Die Universiteit van Pretoria het gisteraand voor radikale drukgroepe soos die “EFF-studenteweermag” gekapituleer en slegs Engels as onderrig- en voertaal aanvaar. In ‘n verklaring wat die universiteit uitgereik het, aanvaar die instelling Engels as “primêre taal van onderrig en assessering” en veklaar dat “die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word”:
Die Raad van die Universiteit van Pretoria (UP) het in ooreenstemming met die Senaat vandag die aanvaarding van ‘n nuwe taalbeleid ondersteun in terme waarvan Engels die primêre taal van onderrig en assessering sal wees.
Vir studente wat reeds geregistreer is, sal die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal geleidelik uitgefaseer word. Die implementeringsdatum is onderworpe aan die proses wat gevolg moet word in samewerking met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om die statuut van die Universiteit te verander.
Die doel van die nuwe beleid is om sosiale samehorigheid te skep en om gelyke geleenthede aan die sprekers van alle Suid-Afrikaanse tale te bied.
Hierdie besluit van die Raad en Senaat volg op ‘n uitgebreide konsultasieproses en voorstelle van alle belangegroepe, insluitend die taalbeleid-werkstroom wat deel gevorm het van die Transformasie-lekgotla, en die Onafhanklike Transformasiepaneel wat gefokus het op die voorstelle van eksterne belangegroepe. ‘n Sleutelfaktor in die onderhandelinge was die verminderende proporsie van studente wat Afrikaans as gekose onderrigmedium aangedui het.
Daar is ook besluit om Afrikaans te behou as ‘n akademiese en vaktaal, terwyl die ontwikkeling van Sepedi tot ‘n hoër vlak van wetenskaplike diskoers ondersteun moet word, wat die beskikbaarstelling van die nodige hulpbronne insluit. Die Raad het aangeveel dat die Bestuur ‘n implementasieplan moet ontwikkel, waarin daar na personeelbehoeftes en die nodige begroting gekyk moet word om voldoende taalondersteuning te bied.
In Afrikaansvyandige geledere word die besluit reeds as ‘n oorwinning vir die EFF-studenteweermag en ander radikale groepe gevier. Op Twitter het verskeie individue hul genoegdoening oor die universiteit se besluit uitgespreek.
@mandla64 @MsTandile hip hip hip hooray!
— bheki Mwelase (@BTZamisa) June 22, 2016

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.