Steve mag nie by KKNK optree nie

Steve Hofmeyr sal verhoed word om vanjaar by die ABSA KKNK op te tree. Die KKNK se bestuur het op Facebook verklaar dat hulle Hofmeyr se optredes by die KKNK sal afkeur.

Die KKNK het reeds verskeie navrae ontvang oor hoekom Hofmeyr nie op vanjaar se program is nie.

“Die Absa KKNK is trots Afrikaans én Suid-Afrikaans en daarom is ons verhoë eerder beskikbaar vir inhoud wat ons help om brûe te bou.”

Die KKNK se borge probeer klaarblyklik steeds vir Hofmeyr as ‘n “rassis” swartsmeer nadat hy op 23 Oktober op Twitter geskryf het: “Sorry to offend but in my books blacks were the architects of apartheid. Go figure.”

Sy twiet is deur Boerehaters as ‘n geleentheid gesien om hom skade te berokken en sy konserte te ontwrig.

‘n Kwaadwillige en lasterlike veldtog is deur ‘n middelmatige buikspreker met ‘n kwynende gehoor geloods, wat Hofmeyr se borge gekontak het in ‘n poging om die Afrikaans is Groot-konsert te ontspoor.

Die konsertreeks was in weerwil van die aanval ‘n reusesukses.

Hofmeyr is verlede jaar ná die Innibos-fees insgelyks deur ‘n soortgelyke groepie kwaadstekers aangeval nadat hy Die Stem gesing het.

Ná die KKNK se kommentaar is die blad oorval van kommentaar deur mense wat aangedui het dat hulle nie die fees gaan bywoon nie.

Pierré Jordaan skryf: “Dis ʼn hartseer dag vir kunste in Suid-Afrika. Kunste behoort neutraal te staan en nie kant te kies nie. Van wanneer af word ‘n kunstenaar se sienings gebruik wanneer hul genooi word? Het ons nou ‘n ‘Big Brother’ nodig om vir ons te besluit?”

Jacques Oosthuizen skryf: “Dis baie ruggraatloos van julle. Ek sal verseker nooit weer in die toekoms na die KKNK toe gaan nie. Totsiens van trotse Suid-Afrikaner en ek sal by Steve Hofmeyr staan solank as wat ek leef.”

Hofmeyr het die benepenheid sensuur van die KKNK-bestuur betreur. “Hierdie is moontlik die eerste keer dat dié kunstefees aan hul kunstenaars wêreldbeskouings voorskryf. Dit is ʼn tragedie,” het Hofmeyr gesê. “Maar niks sal my weghou van my lojale gehore nie. Ons sal elders daardie vryhede moet geniet.”

Oudtshoorn in waterkrisis gedompel

Die Oudtshoorn-munisipaliteit in die Klein Karoo, sê hulle het die nodige stappe gedoen met om kritiese watertekorte die hoof te bied nadat vandale boorgatstasies beskadig het.

Die dorp is afhanklik van boorgatwater om sy huidige waterbehoeftes aan te vul.

Die optrede deur vandale het nou die watersituasie in dorpe soos Dysselsdorp en De Rust vererger.

Munisipale vragmotors vervoer water na inwoners wat geraak word.

Waterbesparingsmaatreëls moet intussen in hierdie gebiede geïmplementeer word.

Die munisipaliteit se waarnemende direkteur van tegniese dienste, Paul Muller sê: “Die watertekortsituasie in Dysselsdorp, De Rust en die Klein Karoo se landelike tydelike area-aanbodskema  het kritiek geword.”

“Waterbesparingsmaatreëls moet in hierdie gebiede geïmplementeer word. Dit is te danke aan vandalisme van munisipale eiendom, verkwisting en uiters hoë gebruik van water sowel as die skade aan toerusting,” het Muller gesê.

Hy het nie die sondebokke uitgewys nie.

‘PW het niks vir eie gewin gedoen nie’

Oudpres. PW Botha het geweier dat belastinggeld vermors word om ’n ondergrondse bunker by sy aftreehuis in Wildernis te bou.

Barbara Botha, sy weduwee, het pres. Jacob Zuma se bewering dat die staat destyds die lughawe in George gebou het omdat Botha daar gewoon het, as snert afgemaak.

Botha se weduwee het aan Media24 vertel dat daar planne opgetrek was om ‘n bunker by Die Anker, die Bothas se aftreehuis in Wildernis, in te rig as ‘n veiligheidsmaatreël.

“Hulle het gesê die departement is besig om ondergrondse kamers by verskeie BBP’s se huise regoor die land in te rig, maar PW het net geweier. Hy het gesê dit is ’n mors van geld,” het sy gesê.

Botha het Die Anker eers in die laat sewentigs gekoop ná die besluit om die lughawe te bou, reeds geneem is.

Vandag gebruik meer as 560 000 passasiers jaarliks die lughawe.

“PW het niks vir eie gewin gedoen nie,” het sy weduwee ontstoke gesê.

Luidens die Hansard het Lourens Muller, destydse minister van vervoer, op 8 Februarie 1977 in ’n parlementêre antwoord gesê die lughawe word gebou deur die Suid-Afrikaanse lugmag, die departement van openbare werke en die departement van vervoer “vir die verskaffing van ’n meer gereelde en gerieflike lugdiens tussen gemeenskappe in die Suid-Westelike distrikte en die res van die Republiek asook vir strategiese verdedigingsdoeleindes.”

Die regering in Maart 1973 besluit om die lughawe te bou en dit is in Junie 1977 voltooi.

Daar is oorweeg om die lughawe in Oudtshoorn te bou, maar “uit ’n praktiese en veiligheidsoogpunt” is daar op George besluit, het Muller gesê.

Frans Swarts (94), SAL-hoof toe die lughawe gebou is, het aan Media24 gesê vlugte het destyds gesukkel met weerstoestande in Kaapstad en kon weens lae wolke nie in Kaapstad land nie. Daar was nie vandag se moderne toerusting om sulke hindernisse te oorkom nie.

Vlugte moes noodgedwonge dan in Bloemfontein land en dus was die lughawe in die Suid-Kaap ‘n noodsaaklikheid om ’n alternatiewe landingsplek te hê wanneer Kaapstad nie beskikbaar was nie.

Hennie Smit, wat van 1981 tot 1983 LPR vir George was en later vir Botha as LV vir George opgevolg het, het gesê daar was geen druk van Botha se kant om die lughawe te bou nie.

“Inteendeel, hy (Botha) het destyds ’n onafhanklike komitee aangestel om te kyk waar die beste plek is om die lughawe te bou. Daar is gekyk na Mosselbaai, ­George en Oudtshoorn. Verskeie faktore, waaronder veiligheidsoorwegings en weersomstandighede, is in ag geneem.”

Volgens Smit wou Botha gehad het dat die lughawe na die destydse minister van vervoer, Louw­rens Muller, vernoem word.

Nkandla is ’n privaatwoning en die lughawe is in staatsbesit, het kritici gesê.

‘Militêre opstand teen die SAPD’

ratel
Ratel se kamoeflering afgehaal

Die weermagvakbond, Sandu, het bewerings oor ‘n dronk generaal se magsmisbruik veroordeel.

Die voorval dui op ‘n magstryd wat tussen die polisie en die weermag heers en wat tot verdere onverkwiklikhede kan lei sê ontleders.

Nòg die polisie, nòg die weermag wou egter uitbrei oor die voorval wat sommige polisielede as ‘n “militêre opstand teen die SAPD” beskryf.

Sandu sê die generaal het glo gepantserde voertuie en 120 soldate van die basis gemobiliseer om ander soldate en senior offisiere uit aanhouding te bevry.

Die polisie het die weermaglede by ‘n onwettige sjebeen in hegtenis geneem.

Die SANW-generaal wat lede van die weermag en twee Ratels gemobiliseer het om die 32 soldate te bevry, kan dalk geskors word, sê sommige bronne.

Die polisie het hulself glo toegesluit en bewapen toe die Weermag opdaag, maar geen skote is geskiet nie.

Die woordvoerder van Sandu, Pikkie Greef sê hulle oorweeg dit om ‘n klag van opstoking teen die generaal te lê.

Die polisie het intussen bevestig dat 31 mense Vrydagaand by ‘n sjebeen in hegtenis geneem is en dat aanklagte van intimidasie teen drie mense ondersoek word.

Die ontsetting van die soldate het by die Weermagbasis op Oudtshoorn oor die naweek gebeur.

Luidens mediaberigte was die generaal onder die invloed van drank toe hy die soldate, onder wie ‘n kolonel en ander offisiere, uit polisie-aanhouding gaan “red” het.

Die offisier kan binnekort aangekla word van dwarsboming van die gereg, misbruik van staatseiendom en magsmisbruik.

Hy kan selfs summier in hegtenis geneem word en lewenslange tronkstraf opgelê word weens die erns van die klag omdat hy as senior offisier homself as verhewe bo die reg beskou het, sê een militêre kenner.

Die offisier was glo Brigadier-generaal Xolani Mankayi van Pretoria.

Alhoewel die polisie intussen die gebeure bevestig het, het die SANW se infanterie-bevelvoerder enige kennis van die voorval ontken.

 

 

Sonja Laxton ernstig beseer in tref-en-trap

Elana Meyer en Sonja Laxton
Elana Meyer (1992 se Silwermedaljewenner by die Olimpiese Spele in Barcelona) en Sonja Laxton

Die oud-Springbok- Sonja Laxton is ernstig beseer in ’n tref-en-trap-ongeluk in Johannesburg.

Sy is in Melrose by ’n verkeerslig deur ’n voertuig getref wat ’n rooi verkeerslig verontagsaam het.

Laxton (nooiensvan Van Zyl) was in haar kinderjare ’n inwoner van Oudtshoorn en was van sub A tot standerd 4 ’n leerling van die Laerskool Van Reede. Haar pa was die magistraat op die dorp.

‘n Verdagte sal vanoggend in die Hillbrow landdroshof verskyn op ‘n aanklag van roekelose bestuur.

Laxton is Sondagoggend raakgery in Rosebank in Johannesburg. Die 65-jarige Laxton was sowat ‘n kilometer van haar huis op die hoek van Glenhove en Oxfordstrate toe sy getref is.

Sy het verskeie beserings opgedoen en word tans in die Milpark hospitaal behandel.

Laxton, wat al langer as vyf dekades aan atletiek deelneem en meer as 70 nasionale titels verower het, is die eerste atleet wat nasionale kleure vir baan-, pad- en veldwedlope verower het.

Die motorbestuurder het glo weggejaag, maar is kort daarna deur lede van ’n veiligheidsmaatskappy aangekeer.

Laxton is met veelvuldige beenbreuke in die Milpark-hospitaal opgeneem waar sy waarskynlik vandag en môre verskeie operasies sal moet ondergaan.