Dat politici nie op hul monde geval is nie, is nie ‘n geheim nie.
Trouens, die Britse lords het gemeen hulle is sulke ysters as kommunikators dat hulle nie nodig het om kundiges met verkiesingsveldtogte te gebruik nie. Toe doen Margaret Thatcher se Tories dit, en uit die amperse bloute verskyn die ystervrou op die toneel.
Nou het die DA se Dianne Kohler-Barnard in dingetjie in die parlement kwytgeraak wat haar vyf dae se skorsing deur haar eie party op die lyf laat loop het, en sy moet nog die parlement vir dié geturksvyde woorde om verskoning vra ook.
Oud-Minister Hendrik Schoeman, indertyd Minister van landbou, is volgens oorlewering een nag wakkergebel deur ‘n boer wat kla oor die mieliepryse of iets. Volgens hierdie oorlewering het Hendrik vir die boer in geen onduidelike taal nie laat verstaan hy moet gaan &*&.
Dis reg, dis hoe my minister met my moet praat.
Alles volgens oorlewering.
Beloftes maak het ministers ook al reputasies en byname besorg, soos Piet Promises. Maar, so lyk dit ook, is Piet se “rekord” soos wyle Hendrik s’n, lankal verpletter. As hedendaagse “promises” nie donkievye geblyk te gewees het nie, smaak dit my sou daar nie meer ‘n arm mense in Afrika gewees het nie, en sou die strate en paaie al ‘n goudlagie gehad het. Nou het die paaie ‘n skrootlagie soos goed deur die slaggate uit die rygoed uitgeruk word.
Politici wat groen blaartjies opsoek, is ook nie iets heeltemal nuuts nie. Maar ook hier, meen ek, is alle rekords ook nou al herskryf.
Iemand wat natuurlik vir Dianne lesse sou kon gee oor parlementêre kwinkslae, was Neelsie Langenhoven. Maar ek het net ‘n spesmaas as iemand vandag iets sou herhaal wat Langenhoven volgens oorlewering kwytgeraak het, naamlik daai een dat die helfte van die lede ‘n klomp ape is, sal die poppe veel erger dans as destyds.
Volgens oorlewering het Langenhoven daarmee weggekom toe hy die beswaarde agbare lede in sy terugtrekking verseker het die helfte van die lede is nié ‘n spul ape nie.
Trouens, ‘n hele rits opmerkings, selfs onskuldig bedoel, sal waarskynlik veel meer as vyf skorsingsdae en ‘n terugtrekking tot gevolg hê. Om so ‘n paar te noem: “Dit lyk of Kaapstad se dieretuin verhuis het.” Of: “Die sirkus is in die stad.”
‘n Opmerking soos: “Die ooievaar sit op die dak,” kan dalk ook groot teenspoed beteken.
So fyngevoelig is die mense in die praathuis nou dat gebaretaal onverwags teenspoed gekry het. ‘n ANC-lid het glo vir Zuma se prosessie op pad parlement toe gewuif, maar is gearresteer en van crimen injuria aangekla oor dié vingertaal. Hy het na bewering net met sy middelvinger gewaai.
Ja-nee, dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek bedoel, nie lank gelede nie het Johnny de Lange nog ‘n gedoktorde NNP-lid binne die parlement so hard gemoker dat die agbare lid op sy agbare agterent beland het. So hard, hy is heeltemal binne-in die ANC ingemoker is.
Ek meen, dié insident sal nou seker maak dat Dianne nou ook ‘n vurige kampvegter vir Afrikaans word. Het sy maar, soos ‘n bekende Afrikaanse tennisspeler vir die skeidsregter in Afrikaans gesê het is ‘n &8&huis, haar ding in Afrikaans gedoen, het sy weggekom daarmee.
Hoewel, ek dink daai spesifieke woorde sou die agbare verontregde lid ook verstaan het al was dit in Afrikaans gebesig.
Maar niemand sal stry nie. Dianne het as kommunikator soos min ontpop. Net twee woorde en sy het meer aandag op haar gevestig en is ernstiger opgeneem as ‘n prez met twee spietse.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.