Swartes se onophoudelike diefstal vernietig grootste perskeboord in Afrika

‘Ek is die teiken, as hulle my doodmaak, het hulle 500 hektaar weiding vir hul beeste. Dit is ‘n daaglikse stryd. Elke oggend as ons wakker word is daar iets gesteel.’

Die Ligthelms se perskes is weg as gevolg van ‘n dorp wat die Steve Tshwete-munisipaliteit langs die grootste geelperskeboord in Afrika opgerig het,” sê mnr. Johan Ligthelm, tussen saamgeperste lippe.

Hy is moeg gesukkel. Moeg om diewe te probeer vastrap wat met kratte perskes bokant hul koppe deur geknipte drade spring. Diewe wat kabels afsny.

Dieselfde diewe wat implemente, sleepwaens en waterkarre gevat en store geplunder het. Wat, nadat hulle sy kweekboompies gesteel het, dit sommer voor in hul eie tuine geplant het.

Hy is ook moeg om in vrees te lewe. “Ek is die teiken, as hulle my doodmaak, het hulle 500 hektaar weiding vir hul beeste. Dit is ‘n daaglikse stryd. Elke oggend as ons wakker word is daar iets gesteel.”

Mnr. Ligthelm het die joernalis vir ‘n halwe dag deur sy plaas geneem, glimlaggend staaltjies vertel oor hoe sy oupa-hulle op die plaas begin het 98 jaar gelede.

Van hoe hy as tienjarige sy eerste Alberta-perskeboompie geplant het en hy 10 sjielings betaal is toe hy sy eerste krat perskes van die boom kon haal. Hy het selfs twéé grade agter sy naam gekry (BA Agric Pomologie) sodat hy sy kennis in die plaas kon inploeg.

Nou is alles daarmee heen, nadat die nuwe Somapepa-woongebied, wat deur die munisipaliteit tussen ‘n klomp boere se plase ‘n paar jaar gelede gebou is, ook misdadigers gelok het.

Mnr. Ligthelm sê die probleme het al drie jaar gelede begin, maar verlede jaar was die ergste ooit. “Die diewe kom pluk saam met die plukkers en as hulle uitgevang word, dan spring hulle dwars oor die agt voet diep gat en hardloop weg, of gee pad in ‘n taxi. Hulle pluk ook vóór ligdag en kry 18 sakke perskes in ‘n taxi, wat altyd langs die pad vir hulle wag.” Vir kilometers kan daar gesien word hoe drade oopgesny is om toegang tot die boorde te verkry.

Boere het gewaarsku

Nadat hy verlede jaar R5,4 milj. verliese gely het weens diefstalle net in die perskeboord alleen, het hy besluit om nie vanjaar weer die perskes gereed te kry nie. “Ek wou nie geld spandeer om werkers te kry om uit te dun of te snoei nie en het maar die beeste ingejaag om die perskes wat aan die bome sit te vreet. My diere is darem spekvet.”

Volgens mnr. Ligthelm “dra ek nou by tot die hongersnood, want daar is 300 mense wat nie tydens die binne-seisoen werk het nie.”

Hy het nog net ‘n paar plaaswerkers wat onder andere na die vrugteboomkwekery en die beeste omsien. Weens die gevaar van aanvalle, moes hy perde aanskaf sodat sy beeswagters per perd die beeste oppas.

Mnr. Ligthelm glo nie hy sal ooit weer perskes te koop kan aanbied nie en sê “om iewers anders oor te begin, sal sowat R50 miljoen kos, want dit is die waarde wat jy hier voor jou sien,” en hy wys oor die boorde, die dam wat hyself vir 16 maande en 16 ure per dag gebou het, en die res van die plaas.

“My hande is afgekap, hoe gaan ons ons 100-jarige bestaansjaar oor twee jaar hier kan vier? Ons kan nooit weer perskes bedryf nie. Ons bly nou net hier in ons eie tronk. Die Ligthelm-perskeboedery is verby. Net ‘n wonderwerk kan ons red.” – Middelburg Observer

Christo Landman, bekende Afrikaneraktivis en -rubriekskrywer sterf

‘n Rubriekskrywer van praag en bekende in Afrikanerkringe, dr. Christo Landman, is gisteraand skielik oorlede. Volgens ‘n e-pos van mev. Marieka Visagie “is hy uit na sy perde toe en het daar blykbaar sleg gevoel en in sy motor gaan lê. Hulle het hom eers baie later opgespoor. Sy seun is gekontak wat hom na die Wilgershospitaal toe geneem het, maar hy het nie weer bygekom nie.”

Dr Christo Landman
Dr Christo Landman

Landman was voorheen ‘n diplomaat en het in Argentinië, Nederland en Duitsland diens gedoen. Ná 1994 was hy ‘n tyd lank by die Vryheidsfront betrokke en was ook lid van die provinsiale wetgewer onder genl. Constand Viljoen se leierskap van dié party. Hy was lid van die Staatsveiligheidsraad onder PW Botha en het daarom oor heelwat binne-inligting oor die wyse waarop die ANC-oorname plaasgevind het beskik.

Benewens sy rubrieke op praag, het hy onlangs ook heelwat briewe aan Beeld geskryf wat indringende kritiek op die huidige bestel bevat. Hy was ook lid van die Afrikaner- strategiese komitee van Afrikanerleiers wat so drie jaar gelede tot stand gekom het.

Die begrafnisreëlings sal glo oor die naweek gefinaliseer word.

In sy onmiddellike reaksie het dr. Dan Roodt van PRAAG gesê:

“Dit is met groot hartseer dat ons van dr. Landman se skielike dood verneem. Hy het altyd lewendig, fiks en gesond gelyk. Nie net ontval ‘n Afrikaneraktivis van formaat ons nie, maar hy was ook ‘n skatkis van kennis oor ons meer onlangse geskiedenis wat nou nooit opgeteken sal word nie. Ons wens sy gade en sy kinders sterkte toe ná so ‘n skokkende en onverwagse verlies.”

Sanders se moordenaars kry ligte vonnis

Die moordenaars van die wêreldkampioenbokser, Corrie Sanders, het ‘n ligte straf ontvang, maar gaan steeds appelleer.

Die drie veroordeelde swart moordenaars gaan appelleer teen die vonnis wat aan hulle opgelê is vir die koelbloedige moord op Sanders, in September 2012.

Die drie is nie tevrede met die ligte tronkstraf wat aan elk van hulle opgelê is in die Pretoriase Hooggeregshof nie.

Regter Ferdi Preller het Paida Fish, Samuel Mabena en Chris Moyo , aldrie Zimbabwiërs, 18 jaar tronktoe gestuur vir moord, 19 jaar vir roof en vyf jaar vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien sal word.

Rupert spreek kommer uit oor plaasmoorde

Volgens dr Johann Rupert is die gedagte dat die verspreiding van rykdom ‘n wondermiddel is teen ongelykheid, ‘n denkfout. Hy het gesê toestande om welvaart te skep, moet eerder bevorder word.

Die sakemagnaat was Dinsdag in Kaapstad ‘n spreker by die FW de Klerk-stigting se konferensie.

Rupert het FW de Klerk bedank vir die “ongewilde stap” van 25 jaar gelede om mag aan die ANC te oorhandig.

“Afrikaners kon hulself vir die eerste keer daarna weer in die oë kon kyk,” het hy gesê.

“De Klerk het geweet hoe ongewild sy besluit sou wees, maar hy het dit gedoen omdat dit die regte ding was om te doen.”

Rupert het egter sy kommer uitgespreek oor plaasmoorde. Hy het gesê boere voel onveilig op plase en moet meeding met landboumarkte oorsee wat gesubsidieer word.

“Minister Senzele Zokwana [van landbou, bosbou en visserye] is vir alle praktiese doeleindes eintlik minister van voedselsekerheid,” het hy gesê.

“Wanneer kos hier van die tafel verdwyn, sal daar ‘n volle revolusie wees. Ek is self ‘n boer. Dit is nie vir sussies nie.

“Hulle word gemoor, daar is geen sekuriteit nie en hulle is geneig om gewelddadig aangeval te word en hul eiendomsreg word bedreig.”

Die [swart] massas sonder vaardighede wat nie in diens geneem kan word nie, verteenwoordig ‘n “nuwe vorm van slawerny” het hy gewaarsku.

Rupert het Zelda la Grange, Mandela se voormalige persoonlike assistent, verdedig wat met haar twiets onlangs ‘n rassestorm ontketen het.

Hy het gesê kritiek deur wittes word telkens as rassisties afgemaak.

Hy het ook uitgevaar teen die Russiese leier en president Zuma skalks met hom vergelyk: “Jy kies óf ’n grondwetlike bestel met die oppergesag van die reg óf jy sit met ’n (Vladimir) Poetin-tipe situasie.”

Derby-Lewis wend hom tot De Kock se regsverteenwoordiger

Clive Derby-Lewis se vrou, Gaye, het aangekondig dat Julian Knight, wat vroeër die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock verteenwoordig het, voortaan as haar man se regsverteenwoordiger sal optree.

Derby-Lewis het Dinsdag bewerings ontken dat hy sy vorige prokureur Marius Coertze versoek het om die minister van korrektiewe dienste te dagvaar vir R2 miljoen.

“Dit het nooit gebeur nie,” het Derby-Lewis in ‘n verklaring gesê. “Ek het hom nooit opdrag gegee om die minister of enigiemand anders by die departement te dagvaar nie.”

Derby-Lewis het gesê hy het ‘n e-pos aan minister Michael Masutha se woordvoerder gestuur om hom in kennis te stel dat hy nie die opdrag aan sy prokureur gegee het nie, en het om verskoning gevra oor die verkeerde inligting.

Coertze verteenwoordig sedert Sondag nie meer vir Derby-Lewis nie.

Masutha het Vrydag aangekondig dat Derby-Lewis se aansoek om mediese parool afgekeur is. De Kock se aansoek is goedgekeur.

Alhoewel die mediese paroolraad aanbeveel het dat hy vrygelaat moet word, het Masutha ‘n naamkwessie op Derby-Lewis se mediese verslae voorgehou as ‘n verskoning om Derby-Lewis in die tronk te hou.

Derby-Lewis is deur die owerhede self versoek om ‘n skuilnaam op sy mediese verslae te gebruik, iets wat die minister nou probeer uitbuit tot sy voordeel.

Die minister het die paroolraad veroordeel dat die vrylating voorgestel word, aangesien Derby-Lewis slegs fase 3-longkanker het. Volgens wetgewing kwalifiseer glo slegs diegene met fase 4-longkanker.

De Kock ly egter aan geen kwaal nie.

Masutha het ook gesê hy is nie oortuig dat Derby-Lewis ware berou toon nie.

Clive Derby-Lewis is vir die moord veroordeel nadat ‘n regsverteenwoordiger wat sy dienste “gratis” aangebied het, hom aangeraai het om nie oor sy onskuld te getuig nie, ‘n fatale fout.

‘n Filmmaker het vroeër gesê hy is bewus van sekere regslui wat deur die ANC en hul meelopers aangewend word om sake “te gooi” in hul guns en hulself dan as simpatiek voordoen en gratis hul dienste aanbied. Die bekende regisseur wou anoniem bly, maar het aan Praag bevestig dat hy meen dat Derby-Lewis se geval soorteglyk is.

Die sogenaamde getuie, ‘n swart vrou, wat vertel het dat Derby-Lewis die wapen verskaf het, is volgens ander getuies afgedreig aangesien sy nie die oorhandiging sou kon sien plaasvind van waar sy beweer het sy was nie. Getuies wat haar leuens sou kon weerlê, is verhoed om te getuig.

Janusz Walus, ‘n Poolse immigrant, het die leier van die SAKP, Chris Hani, op 10 April 1993 doodgeskiet.

Hy is skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel, maar dit is na lewenslank verander toe Suid-Afrika die doodstraf afgeskaf het.

Bekende egpaar verwag eersteling

Die bekende Afrikaanse sanger-akteur paartjie wat verlede jaar in die geheim afgehaak het, spog nou met nog opwindende nuus.

Bok van Blerk en sy vrou Hanna Grobler, verwag hul eerste pienkvoet in Junie.

Van Blerk is bekend vir sy treffer oor die Boeregeneraal Koos de la Rey.

Die gewilde sanger het in Januarie malaria opgedoen tydens ‘n vakansie in Mosambiek. Hy was reeds terug in SA vir optredes toe hy die simptome opgemerk het en behandeling gekry het.

Jenny Griesel, woordvoerder van die glanspaar, het Sondagoggend die swangerskap aan Rekord bevestig.

“Hanna is nou 19-weke swanger en dit is ’n seuntjie. Hulle is baie gelukkig en opgewonde vir die nuwe seisoen in hul lewens,” het sy gesê.

Bron: Rekord Noord

CDL en twee ander hoor vandag oor parool

Die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock en ‘n voormalige BSB-agent Ferdi Barnard, sowel as Clive Derby Lewis sal vandag weet of hulle op parool vrygelaat gaan word, het RSG berig.

Die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Micheal Masutha sal vanoggend aankondig of die 79-jarige Derby-Lewis se aansoek om mediese parool toegestaan word.

Hy sal ‘n aankondiging maak oor die ander twee se parool-aansoeke.

PUK: Huiskomiteelede van Hombré-manskoshuis ‘van hul pligte onthef’

Sewe huiskomiteelede van Hombré-manskoshuis is voorlopig van pligte onthef, berig die NWU-PUKKE se Facebookblad. Voortspruitend uit die ondersoek wat van stapel gestuur is ná die insident waartydens eerstejaarstudente van die Hombré Manskoshuis na bewering betrokke was in ʼn onderonsie met ʼn senior personeellid, is sewe lede van die huiskomitee laat gistermiddag voorlopig van hul pligte onthef, en moes hulle die betrokke koshuis ontruim. Die primarius van die koshuis is nie een van die bogenoemde sewe HK-lede nie, en twee ander HK-lede (o.a. die onderprimarius) het self besluit om te bedank.

Alternatiewe verblyfreëlings op die universiteit se onkoste is vir dié studente getref.

Die rede vir dié stappe is om seker te maak dat die ondersoek behoorlik gedoen kan word en om enige moontlike intimidasie vanuit welke oord of inmenging met die ondersoek te voorkom. Die integriteit van die ondersoek moet ten alle koste beskerm word, en studente wat nié by die beweerde insident betrokke was nie, moet geïdentifiseer en beskerm word. Die ondersoek na beweerde wangedrag deur eerstejaarstudente gaan ook steeds voort.
Reëlings sal getref word om ʼn tussentydse leierskapstruktuur in die koshuis te vestig.

Die insident het op 21 Januarie teen ongeveer 07:30 voor die Institusionele Kantoor plaasgevind toe die 53 jaar oue personeellid probeer het om tussen die groep studente deur te beweeg. Hulle het na bewering probeer keer dat hy tussen hulle deurloop, en in die proses het hy ʼn rugbesering opgedoen. Lede van die huiskomitee was teenwoordig ten tyde van die voorval.

Universiteit van Stellenbosch binnekort ‘swart en Engels’: viserektor

Die Universiteit van Stellenbosch beskik reeds oor meer swart studente as die Engelstalige Universiteit van Kaapstad, met 50% teenoor 44%. Ook is die universiteit besig met ‘n aggressiewe verengelsingsprogram om sy aanbod van Engelse lesings en kursusse tot 75% van die totaal op te stoot.

“In 2011, toe ons met tolkdienste begin het, is 65% van alle modules nog in Afrikaans aangebied en 45% in Engels, maar sedertdien is die Engelse modules tot 58% verhoog. Ons beoog om dit (Engelstalige lesings) tot 75% van alle modules in albei tale op te stoot,” sê professor Arnold Schoonwinkel, die viserektor: leer en onderrig van dié universiteit.

maties2
Maties luister na ‘n verwelkomingstoespraak wat vir hulle na Engels getolk word. Binnekort sal tolkdienste nie meer nodig wees nie, want die universiteit sal Engels en swart wees.

Stellenbosch volg die voorskrifte van die minister van hoër onderwys en sekretaris-generaal van die SA Kommunisteparty, Blade Nzimande, top op die letter na. Hy het onlangs kritiek uitgespreek dat sowel Stellenbosch as Pochefstroom “nie vinnig genoeg transformeer nie” en geëis dat ‘n plan ingestel word om die kampusse so gou moontlik te verengels en te verswart, iets wat Stellenbosch nou met mening begin toepas.

CDL hoor vandag oor sy parool-aansoek

Die politieke gevangene, Clive Derby-Lewis, se regsverteenwoordiger sal na verwagting vanoggend in Pretoria ‘n aankondiging doen oor sy aansoek om mediese parool.

Die onskuldige slagoffer van die moordaanslag deur ‘n Pool, Janusz Walus op die SAKP-leier, Chris Hani, is die afgelope meer as 20 jaar reeds in die tronk nadat hy deur “gratis regshulp” aangeraai is om nie te getuig om sy onskuld te bewys nie.

Derby-Lewis het verskeie kere onsuksesvol om parool aansoek gedoen. Hy ly ondermeer aan kanker en is reeds twee keer in die tronk aangeval.

Verlede maand het die Hooggeregshof in Pretoria beslis dat die mediese paroolraad Derby-Lewis se regspan teen Saterdag oor sy beslissing moet inlig.

Sy regsverteenwoordiger, Marius Coertze, sê hy het intussen die nodige dokumente van die raad ontvang.

Steve mag nie by KKNK optree nie

Steve Hofmeyr sal verhoed word om vanjaar by die ABSA KKNK op te tree. Die KKNK se bestuur het op Facebook verklaar dat hulle Hofmeyr se optredes by die KKNK sal afkeur.

Die KKNK het reeds verskeie navrae ontvang oor hoekom Hofmeyr nie op vanjaar se program is nie.

“Die Absa KKNK is trots Afrikaans én Suid-Afrikaans en daarom is ons verhoë eerder beskikbaar vir inhoud wat ons help om brûe te bou.”

Die KKNK se borge probeer klaarblyklik steeds vir Hofmeyr as ‘n “rassis” swartsmeer nadat hy op 23 Oktober op Twitter geskryf het: “Sorry to offend but in my books blacks were the architects of apartheid. Go figure.”

Sy twiet is deur Boerehaters as ‘n geleentheid gesien om hom skade te berokken en sy konserte te ontwrig.

‘n Kwaadwillige en lasterlike veldtog is deur ‘n middelmatige buikspreker met ‘n kwynende gehoor geloods, wat Hofmeyr se borge gekontak het in ‘n poging om die Afrikaans is Groot-konsert te ontspoor.

Die konsertreeks was in weerwil van die aanval ‘n reusesukses.

Hofmeyr is verlede jaar ná die Innibos-fees insgelyks deur ‘n soortgelyke groepie kwaadstekers aangeval nadat hy Die Stem gesing het.

Ná die KKNK se kommentaar is die blad oorval van kommentaar deur mense wat aangedui het dat hulle nie die fees gaan bywoon nie.

Pierré Jordaan skryf: “Dis ʼn hartseer dag vir kunste in Suid-Afrika. Kunste behoort neutraal te staan en nie kant te kies nie. Van wanneer af word ‘n kunstenaar se sienings gebruik wanneer hul genooi word? Het ons nou ‘n ‘Big Brother’ nodig om vir ons te besluit?”

Jacques Oosthuizen skryf: “Dis baie ruggraatloos van julle. Ek sal verseker nooit weer in die toekoms na die KKNK toe gaan nie. Totsiens van trotse Suid-Afrikaner en ek sal by Steve Hofmeyr staan solank as wat ek leef.”

Hofmeyr het die benepenheid sensuur van die KKNK-bestuur betreur. “Hierdie is moontlik die eerste keer dat dié kunstefees aan hul kunstenaars wêreldbeskouings voorskryf. Dit is ʼn tragedie,” het Hofmeyr gesê. “Maar niks sal my weghou van my lojale gehore nie. Ons sal elders daardie vryhede moet geniet.”

Bejaardes in jongste plaasaanval gemartel

‘n Tagtigjarige boer van De Wildt in Noordwes, is die jongste plaasmoordslagoffer wat gemartel is in ‘n aanval deur drie swartes.

‘n Polisiewoordvoerder het Woensdag die aanval bevestig, en gesê hulle ondersoek ‘n saak van roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, en poging tot moord.

Hannes van der Merwe het Dinsdag ‘n kilometer ver, in ‘n erg beseerde toestand, gestrompel om hulp by die bure te ontbied. Die swart aanvallers het Van der Merwe met ‘n byl aangerand en ‘n strykyster gemartel.

Van der Merwe is Dinsdagoggend buite die huis deur drie gewapende swartes oorval en aangerand met ‘n byl. Hy en sy vrou Annetjie (76) is daarna in die slaapkamer vasgebind.

Sy vrou het hulp per noodradio ontbied, maar is oor die kop geslaan waarna die radio uit die muur geruk en stukkend gegooi is, het sy buurvrou gesê. Die aanvallers het die bejaarde boer daarna met strykyster gemartel vir sy kluis se sleutels.

Die swartes het vuurwapens, ammunisie en ander waardevolle besittings geplunder en die eienaars se voertuigbande stukkend gesteek voor hulle op die vlug gelsaan het, sodat Van der Merwe moes loop om hulp te ontbied.

Die egpaar word tans in die Mediclinic in Brits behandel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Katz en Rubinstein braai vir Sunette Bridges oor ‘rassisme’

Twee Kaapse regsgeleerdes, Anton Katz en Brigit Rubinstein, het gister in die Wes-Kaapse Hooggeregshof namens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie teen die sangeres Sunette Bridges opgetree. Advokaat Anton Katz het aan die hof gesê dat dit gaan om die Grondwet en dat niemand in die land “haatspraak mag pleeg nie”.”As hierdie voorbeelde getuienis van haatspraak is, speel Sunette Bridges woer-woer met die Grondwet,” het Katz gesê. “Is hierdie voorbeeld getuienis van haatspraak of nie? Dis wat die hof aan ons moet sê.”

Brigit Rubinstein van Cliffe Dekker Hofmeyr
Brigit Rubinstein van Cliffe Dekker Hofmeyr

Me. Brigit Rubinstein, ‘n vennoot van Cliffe Decker Hofmeyr, “adviseer” die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor die saak teen Sunette Bridges en sy is gister by die hof saam met Tammy Carter van die SAMRK afgeneem.

Volgens Rubinstein, het sy en die Menseregtekommissie Bridges “in die openbaar versoek om die saak te hanteer. Die SAMRK verkies dat dit deur bemiddelling geskied, dat sy verantwoordelikheid neem vir die plasings wat sy [op Facebook] gemaak het en dié wat sy as rassisties beskou, moet uitwis.”

Advokaat Paul Kruger, wat as prokureur vir Bridges optree en wat voorheen in die Boeremagsaak namens verskeie aangeklaagdes opgetree het, meen dat sy kliënt nie rassisties is nie en nie verantwoordelik gehou kan word vir die uitlatings van ander op haar Facebookblad nie.

“My kliënt word verantwoordelik gehou vir kommentaar wat deur ander gemaak is. Sy het self nooit die k-woord gebruik, of Adolf Hitler aangehaal nie,” het hy in die hof gesê nadat Katz twee voorbeelde aangehaal het van ander mense wat op Bridges se Facebook gereageer het.

Paul Kruger het buite die hof verklaar:

“Ek dink nie sy kan verantwoordelik gehou word vir dinge wat ander mense op haar Facebookblad kwytraak nie, ten minste nie voor die voet, onbepaald en onvoowaardelik nie.

“Dié kwessies moet deur die hof tydens die volgende sitting op ‘n deskundige manier ondersoek word, en ek is bly dat die regter daardie beslissing gevel het.”

Sunette Bridges vandag in Kaapse Gelykheidshof oor ‘rassisme’

‘n Skouverhoor soos dit destyds in die Sowjetunie en ander Oos-Europese lande gehou is, begin vandag in die Wes-Kaapse Gelykheidshof waar Sunette Bridges teregstaan op klagtes van “rassisme” en “haatspraak”.Die saak is deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie teen haar aanhangig gemaak. Volgens die woordvoerder van die kommissie, Isaac Mangena, “ontvang (hulle) reeds jare lank klagtes oor die rassistiese inhoud van Bridges se Facebook-bladsye.

“Daar kan geen twyfel wees dat daar uitlatings was wat so rassisties en skadelik is dat dit nie beskerm word nie en daarom deur die hof gestraf behoort te word.

“Rassistiese en haatdeurtrekte kommentaar behoort nie toegelaat te word om in die openbare domein te gedy nie,” meen Mangena.

Media wat gister probeer het om Bridges te bereik, kon nie daarin slaag om haar mening in te win nie.

Een van die klagtes het te make met ‘n grappie wat Bridges vier jaar gelede op haar Facebookblad gemaak het en waarin sy haar tuiner ‘n “groenie” genoem het, blykbaar in die volgende sin:

…van al die instrumente wat daar is om mee REGUIT te bou – ’n waterpas, profiele, maatband, fishline, Square – is ’n sambok wraggies die enigste ene wat vir hierdie Groenie van my werk hoor!!! EISH!!!!!Sx.

Volgens TimesLive is daar “behoefte aan ‘n presedent om kommentaar op sosiale media te reguleer weens die persepsie dat rassehaatspraak aan’t toeneem is”.

Enkele ekstreemlinkse groepies op Facebook, wat self haatveldtogte teen Afrikaanse openbare figure voer, is besig om die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie met klagtes te oorval. Daarom het die Kommissie verlede week aangekondig dat “klagtes oor rassistiese plasings (op sosiale media) nou 20% van alle klagtes uitmaak”.

Klik asb. op ons petisie hier bo ten gunste van spraakvryheid vir Afrikaanse aktiviste.