Ou aap nie meer snaaks

In sy uitgawe van 11 November plaas Die Burger ‘n soort van debat, of bespreking dan, van die DA se Dianne Kohler-Barnard en, glo dit as u wil, sy Edele R.F. Botha, oor die geheimsinnighede rondom die sg. Nasionale Sleutelpunte. Enige plek of instansie waaroor die ANC bewind die mond van die media wil snoer, is terloops ‘n « Nasionale Sleutelpunt ». Kohler-Barnard se sienswyses oor hierdie, of enige ander onderwerp kan ons maar rustig ignoreer, maar RF Botha ? Die feit dat Die Burger nog aan RF Botha blootstelling verleen om sy gediskrediteerde en verwerplike selfregverdigings oefeninge uit te voer, dui op die totale verdeling van die Suid-Afrikaanse samelewing ; enersyds mense wat niks wil weet oor wat RF Botha nog te sê kan hê nie en andersyds dié wat in weerwil van die algemene volksgevoel nog stiksienig volhou om aan hom en ander soos hy ‘n platvorm te verskaf.

Hoewel die onderwerp van die bespreking die gekonkel rondom die sg Nasionale Sleutelpunte is, het Sy Edele die geleentheid gebruik om die bedenklike rol wat hy en sy departement in die kapitulasieproses gespeel het vir die soveelste keer te probeer regpraat. Onder die « prestasies » wat hy aan sy departement toedig, noem hy eerstens die Nkomati-verdrag van 1984, wat ‘n vredesverdrag met die Kommunistiese Frelimo-bewind van Mosambiek was en bedoel was om die betrekkinge met Mosambiek te « stabiliseer ». Behalwe vir die verdwaalde beginselposisie wat RF aan mnr PW Botha verkoop het, was dit ‘n doodgebore verdrag wat allerweë met bespotting en kroegkwinkslae begroet is.

Dan gaan hy voort om krediet te probeer neem vir die « vreedsame onafhanklikheidswording » van Rhodesë in 1980 wat ons Noordelike grens « gestabiliseer » het. (Let op die herhaaldelike gebruik van die gerusstellende term « stabiliseer »). Inderdaad was die uitlewering aan nog ‘n kommunistiese terroristebende ‘n veragtelike en verrraderlike daad waarvoor geen regskape mens krediet sal wil neem nie. Die « stabilisering » van ons Noordgrens was die stabiliteit wat teweeg gebring is deur verraad en oorgawe. En om dan nie eers te praat nie van die vier-en dertig jaar van « stabiliteit » in Zimbabwe sedert 1980 onder die hiel van nog ‘n harlekyn diktator op die lees geskoei van ‘n Idi Amin Dada of ‘n Jean Bedel Bokassa.

En dan hierdie verstommende en skaamtelose bekentenis : »Die beëindiging van die oorlog in Angola in 1988 en Namibië se vreedsame onafhanklikheidwording in 1990 « wat dit moontlik gemaak het om in Suid-Afrika politieke mag oor te dra ». Hy beskou dit as ‘n prestasie en spog daarmee! Hoeveel meer pervers en verwronge kan ‘n mens wees sonder om ‘n volslae psigopaat te word?

Vir soveel jare is die Suid- Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse publiek aan die neus gelei deur hierdie vermaaklikheidskunstenaar en goëlaar en skynbaar is daar nog steeds mense wat na hom wil luister en sy stories glo. Mens kan egter met redelike sekerheid aanneem hulle is verreweg in die minderheid, want, soos die digter François Villon gesê het : « ‘n Ou aap is nie meer snaaks nie .»

Dianne se gekruide parlementêre taal

Dat politici nie op hul monde geval is nie, is nie ‘n geheim nie.

Trouens, die Britse lords het gemeen hulle is sulke ysters as kommunikators dat hulle nie nodig het om kundiges met verkiesingsveldtogte te gebruik nie. Toe doen Margaret Thatcher se Tories dit, en uit die amperse bloute verskyn die ystervrou op die toneel.

Nou het die DA se Dianne Kohler-Barnard in dingetjie in die parlement kwytgeraak wat haar vyf dae se skorsing deur haar eie party op die lyf laat loop het, en sy moet nog die parlement vir dié geturksvyde woorde om verskoning vra ook.

Oud-Minister Hendrik Schoeman, indertyd Minister van landbou, is volgens oorlewering een nag wakkergebel deur ‘n boer wat kla oor die mieliepryse of iets. Volgens hierdie oorlewering het Hendrik vir die boer in geen onduidelike taal nie laat verstaan hy moet gaan &*&.

Dis reg, dis hoe my minister met my moet praat.

Alles volgens oorlewering.

Beloftes maak het ministers ook al reputasies en byname besorg, soos Piet Promises. Maar, so lyk dit ook, is Piet se “rekord” soos wyle Hendrik s’n, lankal verpletter. As hedendaagse “promises” nie donkievye geblyk te gewees het nie, smaak dit my sou daar nie meer ‘n arm mense in Afrika gewees het nie, en sou die strate en paaie al ‘n goudlagie gehad het. Nou het die paaie ‘n skrootlagie soos goed deur die slaggate uit die rygoed uitgeruk word.

Politici wat groen blaartjies opsoek, is ook nie iets heeltemal nuuts nie. Maar ook hier, meen ek, is alle rekords ook nou al herskryf.

Iemand wat natuurlik vir Dianne lesse sou kon gee oor parlementêre kwinkslae, was Neelsie Langenhoven. Maar ek het net ‘n spesmaas as iemand vandag iets sou herhaal wat Langenhoven volgens oorlewering kwytgeraak het, naamlik daai een dat die helfte van die lede ‘n klomp ape is, sal die poppe veel erger dans as destyds.

Volgens oorlewering het Langenhoven daarmee weggekom toe hy die beswaarde agbare lede in sy terugtrekking verseker het die helfte van die lede is nié ‘n spul ape nie.

Trouens, ‘n hele rits opmerkings, selfs onskuldig bedoel, sal waarskynlik veel meer as vyf skorsingsdae en ‘n terugtrekking tot gevolg hê. Om so ‘n paar te noem: “Dit lyk of Kaapstad se dieretuin verhuis het.” Of: “Die sirkus is in die stad.”

‘n Opmerking soos: “Die ooievaar sit op die dak,” kan dalk ook groot teenspoed beteken.

So fyngevoelig is die mense in die praathuis nou dat gebaretaal onverwags teenspoed gekry het. ‘n ANC-lid het glo vir Zuma se prosessie op pad parlement toe gewuif, maar is gearresteer en van crimen injuria aangekla oor dié vingertaal. Hy het na bewering net met sy middelvinger gewaai.

Ja-nee, dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek bedoel, nie lank gelede nie het Johnny de Lange nog ‘n gedoktorde NNP-lid binne die parlement so hard gemoker dat die agbare lid op sy agbare agterent beland het. So hard, hy is heeltemal binne-in die ANC ingemoker is.

Ek meen, dié insident sal nou seker maak dat Dianne nou ook ‘n vurige kampvegter vir Afrikaans word. Het sy maar, soos ‘n bekende Afrikaanse tennisspeler vir die skeidsregter in Afrikaans gesê het is ‘n &8&huis, haar ding in Afrikaans gedoen, het sy weggekom daarmee.

Hoewel, ek dink daai spesifieke woorde sou die agbare verontregde lid ook verstaan het al was dit in Afrikaans gebesig.

Maar niemand sal stry nie. Dianne het as kommunikator soos min ontpop. Net twee woorde en sy het meer aandag op haar gevestig en is ernstiger opgeneem as ‘n prez met twee spietse.

средство для полоскания рта при воспалении десенФильчаков прокурор харькова