Moet net nie wit wees nie

Twee nuusbrokkies het die afgelope dae miskien die aandag van ‘n paar belangstellendes getrek. Ons laat vireers maar die afgryslike plaasmoorde daar wat ons daaglikse deel geword het.

Die eerste nuusitem handel oor Ruvé Van Rooyen. Ruvé Van Rooyen was die Vrystaat se nommereenkandidaat in die onlangse matriekeksamen met ‘n gemiddelde van 96%. (99% in wiskunde). Die berig lui dat Ruvé toelating geweier is tot studie aan die mediese skool van die Universiteit van die Vrystaat. Natuurlik nie die eerste keer dat so-iets gebeur nie.

Eers was daar ‘n kleitrappery oor haar aansoek tot toelating wat sg. «weggeraak» het en toe weer dat haar heraansoek, «te laat» ingedien was. Intussen kan ‘n mens jou laaste sent verwed dat nie een van die Sipho’s se 40%-gemidddelde -aansoeke «weggeraak» het nie. ‘n Mens kan maar net wonder hoeveel van die kandidate wat wel tot die mediese skool toegelaat is, se pasiënte gaan ook mettertyd «wegraak» weens septiese wonde en verbroude operasies. Dis ook interessant dat hulle nie die moed van hulle oortuiging het om prontuit te erken dat Ruvé weens haar velkleur geweier is nie. («Moed van ‘n mens se oortuiging» is waarskynlik nie deel van hulle kultuur nie.)

Die ander berig is dat die Blou Bulle se wedstryde verlede jaar die swakste bywoningsyfer in dertien jaar gehad het. Dit geld die Superreeks- en Curriebekerwedstryde, die hele kaboedel. Die verduideliking van die beherende mafia is dat die toeskouers nie belangstel wanneer hulle span net heel tyd verloor nie. Kan seker so wees, maar daar kan ook ander redes wees. Miskien kan ‘n mens ook vra wáárom hulle dan die heeltyd verloor.

Wat vir ons van belang is, is dat rugby die suiker om die bitter pil was deur middel waarvan die «Nasionale» Party-regering die «nuwe» Suid-Afrika aan die publiek verkoop het. Iets in die trant van «as julle internasionale rakbie wil speel en kyk, dan moet julle eers julle selfbeskikking prysgee». En ongelukkig het die 7-delaanbrigade (die meederheid) daarvoor geval.

Nou wil dit voorkom asof rugby vanself ‘n stille dood wil sterf, ten spyte van, of miskien te danke aan die «nuwe» Suid-Afrika. In weerwil van wat die rugbysegsmanne te sê het, lyk dit na gesonde verstand dat die werklike rede vir afnemende openbare belangstelling gesoek moet word in die kwotastelsel wat al hoe meer deel word van die Suid-Afrikaanse rugbytoneel. Rugby sal nooit weer rugby wees nie voor ons weer ‘n eie land het of dan ten minste ‘n land waar velkleur nie ‘n kwalifikasie is vir universiteitstoelating of insluiting in ‘n sportspan nie. Teen die tyd dat laasgenoemde gebeur, sal rugby waarskynlik net nog ‘n vae herinnering uit die gryse verlede van Suid-Afrika wees, of anders, geleenthede waar die Sipho’s kan kopstamp en messteek.

Links en regs

Links en regs in die politiek is allesbehalwe duidelike begrippe. Die onderskeid is wel duidelik waar dit gaan om verregs en verlinks. Niemand sou byvoorbeeld wou ontken dat mnr Joe Slovo en mnr Eugène Terre’Blanche nie veel in gemeen het nie, maar tussen hierdie twee uiterstes is daar ‘n hele spektrum politieke houdings en skakerings van allerlei aard. Baie mense, miskien die meerderheid, is ‘n bietjie regs of ‘n bietjie links of soms die een en dan weer die ander. Ongelukkig is baie ook gewoon ideologiese outomate.

Uiteraard lê die oorgrote meerderheid sienswyses in die middelveld tussen die twee uiterstes van links en regs. In ‘n normale demokrasie speel mense wat die middelveld doelbewus as voorkeurterrein gekies het, ‘n belangrike rol as stabiliserende en matigende invloed. In ‘n skeefgetrekte (of dalk gedrogtelike) «demokrasie» soos in Suid-Afrika, is die middelveld net totaal irrelevant en speel gewoon die rol van nuttige idiote wat deur politieke kragte tot hulle eie voordeel gemanipuleer word en geen betekenisvolle bydrae tot die politieke gesprek, of die politieke stryd te lewer het nie. Dis allermins so dat politieke «waarheid» iewers tussen verregs en verlinks geleë is. Die middelgrond het net soseer die potensiaal om verkeerd te wees as die uiterstes van links en regs.

Die middelterrein word natuurlik ook beset deur ‘n groot aantal mense wat geen menings hoegenaamd het nie, sy dit na links of na regs, of wie se sienswyses so verward en teenstrydig is, dat dit eintlik niksseggend is. Kom ons noem hulle maar die 7de-laan-kategorie, wat nie eers die status van nuttige idiote bereik nie. Maar dit is so dat ‘n volk bestaan uit alle soorte en dat diesulkes ook met verdraagsaamheid en liefde bejeën moet word. En met ‘n bietjie geluk maak ons dalk van hulle óns idiote!

Iemand, maak nou nie juis saak wie nie, het onlangs die opmerking gemaak dat ekstreemregs en ekstreemlinks uiteindelik bymekaar uitkom. Daar steek ‘n stuk waarheid in. Dis moeilik om te sê of Hitler ten slotte ekstreemlinks (diktatoriaal, sosialisties, ens) of ekstreemregs (diktatoriaal, militaristies en aggressief) was en so ook Stalin (diktatoriaal, sosialisties, militarisies en aggressief). Aanvanklik was hulle bondgenote en daarna in ‘n oorlog met mekaar gewikkel, nie om ideologiese redes nie, maar om redes van strategiese olie, grondstowwe, ens), want ideologies was daar weinig verskil.

Maar miskien hoef ons nie verder na voorbeelde te soek nie as hier by ons waar die Nasionale Party op ‘n stadium so ekstreemregs was dat hulle omgeslaan het in hulle eie teenoorgestelde soos ‘n pofadder wat sy eie stert byt. Vanaf die punt waar hulle Distrik Ses van die aangesig van die aarde afgevee het, tot op die punt waar Adriaan Vlok ANC-terroriste se voete gewas het, was maar net ‘n hanetreetjie.

‘n Veel nuttiger aanduiding as links of regs van waar iemand hom op die politieke spektrum bevind, is om te vra wat sy sienswyse is omtrent bepaalde temas (kwessies), byvoorbeeld, waar staan jy ten opsigte van gemengde huwelike, rassekwotas in sport, verengelsing van universiteite, die onderdrukking van godsdiensbeoefening op skool, regstellende aksie of transformasie, politieke selfbeskikking vir Afrikaners, vrugafdrywing, homoseksuele huwelike, die kolonisering van grondgebied in die Midde-Ooste deur Israel, ongebreidelde immigrasie vanuit die derde wêreld na Europa, en so meer.

‘n Feit wat ons onder die oë moet sien, is dat linkse ideologieë vandag in die Westerse wêreld die botoon voer, dermate dat sienswyses wat nie erg links is nie, net nie gedoog word nie, of verbied word of doodgeswyg word of met beledigings afgemaak word. Om in vandag se klimaat gematig te wees, is alreeds om as regse of fassis of ekstremis getipeer te word. Jy moet links wees en basta. Daaraan is vir die oomblik nie veel te doen nie.

‘n Uitsonderlike geval waar ‘n betekenisvolle politieke beweging dit waag om suksesvol ‘n ander mening in die openbaar te huldig, is die FN van Marine Le Pen in Frankryk. Die vordering wat sy maak, is nie met behulp van die media nie, maar ten spyte daarvan. Feit is dat Marine Le Pen en die FN alles behalwe ekstreemregs is, soos bv mnr Leopold Scholtz in Die Burger wil beweer, maar ‘n patriotiese beweging wat ten doel het om die mag terug te neem van die oligarge in Brussel en terug te besorg aan die Franse volk soos dit ‘n ware demokrasie betaam. Vir hierdie rede word die FN natuurlik deur die media as ekstreemregs voorgestel. Dit pas in die patroon dat alles wat nie links, of selfs ekstreemlinks is nie, in die Westerse wêreld gewoon ekstreemregs is. ‘n Toonbeeld van die swaksinnigheid waardeur ons tydvak gekenmerk word.

Kultuurmarxisme, linksliberales en die oligargie kop in een mus

Soveel skitterende bydraes word op Praag gemaak wat gevaar loop om in die vergetelheid te raak.

Dr Roodt se videogesprek op Praag van 14 Desember 2014 tesame met die ander stukke oor kultuurmarxisme behoort, saam met die Yuri Bezmenev-onderhoude (Joeri Besmenef op Afrikaans), ons daaglikse brood te wees. Die onderhoude met Besmenof is duidelik gevoer terwyl die Sowjetstelsel nog in plek was, maar die boodskap is nou nog net so relevant as toe, soos dr Roodt se video ook aantoon. Toe die Berlynse muur en die Sowjetstelsel ineengestort het, was die saad van die kultuurmarxisme reeds gesaai en wêreldwyd aan die floreer, d.w.s. oral behalwe in Rusland self. Die Russe het ten slotte eerstehands ervaar wat marxisme in die praktyk beteken. In ‘n BBC-onderhoud op 15 Feb 1979 het Alexander Solsjinitsin gesê : «For us in Russia, Communism is a dead dog, for many people in the West, it is still a roaring lion».

Maar wat in die nuwe opset ná die val van die Berlynse muur, van belang is, is dat die digotomie (verdeling) nie meer is tusssen ‘n vryemark- kapitalistiese ekonomie aan die een kant en ‘n sentraalgeleide totalitêre stelsel aan die ander kant nie. Die hardgbebakte marxisme van die Sowjetunie het nou plek gemaak vir die meer subtiele doktrines van die kulturele marxisme in die Weste met sy klem op die aftakeling van die Christendom, van tradisionele moraliteit, die familielewe, die huwelik, kulturele en estetiese waardes en standaarde, patriotisme, kortom, ons totale waardestelsel. En dus natuurlik ook die manier waarop logika en rasionaliteit en taal en woordbetekenisse verwring en omgekeer word, tot die punt waar iemand soos mnr FW De Klerk in die media as «courageous» beskryf kon word !

Alexander Solsjinitsin:

« As a survivor of the Communist Holocaust I am horrified to witness how America is gradually being transformed into a secularist and atheistic utopia, where communist ideals are glorified and promoted, while Christian values and morality are ridiculed and increasingly eradicated from the public and social consciousness. Under the decades-long assault and militant radicalism of many so-called “liberal” and “progressive” elites, God has been progressively erased from our public and educational institutions, to be replaced with all manner of delusion, perversion, corruption, violence, decadence, and insanity.»

Die opvatting dat die Rewolusie iets te make het met die stryd van die massas, die werkers en die behoeftiges, soos ons oor die jare verlei is om te glo, kan nie verder van die waarheid wees nie. Nog nooit in die geskiedenis het die Rewolusie iets vir die minder bevoorregtes en verdruktes beteken nie. Die massas armes en werkers is nooit meer vertrap en uitgebuit nie as juis in die Sowjetunie. Solsjenitsin stel die aantal offerandes op die altaar van die Rewolusie op 60-miljoen mense. En hulle was byna uitsluitlik werkers en minder bevoorregtes. As die massas in Suid-Afrika se posisie met 100% verbeter het sedert die kultuurmarxistiese rewolusie hier geseëvier het, dan het die oligargiese elite se posisie met 10 000% verbeter. In alle lande waar die die Rewolusie deurgevoer is, het dit geskied op die rug van goedgelowige massas wat gebreinspoel is om te dink hulle posisie gaan «verbeter». Inteendeel was die massas nog altyd net die slawe van rewolusies ten bate van ‘n handjie vol uitbuiters.

Die marxisme en grootgeld loop reeds ‘n lang pad saam. Soms loop hulle langsmekaar, maar meesal is hulle doelwitte ineengestrengel. Deur die jare het die Westerse demokrasieë Kommunistiese Sjina stelselmatig gesteun teenoor demokratiese Taiwan. Tot vandag het geen Westerse land van betekenis diplomatieke bande met Taiwan nie, terwyl hulle deur die bank betrekkinge het met die Sjinese Kommuniste. Dit verhoed natuurlik nie die Westerse vetkatte om miljarde se winste te maak uit wapenverkope aan Taiwan met wie hulle in die openbaar niks te doen wil hê nie.

Die media word bykans in sy geheel deur grootgeld beheer en hulle roeping is steeds om handlangers en boodskappers te wees van die geldmagte agter die skerms. Dit is sprekend van die gekheid van die tydvak waarin ons leef dat die media nog die vermetelheid kan hê om hulleself voor te doen as die mensdom se morele wagters op die mure. Die enigste moraliteit wat hulle ken, is dié wat deur die oligargie aan hulle voorgeskryf word en dit is die moraliteit van Mammon.

Wêreldwyd word diegene wat durf waag om ‘n stem te verhef teen hierdie nuwe kultureelmarxistiese imperialisme gewoon op die kantlyn geskuif, na die buitenste duisternis verdryf en op die een of ander manier die swye opgelê. Dr Roodt sal hiervan kan getuig. ‘n Mens sou kon vra: waarom word ons dan vervolg en verguis as ons so nietig en onbelangrik is? Die rede is dat die geldmagte ten spyte van alles tog kwesbaar is en die laaste ding wat hulle kan bekostig en toelaat, is elemente wat hulle kritiseer of hulle belange aanval en uitwys dat die koning kaal is.

Die mag wat die internasionele finansiële oligargie in die hande het, gaan die verstand van gewone mense gewoon te bowe. Tydens ‘n vraag-en-antwoord sitting nie lank gelede nie van die Gesamentlike Ekonomiese Komitee van die Amerikaanse Kongres en die goewerneur van die Amerikaanse Reserwebank, Janet Yellen, het aan die lig gekom dat 38% van die VSA se rykdom besit word deur 1% van die bevolking. Die onderste 60% van die Amerikaanse volk besit 2,3 % van die land se rykdom. Een enkele familie, die eienaars van die Walmart-winkelketting besit net soveel van die nasionale rykdom as die onderste 40% van die bevolking, terwyl 95% van alle inkomste in die land verdien of verkry word deur 1% van die bevolking. Anders gestel, beteken dit dat 99% van die Amerikaanse bevolking altesaam 5% van die land se inkomste verdien. En die miljardêrs word jaarliks net al hoe meer, terwyl die minder gegoedes en die middelklas van jaar tot jaar verarm. Senator Sanders wys daarop dat meer Amerikaners vandag in armoede leef as op enige ander tydstip in die geskiedenis. Kyk gerus maar self na die onderhoude ens van Senator Sanders op die internet.

En waar is die aanhoudende gesanik van die media oor «gelykheid»? Net nog ‘n rookskerm wat die rykes in staat stel om hulle ding te doen terwyl die media namens hulle kliphard werk aan die illusie dat iets omtrent die probleem van ongelykheid gedoen word.

Suid-Afrika is waarskynlik een van die beste voorbeelde ter wêreld van die suksesvolle resep van samewerking tussen die linksliberale rewolusie en die geldmag. Dis by uitstek ‘n stelsel wat volledig gebaseer is op die marxistiese ideologie wat niks meer tot stand gebring het nie as die ongelooflike verryking van ‘n handjievol uitverkorenes, ‘n resultaat wat deur doktrinêre kultuurmarxiste in die pers, aan die universiteite en die kerke met oorgawe besing word. Soos in Amerika en Europa geniet die breë bevolking, insluitende die swartes hier, net die skyn van «demokrasie». Die wittes het hier uiteraard geen seggenskap meer nie, dít weet ons, maar die swartes het dit ook nie. Al rol wat hulle eintlik het, is om legitimiteit te verleen aan die vetkatelite deur elke vyf jaar vir hulle te stem sodat hulle hulself nog meer kan verryk. Maar oor wie dit is waarvoor gestem word en wat hulle doen nadat hulle verkies is, het die massas net mooi niks te sê nie.

Die stryd wat ons hiervandandaan vorentoe sal moet voer, is die stryd teen die geldmagte wat saam met, of gesteun deur die linksliberales en kultuurmarxisme, daarop uit is om ‘n nuwe wêreldorde te vestig waar daar vir nasionale identiteit en indiwidualiteit, vir bekaafde waardes en vir Christus net nie plek is nie en waar die allesoorheersende oogmerk is om net nog meer en meer geld vir die superrykes te maak. Die uiteindelike oogmerk is om die totale mensdom te oorheers en te verslaaf. Grootgeld is dít wat ons lotsbestemming en dié van ons beskawing vandag bepaal. Geld en die ywer van hulle voetsoldate, die genoemde nuttige idiote in die media, die universiteite en die kerke. In dieselfde gesamentlike sitting van die Eokonomiese Komitee is dit onomwonde deur die voorsitter, Senator Bernard Sanders, gestel dat Amerika vandag ‘n finansiële oligargie is en dat politici vryelik deur die rykes «gekoop en verkoop» word. Toe hy die vraag aan me. Yellen stel of Amerika vandag ‘n oligargie is, was haar antwoord, sy wil «liewer nie ‘n etiket daaraan heg nie» ! In ‘n onlangse studie van die Princeton- en Northwest-universiteite is bevind dat Amerika geen demokrasie meer is nie maar ‘n oligargie waar die «volksverteenwoordigers» eerder die belange van die handjie vol superrykes probeer dien as dié van die breë Amerikaanse bevolking.

Hoe lank nog gaan 99+% van die Amerikaanse bevolking met hierdie situasie, vir lief neem? Gesonde verstand laat ‘n mens vermoed nie meer te lank nie. Wat hulle tot dusver nog verhoed het om in opstand te kom, is natuurlik die lakeie in die media wat gedienstig aan hulle betaalmeesters nog daarin slaag om die openbare mening te paai met stories van «ongelykheid wat die aflope jare verklein het», ens. Sodra die mediavervaardigde skille van die oë van die Amerikaanse publiek en veral die middelklas begin afval, kan ons verwag dat die poppe gaan begin dans, want ongelykheid tussen ryk en arm was nog nooit tevore in die geskiedenis so groot nie.

‘n Voorbeeld van wat met geld bereik kan word, is die onlangse verkiesing van mnr Jean-Claude Juncker tot president van die Europese Kommissie. In die praktyk beteken dit die president van die Europese Unie. Mnr Juncker was agtien jaar lank eerste minister van Luxemburg. Gedurende daardie tydperk het hy ‘n buitelandse skuld vir Luxemburg van 2 253 000 000 000 euro’s opgebou. Mnr Juncker kon nie die sake bestuur van Luxemburg nie met ‘n bevolking van iets oor ‘n halfmiljoen mense, maar nou gaan hy die sake bestuur van die Europese Unie met ‘n bevolking van meer as 500- miljoen. Hoe het hy dit reggekry? Deur die willose instrument te wees van die rykes en niks anders nie. Hierdie aanstelling is duidelik ‘n beloning vir die dienste wat hy aan die miljardêrs van Europa gelewer het deur hulle uit te nooi of toe te laat om, onwettig, hulle fortuine belastingvry in Luxemburg te belê. En natuurlik is die bedoeling dat hy moet voortgaan om die miljardêrs gedienstig te wees.

Hoe kan die lande van die Europese Unie so-iets toelaat? Maar omdat almal in die geldwêreld en hulle handlangers, die politici, die een of ander belang daarby het of gehad het en voordeel uit die situasie trek. En die media? Dis mos ‘n goeie storie en die publiek het sekerlik ‘n belang om daaroor ingelig te word. Maar nee, die lakeie van die geldmagte is doodstil ten spyte daarvan dat mense soos Marine Le Pen mnr Juncker se kaskenades een na die ander uitwys. Maar natuurlik, Marine Le Pen is mos maar net ‘n «regse». Die speerpunt van Marine Le Pen se stryd is om die mag weg te neem van die oligarge en dit terug te gee aan die volk, daar waar dit tuishoort. Dit is alles behalwe ekstreem soos mnr Leopold Scholtz in Die Burger wil probeer voorgee. Inteendeel is dit die hart en siel van die demokrasie!

Een van die belangrikste metodes wat die kultuurmarxiste en die oligargie aanwend om hulle doelwitte te bereik, is om gebruik te maak van praatpoppe om die openbare mening gerus te stel, amper soos Conrad Koch sy lappop gebruik om linksliberale walglikhede in ons keel te probeer afdruk. Watter beter voorbeeld hiervan as die afgod en ikoon Nelson Mandela wat weinig meer was as die praatpop vir die kommunis Joe Slovo? En mnr FW De Klerk was die praatpop van alles behalwe die Afrikaners wat bankvas vir hom gestem het. So ook is die media, soos reeds genoem, die klakkelose praatpoppe van die geldmagte.

Maar die verskynsel is dekades reeds besig om die internasionale magspolitiek te oorheers. President Franklin Roosevelt was ‘n volslae pop van die internasionale geldmagte en is soos ‘n riet in die wind deur hulle rondgeswaai. Dieselfde met pres Woodrow Wilson voor hom en pres Truman en Eisenhower daarna. Pres Roosevelt was onder druk van linkses en rewolusionêres direk daarvoor verantwoordelik dat die helfte van Europa aan die Sowjette uitgelewer is soos Suid-Afrika ook aan die rewolusie uitgelewer is deur nog ‘n pop van die internasionale geldbelange. Tydens die Jalta-konferensie van 1944 toe Europa opgesnipper is en die buit tussen Amerika, Engeland en die Sowjetunie verdeel is, met die reuse-aandeel aan die Sowjetunie, was verskeie bekende kommunistiese agente, waaronder Alger Hiss, persoonlik teenwoordig by gesprekke tussen pres Roosevelt en Josef Stalin. En gesien in die lig van sen. Sanders se opmerkings, is pres Obama duidelik ook maar net die praatpop van dieselfde magte.

Die miljardêr Bernard Baruch was oor ‘n tydperk van 60 jaar raadgewer van bykans elke Amerikaanse president van pres. Woodrow Wilson tot by pres Dwight Eisenhower, insluitende die periodes van die twee wêreldoorloë. In 1918 is hy deur pres Wilson aangestel as voorsitter van die War Industries Board, ‘n posisie waar hy feitlik die magtigste mens op aarde was. In 1919 het hy saam met pres Wilson deelgeneem aan die vredeskonferensie van Versailles. In 1943 is hy deur pres Roosevelt genooi om hoof te word van die War Production Board en met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog is hy deur pres Roosevelt aangestel as spesiale raadgewer van die Office of War Production waar hy die werklike beleidmaker was wie se besluite bloot deur die «direkteur», James Byrnes uitgevoer is. In 1949 het pres Truman hom aangestel in die sleutelposisie van Amerikaanse verteenwoordiger op die VN se kernkragkommissie (UNAEC). Vir die grootste deel van sy lewe was Amerikaanse presidente bloot die praatpoppe van die miljardêr mnr Baruch. Die belangrike punt is egter dat mnr Baruch oor al hierdie jare nooit deur ‘n demokratiese proses tot enige amp verkies is nie. Alles intrige en manipulasie agter die skerms. En dit in die wêreld se «grootste demokrasie» en «oopste samelewing».

Afrikanersonde: Wil wit wees

Enigeen met oë om te sien of ore om te hoor en ‘n verstand om mee te dink weet deesdae dat die Westerse beskawing dodelik siek is. Trouens wanneer dit kom by ‘n ontleding van die situasie rakende die wit Westerse beskawing, weet ‘n mens nie watter een van « diagnose » of « lykskouing » die beter beskrywing is nie.

Spesie wat uitsterf...?
Spesie wat uitsterf…?

Dit is nou reeds algemeen bekend dat die Westerse mens ‘n soort selfvernietigingsdrang ontwikkel het, wat miskien beskryf kan word as wit of Westerse masochisme. ‘n Mens kan die verskynsel vergelyk met sardyne en ook ander seediere wat van tyd tot tyd by hulle duisende op die strand uitswem om te vrek. Niemand kan verklaar waarom hulle dit doen nie. Al wat ons weet, is dat hulle om die een of ander duistere rede besluit het om te vrek.

In Amerika word ‘n derde wit babas weens vrugafdrywing nooit gebore nie. As daar iets soos ‘n volksmoord is, is hierdie sekerlik een. Die meerderheid babas wat vandag in Amerika gebore word, is nie wit nie. M.a.w. die wit babas wat gebore word is in die minderheid. Die ander is swart, Asiaties, gemengd of Hispanics. Dit word verwag dat wit Amerikaners onder die ouderdom van agtien jaar teen 2019 in die minderheid sal wees. Dis oor vier jaar !

Hierdie situasie word deur die Amerikaanse media, en veral die New York Times, Washington Post en Los Angeles Times met byna histeriese geesdrif verwelkom. Let wel, hulle aanvaar dit nie net bloot as ‘n feit nie. Hulle verwelkom dit! Die witmens het gewoon nie meer die reg om voort te bestaan nie, wat nog te sê iewers op die wêreld die seggenskap te hê en te regeer. En as ‘n mens kyk hoe die Westerse witmens hierdie selfvernietigingsproses maar gelate aanvaar en selfs aktief daaraan meedoen, dan kan jy amper nie anders nie as om saam te stem dat hy nie meer die reg het om voort te bestaan nie. As hy dan nie die wil en die moed en die lewenskrag het om voort te bestaan nie, dan verdien hy miskien maar om te verdwyn.

In Amerika, die leier van die Westerse Wêreld, of ons dit nou wil of nie, is dit onwaarskynlik dat ‘n Republikeinse kandidaat weer ‘n presidentsverkiesing sal wen. Miskien is dit selfs onwaarskynlik dat ‘n witmens weer Amerikaanse president sal wees. In die laaste presidentsverkiesing het Mitt Romney 60% van die blanke stem gekry en tog nog die verkiesing verloor. Die rede is omdat die swart en Spaanssprekende (Hispanic-) stemmers bankvas vir Obama gestem het. As blanke nasie, d.w.s. ‘n, nasie waar blankes ‘n deurslaggewende seggenskap in die bestuur van die land het, is dit met Amerika ikabod. En dieselfde patroon is in die Westerse wêreld as geheel snel aan die ontwikikel. Lande soos Duitsland en Italië het reeds ‘n negatiewe bevolkingsgroeikoers, terwyl die immigrante uit Noord-Afrika en Turkye by hulle honderdduisende instroom en met ope arms ontvang word, dikwels op «Christelike» gronde.

Wat interessant is in hierdie proses is die breinspoelingspatroon van die media en ander wat daarmee saamgaan: Óf hulle sê «maar dit is glad nie so nie, ons is nie besig om ‘n blanke minderheid te word nie, dis alles net die propaganda van die regses en die rassiste.» Óf hulle sê «nouja, so is dit maar. Ons kan tog niks daaraan doen nie». Óf «die immigrante uit die buiteland is ‘n aanwins vir ons kultuur en ons ekonomie», óf «dit maak tog nie saak nie, ons is mos almal mense en almal dieselfde.» Ons is almal dieselfde ja, maar as dit by ‘n verkiesing kom, dan stem ons darem almal vir Obama as ons nie wit is nie.

Hierdie witmenssiekte is dus nie tot Suid-Afrika beperk nie. Dis ‘n wêreldwye verskynsel. Die uitdelgingsoorlog wat teen Afrikaans en Afrikaners gevoer word, is grootliks te verklaar daaraan dat behoudende Afrikaners nog onder die weinige gemeenskappe op aarde is wat wit wil wees en wil bly. Die groot vraag, waarvan die toekoms van ons beskawing afhang, is of en wanneer die dag sal kom waarop die witmens gaan sê: tot hier toe en nie verder nie. Daarsonder is dit net ‘n kwessie van tyd voordat die Westerse beskawing te sterwe kom.

Ou aap nie meer snaaks

In sy uitgawe van 11 November plaas Die Burger ‘n soort van debat, of bespreking dan, van die DA se Dianne Kohler-Barnard en, glo dit as u wil, sy Edele R.F. Botha, oor die geheimsinnighede rondom die sg. Nasionale Sleutelpunte. Enige plek of instansie waaroor die ANC bewind die mond van die media wil snoer, is terloops ‘n « Nasionale Sleutelpunt ». Kohler-Barnard se sienswyses oor hierdie, of enige ander onderwerp kan ons maar rustig ignoreer, maar RF Botha ? Die feit dat Die Burger nog aan RF Botha blootstelling verleen om sy gediskrediteerde en verwerplike selfregverdigings oefeninge uit te voer, dui op die totale verdeling van die Suid-Afrikaanse samelewing ; enersyds mense wat niks wil weet oor wat RF Botha nog te sê kan hê nie en andersyds dié wat in weerwil van die algemene volksgevoel nog stiksienig volhou om aan hom en ander soos hy ‘n platvorm te verskaf.

Hoewel die onderwerp van die bespreking die gekonkel rondom die sg Nasionale Sleutelpunte is, het Sy Edele die geleentheid gebruik om die bedenklike rol wat hy en sy departement in die kapitulasieproses gespeel het vir die soveelste keer te probeer regpraat. Onder die « prestasies » wat hy aan sy departement toedig, noem hy eerstens die Nkomati-verdrag van 1984, wat ‘n vredesverdrag met die Kommunistiese Frelimo-bewind van Mosambiek was en bedoel was om die betrekkinge met Mosambiek te « stabiliseer ». Behalwe vir die verdwaalde beginselposisie wat RF aan mnr PW Botha verkoop het, was dit ‘n doodgebore verdrag wat allerweë met bespotting en kroegkwinkslae begroet is.

Dan gaan hy voort om krediet te probeer neem vir die « vreedsame onafhanklikheidswording » van Rhodesë in 1980 wat ons Noordelike grens « gestabiliseer » het. (Let op die herhaaldelike gebruik van die gerusstellende term « stabiliseer »). Inderdaad was die uitlewering aan nog ‘n kommunistiese terroristebende ‘n veragtelike en verrraderlike daad waarvoor geen regskape mens krediet sal wil neem nie. Die « stabilisering » van ons Noordgrens was die stabiliteit wat teweeg gebring is deur verraad en oorgawe. En om dan nie eers te praat nie van die vier-en dertig jaar van « stabiliteit » in Zimbabwe sedert 1980 onder die hiel van nog ‘n harlekyn diktator op die lees geskoei van ‘n Idi Amin Dada of ‘n Jean Bedel Bokassa.

En dan hierdie verstommende en skaamtelose bekentenis : »Die beëindiging van die oorlog in Angola in 1988 en Namibië se vreedsame onafhanklikheidwording in 1990 « wat dit moontlik gemaak het om in Suid-Afrika politieke mag oor te dra ». Hy beskou dit as ‘n prestasie en spog daarmee! Hoeveel meer pervers en verwronge kan ‘n mens wees sonder om ‘n volslae psigopaat te word?

Vir soveel jare is die Suid- Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse publiek aan die neus gelei deur hierdie vermaaklikheidskunstenaar en goëlaar en skynbaar is daar nog steeds mense wat na hom wil luister en sy stories glo. Mens kan egter met redelike sekerheid aanneem hulle is verreweg in die minderheid, want, soos die digter François Villon gesê het : « ‘n Ou aap is nie meer snaaks nie .»

Afkophoenderbeskawing

Soos met ander begrippe, (Calvinisme byvoorbeeld), word die begrip « feodaal » en » feodalisme » nogal los en vas rondgegooi. Dit word veral problematies wanneer die lewenswyse en sosiale patroon van die Afrika mens as « feodaal » beskryf word, want raakpunte tussen die Afrika patroon en die Europese feodalisme is daar werklik net nie. Maar vir diegene wat steeds meen daar is ooreenkoms tussen die Afrika samelewing en die Europese feodalisme, net die volgende paar gedagtes :

Feodalisme dui op die sosiale en politieke ordening van die samelewing gedurende die Europese Middeleeue. Die Middeleeue strek rofweg vanaf die val van die Wes-Romeinse Ryk in die 5e eeu tot met die aanvang van die Renaissance in die 15e eeu. Die hoogtepunt van die Middeleeuse Europese beskawing is bereik gedurende die periode vanaf die 9e tot die 15e eeu.

Sy-aansig van die Nôtre Dame
Sy-aansig van die Nôtre Dame

Die middeleeue het in die eerste plek argitektuur opgelewer wat haas ongeëwenaar is in die wêreldgeskiedenis. Ons dink hier veral aan die Gotiese katedrale wat in dié tyd oral in Europa opgerig is en wat hulle gelyke in terme van skoonheid en tegniese vaardigheid nie ken nie. Enkele van die meer bekende voorbeelde is die Nôtre Dame in Parys, Westminsterabdy in Engeland, die katedrale van Keulen en van Milaan en Chartres, ens., ens., ens. Dosyne en dosyne meesterstukke. En dan die asemrowende Sainte Chapelle, opgerig in die dertiende eeu deur die kruisvaarderkoning, Saint Louis.

Indruk van die interieur van die Sainte Chapelle
Indruk van die interieur van die Sainte Chapelle

Nie net argitektuur was ‘n kenmerk van die Middeleeue nie, maar ook borduurwerk, tapiserieë, porseleinwerk, die wonderbaarlike geïllustreerde manuskripte, mosaïeke, digters, ( Dante, Petrarca, Chaucer, die Troebadoers, die Minnesangers, ens.), filosowe ( Thomas Aquinas, Willem van Ockham, Averroës), beeldhouers (Donatello), skilders,(Giotto) en die pragtige tradisie van onbegeleide (a capella) koorsang.

'n Voorbeeld van 'n Middeleeuse mosaïek
‘n Voorbeeld van ‘n Middeleeuse mosaïek

Die Middeleeue is inderdaad ‘n universum eerder as ‘n periode in die geskiedenis. Dink maar net, die Middeleeue beslaan die helfte van die tydperk sedert die geboorte van Christus tot vandag toe. Tien eeue van geduldige, toegewyde en volgehoue arbeid en skeppende aktiwiteit. En hoewel daar op sosiale en staatkundige gebied beperkte mobiliteit was, was daar op kulturele en kunsgebied voortdurend ontwikkeling en verryking, dus alles behalwe die statiese en uitsiglose geskiedenis van Afrika.

'n Bladsy uit een van die derduisende geïllustreerde Middeleeuse manuskripte
‘n Bladsy uit een van die derduisende geïllustreerde Middeleeuse manuskripte

Elke lid van die feodale stelsel het van geslag tot geslag die rol vervul wat met sy spesifieke plek in die samelewing ooreengestem het, ‘n rol wat oor eeue heen weinig verander het. Hierdie strakke hiërargiese struktuur was op ‘n langtermynsiening van die lewe ingestel wat ‘n teelaarde was vir die daarstelling van een van die grootse hoogtepunte in ons beskawing. Die beskrywing « donker »  Middeleeue  om hierdie tydperk te tipeer, kan nie verder van die waarheid wees nie. Inteendeel is hierdie periode gekenmerk deur ‘n onvergelyklike rykdom van kulturele en artistieke prestasies.

'n Toneel uit die 70-meter-lange tapisserie wat die verowering van Engeland deur  Willem die Veroweraar in 1066 uitbeeld. Die tapisserie is enkele jare na die Normandiese inval voltooi. Die Noormanne (Normands) was ten tye van die inval volledig verfrans, vandaar ook die reuse-invloed van Frans op die Engelse taal.
‘n Toneel uit die 70-meter-lange tapisserie wat die verowering van Engeland deur Willem die Veroweraar in 1066 uitbeeld. Die tapisserie is enkele jare na die Normandiese inval voltooi. Die Noormanne (Normands) was ten tye van die inval volledig verfrans, vandaar ook die reuse-invloed van Frans op die Engelse taal.

Ook die reëls van ‘n beskaafde lewenswyse is ontleen aan die Middeleeue, die heraldiek, goeie maniere, etiket en hoflikheid. Die woord « hoflik » kom trouens van die hof van ‘n koning of ‘n edelman. m.a.w. hoflik is die manier waarop ‘n mens jou gedra het aan die hof van ‘n aristokraat. Maar hierdie reëls het ook veel meer omvat nl. eerlikheid, dapperheid, getrouheid, lojaliteit, pligsgetrouheid, idealisme, eer en eergevoel, en Christelike waardes in die algemeen – al daardie dinge wat in die « nuwe » Suid-Afrika en die aanloop daartoe met minagting in die slopsemmer gegooi is. Om vandag te praat van getrouheid of lojaliteit of integriteit is om uitgelag te word.

Die Middeleeue het natuurlik ook sy skadukante gehad, om by die Inkwisisie maar te begin. Skadukante is nou eenmaal deel van die menslike psige. (Joseph Conrad se « Heart of Darkness ».)

En dan, natuurlik het ander periodes in die geskiedenis nie juis ‘n tekort aan duisterhede gehad nie. Dink maar net aan die twintigste eeu. En dít sonder die kulturele prestasies.

Ten spyte van die tekortkominge het die Europese feodale stelsel ‘n onwrikbare sin gehad vir wat ‘n betekenisvolle en doelgerigte samelewing was – die lyfeiene was trou verskuldig aan sy heer en die edelman aan die koning en die koning aan God. Hierdie patroon is vir ‘n duisend jaar nooit bevraagteken nie. Vandag is so ‘n beskouing natuurlik ondenkbaar. Maar dan, aan die ander kant, is die samelewing waarin ons vandag leef, veel beter? Sekerlik is dit anders: ‘n afkophoenderbeskawing wat nie weet waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie, wat in niks meer glo nie en wat aan niks meer waarde heg nie behalwe vir ‘n paar ideologiese obsessies wat hom net verder en verder die verderf inhelp.

Mag die Afrikaner sy kop optel?

Max Du Preez se aanval op Steve Hofmeyr op die naweek se Netwerk 24 is ‘n sprekende voorbeeld van oppervlakkige, ondeurdagte, eensydige en bevooroordeelde joernalistiek. Kom ons bekyk dit stuk vir stuk  van naderby: Ek haal telkens aan uit sy artikel en lewer dan kommentaar daarop.

Du Preez :«Dis vir my ’n interessante verskynsel, dié dat party mense se denke en houdings verstar en hulle wêrelde kleiner word as hulle ouer word. ’n Mens sou dink dit behoort andersom te werk: hoe meer ’n mens te wete kom, hoe meer ’n mens sien en ervaar, hoe meer mense jy ontmoet, hoe oper behoort jou kop en hoe breër jou horisonne te word. »

Kommentaar : Nou hoekom is dit dat einste Max Du Preez se denke en houdings met die tyd almeer verstar voorkom. In watter opsig het Max Du Preez se sienswyses die afgelope twintig jaar verander ? Nog steeds dieselfde ou droefgeestige linksliberale Amerikaans-geëinspireerde refrein. En ek glo nie my indruk is die gevolg van my wêreld wat kleiner word nie. Sonder om op besonderhede in te gaan, meen ek my wêreld is heelwat wyer as dié van Max Du Preez. As Max Du Preez nie bewus is daarvan of bewus wil wees nie dat nasionalismes wêreldwyd besig is om te ontwaak, kan dit net wees weens sy verknogtheid aan ‘n klaaglik klein wêreldjie wat maar net nie wil groter word nie. Dit is sprekend van Max Du Preez se bevooroordeelde stiksienigheid dat hy meen sy sienswyses is die enigste wat kan roem op ‘n wye horison en wat kan aanspraak maak op waarheid en « moraliteit ».

Du Preez : « Hofmeyr is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie. Ek kan die name van ’n hele paar van my Afrikaanse vriende en kennisse noem wat ná ’n relatief progressiewe, vrydenkende lewe al meer reaksionêr en bitterbek geword het. »

Kommentaar : Die oordeel dat hulle «reaksionêr en bitterbek» geword het, is bloot ‘n belediging komende van ‘n tipiese onverdraagsame linkse patroon. Hierdie mense is « reaksionêr en bitterbek » net omdat Max Du Preez hulle as sulks beskou. Inderwaarheid is hulle juis mense wat nie, soos Max Du Preez, verstard in hulle ideologiese kluis vasgehok bly sit het nie, maar hulle denke aangepas en gewysig het na gelang die omstandighede waarin hulle leef sedert 1994 verander het.

​Du Preez :» En as jy boonop effens verlig of andersdenkend in jou jeug was of dalk ’n keer of wat apartheid veroordeel het, het jy ’n spesiale lisensie om ná 50 ’n onvergenoegde, reaksionêre ou drol te mag wees. »
Kommentaar : Ek is liewer ‘n konserwatiewe drol as ‘n linksliberale een !

Du Preez : « Dit kan maar koud en eensaam vir ’n Afrikaner wees om deur sy/haar volk verwerp en as ’n hensopper of ’n verloopte gebrandmerk te word. »

Kommentaar : ‘n Mens wat oor die insigte beskik wat Max Du Preez voorgee om te hê, sou vra waarom ‘n Afrikaner deur sy/haar volk verwerp word en as ‘n hensopper en of ‘n verloopte gebrandmerk word. Is dit nie dalk omdat hulle inderdaad hensoppers en verlooptes is nie? Wat Max Du Preez skynbaar nie by magte is om te verstaan nie, is dat wanneer ‘n mens se volk jou verwerp, is dit nie die volk se skuld nie maar jou eie. In elk geval is dit goeie nuus dat die volk nou begin om die hensoppers en verlooptes te herken en te verwerp.

Du Preez : « In die dae toe daar nog ’n “saak” was, toe die swart mense hul plek moes ken en toe ou PW se vinger nog in ons gesigte geswaai het, was dit nog draaglik en hervormingsgesindes het hul rebelse baadjie met trots gedra. Maar in die tyd dat Thabo Mbeki met sy “colonialist of a special kind”-twak begin het, het dié baadjie uit die mode begin raak. »

Kommentaar : Ek dink « mode » is die regte woordkeuse. « Internasionaal » wees, populêr wees, met die stroom swem, agteroorbuig om die Amerikaners ter wille te wees, dít alles was deel van wat Max Du Preez nou, tereg, as « mode » beskryf, ‘n mode waaraan hy self met die grootste toewyding meegedoen het en, erger nog, steeds meedoen. As Max Du Preez tog wou verstaan, ‘n mode is iets wat verbygaan, behalwe net vir mense wat stompsinnig en verstard aan hulle klein bekende en benoude wêreldjie wil vasklou.

Du Preez : « Ons was dan aan julle kant, was die argument, en nou spoeg julle ons uit. »

Kommentaar : Wys net, « ons » was aan die verkeerde kant. Minstens begin « ons » dit nou besef.

Du Preez : « Skielik, soos dié ontnugterdes begin om die ANC te kritiseer, word hulle weer deur die Afrikaner-establishment omhels. En o, hoe lekker is dit om weer in die boesem van die volk gekoester te kan word! Slag die gemeste kalf! »

Kommentaar: ‘n Herhaling van wat reeds gesê is. Probeer tog harder Max, miskien kry jy darem ‘n nuwe idee ook. Ek is nie seker of daar so-iets soos ‘n « Afrikaner-Establishment »  is nie; miskien in die benewelde kollektiewe verbeelding van die Naspers. Maar as die gedagte van ‘n « Afrikaanse establishment » julle benoud maak, soveel te beter.

Du Preez : « Dié verskynsel word natuurlik aangehelp deur die rasbeheptheid, onbeholpenheid en korrupsie van ons huidige regerende party. »

Kommentaar : Aha, nou om ons nader aan die waarheid! Is dit wat Max Du Preez met « Demokrasie » bedoel ?

Du Preez :« Ek het dit al in verskeie variasies gehoor – Hofmeyr noem dit “ontnugterd”: Ons was teen apartheid, maar kyk wat het die swartes nou met die vryheid gemaak wat ons vir hulle gegee het. Ai, dié mense kan maar net nie ’n demokrasie en ’n moderne ekonomie bestuur nie  . . . »

Kommentaar : Is daar enige rede waarom Steve Hofmeyr of enige ander denkende Afrikaner nie ontnugter moet wees nie? Ek is beslis.

Du Preez :« Ek hoor die koor deesdae elke dag: ons is moeg gekruip; ons is gatvol vir skuldig en skaam voel; ons het nou genoeg ekskuus gevra en handjies gevrywe; los nou die verlede uit; ons wil nou weer trots wees en dit sê. »

Kommentaar : Netso, Max, netso. Wat is jou probleem daarmee ? Wat is verkeerd daarmee om weer trots te wil wees en dit te sê ? Hierdie is die kernpunt : Die Afrikaner mag nie sy kop optel nie. Dankie dat jy dit so duidelik uitgespel het, mnr Du Preez.

Du Preez : « Heil Steve, hy’t die moed om dit van die dakke af te skreeu en die volkslied van apartheid op konserte te sing. »

Kommentaar : Die « volkslied van Apartheid » is die soort stelling wat Max Du preez onherroeplik en onredbaar as vyand van die Afrikaner tipeer. Mens weet nie eers of ‘n sinvolle gesprek hieroor moontlik is nie. Niks in die inhoud van die Stem het enigiets met « Apartheid » te make nie. Die feit dat die Stem gedurende die Nasionale Partybewind in Suid-Afrika gesing is, maak nie daarvan die « volkslied van Apartheid » nie. Die Deutschlandslied (Deutschland über Alles) is die Duitse volkslied sedert 1922, d.w.s. ook gedurende die Nazitydperk. Maak dit nou van die Deutschlandslied die lied van die Nazime ? As jy so dink, hê dan die moed van jou oortuiging en gaan sê dit vir hulle !
Ek wonder nogal hoekom  « Heil » Steve. Nie juis moeilik om te raai dat Maxie weer probeer swartsmeer nie. Of moet ‘n mens liewer sê witsmeer!

Du Preez : « Ek kruip voor niemand en het nog nooit nie, nie voor die Broederbond, PW Botha se meedoën­lose masjien, Engelse geld, die ANC, die regering, die Jacob ­Zuma-kliek, die Malemas en ander swart nasionaliste nie. Ek voel nie skuldig en skaam nie, ook nie oor my wit vel of Afrikaner-wees nie.

Kommentaar : Ek is ver van oortuig. Vir my het dit nog altyd gelyk of Max Du Preez die voete soen van die Amerikaners en Engelse, amper soos « verligte » Minister Adriaan Vlok met die ANC-terroriste gedoen het in belang van « waarheid en versoening » !

Du Preez : « Maar ek maak nie asof Suid-Afrika skielik uit die niet in 1994 ontstaan het nie. Ek sluit nie my oë en ore vir die diep letsels wat die eeu van onreg op die meeste Suid-Afrikaners gelaat het en die impak wat dit nog steeds het nie.

Juis omdat ek ’n Afrikaner is, kan ek die sensitiwiteite, gebrek aan selfvertroue (selfs minderwaardigheidskomplekse), frustrasies en aspirasies van ons swart landgenote beter raaksien. Ek gaan nooit my bek hou nie, maar ek gaan ook nie met kapstewels tussen hulle invlieg en vertel hoe hulle hulself moet regruk as ’n ras nie. »

Kommentaar : As hy maar dieselfde begrip vir die sensitiwiteite, frustrasies en veral aspirasies van die Afrikaner ook gehad het, sou hy miskien meer geloofwaardig gewees het. In die omstandighede is sy geloofwaardigheid onder Afrikaners nul. Die enigste geloofwaardigheid wat hy het, is dié wat hy in die wandelgange en vergadersale van die Nasionale Pers geniet.

Du Preez : « Hofmeyr gaan egter ’n stap verder. Wit Suid-Afrikaners moes nooit ’n politieke skikking met die swart meerderheid beding het nie, want hulle moes eintlik nee gestem het in die 1992-referendum wat die onderhandelinge gesanksioneer het: “My ja-stem was ’n dolk in die rug van die minderheidsgroepe in hierdie land, veral die Afrikaner.”

Kommentaar : Ek steun hierdie sienswyse van harte. As daar hoegenaamd ‘n politieke skikking met die swartes moontlik was, dan moes dit ‘n heel ander skikking gewees het. Die « skikking » wat Du Preez in gedagte het, was hoegenaamd geen « skikking » nie, maar bloot ‘n volslae kapitulasie en oorhandiging van die land op ‘n skinkbord aan mense wat deur bomgooiery in restaurante en vermaaklikhedsplekke, in die strate en selfs in kerke en die doodbrand van mense aan die bewind gekom het. Deel van die « demokratiese oorgangsproses » moet ons aanneem.

Du Preez : « En dan, verstommend, dít: “Ek dink om alleen-heerskappy op te gee is ’n gróót opoffering. Die res? Wat het hulle opgeoffer?”

Kommentaar : Wat ons opgeoffer het, was alleen-heerskappy oor onsself. As daar sprake van ‘n « skikking » kon wees, dan moes dit ‘n skikking wees wat vir ons selfbeskikking voorsiening gemaak het.

Du Preez : « En: “ ’n Liberale ou dink die bevoordeling in daardie dae [apartheidsdae] was ten koste van ander. Ek dink dit was welverdiend.

Goeie genade. Wit mense het verdien om baas te speel en vooruitstrewend te word, en swart mense moes net sê dankie, my baas, vir ’n ou joppie, wil die baas nie gou kyk of my pas in orde is nie? »

Kommentaar : Ek glo saam met Hofmeyr dat die witmense in groot mate hulle vooruitstrewendheid verdien het. As Du Preez wil weet hoe vooruitstrewend swartes kan wees wanneer hulle aan die beheer van sake is, kan hy maar net sy oogklappe afhaal en kyk hoe gaan dit nou.

Du Preez : « Ek was ’n voorgestoelte-getuie van die ernstige politieke en ekonomiese krisisse van die tagtigerjare en van die onderhandelinge wat tot die 1994-verkiesing en die skryf van ons Grondwet gelei het. Oor twee sake het ek geen swympie twyfel nie.

Een: Ons het ’n uiteindelike burgeroorlog vermy wat soos dié in Sirië kon gelyk het, tienduisende lewens sou gekos het en almal, ook (en dalk veral) die Afrikaner wat nie sou kon bekostig het om te emigreer nie, plat te slaan soos laas met die Anglo-Boereoorlog gebeur het. »

Kommentaar : Kos die « onderhandelde konstitusonele demokrasie » dan nie sedert 1994 ook duisende lewens nie, die lewens van ons eie mense, m.a.w. die mense teenoor wie ons lojaliteit in die eerste plek verskuldig is? Maar natuurlik, ideologies-gedrewe linksliberales glo nie in iets soos «ons eie mense » nie.

Du Preez : « &Twee: Ons Grondwet met sy handves van menseregte is die heel, heel beste waarop die minderheidsgroepe kon gehoop het. Op die keper beskou, het die werklike kompromisse, soos die eiendomsklousule, eintlik net van ANC-kant gekom. »

Kommentaar : Die Grondwet mag miskien mooi lyk op papier, maar in die praktyk het dit vir ons as witmense en Afrikaners net mooi vere beteken. Dit weet Max Du Preez tog. In daardie sin kan ‘n mens vra of dit wel « ons » grondwet is. En dat die kompromisse net van ANC kant gekom het is mos nou louter onsin.

Du Preez : « Maar apartheid moes ook om morele redes beëindig word. Dis insiggewend dat Hofmeyr sê wit mense se opoffering was om “alleen-heerskappy” prys te gee. Die HAT sê heerskappy beteken “oppermag” of “oorheersing”.
Onderdrukking, dus. Die Afrikaner se duur opoffering was om op te hou om ander te onderdruk? »

Kommentaar : Dat oppermag of oorheersing dieselfde is as onderdrukking is Max Du Preez se vertolking. Dis debateerbaar of die swartes inderdaad soseer onderdruk was. Om dit te kan bepaal moet ‘n mens kyk na die posisie van swartes in vergelykbare situasies, d.w.s. nie in Amerika nie, maar in ander Afrika-lande of in Suid-Afrika sedert die ANC oorname. Is die massa swartes nou inderdaad minder « onderdruk » as onder Apartheid ? Vind die linksliberales die feit dat ‘n eliteklas swartes oor ‘n tydperk van 20 jaar fabelagtige rykdomme versamel het ten koste van die massas, « moreel » ? En is die feit dat ‘n handjievol oligarge die « reg » het om hulle sakke te vul, groot vordering op die pad na Demokrasie ? Ek dink as ons eers begin oor wat « moreel » is of liewer wat dit nie is nie, kan ons vir boekdele aangaan.

Du Preez :« Die oordrag van mag in 1994 was nie ’n opoffering nie. Dit was bloot die herstel van onreg. Dit was bloot die ongedaan-maak van ’n vroeëre wandaad. Die enigste “opoffering” wat wit mense in 1994 gemaak het, was om van hul ongeregverdigde bevoordeling prys te gee, en dit sonder om juis ’n materiële prys te betaal. »

Kommentaar : Dis juis die witmense wat geweet het dat hulle voordeel sou put uit die nuwe bestel wat dit wou gehad het – die adverteerders in die Nasionale Pers, hulle betaalmeesters en septerswaaiers. Die meeste ander mense, veral Afrikaners, het geen voordeel behaal nie en trouens baie van hulle woon tans in plakkerskampe, waarvan die ivoortoring joernaliste van die Nasionale Pers natuurlik salig onbewus sal wees.

Du Preez :« Hofmeyr en talle ander soos hy, is vandag ’n miljoenêr, wat hy nie in 1994 was nie.

Hier is die kern van die saak, my vriend Steve. Al het ons in 1992 presies geweet hoe Suid-Afrika vandag sou lyk en hoe Zuma en sy skelm, magsbehepte kornuite ons sou regeer, moes ons in elk geval apartheid keel-af gesny en ons swart landgenote se menswaardigheid herstel het.

Dit was doodgewoon die regte ding om te doen, moreel gesproke en om ons as Afrikaners se vreedsame voortbestaan in die land wat ons liefhet, te verseker. »

Kommentaar : Die « regte ding om te doen » kom so warm uit die Amerikaanse oond. Die « regte ding om te doen » was die ding wat deur die linksliberale Amerikaanse media voorgeskryf was en deur hulle na-apers in die Nasionale Pers en ander meelopers vir soetkoek opgevreet is: die « regte ding » wat hemelsbreed verwyder was van die  regte ding  vir ons.

Du Preez : « Die demokrasie is maar ’n gebrekkige stelsel en ’n mens kan soms jou kop skud oor die meerderheid se keuses, maar dis steeds die beste stelsel wat bestaan, die beste versekeringspolis teen tirannie en anargie.

Kommentaar : So werk dit in ‘n homogene of oorwegend homogene Westerse land. Nie in ‘n multi-nasionale opset in ‘n Afrikakonteks nie. ‘n Demokrasie deur en vir blankes was in 1994 met ‘n bietjie beter beplanning en ‘n bietjie meer moed en ‘n bietjie meer wil moontlik en sou inderdaad kon gewerk het. Die « demokrasie » wat ons nou het, werk net vir die swart oligargie wat die stelsel tot die droesem toe uitbuit tot hulle eie voordeel.

Du Preez : In 2014 gee ons Grondwet ons steeds die demokratiese ruimte om luidkeels te protesteer en vir ’n beter bestel te baklei. »

Kommentaar :« Luidkeels te protesteer en vir ‘n beter bestel te baklei » ! Maar hy maak seker grappies. Watter verskil maak ons protes? Wat beteken ons protes teen die verengelsing van ons universiteite en skole, teen die feit dat mense met ses en sewe onderskeidings in matriek universiteitstoelating geweier word omdat hulle wit is, om plek te maak vir studente met ‘n E-simbool, teen die feit dat iemand soos kol. Renate Botha bevordering geweier word omdat sy wit is, teen die feit dat terroriste soos Robert McBride van pos tot pos aangestel word ? Hy lewe mos in ‘n droomwêreld of hy onderskat ons intelligensie, of albei.

Du Preez : Afrikaners was eers vryheidsvegters met ’n sterk sin vir geregtigheid voor hulle rassistiese, selfsugtige boelies geword het.

Jy doen net jou eie bankbalans ’n guns, Steve, as jy probeer om die geskiedenis om te draai en jou aanhangers in ’n nuwe bestaan van rassisme, selfsug en nasionalistiese kragdadigheid in te verlei. Jy doen nie Afrikaners ’n guns nie – en ek vermoed diep in jou hart as ’n intelligente, belese mens weet jy dit. «

Kommentaar : Dis ‘n verregaande aantyging om te maak. Op watter wyse lei Steve Hofmeyr sy aanhangers in ‘n « nuwe bestaan van rassisme, selfsug en kragdadigheid » in? Deur die sing van Die Stem ? Dis tog pure snert. Dink Max Du Preez se Nasperstjomme almal so ? Indien wel, moet hulle maar net so aanhou, want die skrif is vir hulle reeds aan die muur.

Absurditeite is ons daaglikse brood

In ‘n wêreld waar dit nie juis meer ‘n prioriteit is om sin te maak nie, is absurditeite van aller aard ons daaglikse brood. (Om sin te maak is mos ‘n “cultural construct” en “white male prejudice”). Geen wonder dat die teater van die absurde in “ons” (20ste) eeu sy beslag gekry het nie. Die teater van die absurde neem gewoon sy materiaal uit die daaglikse lewe en watter groter bron van absurditeite is daar nie as juis die daaglikse lewe nie. In wat volg kyk ons na ‘n paar voorbeelde, sommige waarvan selfs amusant kan wees as hulle nie so tragies was nie. (Dis natuurlik juis die kern en wese van die teater van die absurde – lag vir die tragedie van ons bestaan.) Die voorbeelde en dus die paragrawe hou nie juis met mekaar verband nie en is eintlik meer op die geaardheid van ‘n lys. Hulle het natuurlik dít in gemeen dat hulle almal, in groter of kleiner mate, met absurditeite te make het.

In ‘n absurde samelewing sit die absurditeite bont en kleurvol aan elke boom, net ryp vir pluk. Wat kan meer absurd wees as ‘n universiteit wat dosente en studente keur op grond van rassekwotas? So’n “universiteit” is net nie ‘n universiteit nie. En wat van ‘n” demokrasie” waar mense werk kry of nie werk kry nie op grond van hulle ras en op grond van ‘n situasie wat meer as twintig jaar gelede opgehou het om te bestaan? En ‘n terroris wat ‘n bom in ‘n vermaaklikheidsplek vir jongmense gooi en dan in ‘n senior polisiepos aangestel word? Of ‘n hoof van die SABC wat haas geen kwalifikasie het nie en ‘n Staatspresident nie juis beter nie? En dan is daar die geval van ‘n maansiek voormalige minister van die “Nasionale” Party wat terroriste se voete was in belang van “waarheid” en “ versoening”. Hierdie laasgenoemde behoort egter tot die kategorie van superabsurditeite of totale vreemdhede. Mens kan aanhou en aanhou, die vrugte is volop.

In Amerika is daar ‘n filosofiese skool bekend as die “Death-of- God theologists”. En hulle neem hulleself ernstig op. Erger nog, hulle word deur ander ook ernstig opgeneem!

In Frankryk het ‘n dokter onlangs ‘n geslagstimulant voorgeskryf vir ‘n gevangene wat besig was om tronkstraf uit te dien weens verkragting en dit enkele dae voor sy vrylating! Onnodig om te sê, binne ‘n week na sy vrylating het hy weer verkrag.

In Engeland word gratis vrugbaarheidsbehandeling gegee aan kinderlose onwettige immigrante terwyl hulle wag vir die afhandeling van die formaliteite vir hulle naturalisering – soort van om die tyd om te kry. Intussen moet Britse burgers wat jare reeds op ‘n waglys is vir vrugbaarheidsbehandeling maar net hulle beurt afwag. En hulle is revrede daarmee, ja hulle is tevrede.

‘n Ou tradisie in Frankryk is jaarlike varkfeeste (festivals de porc) wat in dorpies oral in die die land gereël word. Hierdie feeste is baie algemeen in die Kanadese provinsie Quebec waar hulle deur derduisende mense bygewoon word en selfs in Suid-Afrika is varkfeeste nie onbekend nie. Trouens, so ‘n varkfees is ‘n maand gelede op Heidelberg in die Transvaal gehou. (Miskien kan lesers ons ietsie meer omtrent sulke feeste vertel.) Hoe dit ook al sy, onlangs het die burgemeester van ‘n Franse dorpie die klip behoorlik in die mediabos gegooi toe hy die datum vir die volgende varkfees daar aangekondig het. Dit sou dan naamlik die Moslembevolking te na kom. Te duiwel met die gevoelens van Franse wat hulle reg wil uitoefen om bloot ‘n ou tradisie voort te sit. Hulle moet terugstaan vir die gevoelens van Moslems waarvan baie selfs onwettig in die land is.

Koningin Elizabeth (Mrs Windsor soos oom Jaap haar genoem het) is die rykste vrou in Engeland. Sy betaal egter net belasting op ‘n “vrywillige” grondslag op die winste wat sy op haar landgoedere maak. As groot grondbesitter ontvang sy ook reuse- “landbou”-subsidies van die Europese Unie. Sy het geen erfbelasting betaal op die 20-miljoen pond wat sy van ou Mary geërf het nie.

In Frankryk is prostitusie onwettig, maar word wel geduld. (Tipies Frans). Maar nou, soos ons weet, is prostitusie ‘n heel lukratiewe bedrywigheid wat vroeër of later die belangstelling prikkel van, ondermeer, die Ontvanger van Inkomste. (Miskien is dit juis die rede waarom dit geduld word.) Maar hoe nou gemaak, dis dan onwettig en ‘n belastingpligtige kan mos nou nie “prostitusie” as beroep op die belastingvorm invul nie? Wel, die eenvoudige oplossing is dat sy of hy dan maar enige ander bedrywighed as beroep moet invul, net nie “prostituut” nie. Die feit dat die belastingpligtige aan die einde van die vorm plegtig moet sertifiseer dat die inligting verstrek waar en juis is, pla skynbaar niemand nie. Wie is dan ooit besorg oor die waarheid waar harde kontant betrokke is?

Dis waar, daar is baie voorbeelde uit Frankryk, maar dan is dit ook nie verniet dat die teater van die absurde in Frankryk ontstaan het nie!

In die na-oorlogse jare het ‘n menigte lande hulleself as “volksrepublieke” of “demokratiese republieke” voorgedoen. Onder die lande wat hulle so beskryf, of beskryf het, is Die Kongo, Noord-Korea, China, Oos-Duitsland, Pole, Roemenië, Bulgarye, Mosambiek, Angola, Joegoslawië, Albanië, Hongarye, en nog vele meer. Dus: as ek lyk soos ‘n eend, loop soos ‘n eend en kwaak soos ‘n eend, dan is ek ‘n makou.

Op ‘n keer was daar in ons omgewing ‘n man wat geweier het om sy vierwielaangedrewe voertuig te verkoop ten einde sy kinders behoorlik te voed en klee, uit vrees vir wat dit aan sy “image” sal doen. Sy image! Sy “image” as ‘n man wat met ‘n vierwielaangedrewe voertuig ry, was vir hom belangriker as sy “image” van ‘n man wat sy kinders verwaarloos. Ek is nie seker of hierdie ‘n geval is van absurditeit of eerder van obseniteit nie.

In 2000 het die Sosialistiese regering in Frankryk (al weer) gewildheid probeer koop deur wetgewing aan te neem om die werksweek na 35 uur per week te verminder. Vyf-en-dertig uur in stede van die 40 uur per week voorheen – sonder enige vermindering in salaris. Dit het natuurlik reuseproduktiwiteitsverliese vir die Franse nywerheid en die ekonomie beteken, waarvoor die regering moes vergoed as hulle nie wou hê ondernemings moes op ‘n streep bankrot gaan nie. Sedertdien vergoed die Franse regering dus sake-ondernemings teen ‘n bedrag van gemiddeld €22 miljard per jaar. Dus: hulle vergoed sake-ondernemings vir die katastrofiese beleid wat hulle, as regering, in werking gestel het en soos altyd, uit die belastingbetaler se sak.

Maar nog:

Pas is ‘n Amerikaanse toeris in die “Demokratiese Republiek” van Noord-Korea in hegtenis geneem omdat hy sy Bybel in ‘n hotelkamer vergeet het. So ‘n “daad” sou naamlik “onversoenbaar wees met ‘n toeristiese besoek” en word beskou as ‘n “vyandige gebaar teenoor die staat”. Party dinge is so pateties, dis eintlik lagwekkend.

Soos ons almal weet, is ‘n groep Westerse lande tans betrokke by militêre optrede teen ISIS in Irak en Sirië. ISIS staan, soos u weet, vir Islamic State. Maar nou is daar al weer ‘n polities korrekte oorywer om ‘n polities korrekte eufemisme te vind vir Islamic State en het hulle op die woord DAECH gekom. DAECH is die Arabiese woord vir, raai wat, Islamic State.

Die storie van die sg. oorlog teen Islamitiese bewegings grens op sigself ook aan die absurde. Die beste teenwig teen die Islamitiese opmars in Irak en Libië ”en Sirië was die gevestigde leiers daar, Saddam Hoesein, Moammar Gaddafi en Bacher Al Assad, waarvan twee deur Westerse inmenging verwyder is en die derde byna. Maar moenie vergeet nie, voor hulle was dit reeds die geval in Iran waar die Sjah, wat ‘n redelik progressiewe, pro-Westerse en anti-Islamitiese beleid gevolg het, ook deur Westese bemoeienis uit die saal gelig is omdat hy dan nou sg te “outoritêr” was. In die plek van die Sjah het hulle die Ajatolla Khomeini gekry, diktatoriaal, retrogressief, anti-demokraties, anti-Westers en ‘n totale Islamitiese ekstremis. En sy opvolgers is nog steeds aan die bewind en nog steeds dieselfde. Die enigste troos wat uit die situasie te put is: hulle is minstens ‘n doring in die vlees van die Amerikaners.

En dan is daar die semantiese kleitrappery om ‘n gepaste eufemisme te vind vir swartes. In Amerika bv. was swartes voorheen bekend as Negroes as dit nie iets erger was nie. Nou is dit Blacks of “People of colour” of “African Americans”. In Frankryk was dit altyd “Nègres” en later “Noirs”. Nou is hierdie benamings ook nie meer goed genoeg nie en word, selfs in Frankryk, gepraat van “Les Blacks”. Die ironie is dat Negro of Nègre of Noir niks anders is nie as Spaans en Frans vir juis “Black”.

In Suid-Afrika het ons natuurlik ook die paadjie van eufemismes t.o.v. die swartes geloop. Eers was daar die K-woord, later Inboorling, Bantoe, Naturel en nou Swarte. Die K-woord beteken in Arabies “ongelowige”, d.w.s. iemand wat nie aan die Moslemgeloof behoort nie. Niks meer of niks minder nie en die woord is vir die eerste keer in die Engelssprekende wêreld as ‘n naam vir swartmense gebruik, waarvandaan ons dit ook oorgeneem het. Dink maar, die Oos-Kaap was op ‘n stadium bekend as “ British Kaffraria”! Interessant is ook dat Suid-Afrikaanse goudaandele wat op die Londense effektebeurs verhandel word vandag nog bekend staan as “Kaffirs”.

Nog ‘n interessantheid in hierdie konteks van semantiese preutsheid en politiek korrekte absurditeit is die uitdrukking “to call a spade a spade”. Die woord “spade” is in Amerika ‘n pejoratiewe verwysing na Swartes (omtrent enige verwysing na hulle is mettertyd pejoratief) en kom, om vanselfsprekende redes, van die Skoppensboer in kaartspel. Dus, om ‘n spade a spade te noem is politiek onkorrek en daarom praat Amerikaners van “shovel” in stede van “spade”! (Of hulle Skoppensboer ook ‘n “shovel” noem, is onbekend).

‘n Paar dae gelede wou ek so ‘n bietjie meer uitvind oor die woord “anathema”. Ek tik dit toe terstond in op Google en kry onder Wikipedia die verduideliking: “Anathema are a progressive British pop band from Liverpool”. Kyk gerus maar self.

In Washington is daar nou ‘n skool waar kinders niks anders praat nie as Latyn. Die gedagte is dat dit alle leerlinge op ‘n gelyke voet sal plaas en nie een bo die ander bevoordeel nie, aangesien niemand by die huis Latyn praat nie. Die oogmerk is natuurlik om ongelykheid tussen wit en swart uit te wis. Ons sal maar sien hoe dit uitwerk.

‘n Paar jaar gelede was daar (teen hierdie tyd weet ons al waar) ‘n hofsaak waartydens ‘n man vir moord tereggestaan het. In die loop van die saak het die vraag ontstaan of die aangeklaagde geestelik bekwaam was om verhoor te word. Die regter het twee deskundige getuies ontbied wat albei hoofde was van psigiatriese hospitale. Die een psigiater het bevind dat die beskuldigde geestelik normaal was en verhoor kon word en die ander dat hy onbekwaam was. Die regter het die getuienis aanvaar van die psigiater wat bevind het dat die beskuldigde geestelik versteurd was en hom na ‘n psigiatriese inrigting verwys. Hy verwys hom egter na die hospitaal waarvan die hoof die psigiater is wat bevind het dat hy niks makeer nie. Toe hy by die hospitaal opdaag, sertifisieer die psigiater hom as gesond en ontslaan hom. En so is hy dieselfde dag weer op straat.

In die nuus is daar oorsee op die oomblik ‘n storie van ‘n “kunstenares” wat onsigbare kunswerke “skep”. Onsigbare kunswerke! Daar is selfs ‘n museum vir onsigbare kuns in New York bekend as The Museum of Non-Visible Art (MONA) en onsigbare “kunswerke” word vir duisende dollars gekoop en verkoop. Een koerant het soos volg oor ‘n onlangse uitstalling van onsigbare kuns berig:

“The most amusing aspect of the story is the image of snobby art collectors walking through empty studios staring at the blank walls with track lighting illuminating the nothingness on display. Some of the art afficionados actually stop and soak in the lack of art that is not hanging on the wall and tilt their heads in a deeply thoughtful way as if to project their profound understanding of the message sent by the brilliant young artist and her stunning ability not to create anything.”

As ‘n mens ‘n bietjie daaroor nadink is onsigbare kuns eintlik ‘n uitstekende ding. As die meerderheid van moderne en postmoderne kunswerke voortaan maar onsigbaar kon wees. En dink aan die seëning wat dit kon wees as popmusiek ook onhoorbaar word. Salig.

‘n Onlangse beriggie op Praag maak melding daarvan dat die tekenprente Tom and Jerry voortaan vergesel moet wees van ‘n waarskuwing wat lui dat die tekenprent tonele kan bevat wat “rassevoordeel” uitbeeld. Die kennisgewing is snaakser as die tekenprent self!

Ten slotte sou ‘n stuk oor absurditiete onvolledig wees sonder om minstens te verwys na homoseksuele “huwelike”.

Waarheen is ons wêreld op pad!

Soos ek die Openbaringboek verstaan, sal voor die Koninkryk van die Hemele, die koninkryk van Satan eers kom. In Amerika is hy reeds flink in aantog met sy beste wapen in gereedheid: Om die mensdom te laat glo dat absurditeit normaal is.

Quo vadis Afrikaner?

…die modieuse skrywers van sestig, André Brink aan die spits, met hulle patologiese brousel van Afrikanerhaat en seks.

‘n Opmerking wat ons dikwels hoor, is dat Afrikaners onmobiliseerbaar is. Ons is natuurlik almal bitterlik gefrustreerd met die oënskynlike belangeloosheid en traagheid van Afrikaners, maar is die Afrikaner nou eenmaal onmobiliseerbaar en indien so, van wanneer af en waarom ? Dit kan tog nie wees dat dit vir die Afrikaner net gaan om rugby en geldmaak nie (vir diegene wat wel geldmaak). En as hy in die verlede wel mobiliseerbaar was, waarom toe en nou nie meer nie? Is dit nie sake waaroor ons duidelikheid moet kry nie as ons die probleem enigsins wil aanspreek?

Oor Afrikanermobilisering haal ek aan uit Wikipedia en wel rakende die skepping van die Reddingsdaadbond :

« Die Reddingsdaadbond met die leuse : « ‘n Volk red homself ! » was ‘n beweging wat ds J.D. Kestell op 8 Desember 1939 begin het vir die ekonomiese rehabilitasie van verarmde Afrikaners. Die bond het in 1957 ontbind.

Die stigting het sowat ‘n jaar na die reuse-saamtrek van Afrikaners tydens die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria op 16 Desember 1938 gevolg, op ‘n tydstip toe daar besondere samehorigheid onder Afrikaners geheers het. Leiers van die volk het hulle destyds daaroor bekommer dat sowat 300 000 Afrikaners (byna ‘n derde ) verarm was.

Baie Afrikaners wat weer hulle voete begin vind het na die verwoesting wat die Anglo-Boereoorlog gesaai het, het tydens die Groot Depressie van die vroeë jare dertig weer alles verloor.

Terselfdertyd is Afrikaners se volksbesef aangewakker deur die simboliese Ossewatrek na Pretoria in 1938. Daarom belê die FAK, onder aansporing van ds. Kestell, ‘n volkskongres in Bloemfontiein vir Oktober 1939. Op die kongres besluit afgevaardigdes om ‘n volksorganisasie op te rig met ‘n Christelik-Nasionale grondslag om die spaarkrag, koopkrag en mensevermoëns van Afrikaners te mobiliseer tot voordeel van die volk en so ontstaan die Reddingsdaadbond.

Die Bond het binne vyf jaar 400 takke en 70 000 lede gehad wat elkeen maandeliks ‘n lidmaatskapsfooi van ses pennies bygedra het. ‘n Derde van die fondse is vir administrasie gebruik, ‘n derde vir die afbetaling van ‘n lewenspolis of spaarplan vir elke lid en die orige derde as kommissie vir die persoon wat die fondse ingesamel het.

Die Bond het gehelp om honderde Afrikaanse ondernemings op die been te bring, wat werksgeleenthede vir Afrikaners in veral die stede geskep het, ondermeer Federale Volksbeleggings en die Afrikaanse Handelsinstituut. » (Einde van aanhaling)

Hierdie aanhaling moet gelees en weer gelees word, want elke woord tel.

Uit die inisiatiewe van die Reddingsdaadbond het ook gegroei maatskappye soos SANLAM en Volkskas, voordat lg., ironie van ironieë, verkoop is aan Barclays Bank, Dominion, Colonial and Overseas !

In die laat sestigerjare, ná die groot waterskeiding, nl. die dood van dr Verwoerd, is die Afrikaner weer gemobiliseer, maar hierdie keer om anti-Afrikaans te wees. Dít, te danke aan doelgerigte breinspoeling en kondisionering deur veral die «Nasionale» pers, die Burger en sy susterpublikasies, sowel as die modieuse skrywers van sestig, André Brink aan die spits, met hulle patologiese brousel van Afrikanerhaat en seks.

Ook nie so lank terug nie het die «Nasionale» Party busvragte Stellenboschse studente gemobiliseer om mnr Jaap Marais se vergaderings in die omgewing te gaan ontwrig. En waar wil ‘n mens ‘n meer massale mobilisasie kry as die een wat gevorm is agter die verwronge beginsels van De Klerk en sy lakeie. M.a.w. die Afrikaner was tot onlangs nog heel mobiliseerbaar, maar op ‘n manier wat ongelukkig tot sy eie ondergang gestrek het.

Waarom kon die Afrikaner dan in 1938/39 opstaan en die regte dinge doen en nou nie meer nie ?

Verskeie redes doen hulle voor:

In die eerste plek is daar nie leiers van die kaliber van ds Kestell nie. Of miskien wil die volk hulle nie hê nie. Want leiers word deur n volk voortgebring en nie andersom nie. Miskien het die volk genoeg gehad van leiers wat eintlik verleiers is en is hulle bang om weer verkeerd te kies. Dit bring ons by die volgende rede.

Daar is net nie die samehorigheidsgevoel onder Afrikaners wat daar in 1939 was nie. Trouens, enige verwysing na samehorigheid word, danksy die linkse propaganda van die «Nasionale» Party met argwaan en hoon as verkramp of outyds afgemaak. As ‘n mens jou met hierdie proganda wil vereenselwig, gaan jy vroeër of later die prys daarvoor betaal. En die afrekening het reeds begin.

‘n Verdere rede is dat die Afrikaner, ná sy skaamtelose verraad teenoor mense soos mnr Jaap Marais en ter ondersteuning van De Klerk en gespuis, besef dat hy geen ander keuse oor het nie as om maar met die vrug van sy skande saam te leef en sy kop in die sand te druk. As dit so is, dan is daar minstens nog iets positiefs oor die Afrikaner te sê: Hy kan darem nog skaam wees. Of miskien is dit al wat hy kan wees: Skaam. As hy maar skaam was oor die regte dinge. In stede daarvan dat hy sy lafhartige oorgawe in die gesig staar en skaamkry daaroor, gee hy voor dat hy dit vir die «regte redes» gedoen het: «Demokrasie», «regverdigheid», besorgdheid oor die «agtergeblewenes» en «verontregdes» en ten slotte, o ten slotte, vir redes van «Christelike» moraliteit. Alles in aanhalingstekens want nie een van hierdie dinge bestaan werklik nie.

Voorts: Die Afrikaner is deur voormelde breinspoeling en kondisionering omvorm tot die deursnee moderne Westerling. Die deursnee moderne Westerling, is materialisties, kortsigtig, dink net aan sy eie voordeel en genoegdoening, vermy konflik, soek die maklikste uitweg, is gemaksugtig, volg die neigings van die massas, strewe na wat modieus is, volg die rigting wat aangewys word deur die media, wil ten alle koste in pas wees.

Nog ‘n rede is dat die Afrikaner tot magteloosheid en sinisme gestem is juis weens die feit dat hy al hierdie dinge wat in die Wikipedia-artikel hier bo genoem word, reeds gedoen het. Wat is die sin daarvan om dit alles weer te doen, net sodat dit weer afgevat kan word. Dus, op ‘n manier tog realisties.

Kan dit wees dat dit met die Afrikaner nog nie sleg genoeg gaan nie. Kyk maar weer na die Wikipedia artikel: ‘n Derde van die Afrikanervolk in armoede. Dit kan wees dat ons nie in dieselfde mate in materiële armoede verkeer as toe nie, maar kyk maar na die situasie met ons taal, ons universiteite, ons skole, die veiligheid van ons mense, die hopelose posisie waarin ons verkeer ten opsigte van die regspleging. Enige regskape mens sou kon sien dit kan nie juis veel erger met ons gaan nie.

Ook is dit so dat waar die Afrikaner hom in die verlede aan sy eie skoenrieme kon optrek, kan hy dit nou nie meer doen nie. Alles wat hy vandag tot stand bring, is hy verplig om te oorhandig aan ‘n parasitiese bestel wat maar steeds soos aasvoëls sit en wag om hom te versluk aan enigiets onverdiends. Enige saak of opvoedingsinstansie of wat ook al hy op die been bring, word die volgende oomblik net weer ingepalm en afgeneem. Hierdie is ‘n probleem waaroor daar duskant ‘n volslae onafhanklike tuiste vir Afrikaners net geen oplossing bestaan nie.

Die laaste en miskien grootste probleem is dat die Afrikaner in 1939 duidelike en haalbare doelwitte gehad het. Hy wou, onder aansporing van ware leiers die verarmde deel van die volk weer op sy bene plaas en die Afrikaner in die algemeen ekonomies bemagtig. Daarbenewens het hy die vooruitsig gehad om ‘n verkiesing te kan wen en het hy dit trouens minder as tien jaar later reggekry. Waartoe kan die Afrikaner egter nou aspireer? Waarvoor kan hy nou gemobiliseer word? Wat is haalbaar? Kom ons wees eerlik, daar is omtrent niks.

Die hart van die saak is dus: ‘n Volk red homself.

Die pynlike vraag is egter, is die Afrikaner inderdaad nog ‘n volk? Ons wil nie definisies maak nie, maar die wesenlike element van nasieskap is tog sekerlik die wil om ‘n volk te wees. Reeds sedert die De Klerk-regime bestaan die indruk dat die Afrikaner homself beskou as ‘n gemeenskap eerder as ‘n volk. Die Afrikaanssprekende gemeenskap, so op die lees van die English-speaking community.

Wat sê ‘n mens dus nou oor ‘n volk wat nie wil nie, wat nie wil saamstaan nie, wat nie eers wil bestaan nie? Moontlik drie dinge :

  1. Word wakker mens, maak jou oë oop. Die oomblik om dit te doen is nóú, anders is jy vir eens en vir altyd verlore. Strewe na iets, die behoud van jou taal, die beskerming van jou skole en universiteite, ondersteuning van Afrikaanse sake-ondernemings, die beskerming van ou mense op plase, en les bes, selfbeskikking op eie grondgebied. Iets. Strewe net na iets.
  2. As jy nie die pad van vryheid wil inslaan nie en trouens die FW De Klerk-koers na onderdanigheid verkies en vir die DA wil stem, as dit jou keuse is, is die situasie waarin jy verkeer miskien dan maar al wat jy verdien. As die nuwe Suid-Afrika vir jou aanvaarbaar is, kan ons nie veel meer doen nie as om jou ‘n lang lewe van bierblik-agtermiddae by die (kwota) rakbie en gesellige aandjies op die TV met 7de laan toe te wens. Miskien is dit genoeg om jou gelukkig hou. Daar is natuurlik ook nog die opsies om te verengels of te verbaster of beide, maar daartoe benodig baie reeds geen aanmoediging nie.
  3. Vir die Afrikaner wat Afrikaner wil wees, weet ‘n mens werklik nie wat om te sê nie. Die verraad was hierdie keer te groot en te diep. Sommige sal hardnekkig volhou treur en tier en teen die prikkels skop en alle sterkte word hulle toegewens. Ander sal tot die slotsom kom, in die nuwe Suid-Afrika is daar vir ons net nie ‘n toekoms nie. Vele het reeds hierdie gevolgtrekking gemaak.

Die vyand se wiele

In ‘n vorige bydrae is melding gemaak van die rol van die Amerikanisme in die aanslag op die blanke ras en die Afrikaner spesifiek. Maar daar is nog ander belangrike redes wat natuurlik verband hou met die genoemde Amerikanisme. In ‘n groot mate het dit te make met die ankerloosheid van die moderne Westerse mens en die maniere waarop hy alternatiewe vasmeerplekke probeer skep. Die vashouplekke van die verlede verdwyn een na die ander: christelike waardes, die kommunisme en die nasionaalsosialisme, gediskrediteer deur die ervarings van WO2 en daarna. Wat bly dus oor om in te glo? Vir die afgelope aantal dekades was dit die obsessie met ras en die ou gunsteling, kapitalisme, wat, soos aangetoon sal word, nou met die rassebeheptheid verbonde is. Alles gaan min of meer daarom om ‘n lugleegte te probeer vul.

Amerikanisme, wêreldkapitalisme, rassewaansin, die drietandvurk van die bose waarteen die vryheidstryd van die behoudendes in die 21ste eeu gevoer sal moet word.

Die dryfveer van die kapitalisme is die winsmotief. Daar moet altyd net meer winste getoon word ten einde die aandeelhouers se vraatsug te bevredig. Die mens moet gereduseer word tot ‘n eenvormige, identiteitlose verbruikersinsek. Die kultuurwaardes wat bevorder moet word om die geestelike leegheid te vul, is dié van Hollywoodse prulle en popmusiek. Of almal nou Engels praat of almal ongeveer dieselfde lyk, m.a.w. ‘n soort gelerige verskynsel met kakiepeperkorrels, des te beter. Dit vereenvoudig net die taak van die internasionale finansiële oligargie om die lotgevalle van die mensdom beter te beheer en tot hulle eie voordeel uit te buit. Al wat tel, is ‘n groter en groter masssa van kopers en verbruikers en genereerders van winste. Dis duidelik dat die Afrikaner, met sy sterk identiteitsbewussyn en nasionalisme in die pad van hierdie program gestaan het en nog staan. Die beheptheid van die «internasionale gemeenskap» met Afrika en die «ontwikkeling» van Afrika, mag ingeklee wees in morele en humanitêre terme, maar dis net nog ‘n verdere poging om markte te skep en groter winste vir die finansiële maghebbers te bewerkstellig.

In Suid-Afrika self is dit nie anders gesteld nie. Ook hier was die versugting van die geldmagte om groter winste te toon die dryfkrag agter die program van oorgawe, ‘n versugting wat suksesvol deur die oorgawe bevredig is. Die Nasionale Party was maar net die hond wat deur die finansiële stert geswaai is.

Naspers is ‘n goeie voorbeeld: ‘n kapitaalkragtige, maar in wêreldterme relatief klein, maatskappy. Hulle oogmerk: winste en nogmaals winste. Die waarde van hulle advertensieruimte word deur die aantal lesers bepaal. En natuurlik lê die getalle lesers en die groeipotensiaal daarvan by die kleurlinge en swartes. So waarom sou Naspers hulle lesersgetalle en advertensie-inkomste in gevaar stel deur hulle oor Afrikanerbelange te bekommer en dít terwyl Afrikaners in elk geval gedienstig en gedweë die Nasperspublikasies koop? Die finansiële belange van Naspers kan veel beter gedien word deur die Afrikaners te vertrap en te verguis. En hierdie voorbeeld kan net so op die situasie wêreldwyd toegepas word. Die nie-wit rasse is wêreldwyd verreweg in die meerderheid en soos die oligargie van superrykes dit sien, verteenwoordig hulle die koopkrag van die toekoms waarvoor die witman gerus maar opgeoffer kan word.

Die Westerse mens is deur die finansiële wêreldmagte op ‘n pad van uitwissing geplaas en hulle beskawing word na die afgrond gerig. En dit geskied natuurlik, soos altyd, met die ywerige medewerking van die keffertjies in die media, wat op die voorpunt van die beweging verkeer.

Die wêreldoligargie van finansiële magshebbers kan teen die agtergond van die sukses van die globale program die afgelope dekades seker gelukkig voel, want dit het vir hulle inderdaad monstrueuse rykdomme geskep. Oral in die wêreld neem die gebruik van die Engelse taal toe en verskuif nasionale kulture en identiteite na die agtergrond. En oral word gemeng en verbaster. Maar daar is tog hoop, want die wêreldkapitalisme het ‘n klippie in die skoen.

Die klippie in die skoen is die perverse effek van die stelsel self wat hulle tot stand gebring het. In die meeste Westerse lande het die finansiële posisie van die middel- en laer finansiële klasse oor die afgelope drie-vier dekades drasties verswak. (Doelbewus bewerkstellig miskien?) Werkloosheid in Westerse lande is reeds massaal en aan die groei. Die verskille tussen die rykstes en die armstes is snel aan die toeneem. Die verbruikersmark is inderdaad nie besig om te groei nie, maar om te krimp. En die meesterideologie van gelykheid en eendersheid lyk ook maar so’n bietjie uitasem. Inderwaarheid is die wiele van die internasionale finansiële en ekonomiese orde besig om een vir een af te val. Sedert 2008 het 504 banke in Amerika alleen ineengestort waaronder finansiële mastodonte soos Lehman Brothers en Bear Stearns en baie vooraanstaande ekonome voorspel dat die ergste nog voorlê.

In baie Westerse lande bedryf regerings programme om wankelmoedige privaatmaatskapye in staat te stel om te belê, uit te brei en werkers in diens geneem. Tienmiljarde euro’s is hierby betrokke. Dit blyk nou dat in sommige lande waar miljarde se europrogramme, in die vorm van subsidies of belastingkortings tans in swang is, die voordele byna volledig in die vorm van dividende aan aandeelhouers uitgekeer word. Dit beteken dat bv. Sosialistiese regerings die aandeelhouers van private maatskapye met belastinggeld subsideer. Teater van die absurde? Nee, die ware werklikheid. Dit sê ook iets oor die veelgeroemde private ondernemerskap dat hulle moet oorleef op die gunste en gawes van (Sosialistiese) regerings! In Frankryk betaal groot maatskappye belasting teen ‘n koers van 7% terwyl klein en middelslagondernemings, verreweg die grootste werkgewers, 33% betaal. Enige mens met ‘n normale verstand in sy kop kan sien dat so ‘n situasie tot rampspoed gedoem is.

Dít alles beteken dat ontevredenheid onder die middel- en werkersklasse aan die broei is. Hierdie gedeeltes van die Westerse bevolking verwerp in toenemende mate die ultraliberale globale kapitalisme. Vir geestelike en materiële stabiliteit kan hulle nie meer hulle toevlug neem tot die kerke nie en ook nie tot die uitgediende en verwerplike kommunisme nie. Daarom wend meer en meer van hierdie mense hulle tot die nuwe nasionalistiese bewegings in Europa. Die Front National in Frankryk is in groot mate ‘n party van die werkers en toenemende getalle voormalige ondersteuners van die Kommunisteparty loop na hulle toe oor.

Die wêreldkapitalisme het dus gedeeltelik gewerk, maar ook grootliks misluk. Dit het gewerk vir ‘n handjievol superrykes, maar vir groot gedeeltes van die algemene bevolking het dit jammerlik gefaal. En boweal kon dit natuurlik allermins die groot leegheid vul. Die gevolg is dat die wêreldkapitalisme in belangrike opsigte die teenoorgestelde bereik van wat dit beoog het, nl. ‘n gesiglose, identiteitslose, amorfe massa van willose, klakkelose verbruikers. In stede daarvan het hulle nou ‘n nuwe en groeiende nasionalisme wakker gemaak, iets wat ons hopelik ten goede kan strek.

Ten slotte, ‘n klein opmerking waaroor u kan nadink. Gedurende die koue oorlog het Duitsland, uit vrees dat die Sowjette sy goudreserwes in die hande kon kry, 1500 ton goud na Amerika verskeep waar dit in die Amerikaanse sentrale bank geberg word. In die jongste jare probeer Duitsland om weer sy goud terug te kry, maar dit blyk nou dat die goud verdwyn het. Wat het daarvan geword?

Pawlof se brakke

Die politieke gesprek in Suid-Afrika word gevoer in die Amerikaanse dialektiek of idioom, want dit is al waarvan baie Suid-Afrikaners weet.

In hierdie artikel word besin oor die moeilike vraag van die rede vir die wêreldwye veldtog teen die Afrikaner spesifiek, maar ook teen die wit ras in die algemeen. Daar is primêre en sekondêre oorsake. Van die sekondêre oorsake is die feit dat wittes in die algemeen en Afrikaners spesifiek, in vyftig jaar meer kon vermag as wat die die swartes in vyftigduisend jaar kon doen. Maar daar is ook die rol van ‘n verdraaide en halfbegrepe Christelike etiek, oordrewe humanisme, misplaaste verdraagsaamheid en ten slotte die skuldkomplekse van dese en gene oor hulle eie geskiedenis waarvoor hulle hier by ons wil kom boete doen.

Kom ons bepaal ons dan vir eers by die primêre faktore, want daar is benewens die genoemde sekondêre faktore ook die meer fundamentele ideologiese, politieke en intellektuele redes. Ten einde die rubriek nie te lank te maak nie, sal ons hierdie keer die faktor aanspreek van die Amerikanisme. In ‘n volgende bydrae, as dit aanvaar word, sal ons kyk na die invloed van die internasionale kapitalisme.

In die eerste plek is daar dan die rol van die Amerikanisme. Meeste van die gedrogtelikhede van die Suid-Afrikaanse bestel is afkomstig uit Amerika, veral die gedagte dat ‘n samelewing «reg» gedruk of gemanipuleer of gemoker kan word. Hulle praat van «social engineering» (sosiogeniëring is die mooi Afrikaanse woord). Dink maar aan die weersinwekkende beleid om skoolkinders met busse van bakboord na stuurboord te karwei ten einde swartes en wittes «gelyk» te maak. Waar anders as in die Goelag is so iets moontlik? Die aberrasies van «regstellende» aksie, «transformasie», «swart bemagtiging», «positiewe» diskriminasie en «politieke korrektheid» is almal Amerikaanse maaksels en is almal pogings om ongeregtighede van húlle verlede reg te stel wat hulle dan holus bolus na die buiteland wil uitvoer

In die vyftiger- en sestigerjare het die Amerikaners ‘n doelgerigte program bedryf om die Afrikaner- intellektuele elite, veral in die akademie en die media, met studiebeurse na Amerika te lok ten einde hulle blootstelling te gee aan die «lig» van die Amerikanisme. M.a.w. te kondisioneer, sodat hulle kon kwyl wanneer hulle moes, soos Pawlof se hond.

Amerika is egter ‘n spesifieke tipe samelewing met ‘n bepaalde soort bevolkingsamestelling. Dit kon, of wou, die nuwe, gebreinspoelde Afrikanerelite nie insien nie. Die Amerikaners is ‘n wit meerderheid en ‘n swart minderheid, ‘n patroon wat in die res van die wêreld meesal nie die geval is nie. In elk geval nie in Suid-Afrika nie. Daarby gaan hulle gebuk onder ‘n vernietigende skuldkompleks oor hulle swart minderheid se slawegeskiedenis. Die Amerikaanse komplekse en die manier waarop hulle dit wil besweer, word knaend aan die die res van die wêreld opgedring. En watter beter plek om dit te kan doen as Suid-Afrika waar hulle ‘n relatief klein blanke bevolking vir die honde kan gooi ten einde hulle eie rasbehepte gewete te sus? In die meeste plekke rondom die aardbol waar die Amerikaners probeer het om hulle model af te smeer het hulle net monsters geskep. Dit geld ook Suid-Afrika.

As ‘n mens suiwer ten opsigte van ras redeneer, soos die nuwe Afrikanerelite so goed by die Amerikaners geleer het, het ons hier ‘n swart meerderheid en ‘n wit minderheid . In Amerika is die swart minderheid ‘n onbeholpe en ellendige gemeenskap wat voortbestaan deur op die rug van die gewetensbeswaarde wittes te parasiteer. In Suid-Afrika het ons ‘n minderheid wat skeppend, produktief en vindingryk is en ‘n meerderheid ellendiges wat daarop teer. Dis miskien die enigste land ter wêreld waar die minderheid in staat is om vir homself te sorg as hy maar net toegelaat word om dit te doen. Dis dus ‘n radikaal ander situasie as in Amerika.

Die politieke gesprek in Suid-Afrika word gevoer in die Amerikaanse dialektiek of idioom, want dit is al waarvan baie Suid-Afrikaners weet. Hulle is stelselmatrig gebreinspoel om te glo dat die Amerikaanse patroon die enigste is. Feit is egter dat Suid-Afrika nie ‘n swart meerderheid is met ‘n wit minderheid nie, maar ‘n samestelling van verskeie duidelik identifiseerbare volke. In Amerika is dit nie so nie. Deur die Amerikaanse model op Suid-Afrika af te dwing, soos inderdaad gebeur het, kon hulle hier net ‘n politieke, ekonomiese en sosiale gedrog tot stand bring. En die man wat hierdie dinge by uitstek raakgesien het, nl. dr Verwoerd, is letterlik en fisies van die toneel verwyder.

Die probleem met die nuwe Afrikaner- intellektuele elite is dat hulle glad nie nuut is nie, maar inteendeel die mees vermoeiende napraters wat ‘n mens jou kan voorstel. Wat vir hulle nuut is, is die ou nuus uit Amerika, wat sy eie agenda het en probeer om ander daarby te laat konformeer. ‘n Mens sou kon verwag dat intellektuele die minimum analitiese en kritiese vermoë sou hê om hulle nie aan die neus te laat lei nie. Maar in hierdie opsig het die hoop ongelukkig beskaam.

Amerika het vir ons niks te bied nie en ons kan van hulle niks leer nie. Die wêreld se grootste probleem is dat daar geen alternatief vir Amerikaanse «leierskap» is nie. Daar is geen ander supermoondheid waarna die wêreld kan opsien en van wie hulle ‘n ander boodskap kan verwag as die sieklike Amerikaanse humanisme nie. ‘n Mens kan maar net jou hoop daarop stel dat werklike alternatiewe nasionale moondhede in Europa aan die ontwaak is. En wie weet, miskien bied Rusland iewers in die toekoms ook ‘n ander visie?