Bekende egpaar verwag eersteling

Die bekende Afrikaanse sanger-akteur paartjie wat verlede jaar in die geheim afgehaak het, spog nou met nog opwindende nuus.

Bok van Blerk en sy vrou Hanna Grobler, verwag hul eerste pienkvoet in Junie.

Van Blerk is bekend vir sy treffer oor die Boeregeneraal Koos de la Rey.

Die gewilde sanger het in Januarie malaria opgedoen tydens ‘n vakansie in Mosambiek. Hy was reeds terug in SA vir optredes toe hy die simptome opgemerk het en behandeling gekry het.

Jenny Griesel, woordvoerder van die glanspaar, het Sondagoggend die swangerskap aan Rekord bevestig.

“Hanna is nou 19-weke swanger en dit is ’n seuntjie. Hulle is baie gelukkig en opgewonde vir die nuwe seisoen in hul lewens,” het sy gesê.

Bron: Rekord Noord

Kurt Darren belê in stamselbewaring

Met hedendaagse mediese deurbrake wat vinnig vorder, het die omstrede sanger Kurt Darren en sy vrou, Dunay besluit om hul eerste kind se stamselle as ‘n “waardevolle vorm van versekering vir haar toekomstige gesondheid” te laat bewaar.

Darren sê in ‘n verklaring dat hy en sy vrou die besluit om hul kind se stamselle te laat bewaar lank voor die geboorte van hul dogtertjie Kyrah op 10 November gemaak het.

“As jy iets ekstra kan doen om te help verseker dat jou kind ‘n beter kans het op ‘n gesonde en gelukkige lewe, waarom sou jy nie dit doen nie?” het Darren gesê.

“Die belangrikste ding vir enige ouer is om te weet dat hul kinders veilig is. Deur die bewaring van hul stamselle, het jy die gemoedsrus om te weet hulle sal ‘n baie beter kans hê om die huidige en toekomstige stamselbehandelings te kan geniet wat op ‘n dag hulle lewens mag red. Dit is ‘n baie waardevolle belegging om te maak.”

Die Darrens het ‘n Pretoriase maatskappy gebruik wat glo die gehalte van die naelstringweefsel wat gebruik word, waarborg.

Vir meer as ‘n dekade is dit reeds moontlik om ‘n baba se naelstring by geboorte te behandel om bloedstamselle te bewaar vir toekomstige mediese gebruik.