Die US het lankal die laer verlaat

In Die Burger (25 April, p 10) het Elsabé Brits berig oor ‘n mensskedel, ‘n stel glasoë en ‘n haarkleurkaart wat na bewering voorheen in die ontbinde departement volkekunde van die Universiteit Stellenbosch (US) was. Die skedel is glo “van ‘n vrou van gemengde herkoms.”

Ons weet dat dit in die nuwe Suid-Afrika heiligskennis is as ‘n nie-witte en daarby ‘n vrou so onteer word. Dink aan die geval Saartjie Baartman. Maar skedels en hele geraamtes word, sonder dat ‘n haan daaroor kraai, vryelik in mediese fakulteite dwarsoor die wêreld aangetref. Hulle word vir bona fide onderrig- en navorsingsdoeleindes gebruik. Hulle moet noodwendig dié van mans of vroue en van wittes of nie-wittes wees. Omdat daar meer vroue as mans was en daar meer nie-wittes as wittes was, is die kanse goed dat baie, indien nie die meeste nie, van hierdie skedels en geraamtes dié van nie-wit vroue is.

In die berig word genoem dat dr Eugen Fischer se naam op die houer met haarmonsters gegraveer is. Dít en die glasoë word in die teks met die Nazi’s se eugenetika geassosieer. Wat nie gesê word nie, is dat die onderliggende motief van die Nazi-rasverbeteringsleer was om die Duitsers, na hulle vernederende nederlaag in die Tweede Wêreldoorlog, beter vir die toekoms toe te rus. Om mense te verbeter, kan in beginsel tog nie verkeerd wees nie. Hoeveel beter kon die nuwe Suid-Afrika nie gewees het as daar by die meerderheid van die bevolking ‘n opregte stewe na verbetering was nie? Pleks daarvan is daar ‘n oorvloed van selfvergenoegdheid.

Wat ook nie genoem word nie, is dat Fischer bona fide wetenskaplike navorsing in Namibië gedoen het en dat hy eers teen die einde van 1939, dus baie laat, ‘n Nazi geword het. Sy hoofmotief vir aansluiting by die party was blykbaar om beter owerheidsbefondsing vir sy navorsing te bekom. Wat wetenskaplik ondersoek word, behoort nie deur ideologiese voorskrifte beperk te word nie. Enige empiriese verskynsel kan en behoort vir wetenskaplike ondersoek toeganklik te wees. Dit is bv akademies heeltemal onaanvaarbaar dat indiwidue se intelligensie nie wetenskaplik (dus objektief en so foutvry moontlik) gemeet en daar dan oor groepe se intelligensie veralgemenende gevolgtrekkings gemaak mag word nie. Vergelyk die diskoers oor die Bell-kurwe.

Veralgemening op grond van ‘n verteenwoordigende monster is normale wetenskaplike praktyk. Sulke resultate kan onderwysers en dosente in staat stel om skoliere en studente ten beste te onderrig, bv deur spesiale en intensiewer onderrig aan leergestremdes te bied. As die intelligensieverskynsel nie wetenskaplik ondersoek mag word nie, kan die motiewe wat agter so ‘n verbod skuil, bevraagteken word. Die uitkoms van wetenskaplike ondersoek kan die populêre opvatting óf gestaaf óf verwerp. Waarom dan by voorbaat beswaar teen so ‘n ondersoek maak? Dit kan wees dat die beswaarmakers by voorbaat weet dat hulle nie van die uitslag sal hou nie.

Eugenetika word in die berig beskryf as “‘n studieveld wat mense volgens ras, kultuur en fisieke eienskappe geklassifiseer het.” Dit is dus ‘n wetenskaplike manier om mense op grond van kenmerke in groepe te verdeel. Om sodanige onderskeide te maak, hoef nie diskriminerrend (in die sin van benadelend) te wees nie. Mense verskil indiwidueel en ook groepgewys, bv volgens etnisiteit of kultuur. In die nuwe Suid-Afrika word sulke groepverdelings (bv tussen wittes en nie-wittes en tussen mans en vroue) voortdurend toegepas en daarby op so ‘n wyse dat dit diskriminerend (bv teen mans en veral wittes) en nie bloot onderskeidend is nie. Selfs nie-wittes word van owerheidsweë nie almal oor dieselfde kam geskeer nie. Aan swartes word op suiwer kwantitatiewe, dus demografiese, gronde voorkeur bo bruines en Asiate gegee. Universiteite doen lustig hieraan mee.

‘n US-dekaan, Johan Hattingh, bekommer hom oor die moontlikheid dat hierdie artefakte dalk in die onderrig van volkekunde gebruik is. Waarom die kommer? Daar is so iets soos mensgroepe of volke en die artefakte het wetenskaplikes in staat gestel om onderskeide te maak, dus feite te versamel. Waarom sou ‘n verbod daarop nodig wees? Waarom kennis sensureer? Waarom studente in die duister probeer hou? Moet Hattingh homself nie eerder afvra of die afskaffing van die departement volkekunde, waar eens uitstekende wetenskaplike onderrig en navorsing gedoen is, akademies geregverdig kan word nie? Was die vernietiging van hierdie departement nie dalk ‘n geval van die slaafse navolging van ‘n modeverskynsel, naamlik politieke korrektheid, nie? Moet universiteite (soos dié in Nazi-Duitsland) toelaat dat hulle deur die ideologie van die bewindhebbers van die oomblik geïntimideer word?

‘n Vise-rektor, Eugene Cloete, verwys na ‘n US-navorsingsprojek oor rassisme in die wetenskap. Die departement volkekunde en ook geskiedenis is in die aanvangsvisier, maar die ondersoek (heksejag?) kan ook na ander departemente uitgebrei word. Daar gaan kritiese vrae oor die nalatenskap van die US se wetenskaplike aktiwiteite gestel word. Dit lyk asof hier ruim ruimte vir die diskreditering van die US van weleer geskep word. Sou dit nie van veel groter wetenskaplike en akademiese belang wees as eerder nie-ideologies en krities besin word oor wat die US vandag is en wat van hom as akademiese inrigting gaan word as op hierdie transformasiekoers voortgegaan word nie?

Mandisa Mbali is die leier van hierdie navorsingsprojek. Hy noem dat hy die uitstalling in die US se Sasol-museum wil verander “omdat verskillende groepe as so verskillend van mekaar uitgebeeld word, maar eintlik vanweë die uitruiling van kultuur nader aan mekaar is.” Dus, beweerde eendersheid is in die mode, gevolglik word verskille al hoe meer ontken; natuurlik behalwe wanneer dit by studentetoelating, beurstoekennings en die aanstelling en bevordering van US-personeel kom.

So ‘n koerantberig en daarby een wat oor die US handel, sal nie onbenut by die rektor, Russel Botman, verbygaan nie. As ANC-aktivis het hy dadelik op die propagandawa gespring in die vorm van ‘n artikel in vandag (28 April) se Rapport. Die berig in Die Burger bied immers ruim geleentheid aan Botman om te improviseer teen die wit, Afrikaanse US in die vorige eeu en om apartheid en by implikasie wittes en veral Afrikaners te verguis.

Heel aan die begin verwys hy na ons “ongemaklike … verlede.” Hy vermoed dat die bogenoemde artefakte as “onderrighulpmiddels in die departement van volkekunde gebruik is om mense se ras te bepaal.” Let op hoe impliseer Botman dat sodanige rasbepaling vermoedelik in daardie departement gedoen is; dus nie dat die artefakte moontlik bloot ter verduideliking in onderrig gebruik is nie. Dan borduur Botman voort: “Die ontdekking pas in by die idee dat die US in die apartheidsjare – en in die aanloop daartoe – noue bande gehad het met die owerheid en die destydse Nasionale Party.” Nou is Botman waar hy wil wees, by Afrikaners en apartheid, maar hy reik tot voor 1948 na segregasie, waarmee hy dan ook ander wittes betrek.

“Die argument dat die navorsing aan die US die intellektuele onderbou verskaf het van wat later regeringsbeleid oor afsonderlike ontwikkeling, segregasie en apartheid sou word, word deur die vonds in die museum versterk.” Nou is Botman al by die intellektuele onderbou van nie net onderrig aan die US van weleer nie, maar sommer ook van die rasbeleid (segregasie en apartheid) van wit regerings.

Botman noem dat die voorlopige hipotese is dat die artefakte in onderrig gebruik is om rasseklassifikasie te demonstreer, dus om etniese verskille uit te wys. Waarom mag sulke verskille nie wetenskaplik vasgestel en uitgewys word nie? Is daar iets bedenkliks aan die feit dat sommige mense bv ‘n ligter en ander ‘n donkerder velkleur het? As aktivis verwys Botman na “die berugte potloodtoets,” hoewel potlode nie in die museum gevind is nie.

Hierna bring Botman die artefakte in verband met Nazisme. Hy verwys na Fischer se navorsing onder die Rehoboth-basters. Wat Botman nie doen nie, is om te noem dat die Rehobothers trots daarop is om basters genoem te word en dat hulle lojaal teenoor hulle moedertaal, Afrikaans, is. Dit is in skrille kontras met Botman en ander ontwikkelde bruines wat hulleself deesdae swart verklaar en hoogs dislojaal teenoor Afrikaans is deur hulle kinders in Engels te laat onderrig.

Dan kom Botman uit by “rassisme in die wetenskap,” met spesifieke verwysing na die US. “Die navorsers sê hulle beskou dit as hul morele plig om kritiese vrae oor die konteks, fokus, relevansie en nalatenskap van wetenskapbeoefening aan hul instelling te stel.” Soos die ANC, reken Botman dus dat hy en hulle op moreel hoë grond is. In die nuwe Suid-Afrika moet die wetenskap klaarblyklik ‘n ander ideologie as in die ou Suid-Afrika dien.

Botman wil die verlede en toekoms vierkant in die oë kyk. Hy kyk vas in die selektiewe verpligting wat hy universiteite oplê: “om ongelykheid en diskriminasie in die hoëronderwysstelsel weg te werk.” Hy noem dit nie, maar paradoksaal word ongelykheid en diskriminasie aan die US en ander Suid-Afrikaanse universiteite weggewerk deur blatant teen wittes te diskrimineer.

Dan die opmerking wat Botman nie kan en nie wil en nooit sal ontgroei nie: “Sedert die US 13 jaar gelede ons aandeel aan die onregte van Suid-Afrika erken het, het dit tyd geword dat ons opnuut op transformasie fokus.” Vervolgens sing Botman sy oorbekende deuntjie van die US toeganklik maak (bv Afrikaans afskaal en die Engelse aanbod verhoog) en natuurlik sy ideale van gelykheid, diversiteit, inklusiwiteit, relevansie, saamgevat in transformasie.

“Wat die samelewing betref, is blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid mense in terme van etnisiteit, taal, geslag, ouderdom, idees, plek van herkoms, godsdiens, seksuele oriëntasie en gestremdheid bevorderlik vir die uitnemendheid wat Maties nastreef.” Dit is myns insiens duidelik dat dit vir Botman primêr om politieke, spesifiek ANC-, uitnemendheid gaan en nie om akademiese of wetenskaplike uitnemendheid nie. Die US mag nie ‘n Afrikaanse universiteit wees nie, al is die meeste universiteite plaaslik en elders eentalig wat onderrigmedium betref. Die US mag ook nie die uitdrukking van ‘n kulturele fokus, naamlik van wittes of spesifiek Afrikaners, wees nie. Iemand wat trots op sy kultuur en moedertaal is, verkies ‘n universiteit wat uitdrukking aan sy kultuur en taal gee. Botman se identiteitlose ideaal is om van Maties globale burgers te maak.

Dan veroorloof Botman hom hierdie bedenklike stekie: “Ons het lankal die laer verlaat.” Dit open volgens hom die weg na gelykberegtiging. Les bes, die US word nie ‘n Suid-Afrikaanse universiteit genoem nie, maar ‘n “universiteit in Afrika.” Botman se ideaal is duidelik: die US moet so swart moontlik word. Dit moet minstens die demografie weerspieël. Dit beteken op sy beurt dat daar op die lange duur geen plek vir Afrikaans, die laertaal, sal wees nie. Die ANC behoort hoogs tevrede met Botman en transformasie aan die US te wees.

Maak 'n opvolg-bydrae