Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch (Deel 1): ‘n Stryd tussen Boer en Bantoe?

Deel op

My opskrif is na aanleiding van die titel van Christiaan de Wet se boek, Die stryd tussen Boer en Brit (1902). Nelson Mandela het beweer dat sy ANC-kamerade “almal” De Wet se boek gelees het, met die oog op die ANC se guerrilla-oorlogvoering teen die blanke bewind in Suid-Afrika (Niël Barnard, Geheime revolusie, Kaapstad: Tafelberg, 2015, p 146). My rubriek handel oor die Universiteit Stellenbosch (US). Aan die US word daar in swart geledere beoog om die universiteit revolusionêr volgens hulle wense te transformeer, blykbaar sonder gesonde teenstand van die kant van die rektor en die res van die US-bestuur.

Volgens die HAT is “Bantoe” ‘n “benaming vir ‘n groep inboorlingstamme in Afrika, ongeveer suid van die ewenaar; lid van so ‘n groep.” Anders as so baie etniese benamings is “Bantoe” darem nog nie ‘n verbode term nie. Deesdae word daadwerklike pogings aangewend om die woord “Boer” so erg moontlik te diskrediteer, maar ek gebruik hierdie term met trots.

Die Boere het die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) teen die Britte verloor. Die Afrikaners het in 1990/1994, veral weens verraad in eie geledere, die politieke stryd teen die Bantoes roemloos verloor. Tans is die Afrikaners besig om ook die stryd om hulle taal, die kernbestanddeel van hulle kultuur, weens die verengelsingsbeleid van die ANC (die neo-Milner) te verloor. Dat dié taalstryd verloor word en hoe dit verloor word, is die sigbaarste in eens Afrikaanse skole en universiteite. Ek lewer hiermee nog ‘n bydrae tot die “robuuste debat” wat Wim de Villiers, die nuwe US-rektor, verlang.

Onlangs het ek in ‘n dubbeldoor-artikel die huidige toestand op die US-kampus beskryf (Praag 10 deser). Na voltooiing van my teks is ‘n brief in Die Burger (9 deser, p 10) gepubliseer waarin sewe US-akademici die rektor aanspoor om streng op te tree teen Anton Stander, ‘n dosent in kernfisika, wat ‘n “rassistiese” teksboodskap aan ‘n student, Khule Duma, gestuur het. Hierdie sewe mense voel klaarblyklik sterker oor die uitlewing van hulle linkse politiek as oor professionele sake, soos kollegialiteit, en akademiese kwessies, soos orde op die kampus.

In dieselfde uitgawe van die koerant (p 7) is berig dat Chumani Maxwele, die student wat ontlasting by die Rhodes-standbeeld op die kampus van die Universiteit Kaapstad (UK) gestrooi het, geskors is. Na ‘n tugverhoor is sy skorsing tot 19 Julie verleng; nie vanweë sy deelname aan betogings nie, maar omdat hy ‘n UK-personeellid geteister, geïntimideer en gedreig het (Die Burger, 12 deser, p 5 en 15 deser, p 3). ‘n Mens sou dink dat dit De Villiers kon aanspoor om teen Duma op te tree. Hiervan het niks tereg gekom nie. Daar is eerder buitensporig drasties teen Stander opgetree. Duma het skotvry en met ekstra gewaande prestige daarvan afgekom. Hierdie gebeure is glo in ooreenstemming met die neo-US se getransformeerde waardes gehanteer.

Op die 13de het Duma se Open Stellenbosch ‘n (heel moontlik onwettige) byeenkoms op die Rooi Plein op die kampus gehou, wat weer gedwee deur De Villiers bygewoon is. Duma het toe ‘n memorandum met eise, veral gemik teen die US-taalbeleid, spesifiek teen onderrig deur die medium van Afrikaans, aan die rektor oorhandig. Daar word geëis dat alle onderrig en ander kommunikasie, bv kennisgewings, in Engels moet wees. UK-studente van die Rhodes Must Fall-beweging was ook teenwoordig. In die goeie ou dae sou ‘n rektor lankal sulke elemente verbied het om die kampus te betree. De Villiers het onderneem om aandag aan die eise te gee en Open Stellenbosch genooi om in gesprek met die US-bestuur te tree (US-webwerf 13 deser en Die Burger, 14 deser, p 8). Blykbaar bestaan die tradisionele opset, waarvolgens die rektor enige student kan aansê om hom in sy kantoor te kom spreek op ‘n datum en tyd wat die rektor pas, nie meer aan die US nie.

Die revolusionêre aard van Open Stellenbosch blyk duidelik uit Majaletje Mathume se skrywe op die studente-webwerf. Sy beweer: “The time for dialogue is over” (bonfiire stellenbosch 16 deser). Zuko Nijca Cawe beskou op kenmerkende wyse rassisme as iets wat net by wittes voorkom. Hy voer hierdie “pyn” terug tot by “Riebeck” in 1652. Volgens hom durf die US nie Afrikaans wees nie. Open Stellenbosch word as blaamloos voorgestel. Mathume steun hom (bonfiire stellenbosch 19 deser).

Die middag van die 13de is ‘n groep studente (grootliks dieselfde oproeriges) na die administrasiegebou met die eis dat Arnold Schoonwinkel, die viserektor vir onderrig, hulle te woord moet staan. Die aanleiding was ‘n opmerking wat Schoonwinkel die vorige week in die studenteparlement gemaak het. Hy het toe gesê dat as studente by die US inskryf, weet hulle dat dit ‘n Afrikaanse universiteit is. ‘n Mens kan seker wonder hoe Schoonwinkel so iets kon sê. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het immers al by meer as een geleentheid gesê dat “daar nie meer Afrikaanse universiteite bestaan nie”. Die US-rektor het in sy intreerede op 29 April beaam dat die US nie meer ‘n Afrikaanse universiteit is nie. Schoonwinkel het sy stelling teruggetrek en die studente om verskoning gevra vir die “pyn” wat hy veroorsaak het (US-webwerf 13 deser en Die Burger, 14 deser, p 8).

Twee briefskrywers kon nie verstaan waarom Schoonwinkel dit nodig gevind het om verskoning te vra nie (Die Burger, 19 deser, p 11 en 20 deser, p 12). Cawe, daarenteen, dink Schoonwinkel se verskoning is nie goed genoeg nie. Sowel De Villiers as Schoonwinkel veroorsaak vir my pyn, want dit is hoogs ontstellend om te sien hoe twee topbestuurslede van ‘n universiteit voor skoorsoekende studente kruip en verneder word. Blykbaar dink De Villiers en Schoonwinkel dat dit die moeite werd is om dit maar te verduur in ruil vir hulle buitensporige vergoeding. Selfs Max du Preez was “verontwaardig” omdat Schoonwinkel verskoning gevra het. Daarna openbaar Du Preez egter die kloof wat daar tussen hom en Afrikaners bestaan, want sy kind is in ‘n Engelse skool. Hy wou nie dat sy die “erg konvensionele, konserwatiewe”, plaaslike skool, wat seker blank en Afrikaans is, bywoon nie (Die Burger, 23 deser, p 11).

Op 16 deser het Die Burger op sy voorbladsy berig dat Stander afgedank is nadat hy erken het dat hy die volgende teksboodskap aan Duma gestuur het: “Jou swart moer van die wit boer.” (1) Duma het klaarblyklik geen werklike skade gely nie. (2) Hy soek en geniet publisiteit. (3) Hy het klaarblyklik groot behae in die “oorwinning” wat hy ten koste van Stander behaal het. (4) Hy verlustig hom daarin dat die De Villiers-US uit sy hand eet. Desnieteenstaande beskou die US die teksboodskap sonder meer as “rassisties” en as so ‘n ernstige vergryp dat so drasties moontlik teen die dosent opgetree is. Hierdie besluit behoort ‘n verlammende uitwerking te hê op die optrede van alle (blanke) dosente en ander personeellede wat swart studente tot orde wil roep.

“Die universiteit bevestig sy totale [!] afkeer van enige uitsprake van hierdie aard en bevestig sy standpunt om, ongeag die bron daarvan, beslissend in enige sodanige gevalle op te tree” (US-webwerf 15 deser). Let op dat daar na “bron” verwys word. Dit lui nie dat die US ewe drasties teen lede van iedere etniese groep sal optree nie. “Sodanige gevalle” laat ook die moontlikheid oop dat net blankes in hulle spoor moet trap. Myns insiens is daar geen kans dat die De Villiers-US ‘n verklaring sal uitreik waarin hy sy “totale afkeer” van die gedrag van ‘n swarte uitspreek en dan so buitensporig teen ‘n swart dosent optree nie. Die opset aan die US (en tewens in die land) is sodanig dat wit en swart met verskillende mate gemeet word.

Vergelyk in hierdie verband hoe Jonathan Jansen as rektor twee blanke studente van die Universiteit Vrystaat summier geskors het toe ‘n swart student hulle valslik van rassisme beskuldig het. Ek het nog nie gehoor dat daar teen die swart student opgetree is nie. Die UK-rektor, Max Price, het aan almal amnestie verleen wat by die Rhodes-gebeure betrokke was, behalwe diegene wat hulle aan “rassistiese” kommentaar skuldig gemaak het. Aan 20 studente wat ‘n kampusgebou onwettig beset het, is ‘n nabygeleë saal beskikbaar gestel! Omdat swartes in sulke kringe verkeerdelik as nie-rassiste gedefinieer word, beteken dit dat swartes skotvry van hulle onrustoking en ander wangedrag afkom. Price noem dit “herstellende geregtigheid”. Die UK wil egter voortgaan om teen diegene (vermoedelik blankes) op te tree wat hulle aan “rassisme” skuldig gemaak het (Die Burger, 18 deser, p 1).

Aan die UK en US volg gebeure dieselfde patroon: swartes kom met enigiets weg, terwyl daar teen blankes opgetree word. Die “robuuste debat” wat De Villiers verlang, is myns insiens om swartes toe te laat om hulle sê onbelemmerd te sê. As ‘n blanke student of dosent dit sou waag om aan De Villiers die waarheid te vertel, sal daar seker teen hom/haar opgetree word. Die twintigtal studente van die Rhodes Must Fall-beweging het geweier om aan die “versoek” te voldoen om “vir hul gerief” “hul werksaamhede” in die aangebode saal voort te sit. (Die Burger, 20 deser, p 2). Price het aanvanklik glad nie geweet wat hom te doen staan nie. Daarna is koste aangegaan om ‘n hofbevel te verkry en is ‘n “skikking bereik”: Die studente sal na die saal trek (Die Burger, 27 deser, p 3). Danksy De Villiers se ruggraatloosheid het die Open Stellenbosch-beweging skynbaar die (permanente) reg verwerf om byeenkomste sonder vooraf goedkeuring van die US-bestuur te hou. Hierdie uittartende gedrag word in der waarheid deur De Villiers geloof.

Stander het sy morele meerderwaardigheid bewys deur aan te bied om Duma onvoorwaardelik om verskoning te vra. Die kruipend-gedienstige US-bestuur is bereid om sy kenmerkende rol in hierdie sage voort te sit deur so ‘n ontmoeting te “fasiliteer”. Stander se summiere ontslag is myns insiens ‘n verregaande en onregverdigbare oorreaksie. Duma het sy tevredenheid met die US se drastiese besluit uitgespreek, maar “hy het nog nie besluit of hy gehoor sal gee aan Stander se versoek om met hom in gesprek te tree nie.” Sedertdien is daar op RSG berig dat Duma so ‘n ontmoeting geweier het. Op die US-webwerf en in Die Burger is nie ‘n woord hiervan gerep nie, sekerlik omdat hierdie twee instansies onwillig is om enigiets te publiseer wat Duma minder gunstig voorstel.

Duma wil hê dat Stander se naam op ‘n swartlys geplaas word sodat hy nie weer ‘n betrekking kry nie. Geen kritiek word uitgespreek teen Duma se onversoenlike houding nadat hy vir Stander buitensporige skade veroorsaak het en Stander boonop bereid is om homself met ‘n verskoningvraery te verneder nie. Soos Duma het die US-studenteraad die ontslag van Stander verwelkom: “Dit pynig die studenteraad dat ‘n dosent so opgetree het.” Die pyn wat die gebeure vir Stander veroorsaak het en die benadeling van sy belange vorentoe kom glad nie by hierdie studente op nie. Ook die arrogrante weiering van Duma om ‘n verskoning van Stander aan te hoor, word eintlik deur die studenteraad goedgepraat: “Die studenteraad ondersteun mediasie tussen die partye, maar ‘slegs indien die ontvanger van die SMS daaraan wil deelneem.'”

Myns insiens moet dit wonderlik wees om deesdae ‘n swart student op die US-kampus te wees en skynbaar onaantasbare status en vryheid te geniet, om van voorkeur by studiebeurstoekennings nie te praat nie. Die bedenklike gesindheid wat die studenteraad openbaar, word deur ander blanke studente onderskryf. Lees bv Neil du Toit se skrywe, “Why we must support Open Stellenbosch” (bonfiire stellenbosch 4 deser). Let ook op dat feitlik alle skrywes op hierdie studente-webwerf in Engels is. Afrikaanssprekendes onderwerp hulle gedwee hieraan.

Hoe bedenklik van gees en kutureel armoedig sommige blanke US-studente en jonger oud-studente deesdae is, blyk uit ‘n brief van Willem Cillié van Bellville, wat noem dat hy die kleinkind van die eerste US-rektor, GG Cillié, is. Hy bepleit ‘n eentalige Engelse US. Dit sal afgestudeerdes in staat stel om betrekkings in bv China te bekom (Die Burger, 18 deser, p 6). Ek het begrip daarvoor dat baie blankes so ver moontlik van die wrede werklikhede van die nuwe Suid-Afrika wil wegkom, maar die dure prys vir groter materiële welvaart elders kan ontheemding en kulturele armoede wees. Na kritiek het Cillié onder die opskrif, “Aanvaar dit: Engels is US se voorland,” sy standpunt herhaal (Die Burger, 26 deser, p 10). As die US-bewind toegelaat word om soos tans voort te gaan, het hy waarskynlik reg. Dit verminder nie die veragtelikheid van die manier waarop Afrikaans aan die US behandel word nie.

Tom McLachlan, ‘n vorige voorsitter van die SA Akademievir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie, het onlangs swaarde met Wannie Carstens gekruis omdat Carstens die stommiteit verkondig het dat Afrikaans (pleks van, na bewering, sommige Afrikaners) baie foute gemaak het. Hierdie keer bestempel McLachlan Cillié se standpunt as naïef omdat daar meer nie-Engelse as Engelse universiteite in die wêreld is en baie studente wat Afrikaans as onderrigtaal gehad het hulle op wêreldvlak onderskei. Boonop kan party dosente beter in Afrikaans as in Engels doseer of studieleiding verskaf. Onderrig in Engels is dus geen wondermiddel nie (Die Burger, 21 deser, p 14).

Erik Barnard van Bettysbaai sluit hierby aan met konkrete voorbeelde van hoe oud-US-studente, wat in die jare vyftig onderrig in Afrikaans ontvang het, internasionaal gepresteer het. Die helfte van die (voorgraadse) fisikavakliteratuur, wat hulle aan die US moes bestudeer, was in Duits (Die Burger, 22 deser, p 12). Kennis van Duits is toe ook van mediese studente vereis. Vir ‘n baccalaureusgraad is van my vereis om benewens die Afrikaanshoofvak ook kursusse in Engels, Duits en Frans te voltooi. Op grond waarvan kan swart studente vereis dat hulle net in Engels wil studeer? Waarom het die De Villiers-US nie die moed of insig om dit by die Dumas tuis te bring dat Open Stellenbosch ‘n anti-akademiese gesindheid openbaar nie?

Nog ‘n subjektiewe voorbeeld: Ek het uitsluitlik met my eie geld aan ‘n buitelandse universiteit gestudeer en niemand en niks het geroepe gevoel om my welkom te laat voel nie. Ek het my nie aangematig om daardie universiteit na my wense te probeer hervorm nie. Op grond waarvan moet die Dumas, wat veronderstel is om die beursgeld te gebruik om te studeer, spesiaal welkom op die kampus voel? Hulle moet eerder hulle tyd gebruik om te studeer en akademies te presteer. Dan sal hulle goed en bevoorreg voel om deel van daardie akademiese gemeenskap te wees.

Duma berus nie in hierdie “oorwinning” nie. Hy het die stryd teen toestande by “talle universiteite” aangesê. Hy gaan die stelsels beveg wat “wit Afrikaanse studente bevoordeel.” Swart studente word glo deur die US se prospektus mislei. Hulle het nie geweet dat hulle in Afrikaans sal moet studeer nie. Maar dit is nie net die US en ander universiteite met Afrikaans as voertaal wat in Duma se visier is nie: “Dit is egter nie net die kampus nie, maar die hele Stellenbosch wat ‘steeds ‘n dorp vir witmense is.'” Russel Botman het reeds in 2007 in sy intreerede as US-rektor nie net die verswarting van die US nie maar ook dié van die dorp Stellenbosch as sy ideaal te stel. Geen blanke rektor sou hom aangematig het om sonder enige jurisdiksie voor te skryf hoe die dorp daar moet uitsien nie. Die situasie het intussen dermate versleg dat Duma, ‘n tweedejaarstudent, nou ‘n soortgelyke voorskrif uitreik.

Duma sien blykbaar (omtrent) net wittes op die kampus en in die dorp raak. As iemand wat die US en die Stellenbosch-dorp van weleer geken het, neem ek, daarenteen, grootskaalse en vinnig toenemende verswarting waar: “Wanneer ek deesdae op die kampus en in die dorp loop, vervul dit my met heimwee vir wat was en met afgryse vir wat is. (Maar dit geld eintlik vir die ganse nuwe Suid-Afrika.)” (Praag 14 Maart).

“Volgens Duma moet daar op die pad vorentoe besin word, nie net oor hoe swart mense behandel word nie, maar ook vroue en mense wat ‘nie heteroseksueel is nie.'” Sy verlangde pakket sluit blykbaar alles in wat in die nuwe Suid-Afrika in die mode is. Soos ‘n klassieke kommunis koester hy die illusie dat hy die wêreld na sy wense kan verander. Sy hoofbesware is teen blankes en Afrikaans. Maar niemand in die US-bestuur of studenteraad het al ‘n sweem van rassisme by Duma uitgewys nie.

Open Stellenbosch word vryelik toegelaat om die US se agenda te bepaal. De Villiers tou agterna. As die rektor so voortgaan, kan dit daarop neerkom dat Duma die bestuur van US oorneem en De Villiers die universiteit bloot volgens Open Stellenbosch se wense administreer. Dan kan Duma die rektor se salaris opeis. Sal De Villiers ook aan so ‘n eis toegee, of sal hy dan uiteindelik begin om teë te stribbel?

Toe Russel Botman die US-rektor was, was Die Burger polities korrek hoogs onwillig om enige kritiek op hom te publiseer. Die Burger sou klaarblyklik ‘n nie-wit opvolger vir Botman verkies het. Kritiek teen die De Villiers-US word dus vryelik gepubliseer. Judith van Ceres skryf: “My kind skryf ‘n toets in Afrikaans. Kry vyf uit tien vir haar antwoord, waarvoor haar eweknie wat in Engels antwoord, nege uit tien kry. Toe sy die dosent daaroor vra, sê hy hy verstaan nie haar antwoord nie omdat dit nie in sy taal is nie. [Vir die aanstelling van nie-Afrikaanse dosente het Botman geveg laat dit bars.] Niemand het egter gesê die studente moet net in Engels antwoord nie. Ek is so moeg van baklei vir wat my reg is” (Die Burger, 15 deser, p 12).

Oud-Matie van De Tyger is beswaard omdat US-studente (soms) die reg ontneem word om vraestelle in Afrikaans te beantwoord (Die Burger, 19 deser, p 11). André v E van Yzerfontein skryf na aanleiding van Judith se brief: “Ek verwag ‘n verduideliking van die rektor en visekanselier. ‘n Student wat Afrikaans magtig is, word benadeel” (Die Burger, 19 deser, p 11). Susan van der Merwe, ‘n US-skakelbeampte, reageer op laasgenoemde twee briewe, maar nie op Judith se aantyging nie. Van der Merwe gaan uit van die valse veronderstelling dat gesamentlike klasse 50% Afrikaans is. Ook dat toetse, eksamens, geskrewe take en mondelinge assesserings in Afrikaans of Engels gedoen kan word. Die feit dat dit nie die geval is nie, was juis die aanleiding tot laasgenoemde drie briewe. As iemand nog besware het, moet dit aan die US-ombudsman, Julian Sonn, voorgelê word (Die Burger, 23 deser, p 10). Voorheen was Jaap Durand die ombudsman. Op hierdie roete is daar geen heil vir Afrikaanssprekendes nie en nog minder vir Afrikaners. Let daarop dat die US se topbestuur op swart eise reageer, maar dat besware uit die blanke oord deur mindere amptenare gehanteer of geïgnoreer word.

Alumnus van Abu Dhabi roep in herinnering dat daar, nadat De Villiers as rektor aangestel is, gekla is omdat hy wit is. Ook die uitroepe van betogende studente by De Villiers se inhuldiging, “Down with white power!”, kan eweneens as rassisme bestempel word (Die Burger, 20 deser, p 12). Dus, waarom net teen Stander optree? Andries Potgieter van Jeffreysbaai reken dat daar in die Stander-geval uiterste provokasie was. Hy suggereer dat die US Stander so buitensporig straf om die regering te beïndruk (Die Burger, 20 deser, p 12). Opvoeder van Kaapstad meen ook dat Stander se teksboodskap ‘n reaksie op Duma se gedrag was, dat Duma ‘n wrok teen wit mense koester of hulle uitlok om te fouteer, sodat hy wraak kan neem (Die Burger, 21 Mei, p 14).

Omdat die US-bestuur nie walgooi nie, gaan hierdie sage voort. Op 19 deser het Open Stellenbosch (seker veral Duma) ‘n ope brief in die Cape Times gepubliseer. Daarin word skoolverlaters afgeraai om aan die US te studeer sodat hulle “pyn en vernedering” bespaar word weens die “vyandige kultuur van wit Afrikanerdom.” Van die US word geëis dat Russel Botman se (myns insiens berugte) sentrum vir diversiteit en inklusiwiteit teen 30 September heropen moet word. Vanaf die begin van volgende jaar word geëis dat:

  • alle klasse in Engels beskikbaar moet wees;
  • daar weggedoen word met tolking, wat nie-Afrikaanssprekende studente glo uitgesluit laat voel; die tolkdienste is glo “ondoeltreffend en onhoorbaar”; [hierdie beswaar is ontleen aan dié van swart studente op Potchefstroom; eintlik wil albei swart groepe swart, Engelse dosente hê];
  • alle kommunikasie (bv korrespondensie en kennisgewings) en vergaderings (bv van fakulteite, die administrasie en koshuise) in Engels moet wees, of in Engels beskikbaar moet wees (Die Burger, 20 deser, p 3).

Dit is vir my duidelik dat die besware teen Afrikaans eintlik rasgedrewe (indien nie gewoon rassisties nie) is; dus anti-blank en veral anti-Afrikaner. Hierdie protesaksie sal na verwagting voortgaan en al hoe erger word tensy die US-bestuur begin om ferm op te tree. Die situasie aan die UK verloop soortgelyk. Die jongste is dat geëis word dat die naam van die Jameson-saal, Beattie-gebou en Jameson-koshuis verander en Jan Smuts se borsbeeld verwyder moet word. Jock Beattie was ‘n UK-rektor (1918-1937). Chumani Maxwele meen dit is “onregverdig en onwaar” dat die swart studente die universiteit ontwrig. “Ons veg om ‘n regverdige kampuslewe” (Die Burger, 22 deser, p 3).

Wat ek in hierdie rubriek probeer aantoon, is dat daar onderliggend aan Open Stellenbosch se protesaksies rassisme in sy suiwerste vorm is, ongenuanseerd gemik teen blankes en Afrikaans. Die aanstelling van ‘n blanke man as rektor, wat boonop van huis uit Afrikaanssprekend is, het die dryfkrag hiervoor verskaf. In werklikheid probeer De Villiers om in alles wat hy doen die indruk van ‘n veramerikaanste nie-Afrikaner te wek. Hy laat maar gelate toe dat swartes die US-agenda bepaal. Daarom word “rassisme” eerder by ‘n sagte teiken, ‘n akademies briljante blanke dosent, opgespoor. Anders as hoe dit behoort te wees, geniet gesonde akademie ‘n baie lae prioriteit aan die De Villiers-US.

Aan die US is dit nie ‘n stryd tussen Boer en Bantoe nie. Seker geeneen van die mense wat deesdae amptelik in beheer van die US is, verdien om ‘n Boer genoem te word nie. Boere/Afrikaners sou die situasie aan die US heeltemal anders gehanteer het. Die staatssubsidie van die US-begroting het van 41% in 2000 tot 25% vanjaar gedaal (Matieland, 2014, p 9). Desnieteenstaande laat die US hom al hoe meer boelie deur veral die ANC-regering en swart studente. Wat nodig is, is om die omvang van die US af te skaal, pleks van die universiteit uit te brei soos die ANC-regering wil hê. Faseer die Engelse klasse en nie-Afrikaanssprekende personeellede uit. Skep ‘n universiteit eksklusief toegewy aan die akademie. Dit sal meebring dat studentetoelating op grond van bewese akademiese prestasie geskied; nie weens potensiaal en ras- en geslagsnorme nie. Studiebeurse sal op grond van ekonomiese en akademiese oorwegings toegeken word. Dosente en navorsers sal na akademiese verdienste aangestel en bevorder word, ens. Dit is alles voor die hand liggende en elementêre akademiese vereistes waaraan die De Villiers-US geen erg het nie. Die US moet deur privatisering openlik van die regering gedistansieer word. Uiteraard sal daar van die huidige US-bestuur ontslae geraak moet word.

Aan al die nie-Afrikaners in die US-bestuur word betyds hierdie waarskuwing gerig: Hier kom groot moeilikheid, oftewel (soos Harald Pakendorf jare gelede op RSG gesê het) HKGK. Dit moet toegeskryf word aan die wankelmoedigheid van die lede van die US-bestuur en hulle voorkeur vir linkse politiek pleks van gesonde akademie.

My skrywe is reeds te lank. Ek sluit dit dus hiermee af, want ek weet dat dit vir Praag-lesers ontstellend is om so baie slegte nuus op ‘n keer te verteer. Die heel jongste gebeure aan die US is egter nog erger. Daaroor skryf ek in Deel 2.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.