Universiteit Stellenbosch: Is akademiese herstel moontlik?

Deel op

Op 1 deser is op die webwerf van die Universiteit Stellenbosch (US) aangekondig dat Willem Johan Simon (Wim) de Villiers (55) as die nuwe rektor en visekanselier aangestel is. Op dieselfde dag is Johann Rupert se termyn as US-kanselier met vyf jaar verleng. Die twee hoogste poste sal dus waarskynlik deur Afrikaanssprekende blankes en daarby mans (drie eienskappe wat in die nuwe Suid-Afrika dikwels as doodsondes voorgestel word) beklee word wanneer die US in 2018 sy eeufees vier. Tydens die rektorskap van Chris Brink (2002-2007) en veral Russel Botman (2007-2014) is alles in die stryd gewerp om die beeld van die US as Afrikaanse en veral Afrikaner-universiteit af te breek. Onder die vaandel van “transformasie” is die klem doelbewus van akademiese sake na linkse (spesifiek ANC-) politiek verskuif. Die vraag ontstaan of ‘n akademiese daeraad vir die US in die vooruitsig gestel kan word. Kan een of twee swaeltjies ‘n akademiese somer maak?

Daar word gesê dat De Villiers 24 jaar in Brittanje en die VSA gestudeer en gewerk het; ongeveer so lank soos Nelson Mandela in die tronk was. Agtien maande gelede het De Villiers op eie inisiatief na Suid-Afrika teruggekeer. Die agteruitgang van die land en die US moes hom sekerlik opgeval het. Hy is tans die dekaan van die mediese fakulteit van die Universiteit Kaapstad. Hoewel De Villiers in Stellenbosch gebore is en daar opgegroei en as Matie gestudeer het, is die vraag watter invloed sy buitelandse blootstelling op hom gehad het, sowel ten goede as ten kwade. Hy hoop bv dat die US plaaslik en internasionaal ongekende hoogtes sal bereik. Hy wil hê dat die US “globaal moet kompeteer.”

De Villiers “meen die US se meertaligheidsbeleid, wat op 22 November deur die Universiteitsraad aanvaar is en voorsiening maak vir die verhoging van die lesingsaanbod in sowel Afrikaans as Engels, sal help om meer internasionale studente en dosente te lok.” In teenstelling met Botman se Afrika-manie is De Villiers se oriëntasie klaarblyklik Westers, maar buitelandse oorwegings bevorder nie Afrikaans as onderrigmedium nie. Hy is besig met ‘n eierdans. “Ons moet net sorg dat die taalbeleid en -plan reg toegepas word. Ek het oorsee besef wat Afrikaans vir my beteken, so ek is bly ons bou dit akademies uit – maar so ook Engels, wat jou toegang tot die res van die wêreld gee.” Die vraag ontstaan in hoeverre De Villiers se huistaal en dié van sy kinders Afrikaans is.

“Hy staan akademiese uitnemendheid voor in al drie die Universiteit se kernaktiwiteite – navorsing, leer en onderrig, asook gemeenskapsinteraksie.” Hy praat van “gemeenskapsinteraksie”, wat ‘n verbetering op Botman se “gemeenskapsdiens” kan wees. Botman se standpunt was dat die US diens aan die gemeenskap moet lewer weens die versuim van veral ANC-owerhede om dit te doen. Daarmee het hy die twee historiese kernaktiwiteite van die universiteit, navorsing en onderrig, verwater.

De Villiers het die volgende slagspreuk geformuleer: “Wat in die student se belang is, is al wat van belang is.” Die universiteit bestaan inderdaad ten behoewe van sy studente, maar watter soort studente is kenmerkend van die US? Moet dit nie vanselfsprekend net diegene wees wat akademies op standaard is nie? Vir die universiteit om akademies uitnemend te wees, moet die akademies beste studente voorkeur by toelating en by die toekenning van studiebeurse kry. Dit was opvallend nie die geval in die Botman-era nie. Gaan dit nou verander? Dit lyk nie so nie. De Villiers verwys na die US as “‘n inklusiewe omgewing.” Hy is “verbind tot voortgesette transformasie om die ongelykhede van die verlede aan te spreek.”

Die probleem is dat ongelykhede in die hede van ‘n inherente aard kan wees. Hoe gaan hy onderskei tussen tekortkominge wat aan “onreg” in die verlede toegedig kan word en beperkinge wat eie aan studente is? Die maklike uitweg is om hierdie onderskeid te ignoreer, soos Botman gedoen het. Die akademies korrekte benadering is om alle studente suiwer akademies te beoordeel. Hiervoor sien De Villiers blykbaar nie kans nie. “Ek is entoesiasties oor die koers waarop prof Russel Botman die US geplaas het.” Dít is die soort polities korrekte stelling wat in hierdie situasie van De Villiers verwag is. ‘n Mens kan maar net hoop dat hy tydens sy ampstermyn dermate van Botman se ideologiese koers sal afwyk dat die US weer en meer akademies respektabel kan word.

Op 2 deser was De Villiers se aanstelling ‘n voorbladsyberig in Die Burger. Hy beweer dat daar geen ernstige probleme aan die US is nie. Die swaard van Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, wat oor die kop hang van universiteite wat onderrig deur die medium van Afrikaans verskaf, bekommer hom blykbaar nie. “Afrikaans as akademiese taal moet ondersteun en uitgebrei word.” Hy sê nie hoe hy dit gaan doen nie. Dit klink na blote lippediens.

Myns insiens behoort alle kursusse, voor- en nagraads, in Afrikaans aangebied te word. Studente moet aangemoedig word (bv finansieel) om hulle magisterverhandelings en doktorale proefskrifte in Afrikaans te skryf. Op die oomblik word studente in baie departemente aktief ontmoedig om tesisse in Afrikaans te skryf. By dosente en navorsers behoort daarop aangedring te word dat hulle artikels in Afrikaans publiseer. Pleks daarvan bly De Villiers hamer op internasionale (dus nie-Afrikaans-) aspekte. “Die taalbeleid sal ook meer internasionale studente en dosente lok.”

‘n Positiewe aspek is dat die doodsklok vir Botman se Sentrum vir Inklusiwiteit lui, maar die soet word met suur vermeng. “Oor inklusiwiteit het hy gesê ‘n sentrum vir inklusiwiteit wat êrens op die kant sit, kan nie alleen daarvoor verantwoordelik wees nie. ‘Dit moet in die hele institusionele kultuur van die universiteit geïntegreer wees. Alles wat ons doen, moet daardie geur en kleur hê.'” Hopelik sal Botman se jaarlikse Diversiteitsweek (Praag 29.09.2013) op grond van dieselfde redenasie in die slag bly. Wat met reg van ‘n Afrikaanssprekende blanke rektor verwag kan word, as hy ‘n Afrikaner is, is dat die ontheemding wat Afrikanerstudente deesdae op die US-kampus ervaar, aangespreek sal word. Tradisioneel was die US hulle universiteit, maar die US het ‘n inrigting geword wat blatant voorkeur aan nie-Afrikaner-elemente gee. Botman se HOOP-projek, met sy kommunistiese wortels in die idees van Paulo Freire (1921-1997) en Ivan Illich (1926-2002), kan gerus ook stil-stil verdwyn (maar kyk hier onder).

“Ek glo ek beskik oor die eienskappe om die universiteit vorentoe te neem, naamlik nuuskierigheid, energie, moed, volharding, fokus en dissipline.” De Villiers straal nie net selfvertroue uit nie, maar ongelukkig ook te veel selftevredenheid, op die gevaar af dat hy sy mate van kennis en insig oorskat. Dit kan ontaard in dogmatisme en daarom akademies teenproduktief wees. Groter beskeidenheid en skeptisisme kan bates vir ‘n rektor wees. (In die pers het die slegte gewoonte posgevat om na De Villiers as “Slim Wim” te verwys.) ‘n Medikus, ook ‘n De Villiers, JN (Jannie), wie se roem daarop berus het dat hy die Lombard-vierling in 1951 die wêreld ingehelp het, was voorheen die US-rektor (1970-1979) maar nie juis ‘n dawerende sukses nie.

Wim de Villiers se oormaat selfvertroue blyk veral uit die onderhoud wat Murray la Vita met hom gevoer het (Die Burger, 5 deser, p 11). Hy beskou homself as “perfek geposisioneer … ek dink dit gaan baie goed en ek doen goed.” Hy het veramerikaans: “Ek het ‘n baie Amerikaanse manier van hoe om dinge te doen.” In teenstelling hiermee was van die eerste dinge wat ek in Amerika opgemerk het dat baie mense in die sosiale omgang optree asof hulle op televisie is. My subjektiewe reaksie was dat ek hulle oorselfversekerdheid as afkeurenswaardig ervaar het. Myns insiens moet ‘n mens liewer nie te hiperaktief jou eie beuel blaas nie.

Volgens De Villiers is transformasie, oftewel verandering, deel van alles wat ons doen. Hy haal goedkeurend ‘n Amerikaner aan wat gesê het: “If you don’t like change, you are going to like irrelevance even less.” Wat De Villiers moet besef, is dat transformasie ‘n bepaalde soort verandering is; daardie tipe wat deur die ANC-regering aan almal opgedring word. Om ANC-transformasie teen te staan, is nie irrelevant nie. Myns insiens is dit vir hom as rektor noodsaaklik om bv Blade Nzimande teen te staan ter verdediging van bv akademiese meriete, universitêre outonomie en akademiese vryheid, asook Afrikaans as onderrigmedium.

Dit is juis De Villiers se opmerkings oor Afrikaans wat glad nie gerusstellend is nie. La Vita vra of Engels nie Afrikaans as onderrigmedium aan die US gaan verdring nie. De Villiers verwys na die leidende rol wat Latyn, Duits en Engels agtereenvolgend in die akademiese wêreld gespeel het. “Maar wie sê oor 50, of 60 jaar is dit nie Mandaryns nie? Niks is gefikseerd [bly onveranderd] nie … Die born frees [een van Botman se gunsteling frases] hét nie hierdie issues nie.” Net soos vir hierdie sogenaamde vrygeborenes is Afrikaans vir De Villiers blykbaar ook nie werklik ‘n kwessie nie. Wat hy by implikasie erken, is dat die plaaslike dominansie van Afrikaans, dus ook ‘n Afrikaanse US, tot die verlede behoort. In die onderhoud slaan hy dikwels oor na Engels en daarby met ‘n Amerikaanse aksent. Dit lyk asof sy kulturele wortels in die buiteland losgeraak het. Hy voel klaarblyklik glad nie geroepe om Afrikaans se status aan die US te herstel nie. Ampshalwe sal daar kwalik op sy Afrikaansheid peilgetrek kan word, al spreek hy sy van nie-Engels as Viljee uit.

Pleks van Afrikaansgetrou te wees, bly De Villiers hamer op nie-Afrikaans-aspekte, dat bv navorsing ‘n globale bydrae moet lewer; die aandag van internasionale befondsers, navorsers en studente getrek moet word; die US moet uitreik; daar geen heil in “insulariteit”/parogialisme is nie. Hy gee geen blyke dat Afrikanerskap swaar by hom weeg nie; eerder dat hy ‘n wêreldburger is. Daarom noem hy selfs dat ‘n US-kampus in die buiteland, bv Kenia, ‘n moontlikheid is. De Villiers is glo besig om Sampie Terreblanche se jongste boek te lees. Daarin sal hy kennis met die outeur se sosialisme maak, maar dit sal hom kwalik help om ewewigtige insig te kry in baie van wat die afgelope kwart eeu (tydens De Villiers se verblyf in die buiteland) plaaslik gebeur het.

Dit blyk dat De Villiers se arsenaal van sê-goedjies gou uitgeput raak, want hy herhaal heelwat van wat hy reeds in die bogenoemde bronne kwytgeraak het. Daar is belangrike sake waaroor ons groter helderheid sal kry eers nadat hy begin het om as rektor te funksioneer. Soos Chris Brink kan hy anders wees as wat hy aanvanklik voorgegee het, hetsy ten goede of ten kwade.

Ek bespeur ‘n mate van suurheid by Die Burger omdat nie een van die twee nie-wittes, wat op die kortlys van drie vir die rektorskap was, die paal gehaal het nie. (Die US stel deesdae die absolute vereiste dat daar altyd minstens een nie-witte op alle aanstellingskortlyste moet wees.) Die Burger sou oor nog ‘n bruin of nie-wit US-rektor mal gegaan het, des te meer as ‘n vrou die pos gekry het. Enige pos wat deur ‘n nie-witte beklee is en daarna deur ‘n witte ingeneem word, word deesdae as ‘n terugwaartse stap, dus as teenproduktief vir transformasie, beskou.

Volgens ‘n (Afrikaanssprekende, bruin) leser versterk De Villiers se aanstelling “die indruk … dat poste soos die rektorskap nie beskore is vir vroue, Engelssprekendes, bruin en swart akademici nie. Die droom van mede-eienaarskap van dié instelling het tydelik geloofwaardigheid verloor” (Die Burger, 11 deser, p 16). Ek verwag dat die genoemde suurheid vorentoe nog duideliker in Die Burger gaan uitslaan, in opmerkings van bv Henry Jeffreys en/of Die Burger se eie Victor Verster-alumnus, Johann Maarman. Albei het net lof vir die ANC se destydse misdadige aktiwiteite. Onlangs het Maarman geskryf dat van die UWK-klipgooiers en -brandstigters glo deur die polisie gemartel is, maar hy het doelbewus versuim om melding van hierdie studente se misdade te maak.

Op dieselfde bladsy as La Vita se verslag oor sy onderhoud met De Villiers is daar ‘n brief van Anton van Niekerk; ‘n mens wat knaend pomp vir die US-rektorskap. Oor sy onbesonne uitlatings is Van Niekerk by ‘n vorige geleentheid met ‘n stukkende bril tot onder sy omgekeerde lessenaar getik. Kort daarna het hy beweer dat hy ‘n les geleer het. Sedertdien lyk dit egter telkens asof dit nie die geval is nie. Van Niekerk gaan onverpoos voort om skoor te soek. Dit is in sy DNS.

Hierdie keer het Van Niekerk dit teen ‘n private Afrikaanse universiteit. Heeltemal tereg noem hy die baie geld wat die vestiging en bedryf van ‘n volwaardige universiteit verg. Dit kan kwalik van die “klein, kwesbare Afrikanergemeenskap” verwag word om so ‘n projek te finansier. Soos gebruiklik gaan dit egter eintlik vir Van Niekerk om sy afkeur uit te spreek van enige poging om Afrikaans- en veral Afrikaner-belange te bevorder.

Wanneer Van Niekerk oor religie besin, is hy skepties. Die tweede hersiene uitgawe van sy boek, Geloof sonder sekerhede, is onlangs gepubliseer. Hy gaan onverpoos voort om aan dieselfde kombersie te hekel. Maar as dit by die politiek en akademie kom, klou hy vas aan ‘n geykte, dogmatiese ingesteldheid wat teenproduktief vir die US as akademiese inrigting is.

Dit is my oortuiging dat Afrikaners eerder moet veg vir die behoud van die tradisioneel Afrikaanse universiteite, wat met so baie geld en opoffering tot stand gebring is, as om hulle te beywer vir ‘n nuwe Afrikaanse universiteit met beperkte kapasiteit. As so ‘n onderneming suksesvol blyk te wees, sal die ANC-regime beslag daarop lê en dit ooreenkomstig sy verwronge ideale transformeer. Die eintlike geveg teen die ANC-regime moet op die kampusse van die tradisioneel Afrikaanse universiteite gevoer word. Hiervan is daar al hoe minder sprake omdat daar al hoe meer Anton van Niekerks is wat hulle deur die polities korrekte stroom laat meevoer.

Die wesenlike gevaar is dat Wim de Villiers Van Niekerk-gesind kan wees. Die lakmoestoets vir ‘n akademikus is die suiwerheid van sy benadering van akademiese sake. Van Niekerk druip hierdie toets op skouspelagtige wyse. Hy weet dat ‘n universiteit aan minstens twee vereistes moet voldoen as hy akademies uitnemend wil wees: net die akademies beste studente moet toegelaat en net die akademies beste dosente en navorsers moet aangestel en bevorder word. In albei opsigte skiet die Botman-US openlik en doelbewus tekort, maar Van Niekerk opper geen beswaar hoegenaamd hierteen nie. Die “aangewese groepe,” die sogenaamde ras- en geslagsbenadeeldes, mag maar ten koste van die US se akademiese gehalte en aansien bevoordeel word. Blankes, veral Afrikaners, mag maar veronreg word. By Van Niekerk kry politieke korrektheid voorkeur bo akademiese korrektheid.

Die aanduidings is dat De Villiers dieselfde toets gaan druip. Amerika is immers by uitnemendheid die land waar swartes onregverdig bevoordeel word. As De Villiers openlik op sy Afrikanerskap gesteun het, sou hy hierteen weerstand kon bied. Dit sou hom ook teen die kommunistiese boosheid van Blade Nzimande gesterk het. Hy sou hom op morele meerderwaardigheid kon beroep; dat Afrikaners ‘n bewese rekord as bouers het en nie, soos die “vryheidstryders” en ANC-regering, as brekers uitgemunt het nie.

Jean Oosthuizen se onderhoud met De Villiers is op 11 deser op LitNet gepubliseer. Daarin herhaal De Villiers die dwaling dat die US (akademies) “fiks en kerngesond” is. Daarna kwalifiseer hy sy stelling ietwat deur na die bedenklike veiligheidsituasie op die kampus, wat die akademiese funksionering van die US aan bande lê, te verwys. Maar dan bevestig hy ook wat ek vermoed het: dat hy wil hê die US-studente moet wêreldburgers word, klaarblyklik sonder dat die US hulle eiesoortige kultuur grondig versterk het, al sê hy later: “Ons wil ook nie hê mense moet hulle eie agtergrond en karakter prysgee nie.” In die Botman-era is Afrikanerkultuur verdag gemaak, eintlik verguis, en sover moontlik afgebreek. De Villiers ondersteun die nuwe taalbeleid in die waan dat dit tot die “uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal” sal lei.

Daarna kom De Villiers met dieselfde soort redenasie as Willie Esterhuyse, waarvolgens Engelsmediumonderrig deur die staat befonds word en onderrig deur die medium van Afrikaans op donasies moet steun (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, p 158): “Ek moet egter dadelik ook vra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Waar is die groot pryse vir akademiese skryfwerk in Afrikaans, waar is die finansiële aansporing vir navorsingswerk in Afrikaans?” As De Villiers in die buiteland werklik agtergekom het hoeveel Afrikaans vir hom beteken (soos hierbo aangehaal), sal hy verseker dat Afrikaans voorkeur by US-befondsing kry. Hy kan gerus aankondig dat hy ‘n deel (sê 10%) van sy buitensporige rektorsvergoeding as’t ware as ‘n dankoffer ter bevordering van Afrikaans- (en Afrikaner-) belange bewillig. As die voortbestaan van Botman se rasgebaseerde doktorale program vir swartes uit swart Afrika aan die US geduld word, kan dit blaamvry met programme toegespits op Afrikaans- en Afrikanerbelange gebalanseer word.

De Villiers se redenasie oor Afrikaans is soortgelyk aan dié van linkse Afrikaanssprekendes destyds, bv Bernard Lategan en Johan Hattingh, waarvolgens Afrikanerkultuur en Afrikaans nie beskerm hoef te word nie (Kapp, p 62): “Ek is van mening dat Afrikaans sal gedy as dit nie afgedwing word nie, maar op kampus leef naas ander tale … Aanbod en aanvraag loop saam … Ek volstaan daarmee dat ek die taalbeleid ondersteun – die toets gaan kom in die implementering, befondsing en monitering.” Vir De Villiers is Afrikaans blykbaar nie werklik ‘n hartsaak nie, bloot ‘n (lastige) verskynsel wat, soos Botman dit so graag gestel het, “bestuur” moet word.

“Ons universiteit behoort ‘n plek te wees waar almal op gelyke voet welkom kan voel.” Maar dan moet blankes op dieselfde akademies grondslag as nie-blankes US-toelating kry (bv tot mediese studie) en om dieselfde ekonomiese redes in dieselfde mate studiebeurse ontvang. Die akademiese werk van almal moet aan dieselfde standaarde voldoen. Hoë akademiese standaarde is by nie-wittes des te meer noodsaaklik, want om neo-rassistiese en seksistiese redes kry hulle deesdae by aanstelling en bevordering voorkeur. Maar sal De Villiers die moed van sy oortuiging hê om hierdie rasionele vereiste onomwonde aan die US-dosente te stel? Ek dink nie so nie. Hy het bv geen probleem met die mikpunte in die US se institusionele voorneme en strategie waarvolgens “swart en bruin en Indiërstudente” gewerf en daar by implikasie teen blanke studente gediskrimineer word nie.

Botman se HOOP-projek word deur De Villiers gekarakteriseer as ‘n “wetenskap-vir die-samelewing-benadering.” Dit is wesenlik niks anders nie as ‘n uitdrukking van die gewilde hedendaagse versugting dat ‘n verskil gemaak moet word, oftewel oeboentoe, wat in die praktyk daarop neerkom dat blankes glo die morele verpligting het om swartes te help. De Villiers verwys goedkeurend na huidige US-programme met Engelse name soos SciMathUS en HOPE@Maties waarmee uitsluitlik nie-wittes met “potensiaal” geïdentifiseer word. Die mentorprogram Rachel’s Angels kan hierby gevoeg word. Daar is hier, wat wittes betref, geen sprake van die so dikwels geprese “inklusiwiteit” nie.

Aan Botman se diskriminerende maatreëls teen blankes gaan daar klaarblyklik nie gepeuter word nie. In die natuur kom bokke in verskillende kleure voor. Sondebokke het egter, in hierdie konteks, altyd dieselfde kleur, naamlik wit. Botman het sy HOOP-projek aan die US geloods as “a concerted move away from Stellenbosch being considered an exclusively Afrikaans university … Stellenbosch has a very special responsibility, given its history. We have played a significant part in the injustices of the past and we are committed to redress” (Kapp, p 215). Daardie Botman-hoop impliseer ook ‘n wegbeweeg van die “language roots” van die US (p 216). Wat die HOOP-projek nog meer aan die verwronge US-hart bind, is dat Russel Botman se weduwee, Beryl (gebore Van der Scholtz), pas ‘n proefskrif oor onder meer die hoopbegrip voltooi het. Henry Jeffreys beweer: “In Botman het Maties ‘n ware taalstryder vir Afrikaans gehad” (Die Burger, 26 November, p 10), maar sy weduwee se proefskrif, wat deurlopend met Russel bespreek is, is in Engels (Die Burger, 11 deser, p 4).

Soos Kader Asmal, ‘n vorige ANC-minister van onderwys, het Botman geweier dat die US enigiets met studiebeurse te make mag hê wat voorskryf dat hulle net aan blankes toegeken moet word. Dit het meegebring dat sommige wit studente doelbewus studiegeleenthede ontsê is. Dat daar ‘n oorvloed van studiebeurse uitsluitlik ten bate van nie-wit studente bestaan, het die genoemde twee kamerade glad nie as teenstryding ervaar nie. ‘n Rektor met akademiese integriteit sal hier ‘n beleidsverandering aanbring. Studiebeurse wat bv ras- en geslagsvoorskrifte bevat, behoort met dank aanvaar te word. Hierdie voorskrifte behoort om suiwer akademiese redes eerbiedig te word, met die wete dat daardie studente lewenslank bevoordeel word deur tersiêre studie wat hulle andersins sou ontbeer het.

Tydens die rektorskap van Brink en veral Botman was dit die gewoonte om prominente ANC-politici sonder meer as goed en Afrikaner-politici van weleer as sleg te beskou. Talle ANC-kornuite is met eredoktorsgrade vereer omdat van die standpunt uitgegaan is dat dit goed vir die openbare beeld van die US is. Politici is egter omstrede en verdelende elemente in ‘n samelewing en moet myns insiens liewer nie vereer word nie. Eintlik behoort die beleid te wees om geen (of so min moontlik) van hierdie akademies waardelose sertifikate uit te deel (Praag 14 September). As bastion van beskawing behoort enige universiteit die beginsel te handhaaf dat misdadigers nie vir verering kwalifiseer nie.

Wanneer laas het die US ‘n Afrikaanse taal- of letterkundige vereer? Hier dink ek nie aan iemand soos Antjie Krog wat politiek onder die dekmantel van letterkunde bedryf nie. Een van Krog se jongste stommiteite, na aanleiding van ‘n besoek aan Duitsland, is: “Op baie plekke in Europa sien ‘n mens dan weer die vanselfsprekendheid van witheid, van bevoorregting” (Die Burger, 8 deser, p 9). Dui welvarende blankes dalk nie veel eerder op prestasie, op besondere vermoëns en bekwaamheid, nie?

Die benaming van geboue en ander dele van die US toon dieselfde eensydige verering van ANC-kornuite en die verguising van blanke politici. Daarom is daar afdelings in die US wat na Desmond Tutu en Beyers Naudé vernoem is, terwyl die name van geboue wat na Hendrik Verwoerd en John Vorster vernoem was, geskrap is. Pas is aangekondig dat die DF Malan-gedenksentrum nou die Coetzenburg-sentrum heet. “Die naamsverandering is deel van die universiteit se Visie 2030 om meer inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees” (Die Burger, 8 deser, p 3). Wit dui dus op eksklusiwiteit en die verlede en swart op inklusiwiteit en die toekoms. Hierdie naamsveranderings word visuele regstelling/transformasie genoem (Die Burger, 6 Mei, p 10).

Daar is beweer dat dit ‘n belediging vir Botman se nagedagtenis was dat hy uit die DF Malan-gedenksentrum begrawe is. Botman het met hierdie naamsverandering postuum sy sin gekry. Maar dit hou nie daar op nie. In dieselfde berig word genoem dat ‘n nuwe US-koshuis as Huis Russel Botman bekend gaan staan. Is daar werklik geen student wat hierdeur beledig of ten minste ongelukkig gaan voel nie? Wanneer leer die US die elementêre les om liefs geen indiwidue te vernoem nie? Met min moeite behoort die beleid aanvaar word te word dat omstrede figure, soos politici en politiek-deurdrenktes soos Botman, nie vernoem moet word nie.

‘n Deurlopende binnegeveg in die akademie is die magstryd tussen die doserende en navorsingspersoneel aan die een kant en die administrasie aan die ander kant. Eintlik het die administrasie nie ‘n saak nie, want die universiteit bestaan omdat inligting in lesings aangebied en daardie kennis op navorsing gebaseer behoort te wees. Die administrasie is daar om salarisse te betaal, eksamens te reël, geboue op te rig en in stand te hou, ens. Enige onderneming verg ‘n mate van administrasie, maar administrasie is ‘n hulpdiens en is nie die kern van ‘n universiteit nie. Tog is daar die skynbaar onweerstaanbare neiging om klerke op dieselfde vlak as dosente te probeer plaas.

‘n Rektor wat by voorkeur ‘n ideologiese program deurvoer, soos Botman gedoen het, steun hoofsaaklik op nie-doserende afdelings van die universiteit, soos die Sentrum vir Inklusiwiteit. ‘n Rektor wat wesenlik en uit oortuiging sterk akademies gesind is, vind sy steunbasis by die doserende en navorsingsdepartemente. ‘n Klassieke voorbeeld is Samuel Pauw, eens die rektor van die Universiteit van Suid-Afrika (1956-1972), wat seker meer as enige ander persoon van Unisa ‘n afstandsonderriginstansie gemaak het wat akademies gunstig met die beste plaaslike residensiële universiteite vergelyk het. (Ook by Unisa het daar egter sedert 1994 in die naam van transformasie onrusbarende akademiese agteruitgang ingetree.)

As akademikus het Pauw geweier om as rektor sy kantoor in die administrasiegebou te hê. Hy het sy kantoor gehad waar dit hoort, naamlik by die dosente, want ‘n rektor was volgens hom die akademiese hoof en nie in die eerste plek ‘n administrateur nie. Die hoë akademiese standaarde wat hy aan homself en Unisa gestel het, het tot sy ondergang gelei. Toe die senaat teen sy aanbeveling ten gunste van die aanstelling van ‘n professor gestem het wat volgens Pauw akademies nie op standaard was nie, het hy sonder meer as rektor bedank. Die verdere geskiedenis van daardie professor het myns insiens getoon dat Pauw akademies korrek geoordeel het.

Die ironie is dat toe ek dit aan een van Pauw se opvolgers stel dat die rektor die akademiese leier van ‘n universiteit behoort te wees, hy my meegedeel het dat hy sy taak as administratief beskou. Hy het knus in die administrasiegebou gesit en die klerke het die universiteit geregeer. Een van die redes waarom hy hom nie by die akademiese personeel geskaar het nie, was omdat hy hom nie kwalifikasiegewys duidelik van die klerke onderskei het nie. Hy het nie ‘n doktorsgraad gehad nie.

As De Villiers ‘n deurwinterde akademikus is, sal hy in die na-Botman-era geroepe voel om die prominente rol wat nie-doserende afdelings in die onlangse verlede aan die US gespeel het, drasties in te kort. Geld moet by voorkeur aan onderrig en navorsing bestee word en nie aan politieke foefies (bv Botman se Slag van Andringastraat-uitstalling – Praag 25.08.2013) nie.

Die De Villiers-bewind sal na verwagting klein winste vir Afrikaners toon. In die Jean Oosthuizen-onderhoud sê De Villiers: “Die kampusgemeenskap mag nie verwag dat studente met ‘n Afrikaanse [eintlik: Afrikaner-] kultuurkarakter verskonend daaroor moet wees weens die verlede nie.” Dit is onwaarskynlik dat De Villiers sy oorsprong dermate sal verloën dat hy, soos Botman, snedige opmerkings oor ons volksvaders, volksbesit (Praag 23 Junie) en groepbesit (Kapp, p 223) sal maak en daarop sal roem dat die US lankal die laer verlaat het (Praag 29.04.2013). Botman het hom by rugby skaars gehou omdat hy dit as kenmerkend van die tradisionele US beskou het. Pleks daarvan het Botman sokker, by uitstek ‘n sport vir swartes, so veel moontlik probeer bevorder. De Villiers het hopelik nie dieselfde sielkundige besware teen rugby nie.

Anders as Botman se Afrika-manie sal De Villiers se oriëntasie hopelik onmiskenbaar Westers wees, maar ongelukkig seker nie tradisioneel Europees nie. Hy sal nogtans groter begrip as Botman hê vir die wesenlike aard van die universiteit, wat immers ‘n Westerse uitvinding is. Die “swart” Botman is aan die Universiteit van Wes-Kaapland deur Jakes Gerwel wysgemaak dat ‘n universiteit ten behoewe van linkse politiek bestaan. Botman het daardie verwronge idee grootliks ongehinderd aan die US uitgeleef. In werklikheid behoort ‘n vrye uitwisseling van idees nie net op ‘n universiteitskampus toegelaat te word nie, maar ook daadwerklik aangemoedig te word.

Opsommend kan ‘n mens in hierdie vroeë stadium sê dat daar tydens die rektorskap van De Villiers klemverskuiwings gaan wees, maar van ‘n daadwerklike ommekeer van die situasie, dus van ‘n welkome terugkeer van die US na ‘n egte Afrikaanse universiteit, is daar geen sprake nie; om van ‘n blanke universiteit nie te praat nie. De Villiers kan nie meeding met die oorgunstige polities geïnspireerde retoriek oor Botman nie, maar akademies is dit baie maklik om Botman te oortref.

Is my skrywe voortydig? Ek dink nie so nie. In my teks is daar talle voorstelle wat die nuwe rektor as werkprogram kan benut om ‘n beter, veral meer akademiese, US tot stand te bring. Teen my huidige verwagting in kan daar uit die Botman-puinhoop ‘n US verrys wat akademies weer blom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.