Misdade teen die beskawing

Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Is die Bantoe ‘n Afrikaner?

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Dít mag dalk na ‘n vreemde vraag lyk, maar ek kon seker ook die vraag anders gestel het deur te vra: Is die Bantoe inheems aan Suid-Afrika? Vir my is die Afrikaner – die mens, die bees, die blom – inheems aan Afrika en Suid-Afrika, vandaar dus my vraag.

In Duits, die grootste Germaanse taal waaraan Afrikaans verwant is, beteken die woord “Afrikaner” gewoon “Afrikaan”. Dus kan my vraag ook só gelees word: Is die Bantoe ‘n Afrikaan? Op die oog lyk dit na ‘n vreemde of selfs radikale vraag, maar verlede week het ek die biografie oor Joe Slovo en Ruth First gerensenseer. Hulle was twee van die mees radikale politieke denkers wat nog ooit in Suid-Afrika geleef het. Daarom verbaas dit ook nie dat First die eerste was om die stelling te maak dat “blankes in Suid-Afrika die swartes se grond gesteel het” nie.

Afrikaner(tjie)
Afrikaner(tjie)

Toe Ruth First die eerste keer in die 1940s daardie stelling, of liewer teorie, geformuleer het, was daar seker baie mense wat haar uitgelag het. ‘n Mens sou dit ‘n marxistiese leuen kon noem. Vandag word dit egter as die heilige waarheid in die koerante van Media24/Naspers verkondig. Op 26 Julie vanjaar het ‘n artikel uit die pen van die Britse marxis, Ruth Hall, in al die Media24-dagblaaie se Saterdaguitgawes verskyn met die spottendene, ironiese titel O boereplaas, naturellegrond. Daarin word ‘n hele kommunistiese versinsel rondom grondbesit en kapitaal gekonstrueer, wat beteken dat alles wat ons as Afrikaners besit eintlik aan swartes behoort.

Die probleem is: baie min mense opper enige beswaar teen al dié radikale teorieë wat ons Afrikaners as indringers in ons eie land voorhou. Die ironie dat immigrante uit Litaue soos First en Slovo ons tot vreemdelinge of buitelanders in Suid-Afrika kan verklaar, skrei natuurlik ten hemele.

Ons leef in ‘n baie radikale tydvak van revolusie en “transformasie”. Suid-Afrika het oor die afgelope twintig jaar meer verandering beleef as Wes-Europa oor die afgelope 200 jaar. In vele Europese lande kom die regering tot ‘n val as die staatsmediesefonds se uitbetalings met ‘n paar persentasiepunte gewysig word, wat nog te sê die soort revolusie wat ons ervaar. Van hier af gaan die revolusie versnel en ons bates sal toenemend deur die staat en die groepe in beheer – wat ook ander lande, gemeenskappe en hul veiligheidsdienste insluit – gekonfiskeer word.

Radikale omstandighede verg radikale denke. Die Afrikaner skram in sy versigtigheid en konserwatisme instinktief van radikalisme weg, maar soos Van Wyk Louw ook iewers verduidelik, beteken om “radikaal te dink” bloot “om tot aan die wortel te dink”. Diegene wat soos ek in die goeie ou dae nog Latyn op skool gehad het, sal weet dat “radix” in Latyn “wortel” of “bron” beteken. Die reuseverandering wat ons beleef, dwing ons om alles in heroënskou te neem.

Ruth First en die ander kommunistiese teoretici het alles op die idee gebou dat die swartman op grond van sy ras eerste aanspraak op Suid-Afrika het. In die Suid-Afrikaanse kommunisme is ras = klas en daarom behels die klasseomwenteling terselfdertyd ‘n rassetransformasie. Mbeki en ander swart denkers herhaal eintlik maar net Joe Slovo en Ruth First se idees as hulle na Suid-Afrika se “kolonialisme van ‘n spesiale tipe” verwys. Veral Slovo se boesemvriend, Harold Wolpe, is sover ek onthou vir daardie term verantwoordelik. In weerwil van die Afrikaner se teenwoordigheid van 360 jaar in die land, asook sy inheemse kultuur en taal wat hier gestandaardiseer is, word ons summier tot “kolonialiste” verklaar. Die verengelste swart elite en hul Litause of Britse teoretici is die “inheemses” wat ons binnekort van ons grond af gaan skop en wie weet sommer landuit gaan jaag sodat hulle oplaas Suid-Afrika se aansienlike hulpbronne na willekeur kan plunder.

Maar hoe stewig is daardie fondament wat Ruth First gebou het? Vir elke argument is daar ‘n teenargument. Toevallig val my oog nou die dag op ‘n klassieke boek deur die Afrikanerhistorikus, Gustav Preller, Daglemier. Amper asof Preller die dag voorsien het dat die Afrikaner of die blanke in Suid-Afrika tot indringer verklaar gaan word, beklemtoon hy deurentyd dat ons volksplanting aan die Kaap vóór die groot migrasie van die Bantoetaalsprekers na ons land geskied het. Onder andere skryf hy dat die Vendas eers teen 1700 in die Soutpansberg aangekom het.

Die eerste helfte van die twintigste eeu, toe Preller geskryf het, was ‘n baie interessante tydvak in die Weste, sowel wat die natuur- as die geesteswetenskappe betref. Toe is die grondslag in die fisika gelê wat uiteindelik tot die atoombom en vandag se geweldige tegnologiese opbloei sou lei. Terwyl die natuurwetenskappe ná die tweede wêreldoorlog aanhou groei het, het die marxistiese gordyn egter in hoë mate oor die geesteswetenskappe, maar ook gedeeltes van die argeologie, antropologie, biologie en die genetika, gesak. Die aandrang op gelykheid het eenvoudig sekere vorme van navorsing taboe gemaak.

President Poetin van Rusland het onlangs die Amerikaners gewaarsku met ‘n boodskap in die trant van: die marxisme het nie vir ons gewerk nie, moenie dink dat dit by julle iets goeds gaan teweegbring nie. Feit is egter dat die geesteswetenskappe aan die Amerikaanse universiteite sedert die sestigerjare deur marxisme oorspoel is en nog nooit weer herstel het nie. Die Suid-Afrikaanse universiteite volg hulle min of meer slaafs na, dus geld dieselfde in ons land.

Lees gerus ook die volledige aanhaling vanuit Erik von Kuehnelt-Leddihn in my Engelse rubriek vandag waarin hy na die “gewapende bordele wat ons aanhou om universiteite te noem”, verwys. Suid-Afrika se gewapende bordele word egter feitlik volledig deur epigone van Ruth First en Joe Slovo beset, ten minste in die geesteswetenskappe. As u my nie glo nie, gaan maar net Leon Lemmer se rubrieke oor die Universiteit van Stellenbosh deur, veral vandag s’n.

Sedert 1994 word die antropologie en die evolusieleer insgelyks deur ons nuwe heersers gebruik om die “eenheid van die mens” te postuleer. Veral prof Phillip Tobias van Wits het die voortou hiermee geneem. Net soos in die Sowjetunie waar alle fasette van menslike kennis onder kommunisme gebruik is om die politieke stelsel te regverdig, word antropologie, argeologie en geskiedenis by ons só geskryf dat dit die huidige orde en veral die revolusie regverdig. Die indruk word bowenal gewek dat die Bantoetaalsprekers reeds duisende jare in die land teenwoordig is. Trouens, met propaganda-instellings soos die Cradle of Man-kompleks aan die Wesrand word gepoog om die indruk te wek dat die Bantoe so min of meer die nasaat van die australopithecus africanus of suidelike aap van 2 miljoen jaar gelede sou wees.

Ons beskik eenvoudig nie oor die inligting om oor twee miljoen jaar se evolusie te spekuleer nie en soos elke teorie moet dit alles met ‘n knippie sout geneem word.

Feit is egter dat Preller ‘n hele paar teorieë van sy eie aanbied wat gegrond is op antropologiese en argeologiese navorsing vanuit die eerste helfte van die twintigste eeu – vóór die marxistiese gordyn gesak het en voor Ruth First, Shula Marks en ander se lesing van ons geskiedenis as die evangelie aanvaar is.

In ‘n paragraaf van Daglemier op bladsy 53 sê Preller (ek behou die oorspronklike spelling):

Aangeneem word dat die Bantu’s nie Afrikaners van oorsprong is nie, terwyl daar die sterkste redes aanwesig is om ook aan te neem dat hulle van oud-Asiatiese afkoms is, en die Afrikaanse vasteland bereik het uit hulle oorspronklike heimat, binne die trope van suid-oostelik Asië, oor die kuslande van Indië en Arabië. – (Frank)

Die Jawa-mens, rekonstruksie na die gevonde skedel
Die Jawa-mens, rekonstruksie na die gevonde skedel

Preller verwys taamlik baie na George McCall Theal, die vader van die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing, maar die “Frank” in hakies moet na ‘n ander antropologiese of argeologiese kenner verwys. Met ‘n bietjie speurwerk op die internet behoort ‘n mens te kan uitvind wie dit was. Op die volgende bladsy (54) in Daglemier suggereer Preller dat die Bantoe dalk van die sogenaamde Jawa-mens, Pithecanthropus erectus, waarvan die fossieloorblyfsels in 1891 deur Eugène Dubois ontdek is, kan afstam, wat sy Asiatiese oorsprong mag verklaar. Volgens ‘n Amerikaanse antropoloog uit die 1920s, prof Roland B. Dixon, is daar ‘n verwantskap tussen die Bantoes en sommige Melanesiërs. Preller skryf:

Eersgenoemde tiepe is gekonsentreer vernamelik aan die boorde van die Indiese oseaan: en in Afrika is hulle te vinde in die suide en langs die ooskus: die Bantu’s. Hulle oorsprong is gewees êrens in die trope van suid-oostelik Asië, dieselfde streek waar, binne die Pliocene tyd, die Pithecanthropus erectus, of die Java-mens geleef het. Vandaar het hulle sig versprei na Australië, en, weswaarts oor die tropiese kuslande van Indië en Arabië, tot in Afrika.

‘n Ander stelling wat my nog altyd bygebly het, is dié deur die bekende SA ekonomiese historikus, C.W. de Kiewiet, wat agterna die hoof van die prestigieuse Cornell-universiteit in die VSA geword het. Iewers in sy boek oor Suid-Afrika bied hy die verklaring waarom ons land nie blankes in groter getalle kon aanlok nie, want, seg hy: “Haar immigrante was swart.”

As ek Preller reg lees, wil hy eintlik beweer dat die enigste twee inheemse volkere in ons land die Afrikaner en die Boesman was. Die res is almal latere immigrante. In die onlangse tyd het elke Jan Rap en sy maat natuurlik oor ons landsgrense gestroom. ‘n Vriendin wat by binnelandse sake werk, het op ‘n keer aan my verduidelik hoe maklik dit vir enigiemand sonder ‘n Suid-Afrikaanse geboortesertifikaat is om ‘n verklaring by die polisiestasie te gaan aflê dat sy geboorte nooit geregistreer is nie, waarna hy vanself ‘n ID-boekie en burgerskap bekom.

Terwyl die marxiste ons daarvan beskuldig dat ons “kolonialiste van ‘n spesiale tipe” is, beskik ons Afrikaners, asook ons voorouers, darem oor geboortesertifikate, doopseëls, titelaktes, testamente en boedelopgawes wat eeue terug strek en wat bewys dat ons nog altyd hier was! Ons is nie onlangse immigrante of kolonialiste nie.

Van die Boesmans het daar as inheemse volk baie min oorgebly, want die Bantoes het ‘n volksmoord op hulle uitgevoer. Dus is die Afrikaner eintlik die enigste oorblywende inheemse volk in die land, maar wat tans onder geweldige druk verkeer aangesien ons met geweld en vyandige wetgewing uit die land verdryf word.

Vandeesweek het ek ‘n brief in Engels aan die Business Day gerig wat ook hier te lese is, waarin ek meen dat ons tans ‘n vorm van swart of Bantoe-kolonialisme beleef. Dis seker nie baie polities korrek om so iets te sê nie, maar dis waar. Ook bestaan daar ander minderhede in die land wat reeds ‘n soort staat-binne-die-staat bedryf, kompleet met hul eie intelligensie- en veiligheidsdienste wat lyk my ten nouste met Suid-Afrika se misdaad-intelligensie saamwerk. In vandag se Rapport verskyn daar ‘n artikel oor die sogenaamde “wit weduwee” en daar word onder andere voorspel dat daar binnekort Moslem-terreur in die noordelike voorstede van Johannesburg kan plaasvind. Maar lees veral die tweede helfte van die artikel waarin die veiligheidsdienste ter sprake kom.

Preller maak in sy boek die verdere interessante bewering dat daar op ‘n stadium ‘n baie ou blanke beskawing in Suider-Afrika was, vóór die koms van ons Nederlandse voorouers aan die Kaap en beslis ook voor die koms van die Bantoetaalsprekers. In die teenswoordige ZImbabwe is daar oorblyfsels van uitgebreide mynbou-aktiwiteit wat insgelyks in die 1920s deur ‘n Duitse wetenskaplike, prof Leo Frobenius, blootgelê is. Volgens hom is die bewerking van yster in Afrika 2 500 jaar ouer as in Europa. ‘n Transvaalse geoloog, dr Percy Wagener, het in Augustus 1929 op ‘n wetenskaplike kongres in Johannesburg verklaar dat Suid-Afrika, tesame met die ou Rhodesië, “eenmaal in die voorgeskiedenis, ‘n baie belangriker posisie in die wêreld ingeneem het as wat die land vandag beklee”. Duisende jare gelede is daar reeds goud en ander metale hier by ons gemyn op ‘n gesofistikeerde manier waarvan die Bantoes nie kennis gedra het nie.

Is die goue renoster deel van ons Afrtikaner-erfenis, eerder as die Bantoe s'n?
Is die goue renoster deel van ons Afrtikaner-erfenis, eerder as die Bantoe s’n?

Die mitiese stam wat die goue beeldjies en juweliersware by Mapungubwe vervaardig het, was inderdaad Afrikane want hulle het reste van hul teenwoordigheid agtergelaat, anders as die nomadiese Bantoes. Sonder die Universiteit van Pretoria sou niemand van daardie voorwerpe geweet het nie, daarom behoort hulle tot óns erfenis en nie tot dié van die Bantoe nie. Die Mapungubwe-renoster behoort na regte by die Voortrekkermonument uitgestel te word as deel van ons Afrikaner-argeologie. Dit sal ook die band met ons verre voorouers bevestig wat reeds in die tyd van die Egiptiese dinastieë 3 500 jaar voor Christus goud en yster in ons land gemyn het.

Dis hoog tyd dat die Afrikaner ‘n groter kontinentale bewussyn ontwikkel en sterker op sy inheemsheid aanspraak maak – teenoor die uitheemse Litauers en Bantoes wat ons vanuit Londense skakelhuisies tot vreemdelinge in ons eie land verklaar het.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad