Pallo Jordan, ere- en akademiese doktorsgrade

Deel op

In die nuwe Suid-Afrika is waardes omgekeer. Karel Schoeman het verwys na die “omgedopte” land (Die laaste Afrikaanse boek, 2002, p 423, 431). Kwaaddoeners (bv terroriste) beklee van die hoogste poste. Geweldenaars word as voorbeeldige vredemakers en versoeners vereer. Tog word gemaak asof die misdaadgolf in die land nie verklaar kan word nie. Dít terwyl dit duidelik is dat misdaad seker die lonendste, suksesvolste en omvattendste plaaslike bedryf is. Daarenteen word mense met gesonde waardes, wat die land ontwikkel en opgebou het, vertel dat hulle vir hulle gedrag verskoning moet vra en genees moet word.

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was tydens die “bevrydingstryd” ‘n nes van doodgewone misdadigheid, soos oproer, vandalisme en brandstigting. Sulke dade is gepleeg en blatante anti-blanke gesindheid is geopenbaar onder die dekmantel van die stryd teen apartheid. Pas het die UWK dit nodig gevind om van hierdie voorbokke elk met ‘n kanselierstoekenning te vereer, onder die voorwendsel dat hulle ook tot transformasie in tersiêre onderwys (dus die uitvoering van ANC-beleid) bygedra het. Die volgende bruines is vereer: Russel Botman (postuum), Brian Figaji, Jakes Gerwel (postuum), Jonathan Jansen, Nicholas Morgan, Brian O’Connell, Franklin Sonn en Derrick Swartz (Die Burger, 29.08, p 6; 30.08, p 5). Ek moet byvoeg dat nie almal van hulle hulle (noodwendig) aan misdade skuldig gemaak het nie. Die punt is dat die UWK nie ongekwalifiseerd trots op al hierdie alumni behoort te wees nie. Die motivering vir hierdie toekennings is eerder gedienstigheid aan ANC-politiek as gesonde akademie.

Minstens twee van die genoemde agt (O’Connell en Sonn) het al ‘n eredoktorsgraad ontvang, wat hulle skynbare onvermoë kamoefleer om op grond van navorsing ‘n akademiese doktorsgraad te verwerf. Daar moet duidelik tussen ‘n ere- en ‘n akademiese doktorsgraad onderskei word. Hierdie onderskeid is soortgelyk aan die verskil tussen die Nobel-vredesprys, wat in Noorweë ontvang word, en die ander Nobel-pryse, wat in Swede toegeken word. Die Nobel-vredesprys gaan dikwels aan wanpresteerders, bv moeilikheidmakers, wat eerder onrus stook as vrede bewerkstellig. Die ander soort Nobelpryse is veronderstel om te gaan aan mense wat werklik gepresteer het. Insgelyks word eredoktorsgrade dikwels toegeken vir nie- of wanprestasie, terwyl akademiese doktorsgrade veronderstel is om toegeken te word aan diegene wat ‘n rits grade verwerf het, daarna oorspronklike navorsing gedoen en die resultate bevredigend gedokumenteer het.

Ek moet byvoeg dat Richard van der Ross by dieselfde geleentheid ‘n toekenning ontvang het. ‘n Mens kan hom egter nie oor dieselfde kam as die ander agt skeer nie. Hy is bv heeltemal geneë om sy bruin etnisiteit te erken, terwyl (van) die ander geneig is om opportunisties swart te wil wees. Toe Van der Ross die UWK-rektor was, was die beswaar teen hom, afkomstig van bruines soos die genoemde agt, dat hy polities te gematig en te beskaaf was om geweld te bevorder. Dit is selfs teen hom gehou dat hy in ‘n blanke woonbuurt grootgeword en gewoon het en daar geleer het om ordentlike Afrikaans en Engels te praat.

Die aanleiding vir my skrywe is eintlik Pallo Jordan, daardie ANC-bevrydingstrydros wat jare lank in ANC-geledere as ‘n intellektueel beskou is, onder meer omdat hy beweer het (of daar sonder meer aanvaar is) dat hy na suksesvolle navorsing ‘n doktorsgraad verwerf het. Dit het onlangs geblyk dat hy een van baie in die nuwe Suid-Afrika is wat sy CV onregmatig aangedik het. Jordan het sy siel verkoop deur hom valslik as ‘n intellektueel voor te doen. Hy praat tereg van sy “Faustiaanse pakt” (Rapport Weekliks, 24.08, p 2). Dit plaas linksgesindes, soos Amanda Gouws, in ‘n dilemma. Ons het hier, soos haar kollega aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die kampusgewete Anton van Niekerk dit sou stel, met ‘n paradoks te make (Die Burger, 26 Augustus, p 13). ANC-sikofante, dus kruiperige vleiers, praat prominente ANC-lede graag goed, maar hier word hulle met Jordan se onvoorbeeldige gedrag gekonfronteer. Hoe nou gemaak, as jy die ANC nie skade wil berokken nie?

Gouws het in haar rubriek (Die Burger, 25.08, p 8) ‘n interessante eierdans uitgevoer. Dit is sy wat in rubriek na rubriek vroue ophemel en mans afkraak; veral mans wat wit en polities konserwatief is. In sy boek, Maties en Afrikaans (2013), toon Pieter Kapp aan dat Gouws deurgaans teen ‘n Afrikaner- en Afrikaanse US gekant was. Soos Russel Botman gee sy voorkeur aan klasse waar sowel Afrikaans as Engels die voertaal en gedwonge rasse-integrasie die noodwendige gevolg is; ‘n opset wat teenproduktief vir optimale leer en destruktief vir Afrikaans is. Maar daar is nog ‘n tipiese Gouws-rede vir haar standpunt: “Vir Amanda Gouws het transformasie die skep van ‘n kultuur behels waar swartes en vroue tuis sal voel” (p 105-106).

Maar kom ons kyk wat hierdie dame (as dit die regte woord is) in haar rubriek skryf.

“Laat my begin deur te sê dat Pallo Jordan ‘n groot intellektueel is … Daar is geen twyfel dat hy ‘n doktorale proefskrif sou kon skryf en die titel sou kon kry nie. Maar dit gaan hier oor die feit dat hy homself hierdie titel toegeëien het sonder om die werk te doen om dit te verdien. ‘n Mens moet hom bewonder dat hy die eerbare ding gedoen het om as ‘n lid van die parlement en die ANC te bedank. Dit sê iets van sy integriteit in ‘n tyd van omtrent daaglikse onthullings oor mense wat oor hulle kwalifikasies lieg.”

Gouws, wat so graag enige konserwatiewe of behoudende politieke neiging by blankes verdoem, spreek geen werklike of duidelike veroordeling van Jordan se gedrag uit nie. Sy bewonder hom omdat hy beter as ander is deur te bedank. Dit dui glo op sy integriteit, oftewel eerlikheid, terwyl die kern van sy verknorsing juis sy jare lange self-uitgedinkte oneerlikheid is. Gouws bring ook die polities korrekte geheul met potensiaal in die prentjie, terwyl daar geen sprake van werklike akademiese prestasie by Jordan is nie. Maar dan kom sy met hierdie skokkende voorstel: “dat ‘n universiteit vir Jordan ‘n eredoktorsgraad behoort te gee.” Dus, aangesien Jordan nie deur navorsing ‘n akademiese doktorsgraad verwerf het nie, waarom nie ‘n moeitelose eredoktorsgraad aan hom toeken nie? Dus, gee aan hierdie swarte wat hy begeer, al is daar geen noodsaak daarvoor nie. Polities korrek is dit die regte ding om te doen. Blou Willem verwys in sy rubriek na Gouws se oorverligte voorstel en skryf dat aan Jordan seker die graad “doctor honoris kroeksius” toegeken gaan word (Die Burger, 9 deser, p 13).

Gouws toon aan hoe daar met die induktiewe wetenskaplike metode op grond van sommige gevalle tot veralgemenende gevolgtrekkings gekom word. Daar is talle mense, veral swartes, wat in die nuwe Suid-Afrika in hulle CV’s oor hulle formele kwalifikasies lieg en in baie gevalle daarmee wegkom. Maar Gouws besef blykbaar nie die gevaar wat daar in haar voorstel skuil nie. Moet almal wat soos Jordan ‘n doktorsgraad begeer en soos Jordan daaroor gelieg het nou ‘n akademies waardelose eredoktorsgraad kry, of wil Gouws uitsluitlik ten gunste van Jordan diskrimineer? Haar redenasie toon myns insiens baie duidelik dat eredoktorsgrade ‘n anti-akademiese onding en ‘n absurde/paradoksale universitêre skepping is.

Nie al die koerantlesers het Gouws se teks instemmend gelees nie. Die eerste een wat gereageer het, René H Truter, Bellville, gaan egter grootliks akkoord met Gouws se uitlatings. Truter loof die eerbare weg wat Jordan gevolg het en hoop “dat die Pallo-faktor ‘n rimpeleffek sal hê op die vele ander politici wat onder verdenking staan” (Die Burger, 26.08, p 12).

Oud-akademikus, Kaapland, is meer krities. Hy wys tereg daarop dat rubriekskrywers soms sukkel om ‘n onderwerp te vind wat die moeite werd is. Gouws se rubriek belig hierdie probleem. Hy bevraagteken Gouws se aanname dat Jordan oor die potensiaal beskik om ‘n proefskrif suksesvol te voltooi. Hy dink klaarblyklik aan ‘n vorige era toe akademiese standaarde gerespekteer is, want hy vertel van die volgende insident:

“Toe ek ‘n ruk gelede gevra is om as mede-eksaminator ‘n proefskrif te beoordeel wat ingegee is by ‘n Suid-Afrikaanse universiteit wat laag staan op die merietelys van navorsingsuitsette, kon ek gou vasstel (danksy ‘doktor’ Google) dat dit saamgestel is uit ‘n sewetal hoofstukke wat bloot van die internet gestroop en met weinig wysigings saamgevoeg is as ‘proefskrif’. Toe ek dit uitlig, is ek hoflik onthef van my plig as mede-eksaminator. Die ‘doktorsgraad’ is later toegeken” (Die Burger, 28.08, p 20).

Dit is onwaarskynlik dat dit ‘n fiktiewe of unieke geval is. ‘n Oud-kollega het my onlangs meegedeel dat sy ‘n aanstelling as eksaminator van ‘n magisterverhandeling aangebied is op voorwaarde dat sy ‘n slaagpunt toeken, want die kandidaat is swart en mag glo nie druip nie. Sy het die akademiese integriteit gehad om die aanstelling te weier. Die geval waarna Oud-akademikus hierbo verwys, is waarskynlik ‘n tradisioneel nie-wit (veral swart) universiteit. Die geval waarna my oud-kollega verwys, is egter ‘n tradisioneel wit en daarby ‘n eens gerekende Afrikaanse universiteit. ‘n Verdere en sekerlik ernstiger probleem is dat diegene wat op hierdie manier ‘n sogenaamde akademiese magister- of doktorsgraad verwerf het om etniese of seksistiese redes voorkeur geniet wanneer bv dosente en navorsers aangestel en later bevorder word.

Die bekende akademikus en literator, Joan Hambidge, het ook tot die debat toegetree. Sy verwys na Jordan se “fantoom-PhD” (Die Burger, 29.08, p 18). Tereg vestig sy die aandag op die rol wat emosie/sentiment, dus die sug na politieke korrektheid, in die geval Jordan speel.

“Die eis in sekere kringe dat Jordan nou ‘n eredoktorsgraad moet kry vir sy intellektuele werk, is eweneens omstrede. ‘n Eredoktorsgraad is ‘n toekenning vir lewenswerk binne ‘n gemeenskap … Hoe sou ‘n mens ‘n eregraad toeken aan iemand (en nou kyk ons net na die CV) wat jakkalsdraaie gooi? … Die emosionele verduidelikings van Jordan se optrede van akademici (soos oor sy vader se lot in die ou bestel) kan niks regmaak nie. Daar is geen leedvermaak in my skrywe nie, net die versoek dat ons akademiese standaarde in besonder troebel tye moet eer.”

Daar is dosyne universiteite in die land. Aan baie van hulle word daar meer as een gradeplegtigheid per jaar gehou. By iedere sodanige geleentheid is daar die skynbaar onweerstaanbare begeerte om meerdere eredoktorsgrade uit te deel. Die gevolg is dat feitlik enige bekende in die openbare lewe (bv politici, vermaaklikheidsterre) deesdae so ‘n akademies waardelose sertifikaat (dikwels selfs meer as een) het. Omdat die meeste van hierdie ontvangers gewoon nie die vermoë het om navorsing te doen en ‘n proefskrif suksesvol te voltooi nie, is hulle maar te gewillig om hulleself op hierdie manier in die openbaar te laat “vereer”.

Eredoktorsgrade het skynbaar die vermoë behou om ego’s te streel, maar hulle ondergrawe die akademiese aansien van sowel akademiese doktorsgrade as diegene wat hierdie eens gesogte kwalifikasie na baie jare van studie verwerf het. Eredoktorsgrade help ook om die akademiese naam van universiteite in te plof. Dit is eintlik onbegryplik waarom universiteite op hierdie manier en veral op so ‘n groot skaal en met soveel oorgawe hulle eie aansien ondermyn. Dit moedig ongetwyfeld die verlaging van akademiese standaarde aan.

Waarom moet party mense swoeg voor hulle as doktor aangespreek kan word, terwyl ander dieselfde titel op ‘n skinkbord ontvang? Waarom besluit die komitee van universiteitshoofde nie dat hierdie sotterny dadelik moet end kry nie? Die afskaffing van hierdie wanpraktyk is sekerlik wenslik. Andersins moet dit ‘n hoogs uitsonderlike geleentheid wees wanneer ‘n universiteit tot so ‘n toekenning oorgaan; dus net na buitengewone en akademies-tersaaklike prestasie deur iemand. Die ideaal is dat as iemand ‘n doktor wil wees, hy so ‘n graad op ‘n suiwer akademiese manier moet verwerf.

Wat ook uitgewys moet word, is dat daar in die nuwe Suid-Afrika die slegte gewoonte posgevat het om veral “struggle-helde”, dus onrusstokers, moeilikheidmakers, selfs terroriste, vir hulle wan- of misdadige gedrag met eredoktorsgrade te beloon. Sulke mense word dus vereer vir oneervolle gedrag; ‘n uiterste Anton van Niekerk-paradoks. Histories is die universiteit en wat daarmee saamhang, bv grade, ‘n produk van Europese beskawing. Op die kontinuum van beskaaf/onbeskaaf is universiteite, oftewel die akademie, by die beskaafde en misdaad, bv terrorisme, by die onbeskaafde pool. Dit is dus uiters onverantwoordelik van universiteite as hulle hulle moontlik tradisioneel goeie naam weggooi deur toonbeelde van onbeskaafdheid, soos terroriste, te vereer met die toekenning van ‘n sertifikaat wat deur leke met die hoogste akademiese kwalifikasie verwar kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.