Toeskouers wat die gekanselleerde vertoning van die Vrystaat Kunstefees-produksie, Liewe Heksie, Donderdagaand bygewoon het kan Sondagoggend die vertoning weer sien.
Dit nadat die vertoning by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein sowat 15 minute nadat dit begin het, ontwrig is toe stakers op die verhoog bestorm het.
Die ouditorium was volgepak met sowat 700 mense, toe tussen 40 en 60 Pacofs-werkers, wat aan die vakbond Nehawu verbonde is, die lokaal ingebars het.
Hulle het op die verhoog gesing en gedans. Sowat 150 mense in die nabygeleë André Huguenet-teater, wat The Mother of All Eating gekyk het, is ook deur die optog geraak.
Die polisie was gou op die toneel en het met die betogers op die verhoog probeer onderhandel terwyl die gordyn laat sak is. Na ongeveer tien minute het die musiek weer begin speel en was die betogers op pad uit onder polisiebegeleiding. Toe hulle die musiek hoor het hulle omgedraai en weer die verhoog betree. Kort hierna is die vertoning finaal gestop.
Margit Meyer-Rödenbeck, Liewe Heksie se vervaardiger en hoofkarakter, sê die nuwevertoning sal Sondagoggend 10:30 plaasvind en dieselfde kaartjies kan gebruik word. Die kaartjies kan ook omgeruil word vir ‘n ander vertoning.

