Stakers bestorm Liewe Heksie-vertoning by Kunstefees

Toeskouers wat die gekanselleerde vertoning van die Vrystaat Kunstefees-produksie, Liewe Heksie, Donderdagaand bygewoon het kan Sondagoggend die vertoning weer sien.

Dit nadat die vertoning by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein sowat 15 minute nadat dit begin het, ontwrig is toe stakers op die verhoog bestorm het.

Die ouditorium was volgepak met sowat 700 mense, toe tussen 40 en 60 Pacofs-werkers, wat aan die vakbond Nehawu verbonde is, die lokaal ingebars het.

Hulle het op die verhoog gesing en gedans. Sowat 150 mense in die nabygeleë André Huguenet-teater, wat The Mother of All Eating gekyk het, is ook deur die optog geraak.

Die polisie was gou op die toneel en het met die betogers op die verhoog probeer onderhandel terwyl die gordyn laat sak is. Na ongeveer tien minute het die musiek weer begin speel en was die betogers op pad uit onder polisiebegeleiding. Toe hulle die musiek hoor het hulle omgedraai en weer die verhoog betree. Kort hierna is die vertoning finaal gestop.

Margit Meyer-Rödenbeck, Liewe Heksie se vervaardiger en hoofkarakter, sê die nuwevertoning sal Sondagoggend 10:30 plaasvind en dieselfde kaartjies kan gebruik word. Die kaartjies kan ook omgeruil word vir ‘n ander vertoning.

Skepper van Liewe Heksie na Blommeland

Verna Vels, skepper van die geliefde Afrikaanse heksie is na Blommeland sê haar lesers. Die skrywer van die gewilde Liewe Heksie-reeks, is in die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Sy het stil in haar slaap by haar huis in Johannesburg heengegaan aan kanker. Vels het in Junie vanjaar haar 81ste verjaardag gevier.

Die eerste Liewe Heksie-reeks is in 1963 op die Afrikaanse Radiodiens uitgesaai, met Blommie Kabouter se avonture vir die kinderprogram Siembamba.

Afrikaanse kinders het algar sedertdien met die vergeetagtige heksie, Karel Kat, Blommie en Matewis die katjie grootgeword. Die reeks is deel van die Afrikaanse kultuurskat.

Altesaam 52 TV-episodes is opgeneem en talle boeke en verhoogproduksies het oor vyf dekades die lig gesien.

Vels was die eerste vrou wat as programdirekteur vir die SAUK se TV1 aangestel is en het in 1993 afgetree ná 39 jaar in radio en televisie.

Vels was tot onlangs betrokke as regisseur by die bekende sepie 7de Laan.