Russel Botman ontdek ‘n Reitz op Stellenbosch

Deel op
Akademiese klipgooiery op Stellenbosch? Foto: Klippe op die pad tydens die sewentigerjare (uit die polisie-argiewe)
Akademiese klipgooiery op Stellenbosch? Foto: Klippe op die pad tydens die sewentigerjare (uit die polisie-argiewe)

deur Leon Lemmer

Die standaardweergawe van die gebeure in Sharpeville in 1960 is dat blanke polisiemanne sonder waarskuwing op ongewapende en vreedsaam betogende swartes geskiet het. Die geykte weergawe van die Soweto-onluste in 1976 is dat swart skoolkinders spontaan in opstand teen Afrikaans as onderrigtaal gekom het.

Nelson Mandela vertel in sy outobiografie dat duisende swartes die Sharpeville-polisiestasie omsingel het en ook: “PAC activists had done an excellent job of organizing the area” (Long Walk to Freedom, Londen: Abacus, 1995, p 280). Omdat die PAC hom vir selfs meer radikale en militante terreur as die ANC beywer het, is dit taamlik duidelik dat omstandighede doelbewus georkestreer is om ‘n insident te skep. Wat Mandela tydens sy reise in Afrika gevind het, was dat die PAC deur hierdie insident te skep baie groter aanhang en gewildheid as die ANC geniet het. Onder meer het dit as meevaller gehad dat geld en wapens eerder na die PAC as die ANC gekanaliseer is. Die ANC moes iets doen om hierdie toedrag van sake om te keer. Die “spontane” Soweto-opstand was die antwoord. Dit is voor die internasionale nuusmedia opgevoer en het geblyk ‘n reusepropagandasukses te wees. Op grond hiervan was die ANC hierna onbetwisbaar die leidende “bevrydingsbeweging”.

Hierdie soort mededinging om pro-swart propagandasukses ten koste van blankes te behaal, behoort nie tot die verlede nie. Veldtogte om blankes op ‘n onbillike manier te diskrediteer, word dikwels in die nuwe Suid-Afrika gevoer. Die geringste insident word aangegryp en opgeblaas om sodanige anti-blanke sentiment aan te wakker. ‘n Klassieke voorbeeld is die studentepret wat vier jongmans gehad het toe hulle ‘n video-opname van swart werkers in die Reitz-koshuis in Bloemfontein gemaak het. In enige normale samelewing sou dit onmoontlik wees om soveel sensasie uit so ‘n grootliks onskuldige en eintlik onbenullige gebeurtenis te tap. Die afmetings wat die anti-blanke Reitz-bohaai aangeneem het, is ongelooflik. Deesdae is daar ‘n versoeningsentrum op die kampus as blywende beswering van hierdie verskriklikheid waarin niemand gedood of beseer of werklik te na gekom is nie. ‘n Grap is immers ‘n grap, selfs wanneer dit ten koste van iemand is.

‘Aktiviste en rewolusionêre word nie net in die gebruik van oorlogswapens opgelei nie. Dikwels is daar baie groter klem op ideologiese oorlogvoering.’

Maar net soos die ANC nie wou toelaat dat die PAC op ‘n bedenklike manier groter sukses met dooie kamerade behaal nie, hou ander plaaslike universiteite nie daarvan dat die Universiteit Vrystaat (UV) met soveel sukses die Reitz-fiasko bedryf nie. Hou in gedagte dat dit deesdae dikwels aktiviste is wat deur kamerade tot in die rektorstoel herontplooi word. Die Universiteit Stellenbosch (US) wou graag die Reitz-sukses van die UV nadoen. Hiervoor moes ver in die verlede na ‘n soortgelyke nietige insident gesoek en die besonderhede daarna met groot sluheid aan ‘n blywende groot klok gehang word.

Aktiviste en rewolusionêre word nie net in die gebruik van oorlogswapens opgelei nie. Dikwels is daar baie groter klem op ideologiese oorlogvoering. Om die nuwe Suid-Afrika te verstaan, is dit noodsaaklik dat ideologie en alles wat daarmee saamhang grondig verstaan word. Wanneer Nelson Mandela ‘n nr.-6-Springboktrui aantrek, vertolk die Nasperskoerante dit, soos alles wat Mandela doen, so gunstig moontlik. Genoemde gebeurtenis word gevolglik opgehemel as ‘n versoeningsgebaar en dat Mandela ‘n groot voorliefde vir rugby het. Sy eintlike bedoeling was om die wittes te paai nadat hulle op ‘n uiters verradelike manier hulle politieke mag ontneem is.

Toe Mandela die gedig “Die kind” van Ingrid Jonker voorgelees het, het die Nasperskoerante dit vertolk as erkenning van Afrikaans op die hoogste vlak. In werklikheid is hierdie gedig heel moontlik deur Jakes Gerwel by Mandela aanbeveel. Die boodskap vestig die beeld van wittes as gewelddadig en swartes as die onskuldige slagoffers. Met die misbruik van bv rugby en Afrikaans het Mandela gepoog om tot die siel van die Afrikaner deur te dring ten einde dit te verloën.

Teen hierdie agtergrond kan die vraag gevra word: Wat kon die US doen om, soortgelyk aan die UV met die Reitz-fiasko, ‘n hou teen die wittes in te kry? Deesdae is Russel Botman, die rektor, die hooffiguur op die US-kampus. Hy is ‘n UDF/ANC-aktivis wat verskeie kere deur die “apartheidsregime” ingeperk is. Soos sy US-kollega Nico Koopman, die dekaan van die fakulteit teologie, het Botman sy akademiese opleiding aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) ondergaan. Daar het hulle onder die leiding van Jaap Durand bv die skoorsoekery van die naïewe Dietrich Bonhoeffer in Duitsland nagegaan en gespekuleer in hoeverre dit op Suid-Afrika van toepassing gemaak kon word. Daar is dus onder die dekmatel van die akademiese bestudering van godsdiens na moontlike plaaslike politieke toepassings gesoek. Hierdie manier van doen word bevrydingsteologie genoem.

‘In hierdie politiek gedrewe transformasieproses word die US se tradisionele akademiese uitnemendheid gewetenloos opgeoffer.’

Botman verkeer in sy tweede termyn as rektor. Sy bewind aan die US word deur ‘n enkele politieke ideaal, naamlik transformasie, oorheers. Vir Botman is transformasie wesenlik afrikanisering. Volgens die US-webwerf het hy op 31 Julie gesê: “Above all, we should think of ourselves as facilitators of change.” ‘n Mens moet darem omtrent ‘n dik vel hê om van buite af te kom en as misleide enkeling jou aan te matig om alles te wil verander wat beskaafde Westerlinge aan die US opgebou het. Tradisioneel was die US, naas akademiese uitnemendheid, as ‘n blanke Afrikaanse universiteit bekend. Botman se dikwels uitgesproke strewe is dat die US teen 2018, wanneer die US sy eeufees sal vier, nie as ‘n wit en nie as ‘n Afrikaanse universiteit bekend mag staan nie. In hierdie politiek gedrewe transformasieproses word die US se tradisionele akademiese uitnemendheid gewetenloos opgeoffer.

Om die UV se Reitz-sukses na die kroon te steek, moes Botman twee skynbaar heeltemal onverwante gebeure saamsnoer. Slegs ‘n geslepe propagandis sou die kloutjie so vernuftig by die oor kon bring. Die een gebeurtenis het in 2010 plaasgevind. Die derde verdieping en die dak van die RW Wilcocks-gebou op die US-kampus is in ‘n brand verwoes. Botman is goed met kampusbrande bekend, want in die vorige eeu het ondersteuners van die UDF/ANC bv twee tydelike geboue en die kantoor/laboratorium van ‘n hoogleraar in chemie op die UWK-kampus vernietig. Die verskil is dat waar die “apartheidsregime” die UWK-brandskade herstel het, die US in die geval van die Wilcocks-gebou self die herstelwerk moes doen.

RW Wilcocks was ‘n hoogleraar in sielkunde en die US-rektor van 1935 tot 1954. Hy is dus ‘n toonbeeld van die US van weleer. ‘n Gebou wat na hom genoem is, pas nie sonder meer in by die getransformeerde US waarna Botman so naarstiglik strewe nie. Wat kon gedoen word om die herboude Wilcocks-gebou ‘n transformasie- oftewel Botman- (en dus ANC-) geurtjie te gee? ‘n Mens soek eenvoudig na ‘n gebeurtenis wat in die twee dekades tussen 1935 tot 1954 plaasgevind het en waarmee die tradisionele US en dus wittes gediskrediteer kan word.

Aan die betrokke gebeurtenis word deesdae die gewigtige naam Slag van Andringastraat gegee. Op 27 en 28 Julie 1940 het US-studente, onder andere van die koshuis Dagbreek, slaags met bruin inwoners van Stellenbosch geraak. Die wangedrag het begin toe lede van die twee groepe koerante by ‘n kafee wou koop. Hulle het handgemeen geraak. ‘n Klipgooiery het gevolg waarin onder meer die ruite van die privaat koshuis Protea “deur bruin mense uitgegooi is” (Eikestandnuus, 8 deser, p 6). Daarna is ‘n huis in Crozierstraat ook met klippe bestook. Die rektor, Wilcocks, het probeer om die vrede te herstel en die US het selfs skadevergoeding aan sommige bruines betaal.

‘Enigeen wat in die jare sewentig en tagtig gebeure op die UWK-kampus meegemaak het, weet dat bruines hulle maklik tot klipgooiery wend. Botman is sekerlik goed hiermee bekend.’

Die historikus Hermann Giliomee noem die voorval in ‘n vakkundige artikel in Historia “one of the few cases in South Africa where a white riot can be said to have taken place”. In ‘n US-magisterverhandeling (2006) noem Gustav Hendrich dit ‘n “buitengewone geweldsinsident”. Die etnies gedrewe Henry Jeffreys, wie se twee groot helde Nelson Mandela en Trevor Manuel is, het die voorval in ‘n artikel in Die Burger (15.12.2012) erg oordrewe “‘n klad op die naam van geslagte van Dagbreek-inwoners” genoem. Jeffreys se kommentaar was na aanleiding van ‘n misplaaste verskoning wat ‘n uittredende primarius van Dagbreek in 2012 vir die 1940-gebeure aangebied het. (Al die inligtingsbronne in hierdie paragraaf kan maklik op die internet opgespoor word.)

Dit is glad nie duidelik dat die skuld vir die 1940-gebeure noodwendig by die wittes lê nie; sekerlik nie uitsluitlik by die wittes nie. Dit is immers nie die wittes wat die koshuis en huis met klipgooiery beskadig het en waarvoor geen skadevergoeding deur die bruines betaal is nie. Enigeen wat in die jare sewentig en tagtig gebeure op die UWK-kampus meegemaak het, weet dat bruines hulle maklik tot klipgooiery wend. Botman is sekerlik goed hiermee bekend. Daar moet egter onthou word dat die UWK-studente klippe gegooi het omdat hulle hulle vir die afskaffing van alle rassediskriminasie beywer het. Hulle het dus nie betoog ten gunste van die rassediskriminasie teen wittes wat deesdae so mildelik aan die US en in die res van die land gepleeg word nie.

In die nuwe Suid-Afrika het die gewoonte posgevat om skuld uitsluitlik op wittes te pak en dan van hulle te verwag om verskoning te vra. Soos Jeffreys dit stel: “Russel Botman het hierin ‘n geleentheid raakgesien” – net soos Botman, toe die geleentheid hom voordoen, dadelik die US van weleer met die Nazi’s geassosieer het (praag 29 April). Botman het die hoogs uitsonderlike Andringastraat-voorval aangegryp om daarvan die US se teenhanger vir die UV se Reitz te maak. In albei gevalle word ‘n enkele swaeltjie dus tot ‘n somer opgeblaas. Wangedrag en misdaad kom baie meer by nie-wittes as by wittes voor. Tog word sodanige handeling by nie-wittes nooit en nêrens, soos wat billikheids- en ewewigtigheidshalwe vereis kon word, aan die groot klok gehang nie. Nie-wittes hoef nie verskoning te vra nie, om van die betaling van skadevergoeding nie eens te praat nie.

Wat Botman vervolgens gedoen het, was om ‘n kamer ter herinnering aan die Slag van Andringastraat in die universiteitsargief in die herboude Wilcocks-gebou in te rig. “The Room is a contemporary exhibition space depicting the suppressed history of … the Battle of Andringa Street … ‘adversity often leads to new opportunities and this is exactly what happened here,’ said … Botman” (Bolander, 14 deser, p 6). Die wittes word as die skoorsoekers en geweldenaars en die bruines as die onskuldige en vreedsame slagoffers voorgestel. Botman noem die uitstalling “‘n gebaar van versoening tussen die US en die dorp se bruin gemeenskap” (Die Burger, 2 deser, p 9). Danksy Botman en heel moontlik onverdiend is die US van weleer en sy wit studente dus voortaan die skurke in die verhaal van die Slag van Andringastraat.

‘Hermann Giliomee noem dat Hendrik Verwoerd die eerste student is wat sy studie van sy eerste jaar tot sy doktorsgraad in Afrikaans aan die US voltooi het’

Op 31 Julie is hierdie herinneringskamer bekend gestel en is die voltooiing van die herboude Wilcocks-gebou gevier. Let op watter afmetings Botman se aktivistiese verbeelding aanneem: “Dis ‘n simbool van vernuwing en versoening. ‘n Plek wat akademiese uitnemendheid vier, historiese ongelykhede erken en ‘n optimisme oor Afrika se toekoms deel. Dít is waarvoor die RW Wilcocks-gebou van die US nou staan. Só het … Botman … gesê … ‘Ons het onsself afgevra wat die aard van ‘n universiteit in die 21ste eeu is … Watter waarde gaan ons toevoeg tot die gebou?’ Vandag is die RW Wilcocks-gebou ‘n ‘stap in die toekoms in'” (Die Burger, 2 deser).

Volgens die US-webwerf het Botman by hierdie geleentheid ook gesê: “Reconciliation is born of memory and cannot happen if there is denial and amnesia.” Hermann Giliomee noem dat Hendrik Verwoerd die eerste student is wat sy studie van sy eerste jaar tot sy doktorsgraad in Afrikaans aan die US voltooi het. Uit ‘n suiwer akademiese oogpunt moet iemand soos Botman nie aan selektiewe geheueverlies ly nie en behoort hy herinneringsruimte vir hierdie en baie ander akademiese (eerder as politieke) feite op die kampus skep. Verwoerd kan as ‘n uitstekende akademiese rolmodel vir studente dien.

Die joernalis Eunice Visagie beweer: “Net so min soos jy vir jou skaduwee kan weghardloop kan jy dit wat in die verlede gebeur het net ignoreer” (Eikestadnuus, 8 deser). Inderdaad, maar wat in die verlede gebeur het, kan geplooi word om ‘n agenda in die hede te pas. Volgens ‘n koerantberig en die US-webwerf is daar geen twyfel wie in die geval van die herinneringskamer die verantwoordelikheid moet aanvaar nie: “Die kamer is die geesteskind van prof Russel Botman” (Die Burger, 2 deser).

In die Botman-terminologie beteken “inklusief” dat enige groepering waarby wittes betrokke is, ook nie-wittes moet insluit. Die resultaat is “diversiteit”. Eksklusief nie-wit of swart groepe is egter vir Botman heeltemal aanvaarbaar, bv eksklusiewe swart skole en universiteite. Diversiteit is in sodanige gevalle nie nodig of selfs gewens nie. Toegepas op die US beteken dit dat die mentorprogram Rachel’s Angels, ‘n Naspers-inisiatief, eksklusief op nie-wit skoolkinders toegespits is. ‘n Wit skolier mag nie so ‘n engel wees nie.

Die African Doctoral Academy, wat Botman in 2011 tot stand gebring het, het ten doel om swartes uit swart Afrika as studente na die US te lok. Dit is glad nie die bedoeling dat nie-swartes uit bv Noord-Afrika of wittes uit bv Namibië en Zimbabwe deur hierdie akademie bevoordeel word nie. In werklikheid benadeel hierdie akademie belastingbetalende wit Suid-Afrikaners, want beursgeld wat hulle vir doktorale studie kon toekom, word eerder na swartes uit die res van Afrika gekanaliseer; dus na mense wat om etniese redes bevoordeel word, terwyl hulle in werklikheid geen regverdigbare aanspraak op bevoordeling bo wit Suid-Afrikaners kan maak nie.

Die herboude Wilcocks-gebou huisves nie net die pro-bruin en anti-wit Andringastraat-uitstalling nie, maar ook die African Doctoral Academy. Hoewel die Wilcocks-naam vir die gebou (voorlopig) behou is, het Botman die herbouing in ruime mate misbruik om dit volgens sy wense te afrikaniseer. Dit is wat hy hierbo “‘n simbool van vernuwing” genoem het. Dit is waarom Botman dit as ‘n “stap die toekoms in” geloof het. Tipies Botman is ideologiese pleks van akademiese waarde tot die gebou toegevoeg

Botman het die Slag van Andringastraat gekaap en verwring om sy ANC-politiek te dien. Sy motivering word wanvoorgestel deur dit ‘n poging tot versoening te noem. Botman se handeling is net so misplaas en eensydig soos die jaarlikse herdenking in die naam van versoening van die 1996-bomontploffing op Worcester, waarin wittes die skuldiges en nie-wittes die slagoffers was. Iets soortgelyks word nie gedoen vir bv die bomontploffing in 1983 in Kerkstraat, Pretoria, nie, waarin swartes die skuldiges en baie wittes die slagoffers was (praag 4 Februarie). Die onderliggende politiek korrekte doel is nie versoening nie, maar om, aan die een kant, nie-wittes as goed en onskuldig en, aan die ander kant, wittes as sleg en skuldig voor te stel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.