie.

Hierdie is nog ‘n stukkie in die politieke klimaatlegkaart waarvan ons miskien onbewus is, of as aanvulling kan dien vir Stem uit die Wildernis (1997) deur Dr. Daan Prinsloo. So tussendeur die boek lees mens van die druk van die Wêreldraad van Kerke wat via die Duitse Evangeliese Kerke vanuit oorsee op Suid-Afrikaanse gemeentes uitgeoefen is om Apartheid te beëindig. Dit vind Vaqué juis vreemd, want nêrens in Afrika op daardie tydperk was die swarte in Afrika soveel beter daaraan toe as in Suid-Afrika onder blanke bewind nie. En tog is hierdie land van regoor die wêreld veroordeel. Hy skryf hier, in Suid-Afrika ly vele swartes desjare al aan vetsug, terwyl in die res van Afrika soveel verhonger is en skaars kan oorleef. Hier is skole, universiteite, geriewe en mediese sorg vir almal. Heelwat Duitse immigrante hier in Suid-Afrika het uit die kerke gestap om hul eie gemeentes te stig. Vaqué was een van hulle.  Soos ‘n sakeman het hy ook gewonder waar kry hierdie terreurgroepe hul geld vandaan – want oorlogvoering is nie goedkoop nie. Toe Vaqué begin agterkom maar hierdie Wêreldraad van Kerke sorg in hul sogenaamde ”antirassismeprogram” vir al die pro-kommunistiese “bevrydingsgroepe” regoor die hele Afrikakontinent en oorsee, groepe wat juis die pro-Westerse en Christelike groepe aanval – toe ruik hy ‘n rot. Hoe kan ‘n kerk homself dan probeer vernietig? Hoe langer hy die saak oordink het, hoe meer het hy begin insien dat hier sprake is van buitelandse drukgroepe waar dit meer uit ekonomiese eiebelang en gierigheid handel as om humanitêre redes.

Toe hy die 1988-boek kant en klaar geskryf het, was nie een enkele Duitse uitgewer bereid om sy werk te publiseer nie. Nou ja, dan publiseer ek dit sommer self, sê hy, wat dit ook al mag kos. So het die privaatuitgewery “Varama” sy ontstaan in die rykmansbuurt, Herbert Bakerstraat, Groenkloof, Pretoria, te danke. “Es schlug wie eine Bombe ein”. Eers word kopieë deur plaaslike Duitse kopers Duitsland toe gestuur, en toe word menige van die boeke vanuit Suid-Afrika op bestelling deur boekhandelaars in Duitsland aangevra. ‘n Internasionale ekonomiese inspuiting te midde van die opgelegde sanksies. Een van die eerstes om Vaqué geluk te wens was Ernst “Prinz von Isenburg”. Prins Von Isenburg wil sommer nog 20 boeke koop wat hy aan Prins Philip van Engeland, Otto von Habsburg en “anderen Freunden” sal stuur. Ja, jy het reg gelees! Afrikaanse en Engelstalige Suid-Afrikaners het Vaqué “bestorm” om die boek vertaal te kry. CNA het die boek landwyd verkoop – in al drie tale. Van regoor die wêreld stroom die gelukwense toe in. Onder andere uit Boksburg, Soutrivier, Hillcrest, Windhoek, Swakopmund, München, Zürich, Adelaide (Australië), Boston (VSA), Dr. Andries Treurnicht self, die Duitse Ambassade in Maseru, Prof. T.S. uit Madrid en Pastoor Wolfgang Borowsky uit St. Trojan, Frankryk.

Nou bly die vraag: indien ons sou veronderstel die prinse was onder andere deel van die komplot teen Suid-Afrika en die Weste (en dat die monargie deel van die geldmag of derdemag is), sou “Verrat an Südafrika” gekoop gewees het suiwer om die vermaak oor die onbewustelike misleiding van die plebs, of juis om neefs en niggies te waarsku van hul planne wat te vroeg op die lappe gekom het? Waarom, onder andere, het die Berlynse muur skaars ‘n jaar later geval? Het Vaqué se doodeenvoudige sakemanlogika ‘n veel groter rol in die wêreldgeskiedenis gespeel as wat hy hom kan indink, of misgis ek my? Of is die prinse vandag ook maar ewe broos en oningelig soos die publiek en die koningshuis van Frankryk van weleer?

Wat ek hierbo bespreek het was slegs uit hoofstuk 21, “Das Lieblingsbuch des Präsidenten” (bl. 237 tot 251).

Ek het heel toevallig op 2 Oktober 2017 deur ‘n bydrae op Wikipedia op ‘n digitale plakboek of fotoalbum van ene Pietie Beukes afgekom, netjies genestel op Google Drive ( https://drive.google.com/file/d/0BxEzJ54wEglqU1NmLVlxRHpoWjQ/view ). Ek het in my meer as 27-jarige leeftyd nog nooit van hierdie man gehoor nie (dalk omrede ek doodgegooi is met die name van onbenullige literatore). Deur koerantuitknipsels, foto’s en onderskrifte van hierdie 22,6 megagreep-dokument vind ons ‘n merkwaardige, dog doodgewone man van Worcester wat indirek tot die stigting van die Cape Leopard Trust gelei het. In sy lewe het hy die televisieseine “gebuig” sodat mense van Rawsonville televisie kon kyk; hy het sy eie troetelluiperd aangehou; en was lief vir tydrenne. Ook sy deelname aan die Grensoorlog as recce word hier uitgebeeld. Die koerantberigte, foto’s, dokumente en aktes doen die praatwerk, nie die persoon oor wie die album handel nie. Slegs die sorteerwerk is gedoen. Hier het ons weer nog ‘n legkaartstukkie van die groot geheel.

“Ja, maar ek is nie belangrik genoeg nie! Hoeveel derduisende reisverhale is byvoorbeeld in Latyn nie geskryf nie? En niemand lees dit nie!”, mag jy miskien protesteer. Sover ek weet was iemand soos Louis Tregardt maar ‘n doodeenvoudige veldkornet en boer, maar vir die taalkundiges, geskiedkundiges, menskundiges en vir ons bied hierdie beskeie dagboekie uitsonderlik kultuurhistoriese waarde. Daarvan is die skrywer vandag natuurlik heeltemal onwetend, want hy is op 55-jarige ouderdom in Delagoabaai aan malaria oorlede. Sy seun het die dagboek met hom saamgeneem.

Groei

Waarskynlik sal jy as nuwe skrywer begin met die prosaïese en die absoluut pittige minimum: “Vandag het ek gestofsuig; die stort geskrop; die avokadopeerboom groei nou mooi; by die supermark het ek R20,00 te veel betaal weens ‘n prysfout op die stelsel, moes 30 minute vermors by klantediens om die saak reg te stel, diens is maar traag deesdae; ‘n bedelaar het drie liter petrol kom bedel – nie geld nie, petrol! – hy wou glo by die werk kom. Hy het nie vir my baie haastig gelyk nie. Het seker vir geld geskimp.”

Dikwels help dagboekskrywery om “ruimte in jou kop te maak” vir belangriker sake. Anders tob en tob en tob jy snags vir 30 jaar lank oor ‘n onbenullige saak – en word jy die spreekwoordelike karakter uit een dramateks van oorle’ André P. Brink se eksistensialistiese teater van die absurde, Die koffer. Nee, jy soek ‘n oplossing vir die probleem en gaan voort met jou lewe. Anders maak jy vrede daarmee.

Geleidelik begin jy ‘n herhalende patroon in jou leefwyse raaksien. Veral as jy die soekopsie met kernwoorde in jou woordverwerkerprogram gebruik (en mens onthou nogal goed watter woordekeuse jy gebruik het!), sny jy deur die maande en jare soos ‘n warm mes deur botter. En deur middel van hierdie chronologie begin jy eksperimenteer om die lewe meer (koste)doeltreffend te maak deur die hindernisse te verminder of te vermy.

Jy mag selfs die volgende wisselvorme van ‘n Sumeriese spreekwoord aanleer. En ‘n skokkende verband vind deur hierdie oeroue wysheid te vergelyk met sekere eietydse “gemarginaliseerde groepe” wat nou as die “uitbouers van Afrikaans” voorgedruk word:

‘n Vos het in die see gepiepie. “Die hele see is my pie!” sê hy.

‘n Vos het in die Tigris gepiepie. “Ek laat die springgety styg”, sê hy.

(Iemand wie se aandeel in iets besonder min is, of nie heeltemal presies die omvang weet hoe stelsels op ‘n delikate en ingewikkelde wyse funksioneer nie, het die neiging om hul eiewaarde te hoog aan te prys).

Sekere dinge soos hierbo verander na 9 000 jaar steeds nie. En dit is hoe jy die kaf van die koring skei: iemand met iets tussen die ore sal meer fokus op prosesse en stelsels. Hy vra homself: kanselleer my standpunte mekaar uit, of vul hulle mekaar aan? Watter ander standpunte is daar buite? Mense met verstand probeer immers die groot geheelbeeld van die proses insien en verskaf nuttige detail aan die onbekende leser (dankie, “The Bell Curve”!). Persone met minder verstand plaas hulself meer, indien nie heeltemal, op die voorgrond van hul skryfwerk. Dit skree in die teks uit: “Sien my tog net raak, asseblief!” Die PRODUK spreek egter vanself, nie die persoon nie. Jy kan nie ‘n donkie as ‘n perd probeer bemark nie. En dit is wat die deursnit Suid-Afrikaners glad nie verstaan nie. Ewe min as: “Ja, hierdie wingerdplaas is mooi lowergroen – maar waarom is hy mooi? Hoe lank neem dit ‘n wynstok voor hy vrugte kan dra? Hoe het hy so gekom? Watter middele gebruik die boer daarvoor? Hoe lyk sy klantebasis en kliënte? Hoe lyk die mark oor die algemeen? Hoe was die weer die afgelope paar maande? Wat kan ek hieruit leer?” Niks kom vanself nie.

Dan begin jy ‘n herhalende patroon rondom jou waarneem: dat alle stelsels in die lewe uit siklusse, parallelle, toeval, spirale of ratmeganismes bestaan – soos KEUSE A wat deure 1, 4, 6 oopsluit, maar deure 3, 8, 9 toesluit – maar selde, bitter selde, uit ‘n enkele punt of ‘n pylreguit lyn. “Harde werk” het deesdae ‘n relatiewe begrip geword: gedenk die tragiese Griekse verhaal van Sisifus en die klip wat altyd na benede donder; ten spyte van al sy geswoeg om bo by die kruin uit te kom, kom hy net mooi nêrens nie. Dikwels kom selfs ‘n onwaarskynlike gelukskoot jou pad teë, soos ‘n R200-noot wat na jou met die wind aangesweef kom, wat jou hele komplekse neurale netwerk van “waarskynlikheidswette” kom deurmekaarklits (wat mens weer laat wonder wie is nou R200 kort? Die een se dood is die ander se brood). En hierdie uiteenlopende stelsels kan of doeltreffender gemaak word – of moet met weerstand beveg word. Maar dit mag nooit, nooit, uitgebuit word ten koste van die samelewing nie. Maar nou raak ek te ingewikkeld esoteries. Sekere wonderwerke is eenvoudig verhewe bo die logika. Ander is uitgelewer aan tragedie, waaraan jy niks kan doen nie.

Sou jy self nie ‘n verhaal kan skryf nie, kry dan een wat dit vir jou kan doen. Hier in my boekrak het ek “My life with leopards” (2012), die verhaal van ene Graham Cooke, en die welpies Boycat en Poep, soos geskryf deur die Nederlanderin Fransje van Riel, ‘n ingesetene in die dorre kuswoestyn, genaamd Kaapstad.

In my dorpsbiblioteek het ek selfs op Frans van Rensburg afgekom, waarin uitvoerig sy besoek aan Rusland beskryf word tydens ‘n biblioteekuitstappie in die vroeë 1990’s – die boek is getiteld “Nagvlug oor Siberië: ‘n ongewone reis in Rusland” (1998). Peter Allison skryf ‘n boek “How to walk a puma, and other things I learned while stumbling through South America” (2012). Joy Adamson het hoeveel boeke geskryf oor diere wat sy verpleeg en grootgemaak het, ene met medisynemiddels, bronstyd, dragtigheid, geboorte en gedrag alles stiptelik opgeteken. En dan, Riaan Manser se “Around Iceland on inspiration” (2012) – hy en ‘n verlamde vriend vaar rondom die stormagtige Ysland met ‘n opblaasbootjie vir die avontuur en om hul eie “sielkundige grense” te toets en deurbreek. In Christelike boekwinkels is daar tientalle mense wat hul betrokkenheid by satanisme in Suid-Afrika beskryf, hul bekering, hul bevryding, hul verlossing, ens.

“Ja, maar is sulke goed dan ooit wetenswaardig?” mag jy vra. Wel, die uitgewers het beslis so gedink.

As jou lewe op papier (jou keuse!) nooit vir die dorpsbiblioteek oorweeg sou word nie, hoef jy GLAD NIE sleg te voel nie. Dit gaan vir jou tog nie oor die geldwaarde daaraan verbonde nie: eerder – “ek was nie verniet hier nie; en mag daardie jongman in die jaar 2142 tog uit my foute leer!” Dit is hoe beskawings immers gebou word; deur nie herhaaldelik dieselfde foute te maak nie.

‘n Biografie getiteld A beautiful mind (1999) deur Sylvia Nasar is deur die Wes-Kaapse biblioteekdiens aanvanklik “te hoog” bo Jan Publiek se jakkals geskat en van die hand gewys, op grond van ander resensies wat die boekkeurders gelees het, soos: “To fully appreciate Nash’s career accomplishments, readers must have some grasp of advanced mathematics. But Nasar tells the story of a great mind broken and then healed with subtle sympathy”. Die raad het beslis: “Looks quite heavy going and interest would be fairly limited. In view of limited funds, leave unless there is clear indication of demand.” Toe die fliek uitgereik word in 2001, is die provinsiale biblioteekdiens skielik nie skaam om die 2002-herdruk aan te vra nie: “For review of 1999 pbk. ed. that we did not buy, see BRN 900304624. We should consider this new ed. as the filmed version with Russell Crowe was shown here recently and there will be interest in this biography of John Nash.” Die boek ressorteer vandag onder die slagwoorde “biography”, “readable non-fiction” en selfs, wil jy glo, “popscience”! O, ek dag dan die biografie was te “moeilik”?

Nou laat ek nie verder in jou pad staan nie.

Jy het ‘n lewenstaak om te verrig.

“Ja, maar…”

Loop skryf net.

— Suidpunt

Dan Roodt: Afrikaans word 90 in ‘n krisisjaar


Dit is lekker om vandag Afrikaans se negentigste verjaardag as amptelike taal te vier. Dit sou egter ‘n fout wees om te dink ons kan op ons louere rus, want die jaar 2015 gaan in die annale as ‘n swart jaar vir Afrikaans verewig word. Hoewel Afrikaners oor die algemeen neerhalend na die Britse Ryk en die Engelse onderdrukking van Afrikaans in die verlede verwys, moet ons onthou dat die amptelike status van Afrikaans op 8 Mei 1925 in die Unie-parlement eenparig aanvaar is! In sy toespraak op dié dag het die latere eerste minister, dr. D.F. Malan die Britse adellikes, asook die Britse goewerneur-generaal bedank vir die erkenning wat hulle aan Afrikaans verleen het. Trouens, vir baie jare was Afrikaans, naas Frans, een van die weinige nie-Engelse amptelike tale van die Britse Statebond.

roodt_fbfotoEintlik was die taalstryd in die 1920’s betreklik maklik. Waar Afrikaanse ouers ‘n Afrikaanse skool vir hul kinders verkies het, het die onderwysdepartement dit geredelik toegestaan en is sulke skole met staatsfondse opgerig. Vandag sal die ANC-bewind kwalik ons belastings aan ons bestee in die vorm van ‘n Afrikaanse skool. Onlangs het Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, die provinsie waarin die meeste Afrikaners woon, ‘n ondersoek na die oorblywende Afrikaanse enkelmediumskole gelas met die doel om hulle sogenaam te “transformeer” en te verengels. Hy het aangekondig dat “Afrikaans nie bo ander tale verhewe is nie”, ‘n absurde stelling aangesien die ANC-bewind tot dusver baie seker gemaak het dat Engels bo Afrikaans en elke ander taal verhef en bevoordeel word.

Jaap Steyn haal in sy boek Tuiste in eie taal ene MJ Posthumus aan wat in 1956 nog die volgende kon sê:

“Ek glo nie ons generasie is in staat om die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope dertig jaar in sy volle omgang te skat nie. Dit het alles so sonder basuingeskal plaasgevind, maar die uitwerking en gevolge is nou al beslissend vir die toekoms.” (Steyn, bl. 211)

Onlangs het ons egter gesien hoe die ontwikkeling omgekeer word en as’t ware amper ‘n sterfproses word, veral wat die universiteite betref. Die laaste twee oorblywende Afrikaanse kampusse, Stellenbosch en Potchefstroom, word tans gedreig en afgepers om Engels te raak. Tydens die onlangse inhuldiging van die rektor van die US, prof. Wim de Villiers, is daar deur ‘n anti-Afrikaanse betoging gehou met die naam “Open Stellenboch”. Wat daarmee bedoel word, is ‘n Stellenbosch wat vir Engels “oop” is, maar vir Afrikaans geslote. Op die kampus van Tukkies is die naam van die weeklikse studentekoerant, Die Perdeby, al Afrikaanse woord of sinsnede wat ooit nog daarin verskyn. Die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit is al werklik Afrikaanse kampus wat daar in die land oor is, maar danksy die verbete veldtog wat Adriaan Basson van die Beeld-koerant daarteen gevoer het, is die dae van Potch as ‘n laaste vesting van Afrikaanse hoër onderwys waarskynlik getel. Beeld se onsinnige berigte oor ‘n “Nazi-saluut” deur eerstejaarmeisies op dié kampus het die aandag van die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, getrek en daarom is sy lakei, Dan Kgwadi, as rektor van die NWU aangestel. Net vandeesweek het Kgwadi ‘n toespraak in Engels voor studente gehou waarin hy hulle vertel het dat hy die “handelsmerk” van hul kampus gaan verander en dat daar ‘n “balans tussen toegang en taal” op die kampus sal wees. Dat daardie “balans” baie vinnig na Engels gaan oorhel, is ‘n uitgemaakte saak. Van die swart studente wat Engels verkies, het die tolkdiens op die kampus wat volgens internasionale norme toegepas word as ‘n “simbool van die swartman se verdrukking” verwerp.

Trouens, indien die afgelope twintig jaar twee swart dekades vir Afrikaans was, was vandeesweek ‘n swart week vir die taal. Op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat het die bruin rektor, Jonathan Jansen, wat homself as ‘n “Engelse swartman” definieer, aangekondig dat Afrikaans heeltemal as onderrigtaal by dié plattelandse universiteit afgeskaf behoort te word.

Sedert die sewentigerjare is die klimaat in Suid-Afrika deur linkses soos Adriaan Basson, Max du Preez en hul Engelse marionetmeesters vergiftig om ‘n Afrikaansvyandigheid te skep wat tans uiters negatief op die taal inwerk. Ook is Afrikaners self deur die media gebreinspoel om ‘n ondergeskikte status in die land te aanvaar, ‘n status wat veral hul taal en kultuur raak. Ons is gekondisioneer om tevrede te wees met die krummels wat van die Engelse tafel afval. Ons belastings en opgeleide mense word gebruik om die Anglo-Amerikaanse kultuur te bevorder. Só pleeg ons selfmoord: taalkundig, kultureel, ekonomies en polities.

‘n Onverkwiklike neiging wat kop uitgesteek het, is iets wat die digter Breyten Breytenbach jare gelede reeds raakgesien het: dat bruines om polities korrekte redes as “hekwagters” by die Afrikaanse kultuur aangestel word. Nie net is Afrikaansvyandige rektore soos Russel Botman en Jonathan Jansen by Afrikaanse universiteite benoem nie, maar elders in die media en by organisasies is sulke “regstellende bruines” ver bokant hul vlak van opleiding en bekwaamheid aangewys om vanuit magsposisies honende aanvalle op Afrikaners en Standaardafrikaans te loods. Om hulle terwille te wees, is ‘n nuwe “kreoolsteorie van Afrikaans” deur ‘n paar konformistiese taalkundiges geformuleer waardeur Afrikaners as’t ware uit die hele taalgeskiedenis “uitgeskryf” word, nes ons uit die land se geskiedenis geweer is. Terwyl Afrikaans dus deur die owerheid of deur rektore onderdruk word, word daar in dieselfde asem die cliché soos ‘n resitasie opgesê dat “Afrikaans aan almal behoort”. Dus het “almal” seker die reg om dit af te skaf ook.

Die enigste ligpunt in hierdie droewige toestand vir Afrikaans, is die oplewing in ‘n populêre Afrikaanse kultuur, waaronder gewilde liedjies en films. Terwyl die media gereeld vir Steve Hofmeyr aanval en verguis, koop die volk sy en ander se musiek of konsertkaartjies.

Dikwels is die gehalte van Afrikaanse popkultuur egter twyfelagtig en stadigaan dring al hoe meer Engelse woorde en gesegdes dit ook binne. Die Afrikaanse letterkunde is so te sê morsdood en al wat oorbly, is ‘n Kaapse kliek met vriende wat by die Naspersuitgewerye werk wat mekaar se boeke uitgee en wedersyds ophemel. Baie min Afrikaners lees nog Afrikaanse literêre werke en sulke boeke het meesal niks met hulle te make nie, maar verwoord die benepe en narcistiese wêreldjie van een of ander Kaapse pseudo-intellektueel. Sulke selfvoldane “Afrikaanse skrywers” het gewoonlik self nog net ‘n paar polities korrekte Engelse boeke gelees en vermoed verder niks van die klassieke Westerse letterkunde of denke nie. Die Europese literêre debat gaan heeltemal by hulle verby, asook die politieke en kulturele strominge in hul eie taal, Afrikaans, wat grotendeels aanlyn geskied vanweë die sensuur wat die enigste oorblywende Afrikaanse mediahuis, Naspers, op ons almal toepas.

Saam met Cicero wil ‘n mens uitroep: “O, die tye! O, die sedes!”

Afrikaans is egter ‘n taal wat in stryd gebore is en daarom al strydende sal voortleef, al word dit ook hóé deur die owerheid en die omringende Anglo-Amerikaanse wêreldkultuur onderdruk.

Vandag is Afrikaans slegs nog in naam ‘n amptelike taal en het hy die status van 1925 stelselmatig sedert 1994 ingeboet. Die Afrikaanse skryfster, aktivis en joernalis, M.E.R. het van haar “strafbare moedertaal” gepraat. Nie net Afrikaners nie, maar ook Afrikaans, word tans vir “apartheid” gestraf, ‘n begrip wat toenemend alle Westerse invloed in die land en selfs die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap in 1652, insluit.

Uit die strafkamp wat Suid-Afrika geword het, smag ons vandag na ‘n oomblik iewers in die toekoms wanneer ons weer vrylik ons eie taal sal kan praat en skryf, sonder om ons spyt daaroor uit te spreek.


Afrikaner, Eurokaner, Aussiekaner, jy het soveel om te sê!

Waarskynlik beskou die meeste Afrikaners letterkunde as nie baie belangrik nie. Die politiek of die ekonomie is vir hulle meer bepalend vir ons toekoms. En die soort politieke neerlae wat ons oor die afgelope paar dekades gely het, is verantwoordelik vir die haglike toestand waarin ons ons tans bevind. Nou die dag gesels ek met mnr. Jaap Kelder wat agter die skerms ‘n groot rol gespeel het om die Afrikanerplakkers vanuit die Kroningsparkkampeerplek op Krugersdorp na ‘n kleinhoewe verder wes in die Hekpoortomgewing te verskuif. Ons is terug by die dertigerjare en die armblankeprobleem.

roodt_dan_wikiDestyds, amper honderd jaar gelede, is daar egter heelwat deur Jochem van Bruggen, Holmer Johanssen en vele ander rondom die armblankes geskryf, in romans. Dit is deur sogenaamde “fiksie” – ‘n Engelse begrip waarvan ek nie baie hou nie – dat Afrikaners van hul eie armoede en ellende bewus gemaak is. Daardie romans is in ‘n realistiese styl geskryf.

Teen die laat vyftigerjare, min of meer tien jaar ná die NP se bewindsoorname, is daar vanuit verskeie oorde ‘n oproep geloods dat die Afrikaanse letterkunde meer “modern” gemaak moet word. Onder andere het NP van Wyk Louw ‘n boek genaamd Vernuwing in die prosa gepubliseer waarin hy gesê het:

Die algemene kultuurpeil van ‘n moderne volk word grotendeels gemeet aan die prosa wat binne hom geskryf, geniet, gewaardeer, geduld of selfs toegelaat word. (Louw, Versamelde prosa 2, 1986, bl.125)

Lees gerus ook die volgende stukkie deur prof. Jaap Steyn waarin hy in ‘n neutedop iets aangaande die Sestigerbeweging vertel.

Hoewel ek heelwat van die Afrikaanse letterkunde weet, en seker amper nog meer van ‘n verskeidenheid buitelandse letterkundes (Frans, Brits, Amerikaans, Duits, Nederlands, ens.), het ek onlangs tot die besef gekom dat ek feitlik my hele lewe lank die verkeerde boeke deur die verkeerde skrywers gelees het. Nie net dít nie, maar ek het baie lank ‘n wanbegrip van die moderne kuns, argitektuur en letterkunde gekoester.

aweregsblad600

Hoe het dit gebeur? Wel, ten eerste het ek destyds aan ‘n linkse universiteit in Suid-Afrika, Wits, gestudeer en later aan ‘n nóg linkser universiteit in Frankryk, die sogenaamde Universiteit van Parys nommer 8, Vincennes-Saint-Dénis, wat aanvanklik in die vroeë sewentigerjare as ‘n soort Maoïstiese projek begin is. In dié opsig is ek allermins alleen, want regoor die Westerse wêreld is veral die geesteswetenskappe aan die universiteite sedert die sestigerjare deur linkses en ekstreem-linkses oorgeneem. Daarmee saam natuurlik die hoofstroommedia, Hollywood, beeldende kuns en alles wat daarmee saamhang. Die Sowjetunie is nie dood nie; hy het bloot weswaarts verskuif!

Eers toe die internet begin ontwikkel, het die skille van my oë afgeval en het ek vir die eerste keer insig in die modernisme begin verkry. Tot en met die tweede wêreldoorlog was moderne en vernuwende skrywers, kunstenaars en filmmakers eintlik merendeels regs! Soos by Van Wyk Louw self, vind ‘n mens by hulle ‘n “aristokratiese ideaal”, ‘n sin vir hiërargie, vir skoonheid en grootsheid wat by die massamens afwesig is. Natuurlik was daar kommuniste soos Bertolt Brecht, Pablo Neruda en ‘n horde ander óók, maar in wese het modernisme en nasionalisme hand aan hand gegaan. Dit was nie om dowe neute dat die amptelike literêre doktrine van die kommuniste jare lank “sosiaal-” of “sosialistiese realisme” was nie.

Daar was soveel interessante skrywers en kunstenaars waarvan ‘n mens nooit in die media of aan die universiteite verneem nie, juis omdat hulle nie links was nie. Céline was ‘n Franse nasionalis, en baie anti-Joods en pro-Duits tydens die tweede wêreldoorlog. Nietemin geniet hy wel erkenning as een van die grootste Franse skrywers van die twintigste eeu. Dan is daar nog die Amerikaanse fascistiese digter Ezra Pound wat in die Anglo-Amerikaanse kanon opgeneem is, asook D’Annunzio in Italië of Ernst Jünger in Duitsland. Maar oor die algemeen word daar aan ons voorgehou dat alle kultuur en letterkunde links is! Selfs die vermaarde Franse kritikus waaroor ek ‘n Magisterstudie geskryf het, Roland Barthes, sê in een van sy boeke dat die regtervleuel boeke “vir die plesier” lees, maar dat linkses daarteenoor “kennis, metode, die stryd” vooropstel (Le plaisir du texte, bl. 39).

Feitlik alle hoë kultuur is vandag links, selfs marxisties. Diegene wat iewers nog ‘n sin vir patriotisme of tradisie koester, durf dit nie hardop sê nie, anders word hulle geëkskommunikeer. En tog, en tog… In Parys, wat nog altyd die toonaangewende skrywerstad ter wêreld was, is daar sedert 2000 ‘n groep skrywers en denkers wat die “neoreaksionêre” genoem word en wat in romans en essays openlik krities teenoor die linkse dogmas soos multikulturalisme, witskuld en ‘n kosmopolitiese internasionalisme standpunt inneem.

Binnekort, op 7 Januarie 2015, verskyn daar uit die pen van die mees vertaalde Franse skrywer, Michel Houellebecq, ‘n roman Soumission (Onderwerping) waarin hy ‘n oorname van sy land deur die Moslembroederskap tydens die verkiesing van 2022 voorstel. Dit kom kort op die hakke van Éric Zemmour se opmerking teenoor ‘n Italiaanse joernalis dat dit nie vergesog sou wees om alle Arabiere en dalk swartes uit Frankryk terug na hul lande van herkoms te deporteer nie. Zemmour se essay, Le Suicide français (Die Franse selfmoord) het reeds 250 000 verkoop en hy word as ‘n baie invloedryke politieke en maatskaplike meningsvormer beskou.

Oral in die Westerse wêreld was daar egter skrywers en denkers wat nie noodwendig met die linkse, kultuurmarxistiese revolusie van die sestigerjare saamgegaan het nie. So pas vandag ontdek ek die naam van ‘n Britse lid van die sogenaamde “Angry Young Men” van die vyftigerjare, Bill Hopkins, wie se enigste roman, The divine and the decay, so omstrede was weens die anti-demokratiese, Nietzscheaanse inslag daarvan, dat sy uitgewer alle eksemplare daarvan laat terugtrek en vernietig het. Die konserwatiewe aktivis, Jonathan Bowden, was ‘n groot bewonderaar van Hopkins en het ook die blanke Rhodesiërs en Afrikaners se saak in Londen probeer bevorder. Bowden, wat taamlik vroeg dood is, was blykbaar ‘n uitstekende spreker en vele van sy toesprake en essays is gepubliseer. (Lees ook dié onderhoud met hom.) Onder andere staaf hy my argument as hy in Western civilization bites back sê:

“Since the Second World War, white Europeans have felt guilty about being themselves and have been made to feel guilty and are being encouraged to feel more guilty than they have at any time in their history.”

Uit die bietjie wat ek tot dusver van Bowden te lese had, lyk dit asof sowel hy as sy mentor, Bill Hopkins, verstaan het hoe die Westerse kultuur deur marxisme binnegedring en gerysmier is, iets wat slegs deur ‘n soortgelyke “kultuuroffensief” van Regs geneutraliseer of verminder kan word. Sensuur in die naam van politieke korrektheid is een van die vernaamste wapens in die linkse arsenaal. Daarom sê Jonathan Bowden:

“Political correctness is a methodology and a grammar. It is designed to restrict the prospect of a thought even before the thought is enunciated. Chairman Mao had the idea of ‘magic words’. Magic words. ‘Racism’ is a magic word. Use it, and people fall apart. People begin to disengage even from their own desire to defend themselves… ‘Racism’ is a term developed by Leon Trotsky in the left oppositionist journal in the Soviet Union in 1926 or 1927.”

Politieke korrektheid en ‘n “towerwoord” soos “rassisme” verlam almal, maar veral skrywers en kunstenaars. Van die oomblik dat ‘n skrywer van rassisme beskuldig word, word hy of sy eenvoudig met die banvloek getref. Uitgewers, boekwinkels, resensente, die hele stelsel kom in werking om so ‘n skrywer op die daad te sensureer en na ‘n soort geestelike Siberië te verban. Dis waarom die Franse (en Amerikaanse) neoreaksionêre so ‘n merkwaardige groepering verteenwoordig wat desondanks politieke korrektheid en beskuldigings van “rassisme” onverskrokke volhard het om hul idees te stel vir wie ook al wil lees of luister. Maar al die byna vergete Westerse stemme soos Hopkins en Bowden het almal bygedra tot die oplaaiende simfonie van Europese herlewing, amper iets soos Schiller se “Ode aan die vreugde” wat in die laaste deel van Beethoven se negende simfonie besing word. Dis nodig dat al dié mense herontdek en herlees moet word. Bowden sê elders:

“The West, in my view, is an anti-theocratic and open-minded civilisation, but the idea that because of that we don’t believe in anything is an utter nonsense. We have a fundamentalism of our own, and I think it’s the guilty conscience of most Western intellectuals, particularly liberal-minded people in the arts. An enormous number of Western artists and writers and intellectuals, even through reversal and antagonism, were attracted to fascism in the first 30 to 40 years of the twentieth century, and they were often attracted in an emotional way at a level deeper than reason, because they were attracted to the ur-discourses, the foundational and fundamentalist beliefs, classical and yet Romantic combined, of our own civilisation.”

Wat Bowden hier kwytraak, stem ooreen met ‘n gevoel wat ek reeds lank koester oor die sogenaamde moderne letterkunde en veral prosa in Afrikaans wat deur Van Wyk Louw bepleit is, maar wat op die ou end op ‘n klomp futlose propaganda deur André P. Brink en sy geesgenote uitgeloop het. Enersyds is dit oppervlakkig en ersatz, andersyds is dit volledig verpolitiseer en gedienstig aan die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty op ‘n manier wat aan die ewe vergeetlike “amptelike letterkunde” van die voormalige Oos-Europa herinnner. Vir André P. Brink is seks tussen die rasse of witskuld die summum van alle kuns en skoonheid. Daarvoor is hy natuurlik deur die Naspersmedia ten hemele as “groot skrywer” aangeprys.

Afrikaans is ‘n pragtige taal met baie lojale sprekers wat byvoorbeeld die Amerikaanse musiekbedryf op ‘n eg nasionalistiese manier ondersteun. Soos Gustav Venter eenkeer teenoor my opgemerk het: “‘n Afrikaner sal omtrent enigiets koop, solank dit in Afrikaans is.” Juis daarom is dit so ‘n tragedie dat ons oor geen lewendige, moderne letterkunde beskik nie. Al wat ons het, is aan die een kant sulke marxistiese skrywers wat te dom is om te besef waarmee hulle besig is en aan die ander kant, gewilde of “genre”-skrywers wat na die Angel-Saksiese model ons met speurverhale en dergelike probeer “vermaak”. Maar selfs die speurverhale is polities korrek! Slegs die semi-ondergrondse internetletterkunde hou tans enige hoop in.

Afrikaners is vandag by uitstek die slagoffers van kultuurmarxisme en politieke korrektheid. Daarom beskik Afrikaanse skrywers en denkers nie net oor ‘n verantwoordelikheid teenoor ons eie mense nie, maar teenoor die hele Europese en Westerse wêreld om daaroor te getuig. Trouens, dit verteenwoordig vir ons ‘n historiese geleentheid om hier vanuit die periferie of die antipode van ons beskawing deel van ‘n belangrike beweging te raak. Waarskynlik is dit die belangrikste sedert die slag van Poitiers in 732, want dit gaan oor die oorlewing van ons beskawing.

Die pseudomodernisme van Links en veral daardie “fundamentalisme van die slegte gewete” waarna Jonathan Bowden hier bo verwys en waarvan meer onlangse Afrikaanse boeke deurtrek is, moet verwerp word ten gunste van ‘n vrolike, eksperimentele en waagmoedige letterkunde wat Afrikanerwaardes en -intelligensie beja. Ons moet ook weer boeke in Afrikaans vanuit Europese tale vertaal, soos dit in die verlede gedoen is. PRAAG het reeds daarvoor voorbrand gemaak met sommige van ons boekpublikasies oor die afgelope tien jaar. Dog veel meer moet nog gedoen word!

Histories het elke herlewing van die Afrikanervolk nog altyd saamgegaan met ‘n herlewing van die Afrikaanse taal en letterkunde. Só was dit in die tweede helfte van die negentiende eeu met die Patriotbeweging, maar ook die opwindende Goue Dekade van die 1890’s in die Transvaal waaroor ons so min weet, behalwe ‘n paar opmerkings deur M.E.R. in haar outobiografie, My beskeie deel, en enkele ander bronne. In die 1930’s het veral die Afrikaanse digkuns ‘n groot opbloei beleef, benewens natuurlik C.M. van den Heever en ander prosaskrywers wat ietwat oudmodies maar nogtans diepsinnig die Afrikanerpsige gesondeer het. Laat vrugte deur Van den Heever en Bart Nel deur Van Melle bly twee van die mooiste boeke in Afrikaans. En watter politieke roman is Bart Nel nie ook nie, met die tema van die rebellie wat so sterk daarin figureer!

Die tragiese omstandighede en kwasi-ondergang wat ons tans beleef, leen hom by uitstek tot letterkunde en skeppende kuns. Het dit nie tyd geword dat ons dit in sy naakte geweld en onreg in Afrikaanse boeke, films, musiek en skilderye uitbeeld nie?

Ons beskik oor alles om so ‘n moderne, neoreaksionêre beweging in Afrikaans van stapel te stuur, want danksy die internet het die groot uitgewers en boekwinkelkettings al minder invloed en raak die rol van individuele skrywers en meningsvormers al hoe belangriker. Ook die sosiale media soos Twitter en Facebook kan aangewend word om idees en boeke te bemark.

“Rassisme”, waar is jou angel?

En het Afrikaans nie, danksy emigrasie, ‘n internasionale taal geword nie? Afrikaner, Eurokaner, Aussiekaner, jy het soveel om oor die wêreld en jou land te sê!