praag.co.za

Tag: boek

  • Laai Martin Bosma se boek gratis hier af!

    Laai Martin Bosma se boek gratis hier af!

    Die Nederlandse parlementslid, Martin Bosma, wat gereeld ‘n lansie vir Afrikaners breek in die Tweede Kamer, hul parlement, het toestemming verleen dat sy eerste boek, De schijnelite van de valse munters: Drees, extreem rechts, de sixties, nuttige idioten, Groep Wilders en ik gratis aan PRAAG-lesers versprei mag word. Al wat u hoef te doen, is om op die onderstaande skakel te klik en die boek in PDF-formaat af te laai.

    deschijnelitevandevalsemunters

    Die boek verteenwoordig ‘n geestige, dog inseggewende kyk na hoe Nederland in die sestigerjare so verskriklik links geraak het, net om onder invloed van politici Pim Fortuyn, Geert Wilders en Bosma self weer tot haar sinne te kom en iets van ‘n regse beweging te begin ervaar. Nie verniet nie, heet een van die slothoofstukke in die boek… “Linkse kak”. Bosma skryf daarin:

    Dat snobisme een van die drijfveren is van die linkse kak om te kiezen voor het multiculturalisme, zagen we vanaf day one.

    Die aanslag op blankes en die Westerse beskawing het globaal geraak. Die Afrikaanse leser sal, tesame met “linkse kak” in die vorm van snobisme oor veelrassigheid, e.d.m., vele elemente herken wat ook hier by ons aangetref word. Verder bied die boek ook ‘n boeiende oorsig oor die Westerse en Nederlandse geskiedenis sedert die 1960’s. Hy behandel veral ook die “massa-immigratie” wat ten doel het om van Nederland, een van die rykste en welvarendste lande in Wes-Europa, ‘n Islamitiese derdewêreldland te maak.

    Martin Bosma is blykbaar ‘n gereelde leser van PRAAG. Nou het PRAAG-lesers die geleentheid om ook sy belangrike insigte oor Nederland en die Weste in boekvorm te geniet – boonop heeltemal gratis!

    2016-06-28 DEN HAAG – Martin Bosma (regs) en Geert Wilders (links) in die Tweede Kamer

    Martin Bosma is op 16 Julie 1964 gebore en is ‘n Nederlandse politikus en voormalige joernalis. Sedert 30 Novevember 2006 is hy lid van die Nederlandse parlement oftewel die Tweede Kamer. Bosma is tans woordvoerder vir kultuur en media vir die party, asook partysekretaris. Hy is ook voorsitter van die IPC, die Interparlementaire Commissie, van die Nederlandse Taalunie.

    Sy mees onlangse boek gaan juis oor Suid-Afrika en die Afrikaner, en heet Minderheid in eigen land: Hoe progressieve strijd ontaardt in genocide en ANC-apartheid.

     

  • Leon Lemmer: Oor Jaap Steyn se boek, ‘Ons gaan ‘n taal maak’

    Leon Lemmer: Oor Jaap Steyn se boek, ‘Ons gaan ‘n taal maak’

    In my rubrieke het ek reeds dikwels na JC Steyn (gebore in 1938) se jongste boek verwys: ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, 621p, R395). Blykbaar is geen elektroniese weergawe in die handel beskikbaar nie. Sonder om te herhaal wat ek voorheen geskryf het, wil ek ander aspekte aan die orde stel. Daar is nog glad te min oor hierdie omvangryke monografie geskryf.

    Afgesien van poësie en fiksie, het Jaap Steyn verdienstelike biografieë oor Piet Cillié (2002), NP van Wyk Louw (2003) en MER (2005) geskryf. Hy is ook die hoofouteur van Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1992, 612p), al het hierdie boek onder die naam van die redakteur, WD (Wiets) Beukes, verskyn. Meer spesifiek oor Afrikaans het Steyn die volgende belangrike bydraes gelewer: Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans (Kaapstad: Tafelberg, 1980, 523p), Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikaner-nasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek, 1875-1938 (Kaapstad: Tafelberg, 1987, 243p) en die meer outobiografiese Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu (Kaapstad: Tafelberg, 2008, 408p).

    Voordat ek by die inhoud van Steyn se jongste boek kom, is dit ongelukkig nodig om kritiek op die fisiese boek te lewer. Dit is gewoon ‘n skande dat so ‘n voortreflike teks op so ‘n onvoorbeeldige manier gepubliseer is. Die boek is moeilik hanteerbaar vanweë sy gewig, wat te wyte is aan die gebruik van swaar glanspapier. Die illustrasies noodsaak nie die gebruik van glanspapier nie. Dié papier maak die teks moeilik leesbaar in skerp lig. Die lengte van die teks het die uitgewer genoop om ‘n uitsonderlike groot formaat aan die boek te gee, met die teks in dubbelkolomme geset. Anders as wat ‘n mens by so ‘n nie-fiksie boek sou verwag, is daar geen deurlooptitel vir die boek- of hoofstuktitel nie. Die binnekantlyne is smaller as die buitekantlyne, gevolglik is die binneste tekskolomme moeilik(er) leesbaar. Kortom, die fisiese boek is ‘n skande vir die Suid-Afrikaanse boekuitgewersbedryf, wat in talle opsigte met die beste ter wêreld vergelyk kan word. ‘n Mens is eintlik verplig om die boek op ‘n tafel- of lessenaarblad te lees en nie in ‘n leunstoel nie. [Tans lees ek Peter Watson se uitstekende boek oor die 19de en 20ste eeu. In Brittanje is dit publiseer onder die titel, The age of nothing, en in Amerika as The age of atheists (New York: Simon & Schuster, 2014, 626p). Die voortreflike fisiese versorging dra by tot ekstra leesgenot. Selfs al was Watson se teks meer as ‘n duisend bladsye lank sou ‘n boek in hierdie formaat nie so ‘n onaptytlike monster soos Kraal Uitgewers se produk gewees het nie.]

    Die titel van Steyn se jongste boek is ontleen aan wat ‘n taalstryder, Izak van Heerden (Vaalswaer), in 1905 aan Gustav Preller geskryf het (p 11). Volgens Preller bestaan daar ‘n onbreekbare band tussen die Afrikanervolk en sy taal: “Die taal … laat hom nie uitroei nie anders as met die uitroeiing van die volk waarin dit leef” (p 85). “‘n Suiwer Afrikaans moes ontwikkel en ‘n suiwer Afrikaanse nasionaliteitsgevoel moes aan[ge]kweek en ontwikkel” word … Die stryd teen verengelsing het die taal deel gemaak van Afrikanerskap, en vir Preller was Afrikaans daardie onontbeerlike element van Afrikaneridentiteit” (p 87). “Preller was toe [1908] al wrewelrig teenoor die Afrikaanse kerke oor antinasionale gesindhede en praktyke soos die Engels-prekery, selfs in die oorlog, baie kerkmense se afwysing van die Afrikaanse beweging, die Kaapse kerk se houding oor die Groot Trek [1830’s], en die maklike manier waarop die kerk die joiners weer aanvaar het” (p 99). [“Joiner: Boer wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog by die Engelse wapens opgeneem het; verraaier, oorloper” (HAT).] Deesdae word druk in die NG Kerk vir die aanvaarding van die Belhar-belydenis uitgeoefen. Dit word in groot mate aangevuur deur ANC-joiners en ander verloopte Afrikaners. Hierdie soort kerk was destyds ‘n “anti-nasionale faktor” (p 88). Deesdae vervul elemente in die Afrikaanse kerke weer hierdie rol.

    Wat ek uit Steyn se teks aanhaal, word bepaal deur die huidige toepaslikheid daarvan. Die geskiedenis herhaal homself in sekere opsigte of hou lesse vir latere geslagte in. Vir Steyn gaan dit om meer as bloot ‘n geskiedkundige oorsig van Afrikaans. Hy plaas ons taal in ‘n breë kultuurhistoriese perspektief. Steyn se teks begin in 1875 by die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die GRA se doel was: “Om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land” (p 22). Dit toon dat die taal in ‘n sosiale konteks verstaan moet word. Die Patriot-digters het in “Die Afrikaanse volkslied” onder meer geskryf: “Een ider nasie het syn Land … Een ider nasie het syn taal” (p 23). In die GRA se manifes van 1875 staan: “Daar is Afrikaanders met Engelse harte. En daar is Afrikaanders met Hollandse harte. En dan is daar Afrikaanders met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaanders” (p 25). Die GRA wou Afrikaners aan die lees kry en het dus probeer om Afrikaanse leesstof te skep en te publiseer. Dit staan as die Eerste Afrikaanse Beweging (1870-1900) bekend.

    Na die Anglo-Boere-oorlog volg die Tweede Afrikaanse Beweging. Hiervan het MT Steyn gesê: “Vir mij is die eerstelinge van onse literatuur so heerlik als die geluid van die eerste reëndruppels na ‘n langdurige droogte” (p 89). MER (Maria Elizabeth Rothmann) het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Afrikaans is vir ons die taal van die hart” (p 47). In 1919 kon DC Hesseling skryf dat “die geestelike selfstandigheid van die jong nasie ná die Vrede van Vereeniging [1902] beter gewaarborg is dan ooit nou dat die eie taal die voertuig geword het van ‘n letterkunde wat … hoe langer hoe meer aan eie krag genoeg het” (p 101). Nog ‘n Nederlander, RA Kollewijn, het geskryf dat “niks die Afrikaners só kan verbind, sóseer hul selfvertroue kan sterk nie, as die besef dat hul Afrikaans … die taal van ‘n volk is” (p 102).

    Ek gaan vir ‘n wyle voort in hierdie patriotiese trant. In 1884 het Paul Kruger gesê: “Ons het ons eie taal behou … Ons ganse stryd lê daarin opgesluit” (p 32). Afrikaans was in werklikheid die amptelike spreektaal in die Transvaalse en Vrystaatse republieke (p 35). Christiaan de Wet het in 1897 tereg gesê “dat die verwaarlosing van ‘n taal die onafhanklikheid van ‘n nasie ondermyn” (p 35). In 1900 het Kruger hierdie wens uitgespreek: “Mag die Afrikaanse stam, van wie die toekoms nog altyd vol hoop was, in die einde opgroei tot ‘n kragtige boom” (p 45). Na die Anglo-Boere-oorlog was “die Afrikaners se selfrespek, selfbeeld en toekomsverwagting … op die spel;” dus die volk se “eiewaarde” (p 60). In 1902 het De Wet ‘n pleidooi gelewer dat die “nasionaliteit” (bedoelende identiteit) van die Afrikaner nie verlore moet gaan nie. “Die wêreld moet weet dat hulle [die Boere] dit wat hulle met hul wapens probeer verdedig het, naamlik hulle volksbestaan, ook in die toekoms wil handhaaf. Hy is trots op sy taal en wil dit met alle mag verdedig, en hoop dat dit eendag ‘n plek in die ry van wêreldtale sal inneem” (p 64). In dieselfde jaar skryf DF Malan aan sy suster “dat as die Afrikaners hul identiteit wil behou, hulle Afrikaans ‘tot ons erkende volkstaal’ moet verhef omdat dit as volkseiendom bewus of onbewus die volksliefde reeds besit soos geen ander taal dit kan besit nie” (p 94).

    In sy laaste boodskap aan sy volk het Paul Kruger in 1904 die volgende bekende (verafrikaanste) woorde geskryf: “Soek in die verlede al wat goed en mooi was wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.” Hy het aanvaar dat hy sy vaderland nooit weer sou sien nie, “die land waaraan ek my beste gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ‘n eie nasie sien ontplooi het” (p 69). Naas Kruger moes Christiaan de Wet ‘n merkwaardige mens gewees het. Hy word beskryf as “een van die indrukwekkendste openbare gebruikers van Afrikaans” (p 147). Hy het in 1902, dus in dieselfde jaar as die Vrede van Vereeniging, sy omvangryke boek, Die stryd tussen Boer en Brit, in Hollands voltooi terwyl hy per skip op pad na Europa was. Omdat hy min skoolonderrig gehad het, het JD Kestell hom bygestaan. In dieselfde jaar is daar ‘n Duitse en ‘n (baie letterlike) Engelse vertaling* (glo gebaseer op die Duitse teks) gepubliseer. As die stand van vervoer, kommunikasie en drukprosesse van daardie tyd in ag geneem word, was dit uitsonderlike prestasies. [* Three years’ war, New York: Charles Scribner’s Sons; Amazon Kindle $0. Die teks wek die indruk dat dit deur De Wet aan Kestell gedikteer is. De Wet het respek vir sy mede-Afrikaners en selfs vir sy Engelse teenstanders gehad, maar geen goeie woord vir verloopte Afrikaners/joiners nie.]

    Dit is Kestell wat na aanleiding van die Rebellie (1914)* vrae gevra het wat ons vandag weer kan vra: “(1) Moet ‘n mens jou dan gedwee oorgee aan die bestaande mag? (2) Nie vra? (a) Is daardie mag die goeie mag? (b) Blus daardie mag nie die Afrikaner-ideaal nie?” (p 136). In Johannes van Melle se roman, Bart Nel (1936), is die hoofkarakter iemand wat aan die Rebellie deelgeneem het, “‘n Afrikaner wat alles verloor, maar sy siel behou het” (p 138). Ek haal aan uit die roman: “Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie … My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy” (p 138-139).

    [* Nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het die Suid-Afrikaanse regering hom by Brittanje geskaar. Suid-Afrikaanse troepe het opgeruk na Suidwes-Afrika (tans Namibië), wat ‘n Duitse kolonie was. Louis Botha en Jan Smuts was in die voorpunt van hierdie oorlogsverklaring. Afrikaners kon nie aanvaar dat mense soos Botha en Smuts, wat albei teen Britse oorheersing in die Anglo-Boere-oorlog geveg het, radikaal van lojaliteit verander het nie. Afrikaners se simpatie het eerder by die Duitsers gelê. Talle Afrikaners/Boere het aan die Rebellie deelgeneem. Van Melle gebruik hierdie gebeure as agtergrond vir sy roman, wat deur baie kenners as van die beste in Afrikaans beskou word. Dit is in 2004 deur Tafelberg hergepubliseer (163p). Van Botha word gesê dat die “boer in hom dood is. Hy is soos ‘n bees wat tulpe gevreet het. Botha het Engelse tulpe gevreet en die Boer in hom het gevrek” (p 16). “Die Driejarige Oorlog was nog maar twaalf jaar gelede en hoe kon hulle [Botha en Smuts] nou verlang dat die Boere hul kinders sou gee om vir die eer en die voordeel van Engeland te veg?” (p 26). “Man, dat onder ons nasie altyd so baie moet wees wat by die Engelsman onder die kombers wil kruip … Die Boere sal nog eendag algar Boere word, jong. Gee hulle net tyd. Hulle is nog maar soos jong hondjies, hulle oë begin nog maar pas oop te gaan” (p 39). “Dit is vir my ‘n vreugde om te sien dat daar nog manne onder ons volk is wat die moed het om op te staan teen ons Engelsgesinde regering … Net jammer dat ons so min is … maar beter ‘n paar wat opstaan as glad niemand nie” (p 40). “Die rebellie … het ons geleer om nie te veel op ons voormanne te vertrou nie. Dis ‘n fout van ons volk dat ons te veel opsien na ons voormanne en ons volg hulle naderhand waar ons nie moes gevolg het nie. Ons het ook geleer dat ons nie te veel op mekaar moet vertrou nie, dat in moeilike tye baie grootpraters ons verlaat … Dat die gevoel van reg nog leef in ‘n deel van ons … Ons Boerenasie sal eendag weer bymekaarstaan en ons sal almal rebelle wees” (p 128).]

    Deur sy boek met die GRA te begin, vermy Steyn die omstredenheid oor die ontstaan van ons taal. Christo van Rensburg het hierdie saak in sy boek, So kry ons Afrikaans (Pretoria: LAPA, 2012, 159p), aangespreek, maar Wannie Carstens voel geroepe om polities korrek daarop te verbeter. Carstens se boek sou reeds verlede jaar verskyn het, maar die jongste inligting is dat dit eers volgende jaar gepubliseer gaan word. In 1875 het Johannes Brill “Afrikaans ‘n dialek genoem wat deur verwaarlosing van die moedertaal (Hollands) ontstaan het” (p 21). Dit sal interessant wees om te sien in hoeverre Carstens die Europese en plaaslike blanke oorsprong van Afrikaans erken en in hoeverre hy dit aan die Khoi-San en slawe toedig; nie-blanke bevolkingsgroepe wat andersins seker niks van blywende waarde tot stand gebring het nie. [Wanneer ‘n boek oor Afrikaans deesdae gepubliseer word, is dit dikwels danksy ‘n subsidie afkomstig van die LW Hiemstra Trust. Dit geld sowel Van Rensburg as Steyn se boek. Dit maak die vorm waarin, of die manier waarop, Steyn se teks gepubliseer is des te meer teleurstellend.]

    Twee van Steyn se kenmerkende woorde is “taalgetrouheid” en “boere-adel”. Hy is beskawingsbewus en daardie beskawing het sy bakermat in Europa. Daardie beskawingsmat kan onder ons uitgeruk word as ons nie ons taal handhaaf nie. “Sonder aktiewe taalhandhawing is taalverskuiwing byna onvermydelik … sonder bewuste handhawing kan dit binne drie generasies verdwyn” (p 70). Vir sy teks gaan Steyn uit van hierdie standpunt: “Die eksterne geskiedenis is die verhaal van ‘n taal soos wat die lotgevalle van sy sprekers dit bepaal: gebeurtenisse wat veroorsaak het dat die taal sekere funksies kon verwerf of moes prysgee, prosesse wat die gesindheid teenoor taal verander, of wat taalgetrouheid laat afneem of toeneem het. Dit het alles ‘n invloed op die maak van … die taal” (p 11). “Belangrik vir die ontwikkeling van ‘n taal is sy status: skryftaal of nie, amptelike taal of nie. Omdat die maghebbers van ‘n staat gewoonlik die besluite oor die status en belangrike funksie[s] van ‘n taal neem, word die lotgevalle van ‘n taal beïnvloed deur politieke woelinge … maar ook deur strominge soos nasionalisme en liberalisme, en demografiese prosesse soos stygende of dalende geboortesyfers*, migrasie en verspreiding oor die taalgebied. Die eksterne geskiedenis het altyd gevolge vir die interne geskiedenis. Só kan kontak met sprekers van ander tale die woordeskat, grammatika en uitspraak beïnvloed. Owerhede en gemeenskappe kan ‘n taal as’t ware ‘maak of breek’” (p 11). Die ANC-regering as die neo-Milner probeer tans om Afrikaans te breek. Hy word in sy pogings gesterk deur Afrikaanssprekendes wat nie taalgetrou is nie; oftewel nie taaltrots het nie. Reeds in 1909 “is betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak” (p 104). [* MT Steyn het in 1913 geskryf: “Die toekoms van ons land en ons volk lê in die wieg” (p 123). Daarvolgens het Afrikaners en Afrikaans deesdae kwalik ‘n realistiese kans op oorlewing.]

    In 1902, na die Anglo-Boere-oorlog, “het die Afrikanerleiers besef dat hulle self verantwoordelikheid vir hul mense en hul taal moes aanvaar. Daarby het hulle geweet dat hulle min kon verwag van die voormalige vyande wat die land regeer het” (p 62).”Ook in die oorlog was daar helde en lafaards, twyfelaars, hensoppers en joiners” (p 62). Baie van die joiners “moes [in die kerk] voor die gemeente hul sonde van verraad bely voordat hulle weer tot die Nagmaal toegelaat is” (p 68). Vir sommige was die nuwe bedeling so onaanvaarbaar dat hulle na ander lande uitgewyk het. In hierdie oorgangsituasie “het swartes blykbaar op groot skaal skade aangerig” (p 63). Hierdie land ervaar tans weer blanke emigrasie en swartes maak hulle op groot skaal aan vandalisme en erger skuldig. Vreemdelingehaat of -vrees is ook nie ‘n nuwe verskynsel nie. Party Chinese mynwerkers het destyds gedros en is dan “in die bosveld vermoor deur swartes, wat doodbang vir hulle was” (p 68).

    Alfred Milner wou die Afrikaners verander/transformeer. Deur verengelsing moes hierdie “separate, exclusive caste” as ‘n volk met ‘n eie taal verdwyn (p 63). “We must knock the bottom out of the Afrikaner nation for ever and ever” (p 84). Toe Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, Suid-Afrika in 1903 besoek het, het hy gesê: “Any aspirations for a separate Dutch identity … are absurd and ridiculous” (p 65). Milner het ‘n nuwe Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Hier vind ons van die wortels van die inklusiwiteit wat deesdae daagliks aan ons opgedring word. Skole is verengels, maar “Afrikaanse weeshuise het ‘n groot groep kinders Afrikaans gehou” (p 66). Plekname is verengels. “Openbare kennisgewings op stasies en elders was net in Engels, soms ook in ‘n Afrika-taal, maar selde in Hollands” (p 64).

    Na 1902 het die ellende onder Afrikaners geblyk “een van die sterkste dryfvere vir ‘n etniese nasionalisme” te wees (p 66). “Afrikanergevoel en -taalbewustheid [is] in die donker naoorlogse tyd nie uitgedoof” nie (p 71). Met die stigting van ‘n politieke party, Het Volk, in 1904 in Pretoria, is daar besluit “dat ‘n volk wat homself respekteer, nie kan toelaat dat sy taal verdring word nie” en “dat die gebruik van die Engelse taal as enigste offisiële taal veel las en nadeel en onbillikheid veroorsaak” (p 67). “Met argumente oor die onmisbaarheid van die taal vir die voortbestaan van die volk, kerk en godsdiens het Afrikanerpolitici, -predikante, -joernaliste en -onderwysleiers die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en selfs verag … Die taal en godsdiens was al wat hulle [Afrikaners] nog oor het … die taalstryd [het] die houding versterk dat taal deel is van die identiteit van die Afrikaner. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie” (p 75). “As die Afrikaners hul taal verloor, sou hulle sonder spoor in die vergetelheid verdwyn en in ‘n ander nasie opgelos word. Die taal het in die middelpunt gestaan van die stryd om voortbestaan as volk” (p 76).

    Willem Postma het in 1905 geskryf: “‘n Volk sonder taal, of liewer, wat sy taal verag, is ‘n karakterlose volk en kan nie as volk bestaan nie, maar smelt weg in ‘n ander een” (p 98). In 1909 het DJ Kestell gesê: “As jy die Afrikaner sy taal ook ontneem, sou hy ook verdwyn” (p 98). Die Nasionale Party is in 1915 gestig met as uitgangspunt “dat die Afrikaners ‘n volk is wat ‘n eie taal as simbool van sy nasionaliteit moet hê” (p 125). Postma het nasionalisme omskryf as die gehegtheid aan “iemands land, landstaal, sedes en gewoontes” (p 123). Tobie Muller het in 1913 gesê “dat die eerste stap tot die verkryging van nasionale selfrespek in die waardering en ontwikkeling van sy eie taal lê. ‘Die taal … is die intiemste uiting van ons hele nasionale wese’” (p 126). Wat Afrikaners graag wil hoor, is “die eenvoudige, pittige, harttreffende taal van die volk” (p 128).

    Dikwels word beweer, veral deur diegene wat teen die verering van Afrikaans gekant is, dat die Taalmonument in die Paarl (1975) die enigste monument vir ‘n taal in die wêreld is. In werklikheid het hy plaaslik ‘n voorganger, te wete die taalmonument op Burgersdorp, wat in 1893 onthul is (p 30-31). ‘n Belangrike verskil is dat die monument op Burgersdorp Hollands vereer (“De overwinning der Hollandsche Taal”, p 31) en die een in die Paarl Afrikaans. “Pres [MT] Steyn het in Mei 1907 op ‘n taalfees op Burgersdorp gesê daar moet ‘n einde kom aan ‘ons flou meegaandheid [meelewing], ons papbroekigheid.’ Hy het ‘n replika van die taalmonument onthul wat in die Anglo-Boereoorlog verniel en deur die Britte verwyder is. Die verlore monument is in 1939 in King William’s Town gevind, maar sonder die kop en een arm [van die vrouefiguur]. Die beskadigde monument is in 1957 agter die replika op die kerkplein geplaas” (p 76). Die huidige vlaag van standbeeldskendings is dus ook nie iets nuuts nie.

    ‘n Jaar tevore, in 1906, het MT Steyn die volgende beroep op Vrystaters gedoen: “Vrees nie vir die toekoms nie, en moenie skrik vir die las wat u as Afrikaner te dra het nie. Dit is ‘n las wat nie deur u gesoek of deur u gemaak is nie, maar dit is vir u gevorm deur die dwalinge van ander in die afgelope eeu en vir u verswaar deur die hebsug van die teenwoordige tyd … gaan voort op u weg, indien nodig selfs alleen, met die bewustheid dat u doel die geluk van u volk en die voorspoed van u vaderland is” (p 78). Sedertdien is die euwel van hebsug in die nuwe Suid-Afrika aangevul met korrupsie, onkunde, ondoeltreffendheid, onbekwaamheid, gebrek aan toewyding, rassisme, haat, moord, ens. As ‘n mens ‘n katedraal wil bou, moet jy ‘n gat in die grond maak. Heelwat spitwerk is nodig. As die werkers staak en die sement en stene word voor gebruik gesteel, word die uitvoering van hierdie taak tot ‘n onbegonne uitdaging getransformeer.

    MT Steyn het geskryf: “Ik zal nooit tot een constitutie toestemmen waarin de [taal-]gelijkheid niet is neergelegd” en JBM Hertzog “het gesê dat die Afrikaners nooit ‘n skikking sou aanvaar wat twyfel laat oor absolute taalgelykheid en hulle ‘n gevoel van vernedering laat ervaar nie … ‘Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor’” (p 105). Hertzog se “nooit” is verkeerd bewys toe ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes in die jare negentig ingestem het dat Afrikaans tot een van elf amptelike tale afgegradeer kon word, met Afrikaans wat in die praktyk heeltemal ondergeskik aan Engels gestel word. Kontrasteer dit met wat MT Steyn in 1913 geskryf het: “De taal van de veroveraar is in de mond van de veroverde de taal van slaven” (p 120).

    Afrikaners moet weer, soos na die Anglo-Boere-oorlog, hierdie vraag beantwoord: “Moet ons verengels soos die [kwasi-]oorwinnaars dit van ons wil hê?” (p 81). JHH de Waal het “Afrikanerparlementslede gekritiseer wat in die parlement net Engels of oorwegend Engels praat” (p 83). Tans is dit weer die geval dat feitlik geen Afrikaans in die parlement gehoor word nie. Nog ‘n ooreenkoms tussen tóé en nou: “Die Afrikanervolk [toe] beskuldig is van allerlei oortredinge terwyl die Engelse politiek geprys is” (p 82); tans is dit die ANC/swartes wat ten koste van die blankes, veral die Afrikaners, geprys word. ‘n Nuwe politieke bedeling is die soort situasie wat seker in groter mate as enige ander meebring dat mense hulle mantels draai. Dink aan al die oud-Broeders wat by die ANC aangesluit het. Van hulle kan dieselfde gesê word as destyds van die Sappe: “Skeef gegroei van politieke onderdanigheid” (p 124). Nog ‘n ooreenkoms: Vaderlandse geskiedenis is reeds destyds verdraaid aangebied (p 83). Nadat moedertaalonderrig van 1925 af in skole ingevoer is, was daar hierdie verskynsel, wat deesdae ook al hoe meer voorkom: “Heelwat Afrikaanse ouers wou egter hul kinders in Engels laat opvoed” (p 116).

    ‘n Eeu gelede is al besef dat Engels ‘n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans inhou:

    • In 1906 het DF Malberbe verwys na Engelse woorde en idiome wat Hollands/Afrikaans “bij dosijne” binnegedring het (p 76).
    • Die jaar daarna het NM Hoogenhout gesê dat die gemiddelde Afrikaanse huisgesin “‘n toonbeeld oplewer van liederlike taalverbastering” (p 76).
    • WJ Viljoen het ongeveer dieselfde tyd gepraat van “wanluidende koeterwaals”, ‘n “onbeholpenheid in het gebruik van een beschaafde spreektaal,” en “heersende brabbeltaal” (p 77).
    • In 1908 het DF Malan gedink dat Afrikaans die inherente krag het om die indringende Engelse woorde te verwerp (p 96).
    • JJ Smith het in 1927 van oordeel dat die Afrikaanse spreektaal “in baie kringe so ‘n skrikwekkende mate van Engelse beïnvloeding begin vertoon het, dat daar tereg gevrees is vir sy spoedige en algehele verdwyning” (p 77).
    • Tien jaar later het J du P Scholtz gesê daar was ‘n tyd “toe so baie woorde en uitdrukkings uit Engels oorgeneem is dat die gevaar ontstaan het dat Afrikaans sy eie karakter sou verloor. Ook ‘n taal kan op ‘n gesette tyd maar net ‘n sekere aantal vreemde elemente assimileer” (p 77).
    • TH le Roux het in 1953 geskryf dat diegene wat die destydse taaltoestand nie self beleef het nie, volstrek nie besef “hoe diep die deurspekking met Engels in daardie dae inderdaad in die Afrikaans van beskaafde en ontwikkelde Afrikaanssprekende dames en here deurgedring het nie” (p 77).

    In die nuwe Suid-Afrika beleef ons ‘n soortgelyke situasie en daarby een wat jaarliks erger word. Myns insiens kan dit gewyt word aan ‘n gebrek aan selfrespek by sommige Afrikaanssprekendes, wat geen taaltrots het nie. Daarby sit ons met die Afrikaanse Taalraad wat geen poging aanwend om Standaardafrikaans en taalsuiwerheid te bevorder nie. Hy doen eerder die teenoorgestelde deur die mengeltaal Kaaps te steun.

    Hiermee het ek nog net die eerste ses van Steyn se sewentien hoofstukke aan die orde gestel, tot by 1914. Die res sal moet oorstaan tot ‘n moontlike latere geleentheid.

  • Kry 33% afslag op ‘Aweregs’ deur Dan Roodt

    aweregsOns bied ‘n spesiale afslag van 33% aan ons getroue PRAAG-lesers op AWEREGS deur Dan Roodt. As u nog nie dié versameling politieke essays van 544 bladsye besit nie, is dit nou die geleentheid om die boek aan te koop. In etlike boekwinkels kos die boek meer as R300. Lees meer daaroor en bestel op die produkbladsy.

  • Die boek wat van lesers in Suid-Afrika weerhou word

    Twee jaar gelede het PRAAG ‘n boek uitgegee wat in skokkende besonderhede die krisis van Amerikaanse rasseverhoudinge uitbeeld: White Identity: racial consciousness in the 21st century deur Jared Taylor. Die voorwoord is deur dr. Dan Roodt van PRAAG geskryf, waarin hy o.a. sê: “The USA is to South Africa what the USSR was to Cuba. It is our model and intellectual home. In South Africa, the American ideology of multiculturalism has already done as much damage as communism did to Cuba and Eastern Europe, if not more.”

    Onluste in Ferguson, Missouri
    Onluste in Ferguson, Missouri

    Nadat Michael Brown op 9 Augustus 2014 deur ‘n blanke polisieman doodgeskiet is, heers daar onrus en rasse-onluste in Ferguson, Missouri, wat ook dreig om na ander Amerikaanse stede met groot konsentrasies swartes uit te brei. Volgens Jared Taylor het die Amerikaanse rassebeleid wat swartes bevoordeel en blankes benadeel tot ‘n “intense, veglustige rassebewussyn onder swartes” gelei wat nie anders kan as om tot uitbarsting te kom nie. Stede soos Detroit en St. Louis is misdaadhole wat in die geval van Detroit tot ‘n uittog van blankes en die ineenstorting van die munisipaliteit gelei het.

    White_Identity___507814e083a05Weens die plofbaarheid van die inhoud – wat bloot feite is – wou geen boekwinkel in Suid-Afrika White Identity aanhou nie en wou geen koerant boonop die boek resenseer nie. Mnr. Jared Taylor het aan die Yale-universiteit gestudeer en is een van Amerika se bekendste aktiviste vir blanke gelykheid teenoor swartes, asook leier van die beweging American Renaissance.

    Maak seker dat u dié belangwekkende boek nóú bestel – terwyl voorraad hou en terwyl die posdiens weer werk!

    Die boek van 350 bladsye wat duursaam gedruk en gebind is, kos slegs R200. Koop die boek op hierdie bladsy of stuur ‘n epos na inlig@praag.org. Ons aanvaar kredietkaarte, PayPal of direkte betalings na ons bankrekening by ABSA.

  • Die berge treur, hoofstuk 3

    [soundcloud id=’166357908′]

    Hierdie verhaal deur die Franse skrywer Henri Troyat gaan oor die berggids Isaie Vaudagne wat deur sy jonger broer Marcellin aangesê word om saam met hom na die toneel van ‘n vliegongeluk in die Alpe te gaan om die dooie passasiers te gaan besteel. Ná sy eie bergongeluk jare gelede, wou Isaie nooit weer bergklim nie. Nou word hy voor ‘n ongemaklike keuse gestel. Luister saam na dié ongewone verhaal met verruklike beskrywings van die Europese Alpe!

  • Kosie Pretorius meen Pik Botha het mense oor SWA mislei

    Die geskiedenis van Namibië van ontvoogding vanaf Duitse kolonialisme sedert 1884 na soewereine onafhanklikheid in 1990 is een van verlore kanse waarin Suid-Afrika die bal verkeerd gespeel het.

    In die mees onlangse geskiedenis van hierdie multi-etniese land was JWF (Koos) Pretorius ‘n belangrike rolspeler as leier van die SWA Nasionale Party.

    In sy outobiografie “Suidwes-Afrika na Namibië”(2014) verduidelik hy sy rol, mislukkings en frustrasies.

    Suidwes Afrika na Namibië – ‘n politieke bosoorlog deur Koos (JWF) Pretorius. Olimpiade Uitgewers 2014.

    Wie was Kosie Pretorius?

    Kosie Pretorius
    Kosie Pretorius

    Akademies het Pretorius met BA Admissie begin, maar uiteindelik met filosofie en staatsleer aan die Vrystaatse Universiteit voortgegaan en sy MA in Staatsleer behaal.

    In 1983 is hy verkies tot leier van die NP (p. 7) in Suidwes. Ook voorsitter van die uitvoerende komitee in die Blanke Wetgewende Raad. Hy was ook vir 15 jaar lid van die opposisie onder ‘n SWAPO-regering.

    Politieke filosofie

    Sy politieke filosofie is dan ook tipologies van die staatsleer van Herman Strauss aan die destydse Vrystaatse Universiteit. In hierdie variant van die staatsleer as vakwetenskap word die humanistiese aandrang op individuele menseregte (wat verbind is aan ‘n unitêre staat) geringskat en die Christelike regstaatsidee hoog aangeslaan. Binne laasgenoemde konteks moet individuele menseregte, soos verwoord in moderne Handveste van Regte, uitgebalanseer word met gemeenskapsregte.

    So gesien sou dit in die denke van Pretorius beter gewees het om Namibië progressief op die pad van selfstandigheid, uit onderhorigheid, binne die konteks van ‘n etnies saamgestelde federale staat te geplaas het.

    Namibië en etnisiteit

    Namibië is by uitnemendheid ‘n etnies plurale gemeenskap waarvolgens die verskillende gemeenskappe ook verskillende gedeeltes van hierdie land bewoon het.

    In pre-koloniale Namibië was die San/Boesmans die enigste werklik inheemse gemeenskap. Die Koisan/Nama/Damara/Koikoi-mense het toe in die omgewing van die Oranjerivier hulle tuiste gemaak. Die Damaras het die grondgebied van SWA in die 9de eeu betree. Die Herero’s kom eers in die 17de eeu vanaf Oos-Afrika Damaraland binne. Die Afrikaner-boere het in die 19de eeu hulle opwagting gemaak. Die Oorlams/Koisan , met Jonker Afrikaner as die leier, het in die 1830s ‘n verdere toevoeging tot etniese pluralisme gemaak. Die Rehoboth-Basters, die nasate van blanke boere en swart vroue, het binne die SWA-grondgebied ‘n vrye Republiek van Rehoboth tot stand gebring.

    Kolonialisme

    Soos menige ander land, waaronder SA, was SWA die speelbal van kolonialisme en van vreemde sendingaksies. In 1793 annekseer die Kaapkolonie Walvisbaai. Deutsch Südwestafrika is die breinkind van Otto von Bismarck. As direkte gevolg van Wêreldoorlog I neem SA vir SWA in 1915 oor. Kragtens artikel 22 van die Gemenebes van Nasies administreer SA toe SWA as Klas C-mandaatgebied.

    Met die tot niet gaan van die Gemenebes word SWA toe onder die Trusteeskap van die Verenigde Nasies geplaas. In 1971 het die Internasionale Geregshof die gesag van die VN oor SWA gehandhaaf en die administrasie van SWA deur SA as onwettig verklaar.

    In 1977 het die Westerse kontakgroep (Kanada, Frankryk, Wes-Duitsland, die VK en VSA) deur resolusie 435 SWA op die pad na onafhanklikheid geplaas. Hierdie resolusie is in 1988 ‘n stappie verder geneem toe Chester Crocker begin het om resolusie 435 in werking te stel.

    Etniese konflik in Namibië

    Die geskiedenis van Namibië is van meet af aan deur etniese konflikte gekenmerk. In die 1830s was daar die konflik tussen die Herero, Oorlams en Damaras. Die Hottentotrebellie van Hendrik Witbooi het aanleiding gegee tot die Schuts-elitetroepe wat enige verset moes onderdruk en besleg. In 1904 was daar die Herero/Namaqu-rebellie. In 1917 het koning Mandume Ya Ndemufayo van Ovamboland tot verset oorgegaan. Toe in 1959 het die Katutura-opstande SA geruk. Dan volg SWAPO se gewapende verset, met die hulp van Kuba, die Sowjetunie en Angola.

    SA se mistasting

    Pretorius se analise van die politieke oplossing vir ‘n multi-etniese en diepverdeelde SWA is deurspek met voorbeelde, ingevolge waarvan SA die verkeerde politieke resep gevolg het.

    Pretorius plaas die blaam vierkantig op die alliansie van Pik Botha, Marinus Wiechers en tot ‘n mindere mate op Dirk Mudge, wat deur verskillende administrateurs-generaal ondersteun is, waarvan Louis Pienaar en Danie Hough sag daarvan afkom, maar ander soos regter Tienie Steyn nie.

    Hy beskryf Pik Botha met nie-vleiende taal en steun ook op die biografie van Papenfus om Botha te diskrediteer. Pik Botha is ‘n politieke opportunis (p. 2) met dualistiese persoonlikheidseienskappe (p. 18). Sy motivering was nie tussen reg en verkeerd nie, maar om gewild te wees (p. 4). Pik het twee standpunte gelyktydig ingeneem, om almal te probeer tevrede stel en so die NP’s in beide SA en SWA te flous (p. 6). Pretorius haal Ken Owen aan wat skryf dat Pik kon swaai, manipuleer en bluf (p. 15). Hy het aangeleun op die humanistiese en individualistiese mensbeskouing (p. 16). Vir Botha word die onderskeid tussen reg en verkeerd deur meerderheidsteun en nie prinsipieel bepaal nie (p. 18).

    Die werklike Pik het meerderheidsregering saam met die Westerse Vyf bevorder en nie minderheidsregte nie (p. 8). In SA het hy egter verklaar dat “een-mens-een-stem” selfmoord sou wees (p. 9). Pik het eers voor en toe teen PW Botha gedraai toe dit dienstig was … soos ‘n hiëna wat ‘n gewonde leeu bekruip.

    Pretorius beskuldig Botha daarvan dat hy nie met die NP/SWA gesprek gevoer het nie, maar mense in die RSA tog mislei het met uitsprake dat met almal gekonsulteer is (p. 26).

    Slotbeskouing

    Die punt word onderstreep dat as SA betyds begin het om anti-kolonialisme in SA en SWA van stapel te stuur, sodanige politieke aksie die VN van sy venyn kon ontneem het en dat SA binne hierdie konteks groter beweegruimte kon geniet het. Dit geld ook vir die rol van die politieke onderhandelaars uit SA, waaronder Pik Botha.

    Alhoewel Pretorius ‘n meestersgraad in Staatsleer verwerf het, en sy staatkundige insigte gewig dra, is sy outobiografie swak geskryf. Hy ryg sy argumente soos krale in ‘n string aaneen, sonder dat daar geïntegreerde skakels is wat ‘n storie in verhaaltrant vertel.

    Hy is nogal geneig om op voetpaadjies te dwaal, dan skielik oor ‘n paar klippe op ‘n ander pad te spring en ‘n ander pad te bewandel en later weer na reeds behandelde gebeure terug te gryp. So gaan die konteks dikwels verlore.

    Nietemin is Pretorius se Suidwes-Afrika na Namibië ‘n lesenswaardige dokument, omdat dit die subjektiewe verhaal van ‘n belangrike rolspeler is.

    Die geskiedenis van Suider-Afrika kan nie teruggedraai word nie. Maar ‘n mens wonder tog of vroegtydige staatsmanskap binne die konteks van konsosiatiewe demokrasie vir en binne SA, SWA en helaas ook Rhodesië en die Britse protektorate nie ‘n beter oplossing vir die sub-kontinent sou wees, as tans nie? ‘n Konfederale Alliansie van Suider-Afrikaanse state wat elk konsosiatief gestruktureer kon word, sou waarskynlik ‘n totaal ander gesig vertoon het, as die totalitarismes van Sam Njoma, van Mugabe en van Jakob Zuma … en op die verlengde moontlik Malema! Wie weet? Post facto weet mens beter …

  • Die berge treur, hoofstuk 2

    [soundcloud id=’165852178′]

    Hierdie verhaal deur die Franse skrywer Henri Troyat gaan oor die berggids Isaie Vaudagne wat deur sy jonger broer Marcellin aangesê word om saam met hom na die toneel van ‘n vliegongeluk in die Alpe te gaan om die dooie passasiers te gaan besteel. Ná sy eie bergongeluk jare gelede, wou Isaie nooit weer bergklim nie. Nou word hy voor ‘n ongemaklike keuse gestel. Luister saam na dié ongewone verhaal met verruklike beskrywings van die Europese Alpe!

  • Spesiale aanbod: Paul Kruger + gratis Gelofte as logos

    -50% afslag! Vir slegs R200 + posgeld ontvang u hierdie manjifieke hardebandboek van 642 bladsye plus ‘n gratis eksemplaar van Die gelofte as logos, ‘n geloftedagtoespraak van dr. Dan Roodt wat ‘n klompie jare gelede op Naboomspruit gelewer en agterna as ‘n boekie uitgegee is.

    Paul Kruger is waarskynlik die grootste en invloedrykste Afrikaner wat ooit geleef het. In hierdie klassieke biografie wat die resultaat is van ongeveer twintig jaar se navorsing, hier en oorsee, skilder D.W. Krüger ‘n prentjie van Paul Kruger as onverskrokke jong Voortrekker, jagter, boer, vader, kommandant-generaal, stryder vir sy volk en uiteindelike president.

    Paul_Kruger____n_4ace43b92b359In die 1880s behaal Kruger een diplomatieke deurbraak ná die ander en verseker so dat die Transvaal meer onafhanklik as ooit raak. Hy en sy volk word geag deur die grootmoondhede van Europa en bou ook ‘n enorme gevolg in die Engelse gebiede van Suid-Afrika op, in die Kaapkolonie en selfs in Natal.

    Die opbloei van die Zuid-Afrikaansche Republiek onder Kruger was merkwaardig en hy is allerweë vir sy wysheid, verdraagsaamheid en insig geloof. Maar as die onweerswolke van ‘n tweede oorlog teen Brittanje saampak, word Kruger voor die onverbiddelike keuse gestel of hy wil veg of roemloos oorgee.

    Benewens die magdom interessante feite wat in die boek ter sprake kom, bevat dit insgelyks vele lesse vir die hedendaagse politiek en die situasie waarin die Afrikaner hom tans bevind.

    Klik hier onder of kontak ons by inlig@praag.org.

    Paul Kruger-biografie-produkbladsytopcargo отзывы сотрудников

  • Boek of samevatting oor vryheidsgesprek?

    Die vryheidsgesprek op Praag en ander forums (fora?) het die afgelope weke tot ‘n hoogtepunt gekom. Ek weet dis nie die einde van die pad nie, en ons sal mekaar nog baie moet skaaf en rigting gee.

    Maar ek merk ‘n verblydende eensgesindheid op, en ek dink dat daar al hoe meer konsensus ontstaan. Die groot uitdaging is nou om die gesprek uit te brei na mense wat nie internet of e-pos toegang het nie. Ek wens ook ons kon ‘n gebalanseerde en juiste opsomming maak van die konsensusgesprek tot dusver, iets wat dalk ook op papier kon verskyn as hoofstuk 1 van die Afrikaner se segetog na selfbeskikking.

    Ek waardeer die artikels van Anton Barnard en Johan Wingard en Dan se skitterende bydraes, maar kan ons nie iets gekombineerds kry wat as baken ingeslaan kan word nie? Ek vrees die warm gesprekke en goeie gedagtes sal later soos reën in die sand verdwyn. Wie van ons het deesdae tyd om die argiewe te fynkam?

    ‘n Boek hieroor is dalk die antwoord, maar dit vat te lank om te verskyn, en is te duur! om wyd te versprei. Kom ons vra ‘n redaksionele komitee om die pitkos in verteerbare vorm saam te vat.

    social networking advertisingФільчаков прокурор