Meer as 20 000 mense is reeds dood en meer as 2,6 miljoen is haweloos gelaat sedert Boko Haram-militante in 2009 met ’n insurgensie teen die Nigeriese owerhede begin het, het AFP berig.
Ondanks die groot aantal mense wat hierdeur geraak word, het die situasie min aandag geniet in vergelyking met ander humanitêre krisisse in die wêreld, selfs binne Nigerië.
In Julie het die Verenigde Nasies (VN) aangekondig dat byna 250 000 kinders onder die ouderdom van vyf jaar vanjaar in die Borno-staat alleen aan ernstige ondervoeding ly en dat een in vyf, nagenoeg 50 000 sal sterf.
Verlede maand het die VN gesê 4,5 miljoen mense in die noordoostelike state van Nigerië benodig dringend voedselbystand, twee keer soveel as wat in Maart die geval was.
Van hulle staar meer as 65 000 hongersnood in die gesig. Gevegte en onveiligheid het egter daartoe gelei dat van die gebiede wat die swaarste getref is, van hulp afgesny is.
Dr. Bamidele Omotola, ’n spesialis in voeding verbonde aan die VN se Kinderfonds (Unicef) sê globale akute ondervoeding is “ver, ver, ver meer as wat ’n mens in noodtoestand aantref”.
“Ek onthou die laaste keer wat ons sulke ernstige gevalle gehad het. Dit was tydens die Nigeriese burgeroorlog vanaf 1967 tot 1970,” het hy bygevoeg.
Destyds is meer as ’n miljoen mense dood vanweë hongersnood en siekte tydens die oorlog wat teweeggebring is deur die eensydige onafhanklikheidsverklaring deur Biafra in die suidooste van Nigerië.
Nou het gevegte boere verhinder om hul oeste aan te plant, gebiede is verwoes en landmyne is geplant met waterbronne wat besmet is en die tekort aan voedselvoorrade wat pryse by plaaslike markte die hoogte laat inskiet het. Terselfdertyd heers ’n resessie in Nigerië. Die land se geldeenheid, die naira, het waarde verloor en inflasie het tot meer as 17 persent gestyg, wat kos, brandstof en goedere baie duur gemaak het.
Dokters en gesondheidswerkers bied voedingsprogramme in kampe vir hawelose mense en by openbare gesondheidsklinieke in Maiduguri aan en sien daagliks die gevolge van die voedseltekorte.
Desperate ondergewig kinders word geweeg en die omtrek van hul bo-arms word gemeet vir tekens van ondervoeding.
Diegene wat te swak is om teen komplikasies soos masels, malaria en diarree te veg, word na ’n terapeutiese voedingsentrum in Gwange gestuur wat deur Dokters Sonder Grense (MSF) beman word.
MSF sê in Julie is 290 pasiënte opgeneem en 30 kinders is dood vanweë erge ondervoeding. In Augustus het die getalle tot 387 opnames met 72 sterftes verhoog.
Die Boko Haram-konflik en die gevolge het ook reeds oorgespoel na noordelike Kameroen, die suidooste van Niger en die weste van Tsjad met meer as 6,3 miljoen mense in die streek wat ernstige voedselonveiligheid in die gesig staar.
Volgens die VN se humanitêre koördineerder in die streek, Toby Lanzer, is $385 miljoen nodig om die krisis in die noordooste van Nigerië af te weer. Vir die streek word $559 miljoen benodig.
Maar die hongersnood is nie alleen die gevolg van Mosleminsurgente nie. Talle kinders word verhonger deur hul ouers omdat hulle glo die kinders is “hekse”. Enkele van dié duisende kinders word deur hulpwerkers (foto) gered.
Keniane is dié week betrap waar hulle probeer het om liggaamsdele van ’n man met albinisme af te kap om dit vir moetie te verkoop.
Dit het vrees vir oorgrens-aanvalle uit naburige Tanzanië laat ontstaan, het AFP berig.
“Drie mense het my huis bestorm en geld geëis,” het die 56-jarige Enock Jamenya van die Vihiga-distrik aan die Daily Nation gesê. “Toe ek hulle meedeel dat ek nie geld het nie, het hulle vir ’n oor of ’n hand gevra wat hulle in Tanzanië wou gaan verkoop.”
Die aanvallers het sy oor, arm, nek en vingers begin afsny, maar het op die vlug geslaan toe hulle vermoedelik gesteur is. Jamenya is gewond en bewusteloos agtergelaat.
In naburige Tanzanië word sommige politici daarvan beskuldig dat hulle albino-liggaamsdele vir heksery en gelukbringers koop.
Menseregtegroepe het gewaarsku oor die gevaar van meer aanvalle op albino’s in Tanzanië terwyl veldtogvoering onderneem word vir die presidents- en algemene verkiesing wat op 25 Oktober plaasvind.
Die Keniaanse wetgewer Isaac Mwaura, wat ook albinisme het, het herhaaldelik gewaarsku dat bendes aanvalle in Kenia uitvoer vir handel in Tanzanië. Minstens 76 albino’s in Tanzanië is sedert 2000 vermoor en hul liggaamsdele teen ongeveer US$600 stuk verkoop.
’n Hele liggaam kan volgens deskundiges van die Verenigde Nasies vir soveel as US$75 000 verkoop word.
Polisie in Limpopo het 17 mense onder wie twee minderjariges in hegtenis geneem nadat ‘n bejaarde pastoor en sy gesin se huis op Musina aan die brand gesteek is.
Die 70-jarige pastoor en sy gesinslede is van heksery beskuldig.
Drie polisiebeamptes wat die pastoor en sy gesin te hulp gesnel het, is beseer toe inwoners hulle met klippe bestook het.
Die sewentien verdagtes sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof.
Deur die eeue heen het die mensdom ʼn geneigdheid getoon om onderworpe te wees aan massahisterie. Graag onderskei ons ons van die diereryk deur ons vermoë om logies te redeneer en dit onafhanklik van ander te kan doen. Eufemisties en arrogant eien ons ons die alleenreg op die vermoë om individueel te kan dink op. Individualisme is ons definiërende kenmerk. Tog is die tropmentaliteit nooit ver van ons gemeenskaplike denkwyse nie en word ons maklik daardeur meegesleur.
Hierdie tropmentaliteit kan nie beter verwoord word as die Spaanse Inkwisisie en die Malleus Maleficarum van die Middeleeue nie. Hekse, ketters en ongelowiges (nie-Christene) is meedoënloos gejag, gemartel, verhoor en op brandstapels verbrand. Europese volksoorleweringe is gevul met staaltjies van hekse wat allerlei soorte bose dade pleeg. Selfs die aantyging dat ʼn persoon hom of haar skuldig maak aan heksery was om – op sy minste – ʼn sosiale uitgeworpene te word wat verneder word op elke moontlike wyse by elke moontlike geleentheid. Dít is as die arme drommel gelukkig was. Indien nie, was sy of haar voorland martelmasjinerie en die brandstapel. Die histerie rondom heksery het sover gegaan dat groepe mense vanaf die staanspoor sommer erken het dat hulle hul aan hierdie misdaad skuldig gemaak het in die hoop om vergifnis en die pyniging wat met ondervraging gepaard gegaan het, vry te spring.
Gegewe dat hierdie heksejagte vir drie volle eeue geduur het vanaf die 1400’s tot 1700’s, is daar sekerlik min beter voorbeelde van die histeriese tropmentaliteit in die menslike geskiedenis. Die bekendste van sulke hoogs emosionele heksejagte is sekerlik die Salem-hekseverhore (Massachusetts Februarie 1692 – Mei 1693) waarby ten minste 28 mense tot die dood gevonnis is. Histories kan hierdie verhore teruggevoer word na onopgeloste konflik binne die gemeenskap, swak leierskap en individue wat politieke gewin en materiële munt daaruit geslaan het.
Vandag is ons ingelig en nugter genoeg om te weet dat heksery ʼn bogstorie is. Towerkuns is iets wat verhoogkunstenaars doen om die skare mee te amuseer. Die belaglikheid van die heksejagte kan, vir my, nie beter uitgebeeld word as in die film “Monty Python and the Holy Grail” nie. Hier kan die leser ʼn gepaste gedeelte daarvan sien.
Die Malleus Maleficarum is in 1487 neergepen deur Heinrich Kramer, ʼn Katolieke priester. Dit is vir alle praktiese doeleindes ʼn handleiding oor hoe om op hekse jag te maak, hoe om hekse te identifiseer, hoe om hulle te ondervra, hoe om hulle te martel om bekentenisse te verkry en hoe om hulle uiteindelik die ewigheid in te stuur. Gesante van die Kerk (die Rooms Katolieke Kerk, die Protestante se hervorming het eers vanaf 1517 begin plaasvind ) was ook van die hoogs geleerde individue van hulle tyd. Die vermoë om te lees en te skryf was grootliks beperk tot hierdie gesante – dit sluit die adelstand uit – en weinig van die lyfeienes kon lees en skryf.
Die mensdom verheerlik nog altyd diegene wat oor kennis beskik en ons sien hierdie individue as “verlig” en “progressief” juis omdat hulle die wêreld sien vanuit ʼn oogpunt wat nie aan die lyfeiene beskikbaar is nie, juis omdat hulle oor kennis beskik waaroor die gewone man nie beskik nie. Ons ken aan geleerdes magte toe om te lei en te besluit wat goed en reg vir ons as gemeenskap is. Die strewe na geleerdheid en kennis is een van die mensdom se suiwerste motiewe.
Die heksejagte, die Spaanse, Portugese en Roomse Inkwisisies en die Salem-hekseverhore is almal ontketen deur hierdie “progressiewe en verligte” intellektuele en geleerdes. Deur die gewone man, die lyfeiene, die boer, die bakker, die slagter op te sweep in ʼn massahisterie van waansin om hekse te jag is een van die grootste voorbeelde van die mens se voorliefde vir die tropmentaliteit en ʼn klad op die terme “geleerd” en “intellektueel”. Dit is natuurlik beduidend dat die Rooms Katolieke Kerk se eie verbintenis en gebruike wat spruit uit heidense heksery en afgodaanbidding heeltemal geïgnoreer is en dit het die Protestante se hervorming geneem om dié feit aan die groot klok te hang.
Gelukkig het rede en goeie verstand – asook die Protestante se hervorming en gevolglike evolusie van die Christene se geloof – ʼn einde gebring aan hierdie drakoniese klugspul (en een van die donkerste periodes in die Christendom se geskiedenis) en het die mensdom voortbeweeg na ʼn meer humanitêre samelewing waar logika en rede die kensketsende eienskappe is.
Of het ons? Het ons uit die geskiedenisboeke geleer of is ons nog onderworpe aan dieselfde tropmentaliteit en massahisterie wat tot die Inkwisisies en heksejagte gelei het?
Iemand vertel aan my dat moderne intellektuele se grootste karakterkenmerk is dat hulle vir ure kan sit en filosofeer en debatteer oor die sosiale impak van ʼn hondedrol in die sand. Daar is niks intellektueels of geleerds aan hulle nie; hulle is slegs naïef in hulle nihilisme en verwaandheid. Hubris is die enigste woord wat hulle kan beskryf.
In ons postmodernistiese samelewing het die geleerdes en intellektuele die Malleus Maleficarum slegs herskryf – terwyl groot dele van die Westerse samelewing in ʼn toestand van morele verontwaardiging en massahisterie agterna hardloop. Dieselfde “verligte en progressiewe” mentaliteit is die dryfveer agter hierdie herskrywing.
Vervang die Kerk se dogma met multikulturele dogma. Vervang die aanklag van heksery met die aanklag van “rassisme”. Vervang hekse, ketters en nie-gelowiges met “rassiste”, nie-konformiste en diegene wat tot volkseie ontwikkeling verbind is. Vervang die gesante van die Kerk met ekstreemlinkse akademici, “meningsvormers”, demagoë en joernaliste. Vervang dié wat mense beskuldig het van heksery met geïndoktrineerde skape wat voortdurend aanstoot neem om ander se onthalwe. Vervang die ontkenning van die Kerk se eie heidense wortels met die ontkenning van rasgebaseerde ideologie in RA en SEB wat eie aan hierdie nuwe multikulturele dogma is. Vervang die brandstapel met die konstante aanvalle op die persoon, die ontneming van sy inkomste, waar sy persoonlike lewe geruïneer word, waar hy “verban” word en ʼn etiket van “randeier” moet dra… en binnekort, indien die “progressiewe en verligte” arbiters van reg en verkeerd hulle sin kry, tronkstraf vir die oortreder. Laastens, vervang die bekentenisse van heksery met bekentenisse van rassisme in die vorm van witskuld en patologiese altruïsme.
Nie veel het dan verander nie – ons bevind ons slegs in ʼn meer moderne weergawe van die Middeleeue waar almal kan lees en skryf maar nog steeds so onnosel is soos ons voorsate van die 14e eeu. Vir al die geleerdheid wat ons versamel het, kon ons netsowel vir dae aaneen staar na die wollerige gemors wat in ons naeltjies versamel.
Die verskil is egter dat die Malleus Maleficarum konkrete riglyne gegee het van wat heksery behels en hoe om ʼn heks te identifiseer. Dieselfde kan egter nie van die aanklag van “rassisme” gesê word nie. Dit is ʼn amorfisme, ʼn begrip met geen definisie of kenmerke nie, ʼn “iets” wat op ʼn daaglikse basis verander soos die aanklaers goeddink om hulle skewe wêreldbeeld en narratiewe te pas. Dit is ʼn kruk vir sekeres om te gebruik om hulle konstante mislukkings weg te verduidelik, om onopgeloste geskille en konflik in hulle guns te besleg, om aan te dring op iets wat hulle nie verdien het nie en om politieke munt te slaan – nes met die Salem-hekseverhore 300 jaar gelede.
Soos die aanklag van heksery kan enigiemand aangekla word vir die misdaad van rassisme selfs as jy jou altyd aan die kant van die beskuldigers bevind het. Vra maar vir Zelda la Grange, Max du Preez en Gareth Cliff om ʼn paar voorbeelde te noem waar die krokodil diegene wat hom gepaai deur hom te voer, verslind het.
Sal geskiedenis ons ten goede wees ʼn verdere 300 jaar in die toekoms in of sal hierdie nuwe heksejag, soos dié van die Middeleeue, ʼn klad op die mensdom se naam wees? Gaan toekomstige historici in ʼn terugblik op vandag na ons kyk en dink: “Wat was fout met hulle, het hulle niks geleer nie?”
Twee swart buitelanders en ‘n Suid-Afrikaanse vrou het in die Klerkdorpse Landdroshof verskyn omdat hulle glo ‘n hond lewendig geëet het voordat hulle die dier geslag het.
Twee-en-twintig mense wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met openbare geweld, sal vandag in die Zeerust Landdroshof in Noordwes om borgtog aansoek doen.
Sowat 300 gemeenskapslede van Kruisrivier naby Zeerust het klippe gegooi na die huis van ‘n plaaslike sakeman, en die gebou aan die brand gesteek.
Hulle beskuldig Tshepo Kraai daarvan dat hy kinders ontvoer en vir rituele vermoor het.
Vyf van sy voertuie is ook tydens die aanval aan die brand gesteek.
Kraai en sy vrou is na ‘n hospitaal gehaas nadat hulle brandwonde opgedoen het, maar is later ontslaan. – RSG
Die polisie in Mpumalanga moes ‘n bejaarde swartvrou na veiligheid bring om haar te beskerm teen ‘n woedende skare.
Inwoners van Waterval het gedreig om haar lewendig te verbrand.
Hulle sê die vrou is ‘n heks en verantwoordelik vir die tragiese busongeluk op die Molotopad twee weke gelede. Dertig mense is dood in die ongeluk met ‘n bus en twee vragmotors.
Een van die Molotopadgebruikers, Anastacia Terane, het aan IOL gesê die oorsake van ongelukke op dié, sowel as ander paaie, word toegeskryf aan toordery en geheimsinnige verskynings wat oor die pad kom en bestuurders verlei.
Sy meen dit is omdat Suid-Afrika nog nie verander het na Apartheid nie, en mense steeds openbare vervoer moet gebruik om te gaan werk. Sy sê die bestuurders is ook oormoeg.
Gebedsessies is reeds voorheen gehou op die Molotopad om die voortgesette slagting te verminder.
Die inwoners het die bejaarde vrou se huis afgebrand en die polisie moes haar inderhaas na veiligheid bring nadat die skare aangedring het dat sy die bestuurder getoor het.
Die aanval op die bejaarde kom nadat talle Putcobusse, geskut is in ‘n gesamentlike-multi-dissiplinêre padblokkade op die Molotopad buite Pretoria.
Honderde pendelaars was gestrand as gevolg van die operasie en dié stap het waarskynlik gemoedere verder opgejaag.
Die minister van vervoer, Dipuo Peters het polisie en verkeersbeamptes vergesel by die padblokkade, voordat sy ‘n aankondiging oor die e-tolstelsel verlede Woensdag gemaak het.
Peters sê die operasie sal voortgaan op verskeie plekke: “Ons sal op strategiese punte wees om seker te maak dat ons kyk padwaardigheid van voertuie, soos na die lisensievoorwaardes van bestuurders en seker maak dat motoriste die korrekte permit het om op die pad te wees. Ons wil ook seker maak dat ons met die passasiers in aanraking kom en hulle bewus maak van die feit dat dit ook hul verantwoordelikheid is om hul bestemming in een stuk te bereik.”