‘n Totaal van 63 mense is in hegtenis geneem nadat lede van die gemeenskap in Moletlane by Zebediela op ‘n plundertog gegaan het en vyf winkels van Chinese sakemanne afgebrand het.
Die geweld spruit na bewering uit ‘n voorval die naweek toe ‘n 21-jarige man doodgesteek is ná ‘n argument met ‘n Chinese winkeleienaar. Die verdagte is in hegtenis geneem op ‘n aanklag van moord.
Sondag het lede van die gemeenskap begin mobiliseer en vyf winkels geplunder en aan die brand gesteek.
Niemand is beseer of gedood tydens hierdie voorvalle nie, maar uitgebreide skade is aan die geboue aangerig.
Die verdagtes, 43 mans en 20 vroue , is in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en brandstigting en sal na verwagting later hierdie week verskyn in die Magatle-landdroshof .
Op Apel is sewe verdagtes in hegtenis geneem nadat hulle na bewering vyf huise en drie voertuie aan die brand gesteek het ook oor die naweek.
Lede van die gemeenskap beskuldig drie mense van die vermorsing van geld wat ingesamel is vir ‘n gemeenskapsprojek.
Niemand is dood of beseer is tydens die voorvalle nie. Die verdagtes sal in die Sekhukhune-landdroshof verskyn.
Lede van die Openbare Orde Polisie-eenhede is in albei hierdie gebiede ontplooi om die situasie te monitor en geen verdere voorvalle van geweld is aangemeld nie.
Die provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Limpopo, lt.genl Fannie Masemola, het ‘n streng waarskuwing aan die lede van die gemeenskap gerig en gesê hierdie tipe wetteloosheid en gewelddadige optrede sal nie geduld word nie.
Meer as 70 lede van die Siyandhani gemeenskap buite Giyani in Limpopo is Dinsdagaand in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld.
Die SAPD het die voorval bevestig, maar sê dit is nie duidelik wat tot die onrus gelei het nie.
Onderrig by skole in die omgewing is ontwrig.
Diegene wat in hegtenis geneem is sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Inwoners van Ntibane by Ngqeleni in die Oos-Kaap het sedert Vrydag die pad na die Mthatha residensiële kusgebied versper.
Die oproeriges kla oor swak dienste. Omliggende gebiede word ook geraak deur die oproer wat toerisme en skole negatieg beïnvloed.
Volgens berigte is sewe skole en drie klinieke gesluit weens die geweld.
Inwoners kla dat hulle al meer as tien jaar wag vir elektrifisering, die gebrek aan water, sanitasie en swak paaie.
Die gemeenskap dreig om nie die verkiesing te boikot as die regering nie op hul eise reageer nie.