Kovsie-taalbeleid draai in wetgewer

Die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat het Woensdag vir die tweede keer ‘n draai in die Vrystaatse provinsiale wetgewer gemaak.

Dit volg nadat ANC hoofsweep Neels van Rooyen die UV tydens ‘n vorige sitting geloof het vir sy strewe na transformasie en verwys het na die instansie se taalbeleid.

Tydens vandag se sitting het die Vryheidsfront Plus se Wouter Wessels gesê transformasie behels nie die uitsluiting van Afrikaans as ‘n onderrig-medium nie.

Vrystaatse Onderwys LUR Tate Makgoe het egter terruggekap en gesê Wouter moet nie die publiek mislei nie. Hy sê die UV was oorspronklik ‘n enkelmedium-skool en dit het later verander as gevolg van sy studenteprofiel, maar die jongste aanduidings is dat dié profiel weer verander het, met 75% van studente wat swart en Engelssprekend is.

Die DA het in hul afwesigheid geskitter.

Makgoe, ook ‘n lid van die universiteitsraad, sê die universiteit gaan in elk geval ‘n proses volg – wat ‘n jaar gaan neem – waartydens verskeie rolspelers geraadpleeg gaan word voordat die taalbeleid van die UV verander kan word.

Jeugliga ontken ontlasting-storting

pooDie ANC Jeugliga in die Wes-Kaap het hom gedistansieer van die jongste voorval waar menslike ontlasting gestort is.

Vier mans het Maandag menslike ontlasting op die trappe van die provinsiale wetgewer gegooi. Die jeugliga ontken berigte dat die mans lede van die jeugliga is.

Volgens die polisie is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Daar was die afgelope paar maande ‘n aantal soortgelyke voorvalle in Kaapstad, insluitend by die Kaapstadse internasionale lughawe.

Die betogers sê daar is ‘n tekort aan sanitasie in hulle woonbuurte, en hulle beweer dat die draagbare spoeltoilette wat die munisipaliteit verskaf niks beter is as die emmerstelsel nie.