Swapo sal De Kock verwelkom

Eugene de Kock (66) het glo by meer as een geleentheid met “redelike hoë vlak” Swapo-afvaardigings in die Sentrale Gevangenis in Pretoria vergader.

Swapo het aangebied dat De Kock na Namibië terugkeer en homself in die land vestig.

Dr. Piet Croucamp, oud-Namibiër en dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, het aan die Republikein gesê De Kock het nog “’n baie goeie verhouding met sommige lede van Swapo se destydse Plan-soldate”.

Croucamp, wat hom reeds jare lank vir De Kock se vrylating beywer, sê hy het self ook “op ander maniere informele kontak met van dié ouens”.

“Swapo se boodskap tydens hierdie tronkbesoeke was dat hy welkom is in Namibië.”

Die Suid-Afrikaanse Sondagkoerant Sunday Times het gister na aanleiding van die paroolverslag berig “hy is (deur Swapo) ’n stuk grond naby die Okavango aangebied en sal hierdie geleentheid aangryp indien die Suid-Afrikaanse regering nie van hom verwag om binne die grense van Suid-Afrika te woon nie”.

De Kock is Vrydag ná 21 jaar agter tralies op parool vrygelaat. Hy is in Mei 1994 in hegtenis geneem en in Oktober 1996 in die Pretoriase hooggeregshof twee keer lewenslange tronkstraf opgelê en tot ’n bykomende 212 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan 86 misdrywe waaronder ses moorde en bedrog, skuldig bevind is.

Die eens gevreesde De Kock was vanaf 1985 tot 1993 bevelvoerder van die veiligheidspolisie se berugte C10-eenheid op Vlakplaas en het die bynaam “Prime Evil” gehad.

Croucamp het gister gesê De Kock se paroolvoorwaardes is sodanig dat indien hy na Namibië wil reis, hy by korrektiewe dienste in die buurland daarvoor aansoek moet doen.

“Hy sal bitter graag weer Namibië toe wil gaan, maar dit sal nie in die afsienbare toekoms gebeur nie.” Of hy hom permanent hier sal kom vestig, het Croucamp gesê: “De Kock het Donderdag 66 geword. Hy is nie meer jonk nie en is nie finansieel in staat om daar te gaan woon nie. Hy sal in Suid-Afrika ’n stil bestaan buite die openbare oog voer.”

De Kock was in die laat sewentigerjare een van die stigterslede van Koevoet. Voor dit het hy as ’n polisieman op Ruacana diens gedoen. Ofskoon hy in Springs grootgeword het, het sy ouers in daardie stadium in Windhoek gewoon.

Sy pa, mnr. Lourens de Kock, was hooflanddros in Windhoek. Tydens Namibië se eerste demokratiese verkiesing in 1978 het hy (De Kock sr.) die verkiesingreëlings behartig.

Republikein het reeds in 2010 berig oor die moontlikheid dat hy hom ná sy vrylating in Namibië kan vestig.

Me. Pendukeni Ivula-Ithana, wat toe die minister van justisie was, het destyds gesê as hy “regtig ’n nuwe blaadjie omgeslaan het, sal hy as deel van Namibië se verbintenis tot ­versoening met ope arms ontvang word”.

VN ondersoek Namibiese bande met Noord-Korea

Namibië se skending van Resolusie 1718 van die Veiligheidsraad sal aanstons amptelik deur die VN ondersoek word, het die Republikien berig.

Agt deskundiges is in 2009 ingevolge resolusie 1874 aangestel met die mandaat om alle sanksies wat die VN teen Noord-Korea ingestel het, te monitor en inligting van lande wat in gebreke bly om aan die vereistes van die sanksies te voldoen, in te samel en te ontleed.

Die ondersoek kom ná ‘n berig wat op 8 Januarie in die Republikein verskyn het oor Namibië se bande met die Noord-Koreaanse maatskappy Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID), wat onder die alias Mansudae Overseas Project Group of Companies (M.O.P.) in die land sake doen.

Republikein het betroubaar berig dat ’n amptelike brief waarin die ministerie van buitelandse sake gevra sal word om te verduidelik en oop kaarte met die VN ondersoekspan te speel, eersdaags gestuur sal word.

Vanweë die internasionale sanksies teen KOMID registreer die onderneming telkens ’n nuwe alias waaronder sake gedoen word. In Namibië het die maatskappy onder die naam van sy alias, Mansudae Overseas Project Group of Companies, onder meer die heldeakker, die nuwe Staatshuis (2008) en die Gedenkmuseum vir Onafhanklikwording (2011) gebou.

Wat nog meer kommerwekkend is, is dat die einste maatskappy nou besig is om ’n fabriek vir die vervaardiging van ammunisie by Luiperdsvallei op te rig.

Ingevolge die resolusie moet lidlande van die VN alle oorsese bates van individue en maatskappye betrokke by Noord-Korea se ­wapenprogramme vries. ’n Internasionale reisverbod is ook op werknemers van hierdie programme en hul families ingestel.

KOMID is een van die maatskappy wat in die bylaag tot resolusie 1718 by die naam genoem word.

“Dit word van alle lidlande van die VN verwag om die maatreëls wat hulle instel om te voldoen aan die bepalinge van die resolusie, binne 30 dae aan die Veiligheidsraad te rapporteer,” lui die resolusie.

Uit regeringskringe is nie vóór of nadat die berig geplaas is, ’n enkele woord gerep nie. Verskeie navrae na die skakelafdeling van die ministerie van buitelandse sake vir die regering om sy kant van die saak te stel en enige moontlike verduideliking te verstrek, het geen vrugte afgewerp nie.

Beurtkrag wag vir Namibië na SA se kragkrisis

’n Verslag wat deur internasionale­ kenners saamgestel is, waarsku dat Namibië ’n ernstige kragkrisis­ in die gesig staar vanweë die plaaslike­ afgeleefde­ hidroëlektriese kragaanleg­, asook die land se steun op Suid-Afrika, het die Republikein berig.

NamPower se beplande Kudu- en Arandis-kragsentrale, asook kleiner beleggings in hidroëlektriese- en sonkragontwikkeling sal eers in die lang termyn vrugte afwerp. Tot dan sal kragverbruik in Namibië die aanbod van elektrisiteit ver oorskry en sal kragonderbrekings en beurtkrag by tye aan die orde van die dag wees, sê Business Monitor International (BMI), deel van die Fitch-groep, in sy verslag, “Namibia Power Report”.

MI meen voorts “ernstige tekortkominge­ in die struktuur van die mark” sal nuwe beleggings in veral hernubare energie bemoeilik. Daar heers ’n tekort aan ’n “robuuste­ regulatoriese­ raamwerk” in Namibië se energiemark en dit word boonop oorheers deur ’n “ondoeltreffende­ voorsiener in staatsbeheer wat private mededinging uitsluit”, aldus BMI.

Dié ontleders verwag dat Namibië se kragopwekking binne tien jaar met 500% sal styg, hoofsaaklik aangedryf­ deur termiese- en gasaangedrewe kragsentrale-ontwikkelings. Teen 2023 behoort die land 12,4 terawatt-uur­ (TWh) te bereik.

Volgens BMI behoort Namibië se kragverbruik teen dié jaar 6,6 TWh te beloop, wat beduidende uitvoere van elektrisiteit moontlik sal maak.

“Transmissie- en verspreidingsverliese in 2015 sal hoog wees – 24,9% van uitset – weens diefstal en die swak toestand van die kragnetwerk. Persentasiegewys­ behoort dit egter oor die tienjaar vooruitskattingstydperk­ stelselmatig­ te verminder,” sê BMI.

Namibië behoort binne die volgende­ vier tot vyf jaar geen ernstige­ kragonderbrekings­ te ervaar nie, het NamPower verlede week in ’n verklaring­ ­verseker.

Dié onderneming in staatsbeheer­ het voldoende maatreëls deur middel van sy kort termyn kritieke­ kragvoorsieningsinisiatiewe­ getref om as teenvoeter teen enige moontlike­ tekorte te dien, het NamPower­ gesê.

NamPower se planne om voldoende elektrisiteit in die afsienbare toekoms te voorsien, sluit in die bestuur van kragvraag, die opknapping­ van die Van Eck- en Ruacana-kragsentrale­, asook die ontwikkeling van ’n kragaanleg­ van 250 MW. Laasgenoemde gaan in samewerking met die private sektor aangepak word om in kragbehoeftes te voorsien totdat Kudu ontwikkel is.

In die medium tot lang termyn beplan NamPower die ontwikkeling van die Baynes-waterkragaanleg.

Intussen het Eskom in ‘n verklaring gewaarsku dat die vraag na krag in spitstyd sal tot Vrydag hoër wees as die kragvermoë wat beskikbaar is. Dit sal waarskynlik nog kragonderbrekings tot gevolg hê.

Die Suid-Afrikaanse verskaffer het Maandag tweeduisend Megawatt aan die netwerk onttrek in ‘n poging om te keer dat die vraag sy vermoë oorskry, na tegniese probleme by van die kragstasies.

Plaasaanval in Namibië skok

Sy pa is erg getraumatiseerd en wil nie oproepe of besoekers in die private kliniek op Gobabis, Namibië ontvang nie.

Só sê mnr. Marius van Moltke, die seun van die bejaarde egpaar, mnr. Ackerman (Acker) von Moltke en sy vrou, Dorea, wat Sondagnamiddag op hul plaas deur twee mans aangeval is.

Die egpaar het by hul ander seun gaan kuier wat in die omgewing van Hochfeld boer. Met hul tuiskoms omstreeks 17:00 op hul plaas, Okatjombua, sowat 90 km noordoos van Gobabis op die Summerdownpad, is hulle deur twee vreemde mans ingewag, oorval, vasgebind en beroof.

“My man is 71 jaar oud, maar hy het soos ‘n jong man baklei,” het me. Von Moltke aan Republikein vertel, maar gister het dit emosioneel glad nie met hom goed gegaan nie.

“Ek dink die skok het nou eers ingetree; hy is erg getraumantiseerd,” het sy gesê van die oudonderwyser wat op Grootfontein geskiedenis onderrig het.

Hoe gaan dit met haar? “Ek bly staan. Hulle het my nie seergemaak nie.”

Von Moltke vertel met hul aankoms op die plaas het die twee mans (sy skat hul ouderdom in die vroeë dertigs) reeds toegang tot hul huis gekry.

“Alles was reeds uit die kaste gegooi. Hulle moes ons honde baie bang gemaak het. My man het die huis baie beveilig, maar hulle het die staaldeure met byle oopgekap.”

Sy vertel dat die aanvallers agter die dam moes geskuil het en hulle by die hek ingewag het: “Toe my man die hek agter ons toemaak, het hulle hom van agter bestorm en aangerand.”

Hy is met ‘n stomp teen sy kop geslaan, het ‘n groot wond op sy regterarm by sy skouer, ‘n groot snywond teen sy ribbes en talle meswonde en snye op sy lyf wat steke moes kry.

Volgens van Moltke kon haar man daarin slaag om die lem van een van die aanvallers se mes af te breek en in die dam te gooi, “maar toe ruk hy ‘n tweede mes uit en steek my man verder daarmee”.

Die egpaar is deur die aanvallers na die huis geneem en gedwing om die kluis oop te sluit, maar daar was nie geld in nie.

Hulle is in die badkamer vasgebind en toegemaak, maar die aanvallers kon nie die sleutel kry nie en die egpaar is toe in die enjinkamer toegesluit.

“My man het gelukkig ‘n mes in sy sak gehad en hy kon ons lossny. Toe ons die voertuig hoor wegry, het my man in sy toestand die hoeksteenslyper gevat en die staaldeur van die enjinkamer daarmee oopgesny.”

Von Moltke het dadelik met haar bebloede man hospitaal toe gejaag. Sy praat met lof van die buurtwag wat hul bystand verleen het met geld, ‘n selfoon en klere.

“Ons beursies met bankkaarte, selfone, my rekenaar en pistool is onder meer gesteel. Die gemeenskap het vir ons geld, ‘n selfoon en klere gebring,” vertel sy.

Die egpaar se bakkie is Maandag op Witvlei gevind met hul dokumente daarin. “Die aanvallers het vir ons gesê hulle gaan die bakkie êrens los.”

Von Moltke vertel dat hulle al sowat 18 jaar boer en sy kan nie glo dit met hulle gebeur het nie: “Ons werk alleen en het nie werkers op die plaas nie, so dit is nie ‘n geval van ‘n voormalige plaaswerker wat ‘n wrok teen ons dra nie. Dit is vreemde mense.”

Die polisie se streekskommissaris van Omaheke, komm. Josaphat Abel, het die voorval bevestig en gesê dat die ondersoek voortduur en geen verdagtes dusver in hegtenis geneem is nie.

“Die slagoffers is besig om goed te herstel en die bakkie is by Witvlei gevind. Ons ondersoek duur voort.”

Bron: Die Republikein

Miljarde Namibiese dollar vloei na Noord-Korea

Die regering van Namibië het klaarblyklik hegte bande met Noord-Korea.

Die vermoede bestaan dat dié vriendskap om Namibië se uraanneerslae gesmee is.

Namibiese dollar, miljarde daarvan, vloei jaarliks uit die staatskas na die Noord-Koreaanse wapenvervaardiger KOMID se verskansingsmaatskappy, Mansudae Overseas Project Group of Companies.

Dié belegging is gemaak in weerwil van ‘n Veiligheidsraad-resolusie wat bepaal dat alle lidlande van die VN bates van individue en maatskappe betrokke by Noord-Korea se wapenprogramme bevries.

Trouens, nie alleen verontagsaam Namibië die Veiligheidsraadresolusie nie, maar twee van KOMID se base woon ondanks die reisverbod teen hulle, in Namibië.

Noord-Korea is weens sy kernarsenaal deur wêreldleiers veroordeel, maar die Namibiese regering verkies om diplomatieke betrekkinge vol te hou.

Dit is nie seker hoe Namibië se belegging in KOMID die SAOG-streeksooreenkomste soos SIPO II betreffende veiligheid in Suider-Afrika raak nie.

Noord-Korea se leier, Kim Jong-un, se verbintenis aan kernwapens en herhaaldelike dreigemente om dit aan te wend, is rede tot kommer.

 

Verbod op Namibiese vleisuitvoer na bek-en-klouseer

Die departement van landbou in die Filippyne het ’n tydelike verbod op die invoer van enige lewendehawe of -produkte uit Namibië geplaas, het die Republikein berig.

Die verbod volg na ‘n kennisgewing deur die Internasionale Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) oor die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in die Zambezistreek.

Proceso Alcala, sekretaris van landbou in die Filippyne, het die tydelike verbod in Desember afgekondig om dié land se dieregesondheidstatus te beskerm en nie voedselsekuriteit in die gedrang te bring nie, lui ’n kennisgewing op die departement se webtuiste.

“Ons kan nie bekostig om kanse te vat nie. Ons is ’n BKS-vrye land en is dus uiters waaksaam om nie enige diere of diereprodukte uit lande waar die siekte teenwoordig is, in die Filippyne toe te laat nie,” sê hy.

Die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in Namibië het vroeg in Desember aangekondig dat bek-en-klouseer in die Linyanti-kiesafdeling in die Zambezi uitgebreek het.

’n Verbod op die bewegings van lewendehawe en -produkte in die streek is dadelik ingestel en die slag van vee by die abattoir op Katima Mulilo is opgeskort.

Namibië se kommersiële boerdery-gebiede suid van die veterinêre kordon, of rooilyn soos dit algemeen bekend staan, is vry van bek-en-klouseer.

Wit toeriste neem foto’s ‘asof van bobbejane’

“Toeriste koop nie kapana nie. Hulle neem liewer net foto’s asof ons bobbejane is,” kla die 27-jarige mnr. Jonas Ndakolute wat vir die afgelope agt jaar vleis in Windhoek verkoop.

Kapana is gebraaide vleis van pasgeslagde beeste vir die swart mark.

Ndakolute en ’n ander paar vleissmouse koop hul vleis by plaasboere op naburige plase en verkoop dit dan by die Enkelkwartiere in Katutura in Windhoek, skryf die Republikein.

Volgens hom maak hy gewoonlik meer as N$300 wins per dag, maar gedurende die Kerstyd is hy gelukkig as hy N$100 ’n dag kan verdien.

“Buitelanders koop nie by ons nie, behalwe die Angolese wat reeds kapana ken. Die Europese toeriste kla gewoonlik dat die vleis ongesond is en trek hul neuse op. Namibiërs kla weer te veel oor pryse,” skerts hy en wys na ’n kliënt wat besig is om te kla dat drie stukke beesvleis te min is vir N$25.

’n Ander vleishandelaar, mnr. Alfons Shaalukeni (27), vertel voorts dat hulle groot skade tydens die warm vakansiemaande ly.

“As dit so warm is soos nou in Desember, dan moet ons soms ons vleis weggooi, want die hitte maak dit gou sleg,” vertel hy.

 

Raspolitiek maak van Namibië eenpartystaat

Politieke ontleders kla dat Namibië ’n eenpartystaat is omdat die opposisie te verdeeld is.

Vorige pogings om ‘n koalisie tussen opposisiepartye te vorm, het ook skipbreuk gelei weens Swapo se onbeskaamde rassebeleid.

Alhoewel die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA) goed in die onlangse verkiesing gevaar het, is daar nie gemeenskaplike gronde vir samewerking met ander partye nie, meen sommige ontleders.

“Ons het die Republican Party (RP) en die Rally for Democracy and Progress (RDP) gehad en dit het nie gewerk nie. Ek sien net geen basis vir ’n betekenisvolle koalisie nie,” het dr Nico Horn gesê.

“Die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die United Democratic Front (UDF) is baie etnies. Hulle moet dit oorweeg om hul vlerke te sprei” het Horn gesê.

Hy meen voorts dat die president van DTA, mnr. McHenry Venaani, dit ook sterk moet oorweeg om sy party se voorkoms te verander en dit te herbou.

“Die RP lyk nie of hulle weet wat hulle doen of vir wie hulle teiken nie. Ek weet hulle het onlangs gesê wit mense is apolities. Dit is nie waar nie, daar is geen party wat eksklusief die wit mense se belange verteenwoordig nie,” meen Horn.

Volgens dr. Henning Melber, sal Namibiese politiek na die afgelope verkiesing nog meer gekenmerk word deur eenparty-oorheersing.

In sy ontleding “The people have voted – or not”, gepubliseer deur die Nordiese Afrika-instituut, sê Melber die opposisie in die land is duidelik meer verdeeld as ooit, wat hul swakheid as politieke krag benadruk.

Namibië bly volgens Melber ’n de facto eenparty-demokrasie en hoewel die land ’n veelpartystelsel het, gereeld verkiesings hou, demokratiese grondwetlike beginsels, beskermde burgerlike vryhede, ’n redelik onafhanklike regbank en onafhanklike media het, is daar geen gelyke speelveld nie.

Omdat net Swapo geld en middele het om die massas te mobiliseer, bly party, regering en staat volgens Melber ongesond ineengestrengel.

Opposisiepartye het verlede week op ’n vergadering besluit om opsies vir toekomstige samewerking tussen die partye te oorweeg.

Hulle sal ook ’n oudit van al die beweerde ongerymdhede gedurende die verkiesings doen.

Swapo spoeg vuur oor grond

Die amptelike bekendstelling van Namibië se geskiedkundige Nasionale Aksieplan vir Menseregte 2015 – 2019 is Dinsdag oorskadu deur die pres. Pohamba se woede-uitbarsting teen koloniale grondbesitters en diegene wat oor grondbelasting kla.

President Hifikepunye Pohamba het vir ’n tyd van sy amptelike toespraak afgewyk en sy aanval begin deur uit te vaar teen die “Duitsers” en die “apartheid-regime” asook die Ruiterstandbeeld wat vroeër voor die Alte Feste-museum gestaan het.

“Toe ons die Ruiterstandbeeld verwyder het, het ons ’n nuwe monument opgerig wat vertel wat werklik gebeur het”.

Pohamba het verwys na Namibiërs van Europese oorsprong wat nie oor die verlede wil praat nie.

“Hulle kom van die Europese vasteland, maak van ons slawe en doen allerhande dinge met ons.” Volgens Pohamba moet oor dié dinge gepraat word. “Ons kinders moet weet; dis ons geskiedenis.”

Hy het verwys na Namibië se geskiedenis van Duitse heerskappy en jare van apartheid.

“Mense is doodgemaak. Eers deur die Duitsers en toe deur die apartheid-regime. Dié wat oor die grens gevlug het, die vlugtelinge, is oor die grens gevolg en by Cassinga doodgemaak.”

Vandag, sê Pohamba, is dit hierdie einste mense wat nou as die kampioene van menseregte gesien wil word.

Hy het verwys na petisies wat die des­tydse Swapo-leiers opgestel en aan die Verenigde Nasies voorgelê het. Hul pleidooie het egter op dowe ore geval, sê Pohamba, omdat die meerderheid wat dit moes aanhoor, van Europese oorsprong was.

“Ons het teen die wit mense van Europa gepraat wat gekom het om ons híér te koloniseer!”

Volgens Pohamba is dit dieselfde mense wat blyk die grootste kampvegters vir menseregte te wees.

Hy het na Namibië se stryd om onafhanklikheid as “lank en bitter” verwys, met “kosbare lewens wat geoffer is.”

Pohamba het ook ’n woord vir buurland Suid-Afrika gehad en gesê hulle is deur die Europeërs ondersteun.

“Toe ons gevra het vir soldate, toe sê hulle ee’.”

Die staatshoof het teenoor gaste by die geleentheid erken hulle sou seker eerder wou hê hy moet “diplomasie” oorweeg, maar gesê “die waarheid moet vertel word”.

Pohamba het in die destydse Rhodesië gaan draai en verwys na die dag toe Ian Smith aan bewind gekom het.,“Ons (Swapo) het gevra vir optrede. Niks.”

Maar, het hy getier, vandag is dit dieselfde mense wat, wanneer iets in dié land gebeur en veral as dit oor die omstrede grondkwessie gaan, sanksies teen Zimbabwe toepas. “Maar julle kon dit nie teen Ian Smith doen nie, dis nie regverdig nie! Ons raak emosioneel, want ons het die gruweldade gesien!”

Hy het 21 Maart 1990 as ’n “glorieryke dag” beskryf toe die “las” verwyder en die “toekoms omhels” is. “Al ons mense, nie net swart nie. Wit ook, ja, selfs dié wat ontplooi is om gruweldade teen swart Namibiërs te pleeg.”

Volgens Pohamba was dit stigterpresident Sam Nujoma wat vir rekonsiliasie gevra het. “Dit was nie maklik om te aanvaar nie, maar dis waarom ’n mens die man bewonder.” Die staatshoof het gemaan dit is nie net gebaseer daarop om “saam met ’n wit man aan ’n tafel te eet nie,” maar ook op grond.

Hy het uitgevaar teen dié wat grond van swart mense gekonfiskeer het, maar dit nie wil laat gaan nie.

“Die basis van die vryheidstryd was nie om net saam aan die tafel te eet nie!” Pohamba het beklemtoon menseregte sluit die reg tot grond in. “Ons mense voel gediskrediteer omdat hulle nie grond besit nie, grond wat besit word deur die kinders van dié wat gekom het om ons te koloniseer!”

Hy het ook vuur gespoeg teenoor dié wat oor grondbelasting kla. “Hulle wil nie hê die regering moet die geld hê om die grond van hulle te koop nie, dis wat dit indirek beteken!”

Hy het wel lof gehad vir Swapo se besluit om gelyke verteenwoordiging tussen mans en vroue as deel van hul partystrukture te hê. “Dis ’n weerspieëling om te wys mans en vroue is gelyk.”

Bron: Die Republikein

‘Regstellende herposisionering van grond’

Julius Malema en sy hordes is nie alleen nie. Die Swapo Jeugliga se geskorste mnr. Job Amupanda het pas aangekondig hy wil grond gryp.

Amupanda wil volgende Vrydag 2 000 aansoeke vir erwe in “die elite buurt” Kleine Kuppe by die Windhoek munisipaliteit indien.

Hy het ‘n beroep op grondlose Namibiërs gedoen om by dié aksie betrokke te raak.

Die munisipaliteit sal agt maande tyd gegun word om die aansoeke af te handel.

Indien hulle nie gehoor gee nie, sal oorgegaan word tot “regstellende herposisionering” van grond in “ryk en gegoede” voorstede soos Kleine Kuppe, Avis, Eros, Auasblick en Klein-Windhoek, sê Amupanda in ‘n verklaring wat vanoggend uitgereik is.

Politieke ontleders is egter dit eens dat mnr. Job Amupanda se skielike bedanking uit die Swapo Jeugliga (SPYL) se nasionale uitvoerende komitee, nie die regerende party se politieke planne op die vooraand van die verkiesing gaan verongeluk nie, het die Republikein berig.

Amupanda, voorheen die jeugliga se sekretaris van inligting, publisiteit en mobilisasie, het bedank. Dié stap volg ná hy eergisteraand met mnr. Nangolo Mbumba, sekretaris-generaal van Swapo, en dr. Elijah Ngurare, leier van die SPYL, asook ander lede van die regerende party, vergader het.

Amupanda het sedert Sondag die tonge laat klap toe hy onwettig ‘n erf in Kleine Kuppe in Windhoek afgesteek het. Dié stap het hy “regstellende herposisionering” gedoop.

Hy gaan homself nie langer ten gunste van lede van die Swapo-party verloën nie, het Amupanda gisteroggend in ‘n verklaring gesê.

Hy het ook uitgevaar teen Swapo-lede wat volgens hom die kluts kwyt is. Amupanda sê hy is nie bereid om soos ’n eerbiedige dienskneg die vrede te bewaar met die hoop dat hy daarvoor vergoed sal word nie.

Pogings is aangewend om hom sover te kry om sy siel te verkoop en na ander se pype te dans, onreëlmatighede mis te kyk, net handjies te klap en liedjies te sing, sê hy.

“Dít kan ek nie toelaat nie. Ek weier om die ander wang te draai soos wat die Bybel ons geleer het. Die situasie het onuithoudbaar geword, soveel so dat die nasionale uitvoerende komitee (van SPYL) iets heeltemal anders geword het as wat ons gedink het,” sê hy.

Amupanda bly egter aan as lid van die sentrale komitee, maar gaan hom voortaan op aktivistiese veldtogte toespits en meer tyd in die nedersettings en landelike gebiede deurbring.

“Ek gaan nou hoofsaaklik op regstellende herposisionering konsentreer en die jeug mobiliseer sodat ons leiers besef hoe ernstig die grondkwessie is en dat oplossings gevind moet word voordat dit te laat is,” se Amupanda.

Op sosiale media het die nuus van Amupanda se bedanking soos ’n veldbrand versprei. Daar is kwaai gegis dat hy gedwing is om van sy posisie afstand te doen.

Mbumba het dit ten sterkste ontken. Slegs “Swapo-kwessies” is tydens Dinsdagaand se vergadering bespreek, het hy gesê.

Intussen meen die politieke ontleder, mnr. Graham Hopwood, dat Amupanda se bedanking geen impak op Swapo se ondersteuners gaan hê nie, aangesien hy steeds deel van die party bly.

“Miskien as hy uit die party bedank en ’n beroep op sy ondersteuners gedoen het om níé die party te steun nie, sou dit ietwat van ’n verskil gemaak het,” het Hopwood gesê.

Hopwood sê die lojaliteit teenoor Swapo lê baie diep en dat stemme nie maklik na ’n ander party geskuif kan word nie. Kiesers gaan ook nie sommer níé aan die verkiesing deelneem nie.

Prof. Bill Lindeke, nog ‘n politieke kenner, sê Amupanda se bedanking is buitengewoon, veral in Swapo. Dit het hom egter ook nie heeltemal verras nie.

“Amupanda het homself meer as een keer in konflik geplaas en is waar­skynlik gevra om te bedank, aangesien hy die party onder verdenking geplaas het. Wat ons nou wil sien, is hoe ver is hy bereid om te gaan,” sê Lindeke.

Klaar met Afrika

Dit was hul tweede besoek aan Namibië, ’n wonderlike land wat hulle vertrou het. Maar nou is hulle klaar met Afrika. Hulle gaan ook hul vriende aanraai om weg te bly.

So het die egpaar Josef en Johanna Stapfler­ Vrydag aan die Republikein gesê voordat hulle drie dae ná hul aankoms in Namibië weer op ’n vliegtuig terug na Frankfurt was. Die Stapflers­ was die vorige middag by Omaruru se Franke-­toring die slagoffers van ’n man wat asof van nêrens verskyn het, hulle afgedreig en hulle toe liederlik­ aangerand het.

Ná hul aankoms in Windhoek het die egpaar in hul gehuurde motor een aand in ’n lodge net suid van Karibib geslaap. Donderdagaand­ het hulle soos bespreek in ’n bergherberg wes van Omaruru geslaap nadat hulle die vorige dag aangerand­ is. Vrydag was dit vir hulle terug Windhoek en huis toe. Hul Namibiese­ toer van 18 dae wat hulle ook na Damaraland en die Zambezi­streek sou bring, het net drie dae geduur.

Die egpaar in hul vroeë veertigerjare­ was ontnugter en teleurgesteld­.
Na behandeling in die staatshospitaal­ op Omaruru het die Stapflers self vertel wat Donderdagmiddag net voor die etensuur­ by Omaruru se Franke-­toring­ met hulle gebeur het. Hulle wou die Franke-­toring as ’n historiese­ erfenisbaken­ besoek. Daar gekom, was die deur gesluit.

Hulle was reeds terug by hul gehuurde voertuig­ toe hul aanvaller­ langs hul kar uitgeslaan het.

Die man het beduie dat hy honger was en geld of enigiets anders soek. In daardie stadium was Johanna se sak met hul kosbare reisgoed nog om haar nek. Sonder enige argument het die man haar sak gegryp en het ’n struweling­ ontstaan.­ Die volgende oomblik het die man haar met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan. In sy een hand was ’n kannetjie­. Johanna het gemeen dit kon die een of ander spreimiddel bevat en het vir haar oë gekeer. Toe Josef bygekom het, het hy ’n hou in sy ribbes gekry. Hy was nogtans sterk genoeg om op straat hulp te soek terwyl sy bebloed by hul voertuig gestaan het.

Oor hul skielike huis toe gaan was die egpaar dit eens: “Ons wil nie meer hier wees nie”.

In die sak waarmee hul aanvaller die hasepad gekies het, was allerlei kaarte van die egpaar, sowat tweehonderd euro en ’n klompie Namibiese dollars. Behalwe die sak en die inhoud daarvan is ander goed nie uit die gehuurde motor gesteel nie.

‘San-gemeenskap moet beskerm word’

Die raad van die San-gemeenskap in samewerking met die Werksgroep vir Inheemse Minderhede in Suider-Afrika (Wimsa) het ‘n pamflet oor San-kinders se reg tot onderwys bekend gestel, het die Republikein berig.

Die pamflet getiteld “Inclusive Education for San Children in Namibia” is in samewerking met die Finse ambassade onderneem wat die projek geborg het.

Die saakgelastigde van die Finse ambassade, me. Anne Saloranta, het gesê die doel van die insluitende onderwysprojek wat hulle borg, is om die gaping tussen beleid en realiteit te vernou. Saloranta het gesê vanweë die verskil in taal en kultuur bestaan ’n groter kans dat San-leerlinge die skool sal verlaat voor hulle graad 12 voltooi het. Dit maak hulle meer weerloos vir maat­skaplike uitsluiting.

“Ekstra ondersteuning en sorg is nodig om die kinders te help en hul skoolbywoning te fasiliteer,” meen Saloranta.
Die pamflet verduidelik onder meer wie die San-raad is wat ook na onderwys vir San-kinders omsien. Dit bevat ook inligting aangaande voor­skrifte oor onderwys in die Grondwet, beleidrigtings oor onderwys vir gemarginaliseerde gemeenskappe en internasionale onderwysooreenkomste. Volgens Saloranta is dit belangrik dat gemeen­skappe die belangrikheid van onderwys verstaan sodat kinders die nodige ondersteuning kry om klasse by te woon.

“Opgeleide lede van die San-gemeenskap kan as rolmodelle optree en ’n positiewe voorbeeld stel deur te wys wat kan gebeur as jy jou opvoeding met erns bejeën,” meen sy.

’n Student aan die Universiteit van Namibië, me. Elsarien Katiti, het gesê ’n veilige omgewing waarin skole bygewoon kan word, is ’n kwessie wat aandag moet geniet.

Volgens haar is daar mense wat vir San-leeringe lag en spot, omdat dié kinders ’n kultuur het wat die wat spot nie verstaan nie. Katiti meen sulke voorvalle belemmer “die veilige omgewing” en kan tot skoolverlating lei.

“Ons moet kinders leer om vir hulself lief te wees en selfrespek te hê. Dit maak dit moeiliker vir ander mense om te oordeel,” het sy gesê.

Volgens Katiti word nie genoeg voorspraak vir die San-gemeenskap gedoen nie.

“Baie mense weet nie dat daar verskillende groepe en tale in die San-gemeenskap is nie. Dit is nie hulle skuld nie, want daar moet meer opvoeding gedoen word.”

Katiti is voorts van mening kinders moet geleer word daar is niks daarmee verkeerd om van ander mense te verskil nie.

Malema ontken dat hy Namibiese byeenkoms sou bywoon

Die leier van die Economic Freedom Fighters (EFF) in Suid-Afrika, mnr. Julius Malema, het ontken dat hy die bekendstelling van die Namibian Economic Freedom Fighters (NEFF) se verkiesingsmanifes die afgelope naweek sou bywoon.

Die bekendstelling het Saterdag by die UN Plaza in Windhoek, Katutura plaasgevind en is deur drie lede van die EFF bygewoon, het die Republikein berig.

Net oor ’n honderd mense, van wie die meeste kinders was, het die bekendstelling van die manifes bygewoon wat aan Namibië se ontslape helde opgedra is.

“Nee, ek het nog nooit gesê dat ek dit gaan bywoon nie. Ek het geen benul waarvan hulle praat nie,” het Malema per telefoon aanRepublikein gesê.

Die nasionale koördineerder van die NEFF, mnr. Iipumbu Kalimbo, meen egter Malema is met ’n politieke speletjie besig.

“Die NEFF het nog nooit vir die mense gelieg dat hy (Malema) sou kom nie, ek weet nie eens of dit nou ter sprake behoort te wees nie. Soos jy kon sien, was drie lede van EFF se sentrale komitee afgevaardig. Dat Malema sou kom, was nie ’n leuen nie,” het Kalimbo gesê.

Wat volgens hom wel belangrik is, is dat ‘n NEFF-regering godsdiens in skole sal terugbring. Die NEFF beoog ook om die maandelikse maatskaplike pensioen van N$600 na N$1 500, die kindertoelaag van N$250 na N$500 en die oorlogsveterane se toelaag van N$2 200 na N$4 400 te verhoog.

Een van die EFF-afgevaardiges en lid van die Suid Afrikaanse parlement, me. Magdalene Moonsamy, het die NEFF gewaarsku om nooit in die voetspore te volg van diegene wat vir die massas jok nie. Sy het na die handvol mense verwys wat vir die bekendstelling opgedaag het en gesê dit word van die NEFF verwag om elke stem in die land vir dié party te wen.

“Dit is nie hoe EFF van Suid-Afrika lyk nie. Ons is groot en ons verwag van julle om elke Namibiër se hart te oortuig om vir julle te stem,” het sy gesê.

Namibië binnekort stembus toe

Namibiërs gaan op 28 November vanjaar stembus toe om vir lede van die Nasionale Vergadering en ’n nuwe president te stem.

Anders as in vorige jare, sal die verkiesings vanjaar net op een dag plaasvind en nie soos in die verlede oor twee dae nie. Die kwessie van twee stemdae was in die verlede ’n steen des aanstoots vir opposisiepartye wat aan­gevoer het dat dit ’n skuiwergat vir verkiesings­kullery geskep het.

Die proklamasie van die verkiesingsdatum sal op 13 Oktober plaasvind wanneer dit deur pres. Hifikepunye Pohamba in die Staatskoerant gepubliseer­ sal word.

Namibiërs wat hulle in die buiteland bevind, kan op 14 November by Namibië se ambassades en hoë kommissariate stem. Dieselfde datum is geoormerk vir seevarende personeel wat dan op Lüderitz en Walvisbaai hul stemme kan uitbring.

Aanvanklik is voorstelle deur hoofsaaklik die Rally for Democracy and Progress (RDP) gemaak dat die verkiesings eerder in Februarie aanstaande jaar moes plaasvind.

Die RDP voer aan die eerste demokratiese verkiesing wat in Namibië gehou is, het in November 1989 plaasgevind. Dit was voor ’n datum vir onafhanklikwording vasgestel is. Destyds moes ’n grondwet geskryf word, nasionale simbole soos die landsvlag en volkslied aanvaar word en voorbereidings vir onafhanklikwording getref word.

Sedertdien is verkiesings tradisioneel altyd in November gehou, met die nuwe Nasionale Vergadering wat eers op 21 Maart die daaropvolgende jaar diens aanvaar en ingesweer word.

Dit bring volgens die RDP mee dat die land vir byna vier maande lamgelê word omdat ampstermyne voortsleep, maar almal weet nuwe NV-lede en ’n nuwe president is reeds verkies.

Die nominasieproses vir presidentskandidate en die indien van party­lyste begin op 13 Oktober en duur tot 29 Oktober.

Op Woensdag 29 Oktober sal die voorsitter van die verkiesingskommissie ’n openbare sitting by die ECN se hoofkantoor in Van Rhijnstraat, Windhoek-Noord, hou waar die nominasies ontvang sal word. Die sitting sal van 09:00 tot 11:00 duur.

Nóg nuus van die verkiesingskommissie is dat tussenverkiesings vir die Endola-kiesafdeling op 7 November sal plaasvind en dié in Windhoek-Wes op 14 November.

Die verkiesingskommissie is ook besig met reëlings vir die akkreditasie van buitelandse en plaaslike verkiesingswaarnemers.

Ná afloop van die bykomende registrasieproses is die voorlopige kiesersregister na al 121 kiesafdelings gestuur waar dit van 1 tot 3 Oktober vir inspeksie en besigtiging beskikbaar sal wees. Die finale kiesersregister sal op 7 November in die Staatskoerant gepubliseer word.

Bron: Die Republikein