UV verheug dat Afrikaans afgeskaf word

Die Universiteit van die Vrystaat is hoogs in hul noppies dat Afrikaans ‘n skop in die tande gekry het met die eenparige uitspraak wat vanoggend in die Hoogste Hof van Appèl gelewer is.

Die aansoek deur AfriForum en Solidariteit vir die tersydestelling van die besluit deur die UV-raad om ’n nuwe taalbeleid te aanvaar, is van die hand gewys.

Die hof het dienooreenkomstig opdrag gegee dat AfriForum en Solidariteit die UV se regskoste betaal, wat die regskoste van twee advokate insluit. Dit is die tweede keer dat die twee aansoekers beveel is om die universiteit se regskoste te betaal.

Die UV verwelkom verder die besluit deur die volle regbank dat die Vrystaatse Hooggeregshof verlede jaar gefouteer het deur aan te dui dat die UV-raad ’n irrasionele besluit geneem het deur die nuwe taalbeleid op 11 Maart 2016 goed te keur.

“Vandag se besluit is ’n mylpaal in die geskiedenis van die Universiteit van die Vrystaat en dit beklemtoon die belangrikheid van die besluit wat verlede jaar deur die Raad geneem is. Die besluit gaan gepaard met ’n verantwoordelikheid omdat ons nou moet seker maak dat al ons studente deel van die globale gemeenskap van akademici kan word deur die nodige ondersteuning aan hulle te bied. Ons moet ook sorg dat ons personeel en studente die implikasies van die hof se besluit verstaan,” het prof. Nicky Morgan, waarnemende Visekanselier en Rektor van die UV, gesê.

Die resultaat van vandag se uitspraak is dat die UV mag voortgaan om die nuwe taalbeleid volgens die Implementeringsplan in werking te stel. Die nuwe beleid behels Engels as die primêre medium van onderrig, maar met die bekendstelling van ’n studiestelsel in Afrikaans en toenemend in Suid-Sotho om studente se leer in hulle eerste en tweede studiejaar te ondersteun.

Die beleid is sedert Januarie 2017 met eerstejaarstudente in drie fakulteite van stapel gestuur: Regsgeleerdheid, Gesondheidswetenskappe en Geesteswetenskappe. Die meerderheid studente in hierdie fakulteite het hulle voorkeur aangedui om in Engels onderrig te word. Die Afrikaans-Engels-beleid sal in 2017 vir die res van die fakulteite behou word en sal vanaf 2018 volgens ’n implementeringsplan uitgeskakel word.

Huidige geregistreerde studente sal hulle studies kan voltooi in die taal wat hulle met registrasie gekies het.

UV wen appèl teen Afrikaans met koste

Die Universiteit van die Vrystaat is in hul noppies met die uitspraak in die Appèlhof wat die implementering van ‘n nuwe anti-Afrikaanse taalbeleid moontlik sal maak.

Die vorige bevel wat die UV verbied het om die taalbeleid wat Afrikaans afskaf teen 2017 in te stel, is dus tot niet.

Die Appèlhof het beslis dat die aansoek gebring deur AfriForum en Solidariteit te kort geskiet het op ‘n wettige sowel as feitelike vlak.

Die hof het dienooreenkomstig die appèl deur die UV teen die implementering, tersyde gestel en gelas dat AfriForum en Solidariteit die regskoste van die UV betaal ten opsigte van beide die Hooggeregshof- en Appèlhofsake.

Ná die uitspraak kan die UV voortgaan om die nuwe anti-Afrikaanse taalbeleid in sy loodsprogram te implementeer volgende jaar, hangende die appèl van die hersieningsaansoek wat aan die begin van 2017 gehoor sal word.

In Maart 2016, het die Senaat en Raad met ‘n oorweldigende meerderheid ‘n nuwe taalbeleid aanvaar wat behels dat Engels as primêre onderrigtaal gebruik word.

Die Afrikaans-Engels, oftewel parallelmediumbeleid sal in die res van die fakulteite in 2017 uitgefaseer word volgens ‘n implementeringsplan vanaf 2018.

Slegs huidige ingeskrewe studente sal in staat wees om hul studies te voltooi in die taal wat hulle by registrasie gekies het.

Hofgeding kom teen Stellenbosch se anti-Afrikaanse taalbeleid

Die Stellenbosch Universiteit sê hy bestudeer nog dokumente wat ‘n pro-Afrikaanse steungroep by die hof ingedien het.

Die groep, “Gelyke Kanse”, vra dat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die universiteit se nuwe taalbeleid ter syde stel.

Volgens die nuwe beleid sal Engels van aanstaande jaar af die primêre onderrig- en administratiewe taal wees.

Die groep waarsku dat die universiteit miljoene aan trustgeld kan verloor as Afrikaans sy status by die instelling verloor.

Dringende aansoek teen UV se huidige anti-Afrikaanse taalbeleid

‘n Dringende aansoek sal in die Hooggeregshof in Bloemfontein gebring word teen die inwerkingstelling van die Universiteit van die Vrystaat se taalbeleid vir 2017.

Afrikaans sal ingevolge dié beleid as onderrigtaal by die universiteit uitgefaseer word. Die Hooggeregshof het op 21 Julie beslis dat dié beleid ongrondwetlik is en dat die aanvaarding daarvan tersyde gestel moet word.

Die universiteit het egter ‘n versoek na die Appèl- én Grondwethof gestuur om teen die uitspraak te appelleer.

Die aansoek teen die implementering van die 2017-taalbeleid by UV is deur AfriForum en Solidariteit gebring.

Die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Alana Bailey, sê voornemende studente word in die duister gelaat oor die feit of hulle in 2017 wel vir studie in Afrikaans kan registreer terwyl die appèl nog hangend is.

“Ons sal baie graag wil sien dat die hof beslis dat die implementering van die 2017-taalbeleid gestaak word. Ons voel op die oomblik is dit ‘n baie groot skending van die studente se reg om te weet waarvoor hulle registreer vir volgende jaar. Veral die studente wat die eerste keer moet registreer by die universiteit, weet nie of hulle in Afrikaans gaan studeer of nie,” sê Bailey.

Intussen bly die bestuur se aanvaarding en inwerkingstelling van die nuwe beleid van krag hangende die howe se uitspraak.

Tuks kapituleer voor EFF en radikale groepe oor Afrikaans

Die Universiteit van Pretoria het gisteraand voor radikale drukgroepe soos die “EFF-studenteweermag” gekapituleer en slegs Engels as onderrig- en voertaal aanvaar. In ‘n verklaring wat die universiteit uitgereik het, aanvaar die instelling Engels as “primêre taal van onderrig en assessering” en veklaar dat “die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word”:

Die Raad van die Universiteit van Pretoria (UP) het in ooreenstemming met die Senaat vandag die aanvaarding van ‘n nuwe taalbeleid ondersteun in terme waarvan Engels die primêre taal van onderrig en assessering sal wees.

Vir studente wat reeds geregistreer is, sal die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word. Die implementeringsdatum is onderworpe aan die proses wat gevolg moet word in samewerking met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om die statuut van die Universiteit te verander.

Die doel van die nuwe beleid is om sosiale samehorigheid te skep en om gelyke geleenthede aan die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale te bied.

Hierdie besluit van die Raad en Senaat volg op ‘n uitgebreide konsultasieproses en voorstelle van alle belangegroepe, insluitend die taalbeleid-werkstroom wat deel gevorm het van die Transformasie-lekgotla, en die Onafhanklike Transformasiepaneel wat gefokus het op die voorstelle van eksterne belangegroepe. ‘n Sleutelfaktor in die onderhandelinge was die verminderende proporsie van studente wat Afrikaans as gekose onderrigmedium aangedui het.

Daar is ook besluit om Afrikaans te behou as ‘n akademiese en vaktaal, terwyl die ontwikkeling van Sepedi tot ‘n hoër vlak van wetenskaplike diskoers ondersteun moet word, wat die beskikbaarstelling van die nodige hulpbronne insluit. Die Raad het aangeveel dat die Bestuur ‘n implementasieplan moet ontwikkel, waarin daar na personeelbehoeftes en die nodige begroting gekyk moet word om voldoende taalondersteuning te bied.

In Afrikaansvyandige geledere word die besluit reeds as ‘n oorwinning vir die EFF-studenteweermag en ander radikale groepe gevier. Op Twitter het verskeie individue hul genoegdoening oor die universiteit se besluit uitgespreek.

Dan Roodt: Tyd om op te staan vir Afrikaans!

Die nuus wat elders berig word, dat sowel Maties as Tukkies van Afrikaans ontslae raak op ‘n swart dag vir Afrikaans, stel Afrikaners voor ‘n onverbiddelike keuse: óf ons moet voortgesette politieke, kulturele en talige oorheersing aanvaar, óf ons moet daarteen in opstand kom. Soos die filosoof Carl Schmitt gesê het:

“Sê my wie jou vyand is, en ek sal jou sê wie jy is.”

Die taaloorlog is verklaar. Oor die afgelope tyd het die vyande van die Afrikaner en veral van ons taal, Afrikaans, openlik na vore getree. Dis nie nodig om hulle hier te lys nie, want ons vermoed almal wie hulle is. Sommige van hulle dra rooi hemde en barette; ander kruip weg agter mooi klinkende frases soos “demokrasie”, “die grondwet”, “toegang vir almal”, en dergelike meer. ‘n Ander groep bestaan uit verloopte Afrikaners wat reeds hul kinders in Engelse skole geplaas het en uit hoofde van hul persoonlike keuse met buitenissige venyn teen Afrikaans organiseer, en eintlik die “vuilwerk” van die meer tradisionele vyande van Afrikaans doen.

Teen hulle almal sal ons ons moet begin verset. Oor die aard en omvang van hierdie verset, moet daar taamlik koud en klinies gedink word. Sekerlik moet daar voortgegaan word met ‘n stryd in die howe en op elke moontlike wettige manier. Hoewel, as ons eerlik is, moet ons erken dat die stelsel dermate teen ons gelaai is, dat wetlike middele haas uitgeput is. Daar word implisiet aanvaar, ook in die howe, dat die Afrikaner so magteloos en skaakmat gestel is dat ons vyande so te sê kan maak wat hulle wil. Demografie is alles en getalle troef elke beginsel.

Oor die verskynsel van Boerehaat in Suid-Afrika – en waarskynlik in Groot Brittanje – kan daar boeke vol geskryf word. Voeg daarby die nuutgevonde vermetelheid van sekere Pedi’s en Zoeloes, en ons sit met ‘n galery vol jillende vyande wat in optrede teen Afrikaans ‘n simboliese manier sien om Afrikaners grondig te verneder. Nie net te verneder nie, maar ons ook te laat verstaan dat ons nie langer in die land of in die samelewing welkom is nie.

Wat PRAAG betref, sal ons aanhou om die goeie stryd te stry en die misnoeë wat die meerderheid Afrikaners voel te verwoord. As een van die openbare gesigte van Afrikaans, moet ons ons by die gehate Engelse grondwet met sy Engelse en swart voorkeure hou, asook by die aardige hoeveelheid wette en maatreëls wat toenemend ons spraakvryheid beperk. Terwyl die ekstremistiese uitlatings en selfs oproepe tot volksmoord van ons vyande natuurlik geduld word, indien nie aangemoedig word nie…

Maar om die spreekwoordelike braaivleisvure, tussen vriende, familie en vertrouelinge, sal elke Afrikaner moet besin oor wat hom volgende te doen staan. Gaan ons dié naakte oorheersing aanvaar waarmee Afrikaans met ‘n pennehaal vanuit die tersiêre stelsel – en volgende uit die skole – verwyder word?

Gaan ons, wat nie die oorheersing van die Britse empaaier wou aanvaar nie, die dwingelandy van die Bantoe-empaaier duld? En indien nie, wat gaan die beste manier wees om dit van ons af te skud? Dis alles kwelvrae waarvoor elkeen van ons sy eie antwoord moet vind.

Gaan daar weer soos in die laat dertigerjare ‘n spontane beweging onder Afrikaners ontstaan, dié keer om die saak van Afrikaans te veg? Ons was al voorheen hier, by dié punt wat Van Wyk Louw in daardie tyd só in ‘n gedig verwoord het:

Julle is die oorheersers en júlle die vertrappers
van ons wat sterk is, maar magteloos verneder;
julle maal ons soos koring; julle eet ons soos brood.
…
Daarom moet julle tot needrigheid genees word,
gebreek word deur ons in ons magtige opstand
tot eenvoudig vreugdes, tot die heilige lye,
tot ’n nuwe onmiddellikheid van die heldere aarde;

Maak geen fout nie: daar word tans tot in die hart van Afrikaans geskiet. Die taal het nog altyd oorleef danksy sy hoë funksies wat hy moeisaam oor langer as ‘n eeu verwerf het. Met die summiere afskaffing van Afrikaans op universiteit, is die stryd in die howe en op bykans elke ander terrein eensklaps óók verlore.

Uit selfverdediging sal ons moet begin dink op watter manier ons Engels – want ongelukkig word die oorlog teen Afrikaans in die naam van Engels gevoer, hoe goedgesind vele Engelssprekendes hier maar veral oorsee ons ook al mag wees – kan seermaak. Dit mag vir ons moeilik wees om die status van Engels as staatstaal en as handelstaal deesdae in ons land aan te tas, maar moontlik is die fisieke infrastruktuur van Engels kwesbaarder as wat ons dink.

Is daar ander meer subtiele maniere om sowel die Britse as die Bantoe-imperialis tot sy sinne te bring, daardie vandale wat tydens die tweede vryheidsoorlog ouerhuise en kerke in ligte laaie gelaat het? Of is ons gedoem om hul resep te volg?

Die staat, die effers en die universiteitsowerhede wat almal uit een mond praat, is besig om ons onberekenbare skade aan te doen deur ons geliefde moedertaal van ons weg te neem. Hiermee ontneem hulle ons ook van ons grootste en mees kosbare ideaal, die strewe om van Afrikaans dié kultuurtaal van Afrika te maak.

As ons aan Engels net vyftig persent van die skade kan aanrig wat daar nou teen Afrikaans gepleeg word, sou ons al baie bereik.

Daar kom ‘n tyd in die lewe van elke volk dat hy teen onreg moet opstaan. Daardie tyd is nóú.

Karel Combrinck: Taalverraad

Enigeen wat kon glo dat die verraad van FW de Klerk en sy trawante maar net beperkte gevolge sou hê wat ons op die een of ander manier tog sou kon «bestuur», het in ‘n droomwêreld en gekkeparadys gelewe, want die verraad het deurgesuur tot alle vlakke van ons bestaan. Sal diesulkes dalk eendag weer uit hulle droomwêreld wakker word, of gebeur dit dalk reeds? Kom ons hoop so. Mag hierdie artikeltjie ‘n beskeie bydrae daartoe lewer.

Die sage rondom die uitfasering van Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria wat besig is om voor ons oë af te speel, bevat omtrent al die elemente van die bedrogspul wat oor ‘n lang tyd reeds aan die gang is en waarvan die aanslag teen ons taal, veral onder aanvoering van verloopte Afrikaners, die erfgename van FW de Klerk, slegs een uitvloeisel is. Slegs een uitvloeisel, maar waarskynlik die belangrikste.

Lees in hierdie verband eers die berig op Praag van 31 Mei waarin verwys word na ‘n aanbevelings van ‘n «taalwerkgroep» van die Universiteit van Pretoria om die akademiese taal na Engels om te skakel.

Die “taalwerkgroep” voer as motivering aan dat Afrikaans “segregasie” en “diskriminasie” in die hand werk Hoe onderrig in Afrikaans “segregasie” en “diskriminasie” kan daarstel, moet die here van die UP tog ‘n slag aan ons verduidelik. Dit help nie om dit maar net keer op keer klakkeloos te herhaal omdat dit polities korrek klink nie. Dit is skynbaar nou eenmaal ‘n linkse mode-slagspreuk wat deel van Afrikanerakademici se intellektuele mondering geword het. Miskien die hoofdeel.

In beleidstukke oor die posisie van Afrikaans op universiteit (ewe skielik ‘n legio), kom die soort sinsnede, “indien prakties uitvoerbaar”, telkens voor. Tereg wys Praag daarop dat die sinnetjie daarop gerig is om die skuiwergat wat in die “Grondwet” gelaat is, (moedertaalonderrig waar prakties uitvoerbaar) te benut om Afrikaans onder te ploeg. In die beleidskrifte van die Universiteit van Stellenbosch kom soortgelyke sinsnedes ook herhaaldelik voor, soos “waar moontlik” of “indien prakties uitvoerbaar” en in die jongste geval “waar tyd dit toelaat”. Ons Afrikaanse taal kan dus nou aan universiteite geduld word «waar uitvoerbaar», waar dit «ekonomies» is en waar «tyd dit toelaat». Feit is dat die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch heeltemal moontlik sou wees indien die wíl by die ruggraatose universiteitsowerhede bestaan het om dit moontlik te maak. En as hulle nie die wil het nie, of bang is vir die ANC, moet hulle waai.

Voorts het die Universiteit van Pretoria nou ‘n “onafhanklike transformasiepaneel” in die lewe geroep om onder meer oor die taalkwessie te beraadslaag .

En dis hier waar die hoogheiligheid en geveinsdheid in alle erns begin.

Eerstens, hoe kan die universtieit ons nou die rat voor die oë wil draai dat hulle, rakende die voortbestaan van die Afrikaanse taal, onbevange, «demokraties», oop en ewewigtig is as die kampus van die universiteit reeds besaai is met plakkate en slagspreuke wat lui: «Afrikaans must fall»?

Hoe op aarde kan ‘n transformasiepaneel “onafhanklik” wees as ons almal weet wat “transformasie” beteken? Die sg. voorleggings wat hulle nou in ‘ n gees van «openheid» bereid is om te oorweeg, is niks anders nie as ‘n rookskerm waaragter hulle kan doen wat hulle by voorbaat reeds besluit he : Afrikaans moet weg. En die armsalige kommentare van die aard: “Die besluit gaan ‘n negatiewe uitwerking op Afrikaans as wetenskapstaal hê” en “daar was nie genoeg geleentheid vir beraadslaging nie” en “dis jammer dat gesprekke oor taal gepolariseer is”, maak ditvir die universiteit net makliker: hulle kan mos nou sê: «Kyk, daar was ander menings ook in die «demokratiese» gesprek.

Die bedoeling, soos in die aanbeveling van die «taalwerkgroep» uiteengesit, is dat Afrikaans op die kampus tot op dieselfde vlak as Pedi afgeskaal sal word. Tydens ‘n oorgangsfase na volslae verengelsing, sal enkele tutoriale en studiemateriaal nog “in Afrikaans en Pedi” beskikbaar gestel word. Dat die sg «transformasiepaneel» tot enige ander gevolgrtrekking sal kom as die «taalwerkgroep», kan ons, ten spyte van die UP se poging tot oëverblindery, maar op ons maag skryf. Die hele proses herinner aan die verhore teen afvalliges in die voormalige Sowjetunie: Al die uiterlike tooisels van ‘n regverdige verhoor, maar die oomblik dat die arme drommel by die hofsaal instap, weet hy reeds sy doppie is geklink.

‘n Verklaring van die universiteit rakende die «transformasiepaneel» lui :

«Die Paneel se onmiddellike fokus is op die Universiteit se taalbeleid. Ander transformasiekwessies, soos institusionele kultuur en kurrikulumtransformasie, mag na 22 Junie 2016 aangespreek word.»

Die eerste aanslag is dus teen die Afrikaanse taal en die ander aangeleenthede sal daarna, onheilspellend, volg. (‘n Mens sidder by die gedagte aan wat dit alles gaan behels).

Dan nooi die Universiteit alle eksterne en interne belanghebbendes om voorleggings aan die Paneel te doen oor –

« die huidige taalbeleid van die Universiteit van Pretoria ;

voorstelle rondom ‘n nuwe taalbeleid;

die redes vir enige voorstel onder (b); en

voorstelle betreffende die regmatige en praktiese implementering van enige nuwe taalbeleid of veranderinge aan die bestaande beleid. »

Voorstelle word dus ingewag oor ‘n «nuwe taalbeleid». L.W. Die uitnodiging het ‘n strekking. Daar word insette verlang oor ‘n «nuwe» taalbeleid (d.w.s. sonder Afrikaans natuurlik, wat anders?) en wyses waarop dit so pynloos as moontlik geïmplementeer kan word. Mense wat nie hulle steun verleen aan die «nuwe» taalbeleid nie moet liefs nie insette lewer nie, want dit sal nie «sinvol» wees nie en hulle sal ‘n «gebrek aan samewerking» openbaar.

Wat inderdaad «nuut» is in die situasie, is dat die universiteit duidelik besig is om sy taalbeleid te hersien en te rig ooreenkomstig die wil van hulle ANC-opdraggewer. Hoekom sê hulle dit dan nie maar prontuit nie ?

«Die Paneel werk onafhanklik van huidige interne Universiteitsprosesse oor transformasie».

So beweer hulle.

Hulle moet tog dink ons is totale idiote om so-iets te wil glo.

En dan volg die volgende politiek gelaaide paragraaf :

«Ons hoop dat sinvolle voorleggings ontvang sal word in ‘n gees van openheid, vertroue en samewerking, ten einde die Universiteit van Pretoria vorentoe te neem om die belangrike rol te speel wat hy in ons grondwetlike demokrasie moet speel.»

Eerstens, wie bepaal wat «sinvolle voorleggings» sal uitmaak ? Is «sinvolle voorleggings» nie net maar dié wat die «transformasiemodel» onderskryf nie? Het die universiteit nie dus die aangeleentheid reeds by voorbaat beslis nie? Slegs ‘n resultaat sal aanvaarbaar wees wat volgens hulle «sinvol» is. Van watter «vertroue» kan in sulke omstandighede sprake wees? En dan, wat is presies die rol wat die universteit in «ons grondwetlike demokrasie» moet speel? Is dit deel van die rol van die universiteit in «ons grondwetlike demokrasie» om Afrikaans as akademiese taal gelyk te stel aan Pedi ?

Ten slotte haal die verklaring breedvoerig aan, kwylend van gedienstige vroomheid, uit die aanhef tot die Suid-Afrikaanse grondwet. (Die houding is klaarblyklik «as ons die grondwet aanhaal, veral die aanhef, dan is ons op veilige grond en kan ons vir die res maar in onsin verval») :

‘Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het, ens. Ens…… »

Feit is egter dat, soos met alle grondwette, die aanhef tot die SA grondwet ook bestaan uit ‘n vae, idealistiese en hoogdrawende relaas van goeie bedoelings waarmee niemand eintlik kan verskil nie, d.w.s. grootliks niksseggend.

Voorts kan daar sekerlik nie gesê word dat hierdie grondwetbeginsels in die Suid-Afrikaanse samelewing werklik nagestreef of eerbiedig word nie. Talle basiese regte van mense word hier op daaglikse grondslag vertrap en rassediskriminiasie van die «regte soort» is aan die orde van die dag. Die reg op ons taal is bv. («waar moontlik» !) ‘n grondwetlike reg waarvan die Universiteit van Pretoria ons nou wil ontneem.

In die stad van Paul Kruger en Andries Pretorius wil hulle ons taal, Afrikaans, ‘n nekslag toedien om hulle «nuwe» meesters te behaag. Hulle moet net die moed aan die dag lê om dit te erken en ons die Pilatustoertjies en sedeprekery oor «demokrasie» maar gespaar laat bly. Dit beledig ons intelligensie.

Taalwerkgroep: ‘Tuks moet oorskakel na slegs Engels’

‘n Sogenaamde “taalwerkgroep” aan die Universititeit van Pretoria het, soortgelyk aan die Jonathan Jansen-beleid by Kovsies, “aanbeveel dat alle klasse en eksamens voortaan net in Engels aangebied word”. Volgens die werkgroep lei die huidige parallelmediumbeleid tot “rassesegrasie en indirekte diskriminasie”. Die werkgroep regverdig die afskaffing van Afrikaans aan die universiteit só:

“Weens die snel en toenemende diversifisering van personeel en studente aan die UP, is die parallelmediumtaalbeleid nie meer ekonomies verdedigbaar en prakties uitvoerbaar nie.”

Waarskynlik word die sinsnede “nie prakties uitvoerbaar nie” gebruik omdat die werkgroep verby artikel 29 van die grondwet wil stuur wat vir moedertaalonderrig “waar prakties uitvoerbaar” voorsiening maak.

Die aanbeveling is verlede naweek deur verskeie rolspelers op die kampus, waaronder radikale swart en Engelse groepe, opgestel. Afriforum Jeug het uit protes uit die vergadering gestap omdat hulle, volgens Henrico Barnard, woordvoerder van die organisasie op die kampus, “geïgnoreer is”.

Die idee is dat Afrikaans op die kampus tot op dieselfde vlak as Pedi afgeskaal sal word. Tydens ‘n oorgangsfase na volslae verengelsing, sal enkele tutoriale en studiemateriaal nog “in Afrikaans en Pedi” beskikbaar gestel word.

PRAAG het reeds vroeër ‘n petisie met meer as 14 000 name aan die universiteit voorgelê waarin geëis word dat Afrikaans op die kampus behoue moet bly.

Vanuit koekserwatiewe Afrikaanse kringe het ‘n geweeklaag opgeklink. Volgens Netwerk 24 het prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, gesê dat “die besluit ’n negatiewe invloed op Afrikaans as wetenskapstaal gaan hê. Dit voel asof daar nie genoeg geleentheid was vir raadpleging nie.”

Die ATKV het by monde van mnr. Japie Gouws gesê sy spyt uitgespreek dat “gesprekke (oor taal) gepolariseerd van aard is”.

Die universiteit het ook op sy webblad aangekondig dat voorleggings oor die taalbeleid tot Vrydag 3 Junie aan ‘n “Onafhanklike Transformasiepaneel” gemaak kan word:

Die Raad van die Universiteit van Pretoria het by sy vorige vergadering besluit om ‘n onafhanklike liggaam te skep om hom oor transformasie, insluitende taalbeleid en institusionele kultuur, te adviseer.

Hierdie liggaam is nou saamgestel en het op Vrydag 20 Mei 2016 vergader. Dit word die ‘Onafhanklike Transformasiepaneel’ (die Paneel) genoem.

Die voorsitter van die Paneel is regter Johann van der Westhuizen, voormalige regter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika en die Noord-Gautengse Hoë Hof, wat ook betrokke was by die skryf van Suid-Afrika se tussentydse en finale Grondwette. Die ander lede is me Khanyisile Kweyama, hoof uitvoerende beampte van Business Unity South Africa (BUSA) en voorsitter van die Raad van Trustees van Brand South Africa; dr Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), besturende direkteur van die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies en leier van die Voortrekkerbeweging; professor Sheila Mmusi, voorsitter van die Setswana-taalkommissie van die Academy for African Languages (ACALAN) van die Afrika-unie, lid van die direksie van Plus94Research en hoof van die departement Mediakommunikasie en Inligtingstudies aan die Universiteit van Limpopo; regter Jeremiah Shongwe, regter van die Hoogste Hof van Appèl en voormalige Adjunkregterpresident van die Noord-Gautengse Hoë Hof; asook professor Adam Small, filosoof, digter, dramaturg en Hertzog-pryswenner.

Die Paneel funksioneer onafhanklik van die bestuur van die Universiteit van Pretoria. Dit sal slegs aan die Raad verslag doen, by sy vergadering wat vir 22 Junie 2016 geskeduleer is. Die Paneel se aanbevelings sal, in oorleg met die Raad, ook aan die publiek bekend gemaak word.

Die Paneel se onmiddellike fokus is op die Universiteit se taalbeleid. Ander transformasiekwessies, soos institusionele kultuur en kurrikulumtransformasie, mag na 22 Junie 2016 aangespreek word.

Alle eksterne en interne belanghebbendes van die Universiteit word genooi om nie later nie as 16:00 op 3 Junie 2016 voorleggings aan die Paneel te doen by council.raad@up.ac.za oor –

  • die huidige taalbeleid van die Universiteit van Pretoria (die huidige taalbeleid is hier beskikbaar: http://www.up.ac.za/media/shared/409/taalbeleid.zp84977.pdf);
  • voorstelle rondom ‘n nuwe taalbeleid;
  • die redes vir enige voorstel onder (b); en
  • voorstelle betreffende die regmatige en praktiese implementering van enige nuwe taalbeleid of veranderinge aan die bestaande beleid.

Voorleggings moet bondig en hoogstens agt bladsye lank wees. Veel korter voorleggings is welkom. Slegs een voorlegging per persoon of organisasie sal oorweeg word. Die Paneel se fokus sal op beredeneerde substansiële kommentaar en voorstelle wees, eerder as die getal, moontlik herhalende, voorleggings wat ‘n bepaalde standpunt ondersteun.

Die Paneel werk onafhanklik van huidige interne Universiteitsprosesse oor transformasie, soos die ‘werkstrome’ wat op ‘n lekgotla in Maart ingestel is. Ons sal dit egter waardeer as die uitkomste van daardie prosesse aan die Paneel voorgelê word vir oorweging en insluiting in sy verslag. Enige uitkomste van bogenoemde prosesse moet in elk geval die normale roete deur Universiteitstrukture volg, soos die Institusionele Forum, Senaat en Raad.

Groepe en individue wat aan bogenoemde prosesse deelneem of deelgeneem het, of verkies het om nie daaraan deel te neem nie, is welkom om hulle sienings aan die Paneel voor te lê in ooreenstemming met paragrawe 6 en 7 hierbo.

Verdere inligting oor die Paneel en sy werk kan verkry word van die voorsitter, via me Thanyani Mahanya by thanyani.mahanya@up.ac.za of me Elzanie Slabbert by (elzanie.slabbert@up.ac.za).

Ons hoop dat sinvolle voorleggings ontvang sal word in ‘n gees van openheid, vertroue en samewerking, ten einde die Universiteit van Pretoria vorentoe te neem om die belangrike rol te speel wat hy in ons grondwetlike demokrasie moet speel. Dit mag van waarde wees om onsself te herinner aan die Aanhef van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika:

‘Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;

Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en

Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde –

Die verdeeldheid van die verlede te heel en ‘n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;

Die grondslag te lê vir ‘n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;

Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en

‘n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ‘n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Die grondliggende waardes in artikel 1 van die Grondwet is:

Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
Nie-rassigheid en nie-seksisme.
Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
… demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ‘n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker.’

Die lede van die Onafhanklike Transformasiepaneel sien daarna uit om u waardevolle bydrae te ontvang.

 

Bring Afrikaans by Maties terug, sê PRAAG

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) het Vrydag sy standpunt oor die konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch aan dié instelling oorgedra. Anders as die meeste Afrikaanse organisasies, asook die Gelyke Kanse-groep wat onlangs gestig is, wil PRAAG sien dat Stellenbosch weer ‘n Afrikaanse kampus word. Hier volg die volledige kommentaar wat aan die universiteit deurgestuur is.

Heil die leser!

Daar is verskeie aspekte van die US se konseptaalbeleid waarteen ons ernstig beswaar het, alternatiewelik meen op vergissings berus.

1. Die begrip “meertaligheid”

Suid-Afrika bevind hom nie in ‘n meertalige omgewing nie. Engels oorheers alle aspekte van die openbare lewe en ‘n Marsman wat die land besoek, sou hoogs verbaas wees om te verneem dat daar enige ander taal in die land gepraat word. Die probleem waarvoor die Universiteit van Stellenbosch te staan kom, is dus hoe om in ‘n abnormale omgewing van taaloorheersing en die kusmatige hegemonie van een taal wat in 1994 geskep is, ‘n mate van “normale” taalgedrag te handhaaf.

Tipies bevind Suid-Afrika hom tans in ‘n tydvak van taaloorheersing, soortgelyk aan dié wat in België voor die tweede wêreldoorlog bestaan het toe Frans geheel en al oorheers het.

Die taak van die universiteit sou dus wees, indien Afrikaans hoegenaamd as akademiese en kultuurtaal gaan oorleef, om die omringende hegemonie van Engels teen te werk.

2. Die ‘drie tale van die Wes-Kaap’

In die konseptaalbeleid word daar na die “drie amptelike tale van die Wes-Kaap” verwys. Hoewel dit tegnies korrek mag wees, aangesien die provinsiale regering daardie drie tale aanvaar het, behoort Afrikaans ‘n voorkeurposisie te geniet omdat dit tegelyk ouer – en dus meer “inheems” – as die ander twee (isiXhosa en Engels) is. Afrikaans is ook die meerderheidstaal in die provinsie, en behoort dus meer as die ander twee gebruik te word. IsiXhosa is bowendien ‘n sg. “migrantetaal”, aangesien sprekers van dié taal van die Oos-Kaap afkomstig is. Soos ons in die Europese Unie kan sien, geniet “migrantetale” nie dieselfde status as inheemse tale nie, daarom behoort isiXhosa geensins aan die Universiteit van Stellenbosch erken te word nie. Universiteite in die Oos-Kaap soos die Walter Sisulu-universiteit, Fort Hare, of die Nelson Mandela-universiteit is veel beter geleë en toegerus om hulle met isiXhosa besig te hou.

Tans is die enigste rede waarom isiXhosa aan die US erkenning geniet, ‘n soort poging om polities korrek aan te doen, wat van meet af aan gedoem is om te misluk. Die vyande van Afrikaans heg geen waarde daaraan nie, en dit doen boonop afbreuk aan die aanspraak dat Afrikaans wel aan die US gehandhaaf en gedoseer behoort te word.

3. ‘Diversiteit’

Die begrip “diversiteit” soos dit in die konseptaalbeleid gebruik word, is Amerikaans van oorsprong en het betrekking op Amerikaanse rasseverhoudinge, met ander woorde getalleverhoudings tussen blankes, swartes, Hispaniërs en Oosterlinge. Met taal- of kulturele diversiteit het dit min te make. Die enigste manier om taaldiversiteit in Suid-Afrika te verseker, is om bepaalde instellings soos in België of Kanada byvoorbeeld, toe te laat om klasse hoofsaaklik in een bepaalde taal aan te bied. In die geval van die US kan daardie taal net Afrikaans wees, want daar bestaan reeds nie minder as twee Engelstalige universiteite in die Wes-Kaap nie, te wete Kaapstad en Wes-Kaap.

Dit spreek vanself dat die universiteit sy Afrikaanse aanbod behoort te verhoog, asook die aanleer van Afrikaans behoort aan te moedig, pleks van ‘n gewaande “meertaligheid” aan te hang wat op die duur nie kan slaag nie, omdat dit bloot ‘n “halfwegstasie” op pad na volslae verengelsing verteenwoordig.

4. Sosiolinguïstiese wette

By die opstel van die huidige konseptaalbeleid, lyk dit nie asof daar enige insette van taalkundiges was nie. Prof. Jaap Steyn, voorheen van die Vrystaatse Universiteit, wat tegelyk ‘n sosiolinguïs van formaat en ‘n kenner van die Afrikaanse taalgeskiedenis is, sou ‘n waardevolle rol kon speel om ‘n meer realistiese taalbeleid te formuleer.

Dis eenvoudig ‘n sosiolinguïstiese wet dat waar ‘n oorheersende taal wat tegelyk die enigste de facto-voertaal van die staat is en die taal waarin die meeste internasionale kommunikasie plaasvind, te wete Engels, met ‘n kleiner taal soos Afrikaans in mededinging gestel word, Afrikaans telkens gaan verloor. Daarom behoort die Universiteit van Stellenbosch eerder ‘n “veilige ruimte” vir Afrikaans te skep, pleks van te poog om tegelyk Afrikaans én Engels te akkommodeer, wat op die duur nie volhoubaar gaan wees nie. Daar is reeds verskeie voorbeelde soos die voormalige Universiteit van Port Elizabeth of die Randse Afrikaanse Universiteit wat ná ‘n tydperk van “tweetaligheid” gewoon honderd persent Engels geword het.

5. Taalregte

Hoewel taalregte tans in Suid-Afrika nie erken word nie, is daar tog internasionaal ‘n toenemende sensitiwiteit rondom taalregte, asook kulturele diversiteit. Die reg van gemeenskappe op opvoedkundige instellings in hul eie tale, asook die ontwikkeiing van hul kulture, word byna universeel erken en is ook in verskeie internasionale verdrae vervat.

Die grondwetlike liggaam in Suid-Afrika wat die universiteit sou moes te hulp gesnel het, sou PANSAT wees. Weens korrupsie en wanbestuur, is daardie liggaam egter deur die minister van kultuur ontbind. Daarom bevind Suid-Afrika hom in ‘n soort niemandsland wat taalregte betref aangesien geen van die erkende internasionale beginsels rondom taalregte hier skyn te geld nie, tesame met PANSAT wat ‘n wesentlike ondergang beleef het.

As ‘n instelling wat ook internasionale norme in ag behoort te neem, behoort die US nie slaafs die gebrek aan taalregte in die land na te volg nie en meer bedag te wees op sy verpligting om juis die beleërde minderheidstaal, Afrikaans, ter wille te wees.

Die Universiteit van Stellenbosch is die enigste suidelike universiteit waar daar steeds klasse in Afrikaans aangebied word. Boonop is dit deel van sy stigtingsvoorwaarde uit 1915 toe hy die skenking van wyle mnr. Jannie Marais ontvang het.

Deur sy Afrikaanse aanbod te verhoog en Engels geleidelik uit te faseer, sal die US daarom ‘n bydrae tot taalregte en -diversiteit lewer, terwyl hy sy oorspronklike mandaat as Afrikaanstalige instelling voortsit.

6. Die US as ‘kennis’-gerigte instelling

In die konseptaalbeleid word daar gewag gemaak van die begrip “kennis”. Dis sekerlik ‘n gemeenplaas om te sê dat kennis nooit neutraal is nie, maar altyd deur een of ander ideologiese horison begrens word. “Engelse kennis” is in ons tydvak met die VSA wat poog om ‘n globale hegemonie deur middel van oorloë en ekonomiese afpersing te verkry, allermins neutraal. Dit is uiters kommerwekkend dat die US byvoorbeeld so ‘n groot afhanklikheid van voorgeskrewe werke in Engels toon, terwyl tekste uit ‘n groot verskeidenheid tale na Afrikaans vertaal sou kon word. Terwyl die koste van publikasie op papier in die verlede grootskeepse vertaling duur gemaak het, gee elektroniese publikasie tans aan Afrikaans die geleentheid om tot sy reg te kom as ‘n voertuig vir diverse kennis uit internasionale bronne.

‘n Verdere aspek van die oorheersing van Anglo-Amerikaanse “kennis” wat deur medium van Engels aan Suid-Afrikaanse universiteite in die hand gewerk word, hang saam met ‘n denkrigting wat sedert die sestigerjare as “kultuurmarxisme” bekendstaan en die meeste universiteite in die Angel-Saksiese wêreld stormenderhand verower het, ten minste sover dit die geesteswetenskappe betref. Hierdie stel dogmas en vooroordele beroof die Afrikaanse student van die geleentheid om meer krities met kennis om te gaan en sy horisonne te verbreed. Hoe meer Engels, hoe minder meningsdiversiteit en werklike kennis wat oorgedra word.

Die universiteit is daarom geen neutrale instelling waar kennis in afgemete dosisse aan studente “toegedien” word nie, maar is self onderwerpe aan die tydsgees en aan magsverhoudings wat in die breër samelewing geld. Nietemin, net soos wat die Engelse universiteite in Suid-Afrika dit tydens veertig jaar van Afrikanerbewind moontlik gevind het om getrou aan hul aard “Engels” en “liberaal” (in die Amerikaanse sin van die woord) te bly, is dit vir die US onder ‘n Engelstalige ANC-regering moontlik om wesentlik Afrikaans te bly en ‘n tradisionele openheid teenoor die Europese Vasteland en tale soos Nederlands, Duits, Frans, Russies, Italiaans en hul kennis- en denktradisies te behou.

7. Skaal en studentegetalle

In die meer onlangse verlede, en waarskynlik weens die subsidieformules wat geld, het die meeste universiteite groter studentegetalle en sogenaamde “groei” nagejaag. Dit staan in skrille kontras met die beste universiteite ter wêreld waar getalle dikwels konstant bly omdat die toelatingsvereistes onder andere so streng is. Daarom behoort die US liewer “gehalte in Afrikaans” na te streef, as “getalle in Engels”. Immers bestaan daar reeds twee Engelstalige kampusse in die Wes-Kaap, asook bykans twintig universiteite elders in die land waar Engels as onderrigmedium gebruik word.

In die belang van sy langtermyntoekoms behoort die US inderdaad af te skaal en sy taalbeleid dienooreenkomstig meer na die Afrikaanse kant te verstel. Daardie dosente en studente wat hulle meer tuis in ‘n Engelse omgewing voel, beskik reeds oor ‘n wye keuse van instellings, sowel plaaslik as internasionaal, waarheen hulle hul kan wend sonder dat daar hoegenaamd op hul regte of brandende behoefte aan Engels inbreuk gemaak word.

8. Oriëntering van studente

Die taalkonflikte aan die US het grotendeels ontstaan weens ‘n verwarring wat by sommige posgevat het dat die universiteit sonder meer soos die voormalige RAU, UPE, ens., na ‘n eentalig Engelse kampus sou oorskakel. Die universiteit behoort studente daarop attent te maak dat Stellenbosch juis van oorsprong en hopelik toenemend in die toekoms ‘n Afrikaanstalige instelling sal wees.

Afrikaansvyandige dosente aan die universiteit wat tans agiteer dat die US Engels behoort te word, behoort pakkette aangebied te word of andersins aangemoedig te word om ander weivelde te soek, aangesien hulle die belangrikste aangstigters van onmin op die kampus is.

Daarmee saam behoort alle Afrikaanse studente met die intrapslag tydens eerstejaarsoriëntering oor hul taalregte ingelig te word, asook al die voordele wat aan studie in Afrikaans verbonde is. In dié opsig kan buite-instansies en Afrikaanse taalorganisasies (soos PRAAG byvoorbeeld) betrek word, waar nodig. Te veel dosente is besig om deur middel van subtiele druk op studente, of selfs viktimisering van studente wat op Afrikaans aandring, die verengelsingsproses in die hand te werk.

9. Taalombudsman

Die US behoort ‘n taalombudsman aan te stel wat klagtes van studente oor taal kan ondersoek en hulle teen anglofiele of anglomaanse dosente – waarvan baie oor Afrikaanse vanne beskik – kan beskerm.

10. Gevolgtrekking

Pleks van ‘n gewaande “meertaligheid” – die halfwegstasie na Engels – na te streef, behoort die US Afrikaans as hoofvoertaal en -doseertaal op die kampus te herbevestig. Die taalregte van die Afrikaanse student behoort in beskerming geneem te word, net soos die regte van die Engelse student reeds op soveel ander kampusse in die land gehandhaaf word.

Gaan EFF Afrikaans by Tuks afgeskaf kry?

In weerwil van die interdik wat die Universiteit van Pretoria teen die EFF-jeugbeweging op die kampus verkry het, lyk dit asof die universiteit reeds die weg berei op ‘n oorgawe oor die taalkwessie. In ‘n verklaring wat gister op die universiteit se webblad – slegs in Engels – verskyn het, word daar gepraat van ‘n verandering aan die taalbeleid van Tuks om dit ‘n Engelstalige instelling te maak.

Die verklaring lui soos volg:

As deel van sy voortdurende raadpleging oor die Universiteit van Pretoria se taalbeleid, het die universiteitsbestuur ‘n reeks vergaderings met studenteliggame op 18 en 19 Februarie gereël om terugvoer oor die Taalbeleidstaakspanverslag te verskaf, asook die voorgestelde wysigings aan die taalbeleid wat die verslag bevat. Ongelukkig kon die vergaderings wat vir 18 Februarie gereël is, nie voortgaan nie. Die vergadering wat vir 19 Februarie bestem is, word uitgestel.

Afrikaans word aan Sepedi gelykgestel

Onder die nuwe taalbeleidsvoorstelle wat voorgestel word, is dat Afrikaans aan Sepedi gelykgestel word en dat Engels tot die “hooftaal in alle lesings” bevorder word. Volgens die universiteit se verklaring het die Taalbeleidstaakspan die volgende “wysigings” aan die huidige taalbeleid voorgestel:

  • Dat Engels die hooftaal in alle lesings moet wees.
  • Dat die universiteit veeltaligheid behoort te bevorder as ‘n middel tot studentevordering en die bou van maatskaplike samehorigheid.
  • Dat Afrikaans en Sepedi gebruik word om bykomende ondersteuning aan studente in tutoriale, praktiese klasse en gesprekke te bied.
  • Oorgangsmaatreëls sal toegepas word, vir geval die voorgestelde wysigings aanvaar word.

Vanweë onluste op die kampus, wat hoofsaaklik deur die EFF-jeugbeweging veroorsaak is, sal raadpleging nie meer plaasvind nie en word studente en personeel toegelaat om “per epos” kommentaar op die voorgestelde wysigings – wat op klakkelose verengelsing neerkom – te lewer.

‘Veranderende studente-demografie’

Op vrae van PRAAG aan die skakelbeampte van Tuks, Anna-Retha Bouwer, het sy soos volg gereageer:

Die Hersiening van die taalbeleid is reeds in Februarie 2015 van stapel gestuur in die lig van veranderende studente-demografie en om die Universiteit in staat te stel om studente se akademiese sukses te koester.

Die verslag van die aangewese taakspan is op 27 Januarie 2016 by die Senaatsitting bespreek. Daar word nou verder gekonsulteer met studente en fakulteite.

Na die konsultasieproses, sal die Raad die voorstelle vir die toekomstige taalbeleid oorweeg. Implementasie van enige veranderinge sal in ooreenstemming wees met die relevante wetgewing aangesien die taalbeleid ‘n statutêre kwessie is wat voor die Minister van Hoër Opvoeding en Opleiding moet dien.

 

Akademie bekommerd oor outonomie van universiteite

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het sy bedenkinge uitgespreek oor die voor­gestelde Wysigingswet op Hoër Onderwys.

Die wet sal beteken dat universiteite se vryheid om hulle eie taalbeleid te bepaal, ingeperk kan word.

Die Akademie sê dit maak inbreuk op die outonomie van tersiêre instellings in Suid-Afrika.

Die Akademie het ook die departement se deskundigheid en bevoegdheid om te bepaal wat die spesifieke taalomstandighede van ‘n instelling is, in twyfel getrek.

Hulle sê die gevaar bestaan dat magspolitieke oorwegings by die bepaling van taal­beleid ‘n rol sal speel.

Universiteite gaan sedert verlede jaar gebuk onder voortslepende swart oproer wat ondermeer ook taal insluit.

By die Universiteit van Stellenbosch het swart studente beswaar gemaak teen Afrikaans. Swart studente beweer hulle word “uitgesluit” deur taal.

Intussen verskyn 43 studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vandag in die landdroshof in Bellville op aanklagte van openbare geweld.

Die aanklagte hou verband met die Fees Must Fall-betogings verlede jaar. Tydens hulle vorige hofverskyning is borgtog van drieduisend rand elk aan hulle toegestaan.

Hulle is ook verbied om personeel en getuies te intimideer.

Die universiteit het vanjaar heropen sonder enige voorvalle en studente het die eksamens afgelê wat verlede jaar uitgestel is.

Nuwe Kovsie-SR-voorsitter wil Afrikaans heeltemal afskaf

Die nuutverkose Universiteit van die Vrystaatse studenteraadspresident, Lindokuhle Ntuli, sê studente word deur taal verdeel.

Hy het sy stem gevoeg by diegene wat glo dat Engels die enigste taal aan dié universiteit behoort te wees en nie beide Afrikaans en Engels, soos tans die geval is nie.

Ntuli sê Engelse studente is in een klas, terwyl Afrikaanse studente in ‘n ander klas is. Dit veroorsaak glo “verdeling” op grond van taal.

As al die klasse in een taal aangebied word, sal daar “eenheid” wees, het hy aan OFM gesê.

Kovsie-taalbeleid draai in wetgewer

Die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat het Woensdag vir die tweede keer ‘n draai in die Vrystaatse provinsiale wetgewer gemaak.

Dit volg nadat ANC hoofsweep Neels van Rooyen die UV tydens ‘n vorige sitting geloof het vir sy strewe na transformasie en verwys het na die instansie se taalbeleid.

Tydens vandag se sitting het die Vryheidsfront Plus se Wouter Wessels gesê transformasie behels nie die uitsluiting van Afrikaans as ‘n onderrig-medium nie.

Vrystaatse Onderwys LUR Tate Makgoe het egter terruggekap en gesê Wouter moet nie die publiek mislei nie. Hy sê die UV was oorspronklik ‘n enkelmedium-skool en dit het later verander as gevolg van sy studenteprofiel, maar die jongste aanduidings is dat dié profiel weer verander het, met 75% van studente wat swart en Engelssprekend is.

Die DA het in hul afwesigheid geskitter.

Makgoe, ook ‘n lid van die universiteitsraad, sê die universiteit gaan in elk geval ‘n proses volg – wat ‘n jaar gaan neem – waartydens verskeie rolspelers geraadpleeg gaan word voordat die taalbeleid van die UV verander kan word.

Kovsies beplan burokratiese aanslag op Afrikaans

Die Universiteit van die Vrystaat het haastig ‘n taalkomitee op die been gebring nadat ‘n herrie losgebars het oor die UV se besluit om slegs Engels as voertaal in te stel.

Die taalkomitee gaan glo in November verslag doen aan die universiteitsraad na “oorlegpleging”.

Kovsies beplan glo ‘n “formele hersiening” van die taalbeleid by die instelling en dit wil voorkom asof ‘n burokrasie van organisasies met ‘n “mandaat” gebruik sal om Afrikaans aan te val aangesien die universiteit groot klem lê op “deelname”.

Kovsies sal volgens bronne drie uitkomste oorweeg, naamlik parallelmediumonderrig, aanpassings aan die huidige taalbeleid of “groot veranderinge”.

Daar is dus kennelik geen manier waarop Afrikaans in sy huidige vorm by die UV sal oorleef nie.

Die raad het intussen die JBM Hertzog-koshuis se naam vernader na Beyers Naudé House.