Leon Lemmer: Onder nuwe rektor is Universiteit van Stellenbosch in sy maai (deel 1)

Deel op

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Wim de Villiers word in hierdie rubriek na sy eerste maand in die rektorstoel geëvalueer. Ek doen dit aan die hand van sy intreerede en maak gebruik van terugflitse waar nodig. Voordat hy in Stellenbosch diens aanvaar het, het De Villiers reeds ‘n aanduiding van sy politieke gesindheid gegee deur hom ten gunste van ‘n verbod op Wouter Basson as praktiserende geneesheer uit te spreek. Maar ek gaan die geskiedenis hier nie te ver terug agterhaal nie.

Vir Russel Botman, die eerste “swart” US-rektor (2007-2014), was dit ‘n passie om die tradisionele beeld van die US as ‘n wit, Afrikaanse universiteit sover en so vinnig moontlik te verander/transformeer in ‘n swart, Engelsmedium inrigting. Hiervoor het sy alma mater, die eens hoofsaaklik Afrikaanse Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wat danksy veral Jakes Gerwel ‘n eentalig Engelse universiteit geword het, as model gedien. Vir Botman as uitgesproke, militante, politieke aktivis het dit ook beteken dat Gerwel se karakterisering van die UWK as ‘n tuiste vir linksgesindes op die US oorgedra moet word. Tydens Botman se bewind het die US dermate ‘n ANC-nes geword dat behoudende of “regse” stemme nie meer op die kampus opklink nie. Dit was in skrille kontras met die US se geskiedenis van meningsverskille en -wisseling, wat bv dwarsdeur die apartheidsera gegeld het.

‘n Mens kon verwag dat daar in die na-Botman-era ‘n kentering sou intree. Voordat die volgende rektor, De Villiers, op 1 April diens aanvaar het, is Botman egter as’t ware tot kampusheilige verklaar. Byvoorbeeld, die waarnemende rektor, Leopold van Huyssteen, en die voorsitter van die US-raad, George Steyn, het net lof vir Botman en sy nalatenskap. Die tussentydse bewind het herhaaldelik te kenne gegee dat die volgende rektor eintlik ‘n Botman-kloon moet wees sodat sy beweerde voortreflike werk voortgesit kon word. Die Burger het dit beaam: “Die US kan nie verkeerd gaan nie as hy min of meer hou by die visie en rigting wat Botman aangedui en nagestreef het” (30 Junie, p 1 en 10). Dit is onverdunde en daarby gevaarlike bog, net soos Henry Jeffreys se verregaande leuen: “In Botman het Maties ‘n ware taalstryder vir Afrikaans gehad” (Die Burger, 26 November, p 10).

Die aanstelling van De Villiers, ‘n wit, blanke, Afrikaanssprekende man, as Botman se opvolger het as ‘n reuseteleurstelling vir die goedgevestigde linkse elemente gekom. ‘n Botman-kloon is skynbaar nie aangestel nie. Of het dit eintlik tog in bloot ‘n ander gewaad, dié van ‘n epigoon, gebeur? Volgens die HAT is ‘n epigoon ‘n “navolger sonder oorspronklike skeppingsvermoë.” Omdat linkse elemente sterk afkerig van sy aanstelling was, kan De Villiers, as hy nie groot van gees en sterk van ruggraat is nie, oorverlig reageer en oorkompenseer om hulle tevrede te probeer stel. Dan was sy aanstelling in werklikheid geen “terugwaartse” stap nie.

Voortsetting van die Botman-nalatenskap sou beteken: (1) die verdere verswarting en (2) verengelsing van die kampus en terselfdertyd (3) afskaling van Afrikaans (al word dit deurgaans amptelik ontken), asook die voortgesette gebruik van etniese en geslagsnorme by (4) studente-toelating, studiebeurstoekennings en koshuisplasings en ook by (5) die aanstelling en bevordering van personeel. (6) Daarbenewens die taboeverklaring van enigiets op die kampus wat met Afrikaners geassosieer word, bv gebouname. Hierdie Botman-nalatenskap is deur die tussentydse bewind as dogmas aanvaar en uitgeleef deur bv die naam van die gebou wat na DF Malan genoem is na die Coetzenburg-sentrum te verander en ‘n nuwe koshuis die naam Huis Russel Botman House te gee. Hiervolgens is Malan iemand waarvan die US hom distansieer en Botman iemand waarmee die universiteit graag assosieer. Swartes hou van hierdie standpunt. Baie wittes deel nie hierdie sentiment nie, maar wat wittes dink en voel word deur die transformerende US ondergeskik aan die wense van swartes gestel.

Sedert De Villiers se aanstelling as rektor op 1 Desember is talle tersaaklike berigte in koerante en ook op die US-webwerf gepubliseer. Hy het sy intreerede op 29 April in sowel Engels as Afrikaans gelewer. Toe ek die teks op dieselfde dag van die US-webwerf wou aflaai, was dit uitsluitlik in Engels volledig beskikbaar. Ek het hierdie weergawe uitgedruk en gebruik dit in hierdie rubriek. Die volledige Afrikaanse vertaling is later beskikbaar gestel. Ek kan dus nie uitsluitsel gee oor watter dele in watter taal voorgedra is nie. Dat die Engelse teks eerste beskikbaar gestel is, kan daarop dui dat die Afrikaanse komponent kleiner was en/of dat daar deesdae aan die US voorkeur aan Engels gegee word. Albei moontlikhede behoort diegene wat die US van weleer geken en waardeer het tot droefheid te stem. Verkorte weergawes van die intreerede is in Die Burger (2 deser, p 11) en Rapport (Weekliks, 3 deser, p 5) gepubliseer.

“This institution … is a jewel in the crown of higher education in South Africa … I will not let you down – and by that I mean the entire University community.” Die US word dus deur De Villiers in ‘n breë Suid-Afrikaanse akademiese konteks geplaas en die hele universiteitsgemeenskap, dus nie net die swartes of net die wittes nie, gaan deur De Villiers gedien word. “I am a proud alumnus of Stellenbosch University. But … the Stellenbosch of today is not the Stellenbosch of yesterday.” Gaan De Villiers die US rehabiliteer sodat dit weer na behore akademies kan funksioneer, bv dat studentetoelating en die aanstelling van dosente na akademiese verdienste geskied en eksamens en toetse weer saans in ‘n veilige omgewing afgelê kan word? Dit lyk nie so nie. Sy voorganger, Botman, het in sy intreerede in 2007 die verswarting van sowel die US as die dorp Stellenbosch as sy ideaal gestel. De Villiers: “I want to pay homage to [Botman] … I respect his achievements. He led Stellenbosch along a path of change, a journey of hope. And today we are all [!] the better for it.” “All”? – swartes en wittes?

As iemand wat meer as twee dekades in die buiteland (Engeland en daarna die VSA) gestudeer en gewerk het, bring De Villiers op tipies Amerikaanse wyse ‘n tikkie persoonlike besonderhede vroeg in sy rede in die prentjie. Hy bedank sy vrou, Catherine, sy kinders, Katusha, Braam en Gera, sy skoondogter, Kelly, en hy noem selfs sy kleinkinders, Eloise en Beatrice. Die enigste naam wat Afrikaans klink, is Braam (genoem na sy oupa en darem nie Bram, soos in Bram Fischer, nie). Hy is ‘n skoolhoof in Amerika. Ons het hier klaarblyklik nie met ‘n tipiese Afrikanergesin (met name soos Piet en Jan, Marie en Anna) te make nie. In ‘n onderhoud het De Villiers gesê: “Ek het ‘n baie Amerikaanse manier van hoe om dinge te doen” (Die Burger, 5 Desember, p 11). Die vraag is in hoeverre hy hom in die buiteland van sy Afrikaner- en Afrikaanse kulturele wortels losgemaak het. Sy pa was ‘n dosent in regte aan die US.

Van belang vir die behoud van Afrikaans aan die US is in hoeverre De Villiers se huistaal en die van sy kinders Afrikaans is. Destyds het ek, toe die bevrydingsteoloog Russel Botman as rektor Afrikaans as onderrigtaal deurlopend afgeskaal het, gevra dat hy verplig word om na aanleiding van ‘n Bybelteks (Josua 24:15) te sê: “Ek en my huis, ons sal Afrikaans dien.” Botman is polities korrek nooit gekonfronteer of kortgevat nie, met die gevolg dat hy toegelaat is om Afrikaans ernstig te benadeel. Die volgende woorde van Elsa Joubert kan gebruik word om kritiek op Botman se on- of anti-Afrikaanse gesinsopset te lewer en heel moontlik ook dié van De Villiers: “‘n Taal word bedreig as hy nie meer die vanselfsprekende huis is waarin jy woon nie” (JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 475).

De Villiers: “There have been concerns raised around transformation, inclusivity and diversity, as well as our institutional culture and symbols on campus. There have also been comments around our language policy, which may be experienced as exclusionary by some … transformation can be thought of in two ways. On the one hand, it relates to the need for change in response to South Africa’s history of racial discrimination and exclusion … Let me now deal first with putting right what was wrong in the past. In this regard, Stellenbosch University took an important step in the year 2000 [toe Andreas van Wyk die rektor was] when it formally acknowledged – and I quote – ‘Its contribution to the injustices of the past’ … this was an apology for apartheid, which I would like to reiterate.” Wanneer Botman gepraat en geskryf het, het hy telkens hierdie verskoningvra opgehaal. De Villiers volg in sy voetspore.

Later in sy toespraak kom De Villiers waaragtig hiernatoe terug: “We made mistakes in the past, and it is important that we apologise and try to repair ties. This we did in 2000, with our acknowledgement of the University’s ‘contribution to the injustices of the past.'” Soos Botman vestig De Villiers nie die aandag op “racial discrimination and exclusion” in die hede nie; veral nie die diskriminasie wat as standaardprosedure teen blankes aan die US gepleeg word nie. Ek het onlangs weer diep onder die indruk gekom van die onreg wat die US pleeg deur bv raskwotas vir sekere studierigtings, soos medies, af te dwing. ‘n Ouer was hoogs ontsteld en gegrief omdat vanweë ‘n politiek-geïnspireerde voorskrif van die US die studente in toenemende mate nie wit mag wees nie.

“The University … committed itself to ‘redress and development’ – specifically in terms of broadening access to the University for those who had previously been excluded based solely [!] on the colour of their skin.” “Broadening access” is ‘n eufemisme. Toelatingsvereistes vir nie-wittes, veral swartes, is verslap, onder meer by medies, sodat die universiteit in al hoe groter mate nie die blanke aanskyn van die US van weleer moet hê nie. Soos Botman verkondig De Villiers doelbewus die leuen dat studente voorheen weens pigmentasie uitgesluit is. As De Villiers vir ‘n oomblik nugter besin en die ou en nuwe US vergelyk, sal hy besef dat die uitsluiting nie primêr op grond van verskil in velkleur geskied het nie, maar vanweë die dikwels aansienlike kultuurverskille wat by etniese groepe aangetref word; dus verskille in leefwyse, maniere van dink en doen.

Die probleem is dat De Villiers as geneesheer kennis en ondervinding van mense as liggaamlike weses het. Daarom is hy oorbeïndruk met die mate van fisieke eendersheid by mense. Hy is glad nie afdoende geskool in die groot geestelike (bv ideologiese en kulturele) verskille by mense nie. Dit is juis insig in mense as geestelike weses wat ‘n rektor broodnodig het, want dit is waarop die akademie by uitstek ingestel is. In hierdie opsig blyk De Villiers swak toegerus te wees. As medikus het hy gespesialiseer in probleme wat in die onderlyf van mense (naamlik gastroenteritis) kan voorkom.

Kulturele verskille is die rede waarom die US, anders as voorheen, ‘n chaotiese kookpot geword het; ‘n plek waar daar nie meer suiwer of primêr op akademiese sake (onderrig en navorsing) gefokus word nie, maar sonder ophou oor meertaligheid, gedwonge integrasie, transformasie, inklusiwiteit, diversiteit, menswaardigheid, ens, geredekawel word. Verwys in hierdie verband na die beleidsverklaring, “Só dink ons oor transformasie aan die US” (US-webwerf 15 April), ‘n 3-bladsye lange teks, wat ongetwyfeld met De Villiers se goedkeuring vrygestel is. Hy herhaal van daardie gegewens in sy intreerede.

In sy toespraak spog De Villiers eintlik oor die diskriminasie wat teen blankes gepleeg word en verbind hy hom daartoe om dit nie net voort te sit nie, maar om dit te vererger. In 1990 het die US 762 nie-wit studente gehad. Tans is daar 11 200, amper 38% van die studentebevolking. “We aim to advance this further … I believe we can do it.” Die personeelsyfers is selfs “beter”: 43% is nie-wit, met 20% van die akademici. “So there is much room for improvement. This is also true for the representation of women … on both fronts – race and gender – we are working towards greater equality, and I believe we can do it.” Hier het ons dus ‘n rektor, die hoof van ‘n akademiese inrigting, wat hom daartoe verbind om studentetoelating en die aanstelling van dosente (in groot mate) op nie-akademiese gronde (ras en geslag) te bewerkstellig.

De Villiers se simpatie is stewig in die nie-wit kamp gevestig, maar dan verdoesel hy dit met bv: “We need to ensure that this University is a place where everyone [!] feels welcome … We can do it.” Hoe? Deur die name van geboue wat na Afrikaners (DF Malan, HF Verwoerd, BJ Vorster) genoem is, te verander. Deur dele van die US na nuwe ikone, ANC-kamerade (Beyers Naudé, Desmond Tutu, Russel Botman), te vernoem. Die Malan-borsbeeld is ook reeds in die visier (Die Burger, 18 April, p 6). Dit herinner aan die weglating van die name van gesneuwelde soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag op die ANC-geïnisieerde Freedom Park Memorial Wall in Pretoria (Steyn, p 488). Dat die blankes, dus diegene wat die US gestig en opgebou het en tradisioneel op die kampus hoort, in die proses vervreem en ontheem word, word nie in ag geneem nie. Nog minder dat die US tradisioneel as die bakermat van Afrikaans en Afrikanerpolitiek beskou is.

Vervolgens verwys De Villiers na die US se nuwe taalbeleid wat in November aanvaar is. “The Policy says the University is committed to Afrikaans as academic language, but also to English in the interest of accessibility, as well as the advancement of Xhosa, where feasible. Stellenbosch is not an Afrikaans university; Stellenbosch is not an English university; Stellenbosch is not a Xhosa university; Stellenbosch is a multilingual South African university.” Botman sou bygevoeg het dat die US ‘n Afrika-universiteit is. De Villiers volg ook in hierdie opsig in sy voetspore, soos hier onder blyk.

Sedert verlede jaar het Afrikaans en Engels amptelik gelyke status as US-onderrigtale. Die viserektor vir onderrig, Arnold Schoonwinkel, het egter al herhaaldelik te kenne gegee dat die idee is dat onderrig deur die medium van Engels in alle vakke beskikbaar moet wees (as lesings of tolking), maar dit geld nie vir Afrikaans nie omdat tolking glo soms onnodig is omdat Afrikaanssprekende studente Engels in afdoende mate magtig is. Van die begin af het Afrikaans en Engels dus nie werklik gelyke status nie. Dure ondervinding elders bevestig dat so ‘n taalopset Engels veral op die lange duur bevoordeel en Afrikaans benadeel; die taal selfs tot afskaffing verdoem. “In alle meertalige situasies kry die polities dominante taal gou die oorhand en word die ander taal of tale uitgeskakel” (Steyn, p 444). Nagraadse onderrig aan die US is reeds grootliks in Engels; op hierdie vlak is daar geen sprake van gelyke status vir Afrikaans nie. Daar is waarskynlik ook geen sprake van tolking in Afrikaans nie. Wat hier gebeur, vloek teen die stigtingsvoorwaarde wat die stigtingsdonateur, Jannie Marais, gestel het, naamlik dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere posisie as Engels aan die US mag beklee nie. Nie een van diegene aan die US wat deesdae so hoog oor moraliteit opgee, het al die integriteit gehad om die Marais-taalvoorwaarde openlik te beredder nie.

Die jongste is dat tolking van Afrikaans na Engels nie (noodwendig) vir swart studente aanvaarbaar is nie. Aan die Noordwes-Universiteit het ‘n student geëis “dat die kopstukke teen 1 Julie waai omdat dit ‘n simbool van onderdrukking en apartheid is” (Die Burger, 7 deser, p 16). Tolkdienste veroorsaak glo dat swartes te na gekom word. Daardie mense wat voorheen nie op die Potchefstroom-kampus gehoort het nie, word nou nie net vryelik toegelaat nie. Nee, hulle matig hulle ook aan om te eis dat Engels as onderrigtaal gebruik moet word. Dan Kgwadi, die rektor van die Noordwes-Universiteit, sê dat daar na hulle geluister moet word. Met hoeveel simpatie sou De Villiers reageer as Afrikaanse studente tolking van Engelse lesings eis? Ek dink selfs tolking sal vorentoe nie aan Afrikaanse studente gegun word nie, wat nog te sê van lesings in Afrikaans.

Anders as Marais sê De Villiers: “Stellenbosch is not an Afrikaans university.” Vir wie eggo hy hier? Blade Nzimande, die kommunistiese minister van hoër onderwys, het gesê: “Ek wil beklemtoon dat ons nie langer Afrikaanse … universiteite het nie” (Die Burger, 23 Julie, p 2). As onderwysminister het Kader Asmal dit in 2002 “duidelik gestel dat die taalgelykheidsbeginsel in die onderwys ondergeskik is aan ander voortskrifte soos toegang vir agtergeblewenes tot onderwys (access) en transformasie van die onderwys (equity) … ANC-beleid, soos geformuleer in 2002, bepaal dat daar nie van swart studente verwag kan word om deur medium Afrikaans aan ‘n histories Afrikaanse universiteit te studeer nie” (Steyn, p 456-457). Die (swart) studente wat deur die ANC-regering na Kuba vir mediese opleiding gestuur word, word egter verplig om Spaans magtig te word voordat hulle lesings kan bywoon. De Villiers kom met hierdie geykte stelling ten koste van Afrikaans: “We are trying to ensure that language is not a barrier to access.” Die Burger (1 deser, p 10) beaam dit in ‘n hoofartikel: Dat Afrikaans “nooit weer as meganisme vir onbillike uitsluiting gebruik word nie.” Soos by Botman is alles wat De Villiers sê in ooreenstemming met die beleid van die ANC. Die De Villiers-US bly koersvas op die pad van ANC-gedienstigheid.

“The issues of the institutional culture of South African universities and the pace of transformation is currently receiving a great deal of attention, and Stellenbosch is necessarily part of this debate.” Dit herinner aan die kritiek wat bv Leon Wessels en Dan Kgwadi op die institusionele kultuur van die Potchefstroom-kampus uitgespreek het. Die kern van die beswaar is dat ‘n universiteit en selfs ‘n enkele kampus volgens ANC-gedienstiges nie oorwegend wit en Afrikaans mag wees nie. De Villiers onderskryf hierdie sentiment. Daar is ook die alewige beswaar dat die proses van verswarting en verengelsing nie vinnig genoeg geskied nie.

In hierdie verband vra De Villiers, met verwysing na wat Johan Degenaar en NP van Wyk Louw gesê en geskryf het, vir ‘n oop gesprek. “That is what is needed in the transformation debate – ‘discussion without borders’, an ‘open debate’ in which ideas can circulate freely, leading to ‘mutual understanding’. I know we can do it.” Ek, daarenteen, dink dit is buite die kwessie dat die De Villiers-US buite die Botman/De Villiers/ANC-raamwerk sal probeer dink deur die menings uitgespreek in bv hierdie rubriek ernstig te oorweeg. De Villiers & kie sal hoogstens kosmetiese of boetiekaanpassings oorweeg, bv die pas waarteen verswarting en verengelsing plaasvind. Ek voorspel dat ernstige besinning oor die anti-akademiese impak van transformasie en die opskorting en omkering van hierdie dwaasheid nie deel van die De Villiers-nalatenskap gaan wees nie.

“This brings me to the second way to think of transformation – as an imperative for creating the future we want … In the foyer of our Education Building, there’s an often used but enduring quote by Madiba [!]: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.” De Villiers noem dit ‘n “universal truth” en praat dan van “transformation through education.” Hoe versoen hy en Mandela dit met die UDF/ANC-strydkreet: “Liberation before education”? Is dit nie Marxisme/kommunisme wat die (hele) wêreld wou verander nie? Hoekom praat De Villiers van “Madiba” en nie van Nelson Mandela nie? Hy wend geen poging aan om sy pro-ANC-gesindheid te verdoesel nie.

Dan gaan De Villiers weer in sy Amerikaanse modus. Hy vertel die storie van “one of our students.” Nie ‘n boerseun, Jan van der Merwe, ‘n wit, manlike, Afrikaanssprekende student nie. Nee, die storie van Claudia Ntsapi. Sy het probleme gehad waarvoor sy nie die skuld kry nie. Haar probleme was “due to educational backlogs in the system.” Toe skryf sy in vir ‘n US-oorbruggingsprogram wat (soos so baie neo-US-dinge) net ‘n Engelse naam het, SciMathUS. Sy kom toe agter dat sy nie chemiese ingenieurswese moet studeer nie, maar die graad BSc. “She says: ‘SciMathUS gave me time to discover my true passion, instead of doing what everyone else thought I should.'” De Villiers sê: “I find her journey inspiring.” Aan Ntsapi sê hy: “You are showing the world [!] what can be done.” Dan die kersie op die koek: “In higher education we can achieve transformation by recognising and developing potential, and constantly emphasising excellence.” Ek, daarenteen, dink dat iemand met bewese akademiese prestasie op skool (eerder as potensiaal, wat nie noodwendig vervul word nie) ‘n beter kans staan om as student op universiteit uitnemend of voortreflik te presteer.

“I want the University to offer students an experience that is pleasant, welcoming, safe and hospitable – in an inclusive environment. We can do it … The challenge for us is to be locally relevant, yet globally competitive. We should focus on unique areas in which we have developed expertise over time and build collaborative networks in South Africa, the rest of the continent and further afield. I have no doubt we can do it.” Soos diegene wat hulle vereenselwig met die nuwe Suid-Afrika, verwys De Villiers na “our young democracy”, ons “progressive Constitution” en “the values of our Constitution”, asook die ANC-regering se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se “desire to make our country work for all its people. We want to create a University that works for all [!] of us – a national asset, in fact a continental and global asset, to help make the world a better place seeking solution to such ‘wicked problems’ as poverty, inequality and unemployment in our society.” Soos Botman probeer De Villiers afstand skep tussen die tradisionele Afrikaanse/Afrikaner-US en die nuwe US wat in lands-, Afrika- en wêreldkonteks geplaas word. Die US het glo “gevorder” van “volksuniversiteit” tot “national asset,” – “serving the entire population.” Dit gaan vir die US nie meer om Afrikaans en Afrikaner-identiteit te bestendig en uit te bou nie. Dit gaan om Suid-Afrikaner- en Afrikaanskap, asook wêreldburgerskap. Hoe beïnvloed dit Afrikaans? Globalisering of internasionalisering bevorder nie Afrikaans nie. “Engels word bevorder deur globalisering” (Steyn, p 443).

De Villiers vind “the recent manifestation of xenophobia in our country … upsetting … At Stellenbosch University we are proud of the fact that we have more than 4 100 international students, making up 14% of our student body. They come from 117 countries around the world, and 56% of them are from other African countries. They enrich us.” Op die US-webwerf (21 April) het De Villiers reeds die aanvalle “op mede-Afrikane” veroordeel. Hy het toe na die US se African Doctoral Academy (ADA – in 2011 deur Botman gestig) verwys, wat swart studente uit swart Afrika vir die US werf en befonds. “Al ons Afrika-studente, mede-akademici en ander besoekers vanoor ons kontinent [is] meer as welkom … op al ons kampusse.” Sal hy dit van “regse” blankes sê? De Villiers voel so sterk oor die kwessie van xenofobie dat hy die Engelse teks van sy verklaring op die US-webwerf aan die tweetalige weeklikse koerant, Bolander (29 April, p 2), vir publikasie gestuur het.

Teen die einde van sy intreerede gaan De Villiers van kwaad tot erger. Hy weerspreek sy bewering dat dit vir die De Villiers-US in gelyke mate om die heil van almal (wit en nie-wit) gaan met die volgende aankondiging: “I now announce with humility that the University is establishing a bursary fund for the children of Die Vlakte, the descendants of those who were uprooted.” Hy verwys na die inwoners (eintlik: die uittredende primarius) van die Dagbreek-koshuis wat in 2012 “apologised for the Battle of Andringa Street in 1940 … Prof Botman ensured that an exhibition was installed in the University Archives in the Willcocks Building to remind us of the forced removals from Die Vlakte in the 1960s. These removals brought separation because the University as institution did not protest against them at the time, and also because the Arts and Social Sciences Building [voorheen die BJ Vorster-gebou] was later erected on expropriated land.” De Villiers is dus weer besig met verskoning vra en boetedoening.

Ek het by ‘n vorige geleentheid in besonderhede oor die sogenaamde Slag van Andringastraat geskryf (Praag 25.08.2013). Studente van die Dagbreek-koshuis en bruines het in Andringastraat handgemeen geraak, waarna die bruines die ruite van ‘n privaat koshuis met klippe uitgegooi en ‘n ander huis beskadig het. Die US-rektor, RW Wilcocks, het die vrede herstel deur selfs skadevergoeding aan sommige bruines te betaal. Die bruines het nie opgedok vir die skade wat hulle veroorsaak het nie en ook nie om verskoning gevra nie. Botman het as rektor in hierdie 1940-gebeurtenis die geleentheid gesien om houe teen blankes in te kry op ‘n manier soortgelyk aan wat Jonathan Jansen met die Reitz-video aan die Universiteit Vrystaat reggekry het. Toe die Wilcocks-gebou na ‘n brand herbou is, het Botman in 2013 ‘n permanente uitstalling oor die Slag van Andringastraat in die Argief se “Herinneringskamer” in daardie gebou gevestig. Daarin word die wittes as die skuldiges en die bruines as die onskuldige, vreedsame slagoffers voorgestel. Dit is van die gemeenste dinge in die Botman-nalatenskap, maar juis dit is deur De Villiers uitgesoek om 75 jaar later die nageslag van die klipgooiers met eksklusiewe US-studiebeurse te vergoed. Op kenmerkende wyse het Botman die uitstalling “‘n gebaar van versoening tussen die US en die dorp se bruin gemeenskap” en ‘n “stap in die toekoms in” genoem (Die Burger, 2.08.2013, p 9). De Villiers borduur voort hierop. Let op hoe die wet op groepsgebiede heeltemal onnodig met die Slag van Andringastraat verbind word. Op die US-webwerf (8 deser) word genoem dat R350 000 reeds vir hierdie eksklusiewe beursfonds vir nie-wittes bewillig is. Daar word beweer dat die wit studente die bruines se huise beskadig het. Doelbewus word geen woord gerep van die skade wat bruines, deur bv klippe te gooi, aangerig het nie.

Die rede waarom ek in die voorlaaste paragraaf hierbo sê dat dit vir De Villiers en die neo-US nie in gelyke mate om die heil van almal (wit en nie-wit) gaan nie, is omdat studiebeurse, soos hierdie Vlakte- en die ADA- en talle ander beurse, uitsluitlik aan nie-wittes toegeken word. Die bestaansreg van studiebeurse uitsluitlik vir wittes word egter ontken. Op RSG is daar onlangs ‘n berig uitgesaai waarin die US so ‘n uitsluitingsreg ten bate van wittes betwis. Die Burger het (doelbewus) nie hieroor berig nie. In die Botman-era het die US geweier om enigiets met ‘n studiebeurs uitsluitlik vir blankes te make te hê. Ek weet ook van iemand wat kapitaal vir ‘n studiebeurs vir blankes aan die US wil bemaak, maar die US is nie ontvanklik hiervoor nie. Kader Asmal het as onderwysminister staatsgeld gebruik/misbruik om testamentvoorwaardes van so ‘n studiebeurs te verander. Die reg van ‘n dooie mens om sy geld as studiebeurs aan blankes te bemaak, word dus deur sowel die ANC-regering as die US betwis of ontken. Dit is myns insiens hoogs vermetel om nie die redelike/opregte wense van ‘n oorledene te eerbiedig nie. Dit is hoogs immoreel om studiegeleenthede vir blankes op hierdie manier aan bande te lê.

In haar rubriek, wat gerus “Saam met die stroom” kan heet, noem Martie Meiring-Retief, ‘n joernalis van Stellenbosch, die instelling van die Vlakte-studiebeurse “remediëring (of dan skuldvereffening)” (Die Burger, 7 deser, p 18). Afrikaans as die “oorheersende taal aan die plaaslike universiteit” veroorsaak glo “geldige probleme”. Na geradbraakte Afrikaans verwys sy as “pure aansteeklike Kaaps.” Sy het net lof vir rasse-integrasie en het so min insig dat sy kamma nie Afrikaners se strewe na selfbeskikking of selfstandigheid verstaan nie. “Ek wil nie ‘n selfbeskikte Afrikaner word óf wees nie.” Sy verdien dit sekerlik ook nie.

De Villiers: “Last year, Stellenbosch University paid out R588 million in bursaries and loans … Of this amount, 55% went to black, coloured and Indian students … And because greater diversity [dus nie-wittes] is a priority for us, we want to award even more recruitment bursaries.” In 2014 is ‘n bykomende R102.3 miljoen studiebeursgeld bewillig wat uitsluitlik vir nie-wit studente geoormerk is. Die ideaal is dat die US in 2018 in sy eeufeesjaar minstens 50% nie-wit studente moet hê (US-webwerf 15 April). Dit impliseer toenemend verskerpte rassediskriminasie teen blanke studente. Bykans die helfte (46%) van die nagraadse studente is reeds nie-wit.

Lesers weet teen hierdie tyd genoeg van De Villiers om die volgende woorde krities te beoordeel: “Let me reach out to members of our community everywhere. Let us move forward together. That will be the main thrust of my time as Rector and Vice-Chancellor: Forward, Stellenbosch! Vorentoe! Siyaya!” Myns insiens: Vorentoe na sowel die ANC se politieke hemel as die akademiese afgrond.

Net om seker te maak dat almal moet weet wat sy politieke gesindheid is, het De Villiers teen die einde van sy toespraak as ‘n soort “hoogtepunt” nog ‘n aankondiging gedoen. “If there are obstacles in our way, let’s remove them. Like the HF Verwoerd plaque in our Accounting and Statistics Building [voorheen die HF Verwoerd-gebou]. This will be removed and placed in the University Museum, there to be properly contextualised … This is an ideal opportunity to engage in open discussion about visual elements and symbols on campus, as a place of learning and critical thinking should. It will help us move forward” – dus al hoe verder weg van die US van weleer. Die Verwoerd-gedenkplaat moet weg, maar die Mandela-slagspreuk in die voorportaal van die Opvoedkundegebou kan bly en word deur De Villiers aangeprys.

Lees ook Deel 2 van Leon Lemmer se manjifieke rubriek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.