Politieke ontleders kla dat Namibië ’n eenpartystaat is omdat die opposisie te verdeeld is.
Vorige pogings om ‘n koalisie tussen opposisiepartye te vorm, het ook skipbreuk gelei weens Swapo se onbeskaamde rassebeleid.
Alhoewel die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA) goed in die onlangse verkiesing gevaar het, is daar nie gemeenskaplike gronde vir samewerking met ander partye nie, meen sommige ontleders.
“Ons het die Republican Party (RP) en die Rally for Democracy and Progress (RDP) gehad en dit het nie gewerk nie. Ek sien net geen basis vir ’n betekenisvolle koalisie nie,” het dr Nico Horn gesê.
“Die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die United Democratic Front (UDF) is baie etnies. Hulle moet dit oorweeg om hul vlerke te sprei” het Horn gesê.
Hy meen voorts dat die president van DTA, mnr. McHenry Venaani, dit ook sterk moet oorweeg om sy party se voorkoms te verander en dit te herbou.
“Die RP lyk nie of hulle weet wat hulle doen of vir wie hulle teiken nie. Ek weet hulle het onlangs gesê wit mense is apolities. Dit is nie waar nie, daar is geen party wat eksklusief die wit mense se belange verteenwoordig nie,” meen Horn.
Volgens dr. Henning Melber, sal Namibiese politiek na die afgelope verkiesing nog meer gekenmerk word deur eenparty-oorheersing.
In sy ontleding “The people have voted – or not”, gepubliseer deur die Nordiese Afrika-instituut, sê Melber die opposisie in die land is duidelik meer verdeeld as ooit, wat hul swakheid as politieke krag benadruk.
Namibië bly volgens Melber ’n de facto eenparty-demokrasie en hoewel die land ’n veelpartystelsel het, gereeld verkiesings hou, demokratiese grondwetlike beginsels, beskermde burgerlike vryhede, ’n redelik onafhanklike regbank en onafhanklike media het, is daar geen gelyke speelveld nie.
Omdat net Swapo geld en middele het om die massas te mobiliseer, bly party, regering en staat volgens Melber ongesond ineengestrengel.
Opposisiepartye het verlede week op ’n vergadering besluit om opsies vir toekomstige samewerking tussen die partye te oorweeg.
Hulle sal ook ’n oudit van al die beweerde ongerymdhede gedurende die verkiesings doen.
