Herrie oor Libiese gesante in Namibië

Die Republikein berig dat die DTA se president, mnr. McHenry Venaani, sê die Namibiese regering moet ’n beduidende standpunt inneem oor watter faksie in Libië amptelik erken word.

Libië is sedert die omverwerping en moord van die voormalige diktator, kolonel Muammar Gaddafi, in 2011 in politieke onrus gehul.

Venaani het verlede Donderdag in die parlement gesê die Namibiese regering het in die verlede die Gaddafi-bewind ondersteun, en dat voormalige president Hifikepunye Pohamba in die openbaar geweier het om die Nasio­nale Oorgangsraad (NTC) te erken.

Die NTC was vir tien maande ná Gaddafi se dood die werklike Libiese regering voordat die land in faksie­gevegte verstrengel geraak het.

In Windhoek het die NTC-vlag vir ’n paar dae by die Libiese ambassade gehang voordat dit verwyder is. Volgens die Weense Konvensie moet die gasheerland ’n ooreenkoms met die hoof van die ambassade aangaan rakende die diplomate wat in die land kan dien.

“Ondersteun ons die Raad van Afgevaardigdes (soms na verwys as die Huis van Verteenwoordigers) in Tobruk wat deur Abdullah al-­Thani gelei word en skynbaar die grootste internasionale ondersteuning en erkenning het, of erken ons die Nuwe Algemene Nasionale Kongres (NGNC) in Tripoli onder leiding van Nouri Abusahmain?” het Venaani gevra. “Ons moet ’n ondubbel­sinnige en bondige buitelandse beleid hê.”

Venaani wil voorts weet wie, of watter faksie, tans in die Libiese ambassade in Windhoek is en of hierdie diplomate die ambassade wettiglik beset.

Raspolitiek maak van Namibië eenpartystaat

Politieke ontleders kla dat Namibië ’n eenpartystaat is omdat die opposisie te verdeeld is.

Vorige pogings om ‘n koalisie tussen opposisiepartye te vorm, het ook skipbreuk gelei weens Swapo se onbeskaamde rassebeleid.

Alhoewel die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA) goed in die onlangse verkiesing gevaar het, is daar nie gemeenskaplike gronde vir samewerking met ander partye nie, meen sommige ontleders.

“Ons het die Republican Party (RP) en die Rally for Democracy and Progress (RDP) gehad en dit het nie gewerk nie. Ek sien net geen basis vir ’n betekenisvolle koalisie nie,” het dr Nico Horn gesê.

“Die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die United Democratic Front (UDF) is baie etnies. Hulle moet dit oorweeg om hul vlerke te sprei” het Horn gesê.

Hy meen voorts dat die president van DTA, mnr. McHenry Venaani, dit ook sterk moet oorweeg om sy party se voorkoms te verander en dit te herbou.

“Die RP lyk nie of hulle weet wat hulle doen of vir wie hulle teiken nie. Ek weet hulle het onlangs gesê wit mense is apolities. Dit is nie waar nie, daar is geen party wat eksklusief die wit mense se belange verteenwoordig nie,” meen Horn.

Volgens dr. Henning Melber, sal Namibiese politiek na die afgelope verkiesing nog meer gekenmerk word deur eenparty-oorheersing.

In sy ontleding “The people have voted – or not”, gepubliseer deur die Nordiese Afrika-instituut, sê Melber die opposisie in die land is duidelik meer verdeeld as ooit, wat hul swakheid as politieke krag benadruk.

Namibië bly volgens Melber ’n de facto eenparty-demokrasie en hoewel die land ’n veelpartystelsel het, gereeld verkiesings hou, demokratiese grondwetlike beginsels, beskermde burgerlike vryhede, ’n redelik onafhanklike regbank en onafhanklike media het, is daar geen gelyke speelveld nie.

Omdat net Swapo geld en middele het om die massas te mobiliseer, bly party, regering en staat volgens Melber ongesond ineengestrengel.

Opposisiepartye het verlede week op ’n vergadering besluit om opsies vir toekomstige samewerking tussen die partye te oorweeg.

Hulle sal ook ’n oudit van al die beweerde ongerymdhede gedurende die verkiesings doen.