praag.co.za

Category: Hennie van Coller

  • Hennie van Coller: Univ. Vrystaat vertrap grondwet met nuwe Engelse taalbeleid

    Hennie van Coller: Univ. Vrystaat vertrap grondwet met nuwe Engelse taalbeleid

    Op 6 Junie (2015) se UV-raadsvergadering gee die raad ’n mandaat dat die taalbeleid van die universiteit hersien moet word. ’n Komitee (die talekomitee van die uitvoerende komitee) word saamgestel. Die name van die lede van dié komitee word nooit bekend gemaak nie en is selfs nou nog nooit in die openbare pers genoem nie.

    Die kernkomitee het bestaan uit 11 lede van wie die meerderheid hulle reeds vooraf in die openbaar en boonop herhaaldelik ten gunste van Engels as die enigste (nagraadse) onderrigtaal uitgespreek het en dikwels (soos in die geval van die voorsitter, me. Dionne­ van Reenen, en dr. Munene Mwanike) ook fel anti-Afrikaans was. Prof. Angelique van Niekerk (departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans) en dr. Johann Rousseau (filosofie) sou waarskynlik die enigstes wees wat beskou sou kon word as onomwonde pro-Afrikaans of beter gestel: pro-meertaligheid. Dié genoemde twee persone was ook later verantwoordelik vir wat dikwels (verkeerdelik) bekend gestaan het as die “minderheidsverslag”. Van Reenen (van die instituut vir versoening en maatskaplike geregtigheid) het ’n magistergraad in filosofie, geen bewese kundigheid wat betref taalpolitiek en -beplanning nie, is Engelssprekend en uitgesproke ten gunste van Engels as onderrigtaal. Vermoedelik is dit weens ontevredenheid oor haar bekwaamheid dat dr. Liz Lange (vise-rektor en voorsitter van die advieskomitee) al hoe meer vergaderings begin bywoon het en feitlik die voorsitterskap oorgeneem het.

    Die uitgebreide (advies-)komitee (met sy “ex officio members”) is saamgestel uit lede van verskeie fakulteite en belangegroepe (soos die vakbonde), maar hulle het nie stemreg gehad nie. Opvallend was dat verskeie van die fakulteitsverteenwoordigers relatiewe juniors was. Ook dié lede se voorkeur was van meet af aan Engels, met die Engels-eentalige Lange as dryfkrag.

    Probleme met proses

    Die omvattende proses vir die inwin van opinies en data het ook probleme opgelewer. Aanvanklik is gesê dat daar voldoende tyd vir besprekings sou wees; tog is die proses uiteindelik verhaas met duidelike keertye. Kwalitatiewe onderhoude wat in die vooruitsig gestel is, het ook nooit plaasgevind nie. Daar is telkens aan die komiteelede gesê wye ontevredenheid bestaan onder studente oor die parallelmediumonderrig-beleid, maar ván die feite (dat tutoriale en praktika hoofsaaklik in Afrikaans aangebied is) was foutief. Belangrik was egter dat die uitslae van die meningsopnames (onder leiding van die onafhanklike verkiesingskomitee) nooit aan komiteelede beskikbaar gestel is nie.

    Lede van die talekomitee

    Me. Dionne van Reenen (voorsitter, verbonde aan die Instituut vir Versoening en Sosiale Geregtigheid)
    Prof. Loyiso Jita (fakulteit opvoedkunde)
    Dr. Munene Mwaniki (departement linguistiek en taalpraktyk)
    Dr. Johann Rossouw (departement filosofie). Bedank uit protes.
    Prof. Angelique van Niekerk (departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans). Bedank uit protes.
    Dr. Kudzayi Ngara (departement Engels, Qwaqwa-kampus)
    Mnr. Francois Marais (Suid-kampus en sentrum vir onderrig en leer (CTL))
    Prof. Arlys van Wyk (CTL)
    Dr. Elias Malete (departement van Afrikatale)
    Me. Mosa Leteane (Studenteraad)
    Me. Cornelia Faasen (Studente­sake)

    Op 29 Oktober verneem die komitee dat ’n voorlopige verslag geskryf moet word. Wat bekend staan as die “minority report” was ’n opdrag (in ’n laat stadium) aan Van Niekerk en Rossouw om ’n verslag te skryf oor Afrikaans as inheemse taal, maar ook oor sy sogenaamde “rassistiese” verlede. Op 12 November word ’n vergadering gehou om ’n konsensus-besluit te formuleer. Die verslag van Van Niekerk en Rossouw het nie deel uitgemaak van die uiteindelike verslag nie omdat dit volgens Lange bedoel was as ’n voorlegging aan die komitee met ’n duidelike fokus en uiteindelik ’n persoonlike taalsiening geraak het.

    Vir die raadsvergadering op 4 Desember het prof. Jonathan Jansen as voorsitter van die UV se bestuurskomitee ’n lywige stuk aan die raad voorgelê met die versoek dat die raad die belangrikste aanbevelings van die talekomitee moet bespreek, die besluite van die uitvoerende komitee van die senaat moet oorweeg, die senaat se mening moet oorweeg, die belangrikste aanbevelings van die bestuurskomitee moet aanvaar (dit is die gewysigde verslag van die talekomitee) én die UV die reg moet verleen om die aanbevelings te vervat in ’n nuwe taalbeleid wat in 2016 aan die raad en die uitvoerende komitee van die raad voorgelê sal word. Dié proses sal dus in 2016 voltooi word. Hoe die komitee gaan lyk aan wie die opdrag gegee gaan word, is nog onseker omdat twee lede van die talekomitee, Van Niekerk en Rossouw, uit protes bedank het.

    Slegs riglyne

    Die aanbevelings van die UV-raad dra nie die status van ’n taalbeleid nie. Hulle gee slegs die riglyne waaraan die nuwe taalbeleid moet voldoen.

    • Engels moet die “primêre ­medium van onderrig” wees.
      Veeltaligheid word beklemtoon.
    • Op eerstejaarsvlak moet ’n ondersteunende tutoriaalstelsel ingestel word om die oorgang na (net) Engels te vergemaklik.
    • Die Engelse voertaalbeleid moet met buigsaamheid ingestel word.
    • Parallelmedium-onderrig sal voortgaan “gegewe die duidelik gedefinieerde Afrikaanse markte”.
    • Demografiese verskuiwings maak die voortsetting van die huidige ­parallelmedium-stelsel onhoudbaar.
    • Altesame 20% van die gesamentlike aantal studente verkies Afrikaans as onderrigtaal en van hulle is 95% op die Bloemfontein-kampus.
    • Uit al die stukke blyk dit dat afsonderlike klasse ’n doodsonde is.

    Lede van uitgebreide (advies-)komitee

    • Dr. Liz Lange (rektoraat)
    • Dr. Lynette van der Merwe (gesondheidswetenskappe)
    • Dr. Nathaniel Mofolo (gesondheidswetenskappe)
    • Dr. Boitumelo Moreeng (fakulteit opvoedkunde)
    • Dr. Juliet Ramohai (fakulteit opvoedkunde)
    • Prof. Bradley Smith (fakulteit regte)
    • Dr. Brand Claassen (fakulteit regte)
    • Prof. Pieter Duvenhage (fakulteit geesteswetenskappe)
    • Me. Susan Lombaard (fakulteit geesteswetenskappe, Gebaretaal)
    • Me. Philippa Tuubweinee (fakulteit natuur- en landbouwetenskappe)
    • Dr. Dirkie Strydom (fakulteit natuur- en landbouwetenskappe)
    • Dr. Petrus Nel (fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe)
    • Prof. Johan van Zyl (fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe)
    • Me. Marlene Oosthuizen (fakulteit teologie)
    • Prof. Pieter Verster (fakulteit teologie)
    • Me. Anita Lombaard (UVPersu)
    • Mnr. Thabang Sepeame (Nehawu)
    • Dr. Thierry Luescher (ondersteuningsdienste)
    • Dr. Elsa Crause (Qwaqwa-kampus)
    • Studenteraadslede (een van elke kampus, verandering in Sept. 2015)

    Die besluite van die raad getuig van groot sinisme en ongevoeligheid: Afrikaans mag steeds onderrig word as dit geld vir die UV inbring – soos in landbou en opvoedkunde. Waar is die beginsels dan? Die taal moet glo ’n menslike dood sterf. Die aanbevelings wat deur die raad goedgekeur is, is ook met tye gewoon absurd (soos kamtige steun aan Afrikaanse akademiese tydskrifte), juis omdat dit onbekookte, strategiese opmerkings is ter wille van goeie gesindheid.

    Een absurditeit is die aanbeveling dat die nuwe taalbeleid Afrikaans – wat die beleid wil nek omdraai – as akademiese taal behoort te ondersteun deur steun aan Afrikaanstalige akademiese tydskrifte.

    ’n Mens kan aanvaar dat die huidige talekomitee die taak gaan kry om die nuwe taalbeleid op te stel; ’n ander besluit sou neerkom op ’n mosie van wantroue.

    Dit is daarom gebiedend noodsaaklik dat die nuwe komitee se name in die openbaar bekend gemaak moet word.

    Indien die UV uiteindelik ’n aanvaarbare taalbeleid wil skep, behoort die talekomitee opnuut saamgestel te word met kundige mense en behoort gestrewe te word na die (skyn) van onpartydige wetenskaplikheid.

    In die inwerkingstellling van die nuwe taalbeleid sal omsigtig gekyk moet word na benadeelde groepe:

    • Studente wat hulle in 2016 inskryf vir parallelmedium-onderrig en geen ondersteuning deur tutoriale ontvang nie, maar in 2017 dan slegs in Engels onderrig gaan word.
    • Huidige studente wat hulle ingeskryf het aan die UV vir enige kursus met die verwagting (kontraktueel bevestig) dat hulle hul studie in Afrikaans kon voltooi.
    • Selfs moontlik studente wat hulle reeds daadwerklik begin voorberei het vir studie in Afrikaans in 2017.

    Die sekretariaat

    • Me. Lacea Loader (departement van kommunikasie en identiteitsbestuur; “Brand Management”
    • Me. Susan Esterhuizen (vergaderingsadministrasie)
    • Me. Elize Gouws (sekretaris)

    Verskeie probleme

    Die hele proses om ’n nuwe taalbeleid op te stel, gaan mank aan verskeie probleme:

    • Art. 29 (2) van die Grondwet bepaal “everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonable practicable”. Uit alle gegewens (én die status quo) is dit duidelik dat dit wel “redelikerwys doenlik is” in terme van die Afrikaanse teks van die Grondwet. Die raad van ’n universiteit is onderworpe aan die Grondwet. Waar die vorige taalbeleid van 2003 die gees van die Grondwet onderskryf, doen die jongste raadsbesluite dit nie. Pierre de Vos se mening in dié verband is reeds deur prof. Koos Malan bestempel as in wese onbenullig;
    • Van meet af aan was die proses emosioneel en ideologies eerder as wetenskaplik. Dit blyk uit vae aannames, stereotiperende en ongetoetse bewerings soos reeds aangedui;
    • Die lede van die kern- en breër komitee is nie aangestel vanweë bewese kundigheid op die terrein van taalbeplanning, taalpolitiek, ensovoorts nie;
    • Op die raadsvergadering van 26 Junie 2015 is genotuleer dat die lidmaatskap van die talekomitee “gebalanseerd en verteenwoordigend” moes wees. Die komitee het in der waarheid bestaan uit ’n meerderheid van mense wat ’n duidelike voorkeur gehad het vir Engels en die voorsitter het telkens blyke gegee van bevooroordeelheid;
    • Kwalitatiewe onderhoude het nooit plaasgevind nie en geen ernstige aandag is gegee aan moontlike alternatiewe taalmodelle (soos dié van Van Niekerk en Rossouw) nie;
    • Die verouderde verslag van die Hoër Onderwys se Kwaliteitskontrole(oudit)paneel (HEQC – Higher Education Quality Control) wat reeds eenogig krities was, word in die verslag klakkeloos aanvaar as grondslag waarop verskeie aannames gegrond word;
    • Die historiese verlede van die UV word op eensydige wyse vertolk en nie beskou as ’n reaksie op ’n aggressiewe­ angliseringsbeleid nie;
    • Daar is geen blyke van waardering vir die wyse waarop ’n taal- en spraakgemeenskap ’n taal se hoër funksies uitgebou het juis in ’n tydperk­ waarin Afrikaanssprekendes nie oor politieke mag beskik het nie;
    • Afrikaanse onderrig word voortdurend as minderwaardig bestempel sonder verrekening daarvan dat verskeie persone wat in Afrikaans opgelei is, internasionaal gepresteer het;
    • Meertaligheid word op plakkaatagtige wyse aangeprys, maar daar is geen moeite gedoen om op kreatiewe wyse na vore te kom met vernuwende modelle nie;
    • Die ernstigste leemte is egter die kernuitgangspunt dat Afrikaans (eintlik op enige vlak behalwe as sosiale omgangsmiddel) ’n verenigde Suid-Afrika strem en dat enige persoon wat sterk oor Afrikaans voel, basies rassisties is.

    Gevoer tot sy logiese konsekwensies, impliseer hierdie UV-taalbeleid – en veral die onderliggende denke – dat Suid-Afrika soos die VSA behoort te wees.

    Mense kan gerus vleisbraai en bid in die tale van hul voorkeur, maar mag op generlei wyse aandring op enige ander regte vir hul tale nie.

    Dit sluit duidelik die onderwys in.

    Van Coller is ’n voormalige hoof van die UV se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans en oudvoorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het dié lesing gelewer op ’n byeenkoms oor “Die universiteit vandag” onder beskerming van die N.P. van Wyk Louw-sentrum van die FAK by Fort Schanskop, Pretoria. Die byeenkoms handel oor Afrikaans in die Hoër Onderwys.

  • Prof. Hennie van Coller: ‘Doodsklok vir Afrikaans lui’

    Prof. Hennie van Coller: ‘Doodsklok vir Afrikaans lui’

    Daar woed in die afgelope tyd weer ’n druk debat rondom Afrikaans en (veral) sy hoër funksies. Sonder sy hoër funksies (soos die gebruik van die taal in die regswese, politiek, media en onderwys) is ’n taal geen volwaardige standaardtaal nie.

    Veral oor Afrikaans as onderrigtaal op universiteit én op skool word druk geargumenteer.

    Die debat het sy oorsprong by die planne van prof. Dan Kgwadi om ’n nuwe bestuursmodel vir die Noordwes-Universiteit in te stel (eintlik af te dwing) waardeur Afrikaans benadeel sal word.

    ’n Ander aanleidende oorsaak is die planne van die Universiteit van die Vrystaat om sy taalbeleid opnuut te bekyk en veral die motivering daarvoor.

    In die debat word standpunte nogal argeloos gestel, asof dit aksiomas sou wees: Dat Afrikaans onder ’n vroeëre bedeling bevoordeel is bo ander tale; dat Afrikaans om te oorleef groter erkenning moet verleen aan sub-variëteite (soos Kaaps) deur dit te erken in woordeboeke en spelreëls, en dat Afrikaans se redding lê in logiese en beredeneerde argumente wat vriendelik gestel word.

    In ’n vorige bedeling was daar twee amptelike tale: Afrikaans en Engels; indien Afrikaans sogenaamd bevoordeel sou gewees het, geld dit eweneens Engels.

    Opvallend was egter dat die (“apartheids-”) regering juis inheemse tale uitgebou het deur die instelling van afsonderlike radiodienste tot by die oprigting van universiteite vir verskillende “bevolkingsgroepe”, soos in Bellville, Westville, Thohoyandou, Empangeni, Pietersburg en Umtata. Dat dit ’n verlengstuk was van die beleid van “afsonderlikheid” verander niks aan die feit nie.

    Voorts is daar vandag bykans geen kultuurtaal ter wêreld wat nie beskik oor ’n standaardvariëteit nie. Uiteraard beteken dit nie dat ander dialekte of subvariëteite daarmee van die tafel gevee word nie. Ook nie dat die spelling daarvan nie bereël kan word nie. As gebaar bring dit die nodige versoening.

    Máár dit is juis die standaardvariëteit waarin die hoër funksies uitgeoefen word. Al word hoeveel woorde of uitdrukkings uit Afrikaans se subvariëteite ook formeel erken, het Afrikaans steeds ’n standaardvariëteit nodig vir amptelike kommunikasie én as skryftaal. Daarsonder is die stryd teen ’n ander kultuurtaal van meet af aan verlore.

    Dit het die Vlaminge met hul veelheid van dialekte en subvariëteite goed besef in hul lang taalstryd. Ironies genoeg word die pleidooi vir groter erkenning van subvariëteite in Volksblad ook in keurige standaardafrikaans gerig!

    As akademikus glo ek aan logiese, beredeneerde en ad rem-argumente, en as mens glo ek dat beskaafde redenering en vriendelike omgang met mense belangrik is.

    Maar dit getuig van naïwiteit om te dink dat jy daarmee kan en moet volstaan in ’n volskeepse oorlog. En die optrede van die regering in die afgelope jare teen Afrikaans is niks minder as ’n oorlogsverklaring nie.

    Die afskaling van Afrikaans in die openbare sektor – SABC, politiek, hoër onderwys (ook deur samesmelting van universiteite) – en in die regswese; die onttrekking van staatsubsidies aan die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en veral die voortdurende pogings om Afrikaanse skole te vernietig, is net die spits van die ysberg.

    Die Nederlandse skryfster van veral historiese romans, Nelleke Noordevliet, het by geleentheid ongeveer die volgende beweer: dat geskiedenis as ’n terugblik op die verlede, nie primêr van historiese belang is nie, maar die teenswoordige tyd verstaanbaar maak én jou voorberei vir die toekoms of ten minste bedag maak op gevare wat wag.

    Onbewese beskuldiging

    Voorstanders van Afrikaans as onderrigtaal aan die UV kan met redelike gemak die belangrikste argumente weerlê waarom die onderrigtaalbeleid aan die UV opnuut bekyk moet word.

    Die beskuldiging dat Afrikaanse studente bevoordeel sou word deur Afrikaanse dosente berus op persepsies (omdat hulle skynbaar beter presteer?) en nie op feite nie.

    Die UV-bestuur se besluit om so ’n onbewese beskuldiging as belangrike argument te opper om ’n taalbeleid weer te bekyk, kom neer op die bevraagtekening van Afrikaanse dosente se integriteit.

    Dat afsonderlike taalklasse apartheid sou bestendig, is onwaar, omdat die klasse oop is vir almal – ongeag geslag of kleur – en talle studente anders as wittes daarin sit.

    Boonop word integrasie op soveel ander plekke op die kampus nagestreef (van die koshuise, studentepolitiek, sport en die verpligte eentalig Engelse UFS 101) dat dit ’n drogredenasie is.

    Al geldige beswaar teen parallelmedium-onderrig is die herhaling van lesings, maar indien verskillende dosente dit behartig, is daar geen verdubbeling vir dosente nie.

    Prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Jaco Marais

    En die verdeling van groot klasse is in baie departemente reeds die gebruik vir dekades.

    Maar ek vrees, beredeneerde en logiese argumente (hoe vriendelik ook gestel) gaan geen effek hê op ’n uitkoms wat vir my vasstaan nie: ’n eentalige Engelse universiteit waar Afrikaans selfs nie in enige openbare ruimte geduld sal word nie. En hierdie toekomsvoorspelling berus op wat in die verlede by die UV gebeur het.

    Transformasie is die afgelope jare op verskillende vlakke by die UV deurgevoer. Dit het ook ’n direkte uitwerking gehad op die plek van Afrikaans binne die UV.

    Nie net die aanstelling van verskeie eentalige Engelse persone in topposte nie, maar ook die inkorporering van twee Engelstalige kampusse het Afrikaans gemarginaliseer.

    Rektor spilfiguur

    Die huidige rektor, prof. Jonathan Jansen, was die spilfiguur in hierdie verwikkelinge en daarom is sy siening van Afrikaans ook belangrik.

    Volgens ’n uitspraak van hom is “eksklusief Afrikaanse of selfs Afrikaans-oorheersende wit skole of universiteite . . . ’n ernstige bedreiging vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika . . . ’n Mens kan gewoon nie jong mense voorberei om die letsels van ons verlede te verreken sonder om die beste moontlike geleenthede te skep om saam te leer en saam te leef nie”.

    Hieruit moet ’n mens aflei dat eksklusief Engelse of Engels-oorheersende wit skole of universiteite nie ’n bedreiging vir rasseverhoudings inhou nie; die wit Afrikaner is die vlieg in die salf.

    Dit word later duidelik dat hy vir Afrikaans selfs geen plek gun op skoolvlak nie – in ’n gepubliseerde artikel het hy voorgestel álle Afrikaanse skole moet hul voertaal na Engels verander.

    Binne prof. Jansen se denke is aandrang op Afrikaans in skole en universiteite rassisties geïnspireer en taalaktiviste word oor een kam as rassiste geskeer. Daarom het hy die dood van prof Russell Botman voor die voete gelê van taalaktiviste by die Universiteit Stellenbosch.

    In openbare uitsprake het prof. Jansen sy afkeer uitgespreek van die Kovsiekerk op kampus wat deur sy Afrikaanse dienste mense “uitsluit”.

    Ook die Christelike en Nasionale Meisieskool Oranje is bygekom en Afrikaanse organisasies (van die SA Akademie tot en met die FAK) is bestempel as “kop in een mus”.

    Hieruit blyk op die minste ’n aversie van (wit) Afrikaanssprekendes en dalk wittes as sodanig, want by geleentheid het hy na die naam van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad verwys as “vreemd” en gesê dat “sulke name” (van vroeëre wit koloniste?) getransformeer moet word.

    Binne die UV is Engels die afgelope jare met ’n ysterhand bevorder.

    ’n “Vrouemonument” met slegs Engelse inskripsies is opgerig. Op my skriftelike klag (as voorsitter van die UV-talekomitee) aan die rektor dat dit ’n klap in die gesig was van veral Afrikaans- en Sothosprekende vroue het ek ’n uitbrander ontvang omdat ek dit gewaag het om my brief in Afrikaans te skryf.

    ’n Ruk daarna is die talekomitee gewoon opgehef en het die enigste amptelike waghond oor taalsake verdwyn.

    Tolking by die uitvoerende komitee van die senaat is beëindig en die verpligte kursus vir eerstejaarstudente (UFS 101) is ingestel. Dit word slegs in Engels gedoseer en alle besprekings is nét in Engels.

    Gou was daar geen plek meer vir Afrikaans binne die studentepolitiek nie en studente het by my kom kla omdat hulle deur Rudi Buys, vorige studentedekaan, effektief verbied is om Afrikaans te praat.

    Amptelike stukke en korrespondensie het toenemend slegs in Engels verskyn en openbare lesings en universiteitspublikasies het oorwegend of uitsluitlik Engels geraak.

    Dit is merkwaardig dat by ander tradisioneel Engelse universiteite skynbaar ’n veel meer demokratiese gees heers: By die oer-Engelse Rhodes-universiteit word bepaalde kommunikasie toenemend in Engels, Afrikaans en isiXhosa uitgestuur.

    By die afgelope paar kanseliersetes van die UV wat ek bygewoon het, het (veelal Afrikaanssprekende) gashere geen enkele woord in Afrikaans geuiter nie; selfs nie eens “baie welkom” nie.

    Ook die huidige kanselier en oud-Vrystater het hom nooit verwerdig om maar één woordjie Afrikaans te besig nie. Ek sou kon aangaan.

    Doodsklok lui lankal

    Kortom: die doodsklok vir Afrikaans het lank reeds gelui op die UV-kampus.

    Moet my dus nie verkwalik as ek sinies is oor die moontlike positiewe uitkoms van die “wye konsultasie” wat hieroor sal plaasvind nie.

    Só is talle omstrede kwessies in die verlede ook behartig (soos oor die verandering van die kleure, wapen en leuse van die universiteit).

    Ek herinner my bykans geen geval waar daar een wysiging aangebring is aan dit waaroor vantevore al besluit is nie.

    Hoewel ek vuriglik hoop op ’n ander uitkoms, lyk my doemprofesie só: Die nuwe bestuursmodel en transformasie van die NWU-Potchefstroom-kampus sal nie gestuit kan word nie en ’n eentalige Engelse kampus (dalk ná ’n fase van parallelmedium-onderrig) lê in die verskiet. Die volgende teiken is Afrikaanse skole en daarna die Afrikaanse kerke.

    In die hele proses is die Afrikaanssprekende sy eie grootste vyand, want ek voorspel nou dat van die voorste Afrikaanse hoërskole in Bloemfontein hulleself vrywillig gaan omskep in parallelmedium-skole sodra die UV se besluit val om eentalig Engels te word: “Om kinders voor te berei op Engelse onderrig.”

    En hoe lank dan nog voordat die Vrystaat-Kunstefees dan ook oorwegend Engels gaan wees?

    Is dit ondenkbaar dat binne só ’n klimaat van politieke korrektheid en “toeganklikheid” ander pilare ook gaan wankel?

    Soos dat Volkblad (eers) met ’n naweekuitgawe in Engels begin om later tweetalig te word en dat Afrikaanse kerke besluit om Engelse dienste aan te bied?

    Só was die situasie in die Wes-Kaap aan die einde van die 19de eeu waaroor C.P. Hoogenhout hom uitgelaat het: “Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat ons sien en hoor; In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.”

    Daar was gelukkig nog altyd die bittereinders en hulle is daar steeds.

    Maar as Afrikaans wil oorleef, veral as volwaardige kultuurtaal, sal nuut gedink moet word. Daar sal onwrikbaar besluit moet word om sélf te koester, uit te bou en te skep.

    Die prioriteit is ’n eie Afrikaanse universiteit, soos ek en kollega Jaap Steyn al 15 jaar gelede gepleit het en toe in rook afgeskiet is deur rektore van universiteite waar Afrikaans tans nie meer bestaan nie!

    Voorts sal daar ’n inspirerende “bindende narratief” geskep moet word as samebindende krag.

    By die Jode is dit godsdiens, by die Katalane en Baske, nasionalisme.

    Sonder hierdie “bindende narratief” (of Groot Idee) wat Afrikaanssprekendes saambind oor kleurgrense heen, sal Afrikaanse vanne en artefakte in museums eendag dalk al herinnering wees aan ’n groep wat vir hierdie land ontsettend baie beteken het.

    Prof. Hennie van Coller is voormalige departementshoof, Afrikaans en Nederlands, Universiteit van die Vrystaat, asook voormalige voorsitter: S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns