Op skool by die atletiekbyeenkomste – ek was op Helpmekaar – het ons altyd gesing: “Dis lekker om ‘n Helpie te is, te is.” Dis natuurlik nie korrekte Afrikaans nie, maar daardie “is” klink soveel sterker as “wees”.
Net so sou ‘n mens kon sing: “Dis lekker om ‘n Afrikaner te is!” Terwyl die mengelmoes mense in die res van die land daarop bedag is om soveel geld as moontlik op bedenklike maniere te verkry en dit op duur motors, klere en huise uit te gee, hou ons onsself met interessanter dinge besig.
Ons debatteer oor ons kultuur, ons geskiedenis en ‘n toekoms wanneer ons nie meer aan ander ondergeskik sal wees nie, maar waarlik vry en vooruitstrewend. Ons kinders sal weer op die pawiljoene uit volle bors kan sing en ons sal selfs ‘n Afrikaanse atletiekspan na die Olimpiese Spele kan stuur wat onder die oranje-blanje-blou sal gaan deelneem en medaljes huis toe bring.
Vergesog? Onrealisties? Glad nie. Die Oostenryks-Joodse skrywer Theodor Herzl het in die 1890s so ‘n vergesig oor ‘n Israel iewers in die toekoms gehad, ‘n “Ounuweland”. Dit was dan ook die titel van die roman wat hy in Duits daaroor geskryf het: Altneuland. ‘n Beroemde sinsnede in die boek lui: “As jy dit wil, is dit geen feëverhaal nie.”
Omdat ons dit wíl, sal ons vir seker iewers in die toekoms weer vry en outonoom wees. Of dit nou ‘n tiende provinsie van Suid-Afrika, ‘n volkstaat of ‘n volwaardige onafhanklike Afrikanerrepubliek sal wees, weet ons nie. Maar vir die oomblik is dit ook nie so belangrik nie. Al waarop ons hoef te konsentreer, is om die vlam van vryheid brandend te hou.
Vir Beeld, die Kaapse koerant wat hier in Johannesburg uitgegee word, is die gedagte van Afrikanervryheid so onvoorstelbaar dat ‘n mens net daaroor kan spot. Selfs die woorde, “Die Republiek”, vind Beeld skreeusnaaks, want sedert 1994 ons is mos ‘n Statebondsland met die koningin van Brittanje as verre simboliese keiserin wat oor ons korrupte Klein Engeland waak. By Beeld sing hulle seker elke dag die Britse volkslied soos in die bioskope van die 1930s.
Ook tydens patriotiese volksfeeste in Paul Kruger se tyd, het luidrugtige, dronk Kapenaars die ou president en sy staat bespot en lawwe Britse liedjies gesing. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde, lui die Franse spreekwoord mos.
Natuurlik is daar patriotiese Afrikaners in die Kaap ook; ek dink net nie hulle skryf rubrieke in Beeld of ander Nasperskoerante nie. Daardie selfde koerante is egter nou raadop om die nuwe bedeling se varkwagters te wees, soos Izak de Villiers iewers gesê het. Die varkplaas raak nou te veel soos George Orwell se Animal Farm waarin “sommige diere meer gelyk as ander is”.
Lood van Beeld lag dus lekker vir die volkstaatkaart, ‘n skermdruk van OASE se Google-kaart wat ek vandeesweek op my Facebookprofiel geplaas het, en sê: “Die deel in geel wat soos ‘n swewende spokie lyk, is Die Republiek.” Wie laaste lag, lag egter die lekkerste, sê ek altyd. (Kaart hiernaas; klik om te vergroot.)

Die “geel spokie” is groter as Oostenryk en net-net kleiner as Portugal. Drie miljoen Afrikaners en so een of twee miljoen “allochtone” bestaande uit Engelse en swartes, sal baie lekker in so ‘n Afrikaanse of Afrikanerrepubliek bly, dankie. Ons sal ‘n volle 85 000 vierkante kilometer in ons Oostenryk hê waarin ons ons kan uitleef, sonder misdaad, korrupsie of Engelse kitsch.
As jy dit wíl, is dit geen feëverhaal nie, sê Theodor Herzl. Die naam van Tel Aviv, die ekonomiese sentrum van teenswoordige Israel, is die Hebreeuse vertaling van “Ounuweland”. Aanvanklik in 1909 het slegs 70 baie idealistiese gesinne hulle daar gevestig, ‘n bietjie soos in Orania, en vandag woon daar 3,2 miljoen mense in die groot, moderne stad met ‘n polsende naglewe en duisende hoëtegnologiebedrywe.
Steve Jobs, wat die Apple-maatskappy gestig het, het gesê:
“Kom ons drink ‘n heildronk op die malles, die wanaangepastes, die rebelle, die moeilikheidmakers, diegene wat nie mooi inpas nie… hulle wat dinge anders sien — wat nie lief vir reëls is nie. Jy kan hulle aanhaal, jy kan van hulle verskil, hulle ophemel of verguis, maar die een ding wat jy nie kan doen nie, is om hulle te ignoreer want hulle verander dinge… Hulle stoot die mensdom vorentoe, en terwyl sommige hulle as die malles sien, sien ons hul genialiteit raak, want dis juis diegene wat mal genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander wat dit regkry.”
Dwarsdeur ons geskiedenis was daar mense wat skynbaar onmoontlike drome gedroom het en hulle net so dikwels verwesenlik het: die Groot Trek oor die Drakensberge, om van ons Wes-Germaanse dialek ‘n eie inheemse kultuurtaal te maak, ‘n nywerheidsland in Afrika te vestig, selfs die atoombom by Pelindaba te maak. Ons het die Afrikaanse letterkunde, Krygkor, Yskor, Eskom en wat nog geskep. Waarom sal ons nie ons bevolking binne ‘n bepaalde gebied kan konsolideer, slim ekonomiese planne maak en sodoende weer vry en vooruitstrewend raak nie?
Die Vlaminge van België, Québecois van Kanada en Katalane van Spanje het reeds gewys hoe dit gedoen kan word. Dit begin altyd met ‘n taalstryd. As ‘n mens jou eie taal in ‘n gebied kan handhaaf, kan jy jouself as volk ook daar handhaaf. Dis só eenvoudig.
Ek begin dink dat die magsverlies van 1994 ‘n goeie ding was. Dit het Afrikaners van staatsosialisme en daardie leef-vir-‘n-verre-pensioen-mentaliteit bevry. Carpe diem, sê die Latynse spreekwoord: Gryp die dag, gryp die oomblik.
‘n Boer maak ‘n plan.
Eendag, waarskynlik gouer as wat meeste mense dink, sal ons in ‘n eie republiek leef met ‘n minimale staat wat net reëls maak en standaarde stel, terwyl die mense self hul skole, ondernemings en kultuur bedryf, ‘n bietjie soos ons reeds onder die huidige Engelse of Afro-Engelse oorheersing doen.
Die verskil sal egter wees dat ons nie meer 40% bloedgeld aan ‘n parasitiese staat wat jou boonop aan bande lê, jou taal en kultuur onderdruk, sal hoef te betaal nie. As daardie geld losgemaak word, sal ons ekonomies soos ‘n vuurpyl opstyg. Ons sal groeikoerse behaal soos laas hier in die 1960s onder Verwoerd gesien is.
Ons hoef ook nie te wag nie. Ons kan sommer nóú begin. Kyk na daardie volkstaatkaart waar die meeste Afrikaners reeds woon. Dink aan hoe ons daardie gebied beter kan beset, hoe ons meer werk vir ons mense kan skep, Afrikaans en Afrikaanse skole sterker kan maak.
Pas die twee beginsels toe wat op Orania geld: eie arbeid, eie taal. In die ekonomie praat hulle van ‘n “nie-tariefhindernis”. As dit nie vir Duits was nie, het die Chinese lankal die Duitse ekonomie oorgeneem. Maar om in Duitsland te funksioneer, moet jy Duits kan praat en Duitsers verstaan. Afrikaans is die beste hindernis om teen ons mededingers op te werp; dis die skans waaragter ‘n nuwe ekonomie en ‘n nuwe land, ons Ounuweland, stil-stil tot stand kan kom.
Kortom, waag dit om van ‘n beter wêreld te droom. Soos Theodor Herzl. Of soos Steve Jobs dit gestel het: wees kranksinnig genoeg om te dink jy kan die wêreld verander.
