Dit was hul tweede besoek aan Namibië, ’n wonderlike land wat hulle vertrou het. Maar nou is hulle klaar met Afrika. Hulle gaan ook hul vriende aanraai om weg te bly.
So het die egpaar Josef en Johanna Stapfler Vrydag aan die Republikein gesê voordat hulle drie dae ná hul aankoms in Namibië weer op ’n vliegtuig terug na Frankfurt was. Die Stapflers was die vorige middag by Omaruru se Franke-toring die slagoffers van ’n man wat asof van nêrens verskyn het, hulle afgedreig en hulle toe liederlik aangerand het.
Ná hul aankoms in Windhoek het die egpaar in hul gehuurde motor een aand in ’n lodge net suid van Karibib geslaap. Donderdagaand het hulle soos bespreek in ’n bergherberg wes van Omaruru geslaap nadat hulle die vorige dag aangerand is. Vrydag was dit vir hulle terug Windhoek en huis toe. Hul Namibiese toer van 18 dae wat hulle ook na Damaraland en die Zambezistreek sou bring, het net drie dae geduur.
Die egpaar in hul vroeë veertigerjare was ontnugter en teleurgesteld.
Na behandeling in die staatshospitaal op Omaruru het die Stapflers self vertel wat Donderdagmiddag net voor die etensuur by Omaruru se Franke-toring met hulle gebeur het. Hulle wou die Franke-toring as ’n historiese erfenisbaken besoek. Daar gekom, was die deur gesluit.
Hulle was reeds terug by hul gehuurde voertuig toe hul aanvaller langs hul kar uitgeslaan het.
Die man het beduie dat hy honger was en geld of enigiets anders soek. In daardie stadium was Johanna se sak met hul kosbare reisgoed nog om haar nek. Sonder enige argument het die man haar sak gegryp en het ’n struweling ontstaan. Die volgende oomblik het die man haar met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan. In sy een hand was ’n kannetjie. Johanna het gemeen dit kon die een of ander spreimiddel bevat en het vir haar oë gekeer. Toe Josef bygekom het, het hy ’n hou in sy ribbes gekry. Hy was nogtans sterk genoeg om op straat hulp te soek terwyl sy bebloed by hul voertuig gestaan het.
Oor hul skielike huis toe gaan was die egpaar dit eens: “Ons wil nie meer hier wees nie”.
In die sak waarmee hul aanvaller die hasepad gekies het, was allerlei kaarte van die egpaar, sowat tweehonderd euro en ’n klompie Namibiese dollars. Behalwe die sak en die inhoud daarvan is ander goed nie uit die gehuurde motor gesteel nie.
