Die Rio Olimpiese Spele het met ‘n ontploffing afgeskop toe militêre plofstofdeskundiges ’n verdagte pakket naby aan die eindpunt van die mans se fietswedren by Copacabana-strand opgeblaas en vrees by toeskouers ingeboesem het.
By ‘n perdesportbyeenkoms in Deodoro, wat op ’n militêre basis is, het ‘n dwaalkoeël deur die seildak van die mediasentrum geskeur en op die vloer beland.
“Alle owerhede het die versekering gegee dat die koeël niks met die Spele of die Olimpiese familie of die media te doen gehad het nie. Die area was nie die teiken nie,” het ’n woordvoerder van die Spele, Mario Andrada, gesê.
Die openingseremonie was ’n glansgeleentheid, met atlete van deelnemende lande wat oudergewoonde in die Maracanã Olimpiese stadion deur Griekeland binnegelei is.
Meer as 11 000 atlete van 206 nasionale Olimpiese komitees, insluitende vir die eerste keer Kosovo en Suid-Soedan, neem vanjaar deel. Altesaam 28 sportdissiplines word aangebied, insluitende sewes-rugby en gholf, wat in 2009 deur die internasionale Olimpiese komitee ingesluit is.
Rio de Janeiro is die eerste Suid-Amerikaanse stad om die somerspele aan te bied. Dit is ook die eerste keer dat die Olimpiese Spele in ’n Portugeessprekende land aangebied word en die hele somerspele in die winter aangebied word.
Die aanloop tot die Spele is deur omstredenheid geteister, insluitende die onstabiliteit van die land se federale regering, kommer oor gesondheid en veiligheid oor die Zika-virus en ernstige besoedeling in Guanabara-baai.
Dwelmskandale het die Russiese span sowel as die Keniaanse span getref, en meegebring dat talle Russiese atlete verbied is om aan die Spele deel te neem, terwyl die Keniane steeds welkom is.
Dié politiekery om die Russe uit te hou sal sorg vir minder belangstelling. Ook is onthul dat die Spelekomitee nie naastenby genoeg fondse het nie en deur die staat geborg sal moet word.
Ten minste die helfte van Brasilië se inwoners is fel gekant teen die Spele.
Rusland se baan- en veldatlete sal nie aan die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro kan deelneem nie.
Die paalspringwêreldkampioen, Jelena Isinbajewa (foto hierbo), het die besluit ‘n “begrafnis vir atletiek” genoem en gesê die besluit is ‘n politieke een.
Die atlete het hul appèlsaak deur die Hof vir Arbitrasie in Sport in Switserland verloor nadat die hof die aansoek van die hand gewys het.
Die appèlsaak is gebring deur 68 Russiese atlete wat deur die internasionale atletiekfederasie, die IAAF verbied is om aan die Olimpiese Spele deel te neem.
Die Russiese atletiekfederasie is deur die IAAF geskors nadat ‘n onafhanklike verslag bewyse van die wydverspreide gebruik van verbode middels gevind het.
Russiese amptenare is daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by pogings om die gebruik van verbode middels te verbloem.
Die Russe het reeds die gedagte verwerp om ‘n oproep aan ander lande te doen om die Olimpiese Spele in Rio te boikot uit solidariteit met hulle penarie.
Vreemd genoeg weet die Russe egter nog steeds nie wat hulle sal moet doen om hertoelating tot die Olimpiese Spele te verkry nie.
Dit wil voorkom asof die verbod eenvoudig op ‘n oop en algemene, langdurige uitsluiting van Rusland neerkom, ongeag van hul optrede nou of in die toekoms.
Na verwagting sal die verbod binnekort op die hele Russiese Olimpiese span van toepassing wees.
Daar is intussen ook ‘n veldtog van stapel gestuur om Rusland uit die sokkerliggaam FIFA te probeer boender.
Rusland het voorheen sy eie alternatief vir die Olimpiese Spele in die vorm van die Spartakiad gehou, want tot en met die Helsinki Spele in 1952, het die Russe in elk geval nie deelgeneem aan die Olimpiese Spele nie.
Dit het hulle nie verhoed om te presteer en miljoene te lok na die Spartakiad nie.
Wladimir Poetin van Rusland het gereageer op wilde aantygings teen Russiese sportlui deur die Wêreldagentskap teen opkikkers, Wada.
Hy het gesê daar bestaan geen gronde vir sulke bewerings nie.
“Sodra sulke soort aantygings gemaak word, moet bewyse ook voorsien word. Solank daar nie bewyse is nie, is dit moeilik om daarop te reageer,” het Poetin se woordvoerder, Dmitri Peskof, aan verslaggewers gesê.
‘n Komitee van Wada het Maandag verklaar dat Rusland nie aan die Olimpiese Spele moet deelneem nie en uit internasionale sport geskors moet word.
Die verklaring volg nadat Wada tot die gevolgtrekking gekom het dat daar ‘n “diepgesetelde kultuur van korrupsie in Russiese atletiek heers”.
Die verklaring het groot verbasing onder sportlui gelei, aangesien Wada swyg oor China se gebruik van opkikkers.
Ontleders meen aantygings teen Rusland deur die VSA en Brittanje is in die mode maar Wada sal dit nie waag om die opkikker-mal China uit te wys nie, omdat dit te sensitief mag wees.
Wada sal sy aanbeveling aan die IAAF deurgee, en die Raad van die IAAF sal besluit of Rusland geskors sal word.
Die IAAF word egter tans ondersoek deur Interpol vir bedrog.
Amerika en Brittanje wil Rusland graag voor volgende jaar uit die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro skors.
Die Wêreldagentskap teen opkikkers (Wada) het Maandag aanbeveel dat Rusland uitgeskop word oor “sistemiese gebreke” in die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) jeens opkikkers.
In die verslag word gesê dat die Olimpiese Spele in Londen in 2012 “gesaboteer” is deur die IAAF se trae houding.
“Ons aanbeveling is dat die Russiese Federasie in 2016 geskors word,” het Dick Pound, president van Wada, op ’n nuuskonferensie gesê.
Die Britse oud-atleet en politikus, Sebastian Coe, tans president van die IAAF, het Wada se verslag beaam en gesê Rusland behoort geskors te word.
Rusland het met 2012-Spele met 17 medaljes, tweede na die VSA geëindig.
Die Russiese intelligensiediens (FSB) was glo tydens die Winterspele in Sotsji teenwoordig, wat gelei het tot “partydigheid en ‘n gebrek aan oordeel en integriteit”.
Klagtes van korrupsie en geldwassery is ook verlede week in Frankryk teen sy voormalige president, die 82-jarige Lamine Diack, aanhangig gemaak.
Hy word daarvan beskuldig dat hy $1,09 miljoen in omkoopgeld gekry het om positiewe opkikkertoetse van Russiese atlete toe te smeer.
Interpol het Maandag bekend gemaak dat hy ’n wêreldwye ondersoek na korrupsie en opkikkergebruik in atletiek gaan lei teen die Russiese Federasie.
Al die gevolgtrekkings in die Wada-verslag is gebaseer op onbevestigde bronne en ongegronde feite, het die Russiese minister van sport Vitaly Mutko gesê.
Mutko sê dat Rusland jaarliks sowat 15.000 monsters neem en die totale aantal atlete wat gediskwalifiseer word staan op ongeveer 2 persent, “dieselfde as in ander lande”.
“Dit is onmoontlik om vandag iets weg te steek. Al die data is daar in die databasisse onder toesig van Wada. Baie daarvan kan net nie vervals word nie,” het hy gesê.
Die Bloemfonteinse atletieklegende en wenner van die hoogspringtitel vir vroue by die Olimpiese Spele in 1952 in Helsinki, Finland, Esther Brand is gister op die rype ouderdom van 92 jaar in Bloemfontein oorlede.
Brand is tot op hede die enigste Suid-Afrikaanse vroue-atleet wat ‘n goue medalje by ‘n Olimpiese Spele kon vermag. Sy het gewen met die destydse skêr-styl met ‘n hoogte van 1,67 meter.
Brand het tot ‘n paar jaar gelede gereeld diens gedoen as hoogspringbeampte by atletiekbyeenkomste.
Haar man, Jan Brand, het ook sy Springbokleure verwerf toe hy die land in fietsry by die 1948 Olimpiese Spele in Londen verteenwoordig het.
Dan Roodt se toekomsvisie vir Afrikaners Elf jaar van nou af: ‘n toekomsvisie is ter sprake. Eerstens is dit inspirerend. Roodt skep ‘n toekomsbeeld waarin Afrikaners ekonomies, biologies en kultureel herstel en gedy. Hy doen dit met inbegrip van die berperkinge van die situasie waarin Afrikaners tans verkeer. Hy voorsien ‘n soort groeiende onafhanklikheid wat deels onstaan weens Afrikanervoortreflikheid en deels weens die agterlike verval van die Afrikanistiese “Reënboognasie” en sy Trans(De-)formasiestaat.
Dis egter nie net die beeld van oorlewing op verskeie vlakke wat mens hoop gee nie. Nee, daar is meer. Hierin sien mens ook die herstel van trots en die beëindiging van die gedurige vernedering. Ons word gedurig verneder aan die hand van die swarte en sy Naspes-meelopers. Dit kom in die vorm van swart politieke oorheersing, Swart Eknonomiese Bevoordeling, “Regstellende Aksie”, die vernieting van Afrikaanse skole en universiteite, woonbuurte, dorpe, stede, swart disinformasie en haatspraak, aanranding, verkragting, moord. In Roodt se stuk word ‘n streep hierdeur getrek. Genoeg is genoeg!
Natuurlik is hierdie visie nie net Dan Roodt s’n nie. Vele ander Afrikaners en -bewegings deel ‘n visie van die herstel van Afrikanerselfregering. Roodt se skrywe, wat open met die 2024-Olimpiese-spele is egter ook fiksie en daarop gemik om die verbeelding aan te gryp en dit is belangrik, want in die tyd wat voorlê, sal Afrikaners verbeeldingryk moet wees. Hulle sal beide hul pragmatisme, wat Roodt se stuk goed belig, en hul verbeeldingskrag moet kombineer om ‘n oorlewingspad oop te beur. Daarsonder bestaan daar geen toekomsvisie nie en dus geen oorlewing nie.
Verbeelding is iets wat ons almal in gemeen het en is ook die element waarmee ons ons onderlinge verdelings oorkom. Deur die gedeelde beeld van die toekoms te omhels, kan Afrikaners die gemene grond vind om faksionele verskille tersyde te stel. Roodt self bereik daardie eenheid met uiteenlopende bewegings wanneer hy byvoorbeeld vir Kleinfoltein en Orania opwinded intrek by sy toekomsvisie. Hiermee sien mens ‘n vertrek weg van vorige menings wat deur hom geuiter is. Daarin ontbloot Dan Roodt deur sy eie evolusie ‘n belangrike Afrikanereienskap: wanneer dit werklik sleg gaan, slaag ons tóg daarin om saam te staan. Tans gaan dit baie sleg.
Sy beeld dat die ANC-staat oplaas onder sy eie slegtigheid in duie begin stort, hou water. Ons sien dit reeds gebeur met munisipaltiete en regeringsdepartmente wat al meer disfunksioneel raak. Die hele Afrika bestaan uit mislukkende state en daar is geen rede waarom SA nie daardie paadjie gaan loop nie. Die verval van die Afrikanistiese staat op sigself waarborg egter nie Afrikaner-oorlewing nie. Alleen is dit nie genoeg nie, want die Afrikaner as volk, kan ewenwel soos die oud-Rhodesiërs (‘n volk wat nouliks meer bestaan) onder die swart verdrukker ontbind.
Nee, ons het meer nodig en dit belig sy toekomsvisie ook. Ons sal ons ondernemendheid en voortreflikheid moet koester en dit moet deur eenheid bereik word. Roodt se stuk belig ook samewerking en dit impliseer die broodnodige Afrikanereenheid. Sonder eenheid is ons gedoem, want daarsonder sal ons nie die krag kan monster om die strukture waaroor Roodt skryf te kan oprig nie. Onderlinge pogings sal stukrag ontbreek.
Dis gepas dat sy toekomsvisie juis na 2024 kyk. Juis rondom daardie tyd sal die meeste NSA-kiesers jeugdiges wees, aldus Frans Cronjé van die SAIRR. Soos Cronjé aangedui het, is die jeug meesal radikaal. Dis juis onder hulle wat mense soos Malema se gewildheid gedy. Wanner hierdie radikale SA oorneem, gaan hulle die wittes van alle bates stroop. Dis dus belangrik dat ons teen daardie tyd genoeg mag gemonster het om teenkanting te kan bied, iets wat ons nou amper glad nie kan doen nie.
En nou word dit werklikheid: Soos Viktor Frankenstein het die Reënbognasie oor die naweek ‘n monster in die vorm van Julius Malema se EFF die lewe ingeroep. Hierdie onheispellende gebeurtenis is ‘n waterskeidingsoomblik. Terwyl die Naspes- (Naspers-) dampkring, wat ‘n jaar of wat gelede in die hemel was oor die “ondergang van Malema”, nou verbaas voorkom, is dit vir die res van ons geen verrassing nie. Die baring van hierdie gedrog bevestig ons ergste vrese. Al singend het Malema weer om volksmoord op ons geroep terwyl hy ook die roof van ons bates beloof het. Hierdie bedreiging behoort alle Afrikanerfaksies te oortuig dat die tyd vir samewerking nie langer uitgestel kan word nie.
Die uurglas loop leeg; die tyd vir binnegevegte is voorwaar verby.
In die jaar 2024 vind die Olimpiese Spele in Parys plaas. Dié stad het presies ‘n eeu gelede, in 1924, die Spele aangebied en daarom het die Olimpiese Komitee gevoel dat die Franse hoofstad verdien om weer as gasheer vir die Somerspele op te tree.
In die Stade de France ten noorde van Parys word daar oor die luidsprekers in die volgepakte stadion op Frans afgekondig: “Dames en here, verwelkom asseblief die atlete vir die Olimpiese Spele van 2024 in Parys!” Die skare juig asof op bevel en stadig begin een span na die ander die stadion binnestap. Soos die tradisie bepaal, neem die span van Griekeland die voortou, met hul blou en wit vlag wat onder die spreiligte wapper. “La Grèce!” kondig die omroeper hulle aan.
Daarna verskyn een land ná die ander alfabeties in die stadion. Ná Griekeland kom Afghanistan met hul swart, rooi en groen vlag verbygeloop. Daar is uiteindelik vrede in die land, ná jare van konflik en hul mans en vroue glimlag oënskynlik gelukkig vir die kameras.
Aan die suidekant van die stadion sit ‘n opgeskote Franse seun langs sy vader wat ‘n ingenieur by France Télécom, een van die plaaslike telekommunikasiemaatskappye is. Soos dit die Franse se geneigdheid is, is albei netjies aangetrek. Die seun dra ‘n kakiekleurige katoenlangbroek en ‘n wit langmouhemp waarop die groen krokodilltjie van Lacoste, die nasionale obsessie, pryk Gendaglik dra die vader nie ook Lacoste nie, maar ‘n vlootblou Italiaanse linnepak, met daaronder insgelyks ‘n wit linnehemp.
“Kyk pa, wie is daardie land, net agter Afghanistan?” Terwyl die skare en die aankondiger nog hul aandag by Afghanistan bepaal en Algerië reeds agter die onbekende groep atlete sigbaar is, spekuleer pa en seun enkele oomblikke lank oor wie dit kan wees.
“Dis ligte mense, waarskynlik Skandinawiërs. Miskien Denemarke,” sê die pa aan sy seun met daardie soort alwysheid wat eie aan ‘n Parysenaar en ‘n ingenieur daarby, is. Skielik val dit die vader by dat die letter D eers ietwat later in die alfabet volg en glad nie tussen Afghanistan en Algerië inpas nie.
“Maar kyk hoe hoe bruingebrand is hulle! Dit lyk nie asof hulle van ‘n koue land af kom nie?” sê-vra die seun ietwat snipperig aan sy pa.
“Ons sal seker binne enkele oomblikke hoor,” meen die pa, ietwat verleë ná sy skoot in die donker.
Die skare lawaai en dan kom die eerste eggogeluide uit die luidsprekerstelsel. Die aankondiger sê: “En al die pad vanuit…”
* * *
Elf jaar tevore in Suid-Afrika, in die jaar 2013 om presies te wees, gaan dit baie ver van Parys en die Stade de France, nie goed nie. Daar word wel rugbywedstryde in die verskeie ewe beroemde stadions van die land gespeel, maar sport is geen plesier meer nie. Rassekwotas is onlangs strenger gemaak en die toeskouers van Loftus Versfeld dreig om hul geliefde Blou Bul-span te boikot omdat die Blou-Bul-bestuursmaatskappy sonder om te blik of te bloos die rassekwotas instel en eerbiedig.
Die meeste blanke Afrikaners voer ‘n bittere stryd om oorlewing. Hulle is reeds stelselmatig uit die staatsdiens, die banke en die groot maatskappye geweer. Baie werk nou vryskut en deeltyds, boer hier en daar, of maak ‘n bestaan as knutselaars, klein vervoerkontrakteurs of eienaars van vulstasies. So pas het die politieke party waarvoor die meeste stem, egter tesame met die ANC ‘n selfs strenger swartbemagtigingswet in die parlement aanvaar wat alle maatskappye dwing om tot 40% swart aandeelhouding te hê. Diegene wat die wet oortree, sal tronkstraf op die hals haal.
Daagliks bereik die nuus van plaasmoorde en ander vorme van sadistiese geweld die moedelose volk wat in hul verslete klein motortjies op die snelweë rondry terwyl hulle ‘n groot deel van hul besteebare inkomste in die vorm van peperduur petrol letterlik verbrand. Rondom hulle jaag swartmans en -vroue in luukse Duitse sedans en viertrekvoertuie verby, met ‘n argeloosheid wat spreek van mag en die weelde wat dit moontlik maak. Af en toe kom een so ‘n voortuig met blou ligte verbygejaag en moet al die verslete klein motortjies padgee as ‘n BBP in die regering of die munisipaliteite, tesame met sy voertuie vol lyfwagte en handlangers, die ander voertuie so te sê van die pad afdruk.
Rooi Oktober, die 10de, 2013
Op Krugerdag 10 Oktober 2013 vind die Rooi Oktober-optog na die Uniegebou plaas. Slegs 600 Afrikaners neem daaraan deel, maar vir elkeen wat op ‘n Donderdagoggend opdaag, sou ‘n duisend graag daar wou wees. Via sosiale media versprei foto’s en kommentaar oor die gebeurtenis soos ‘n veldbrand. Benewens ‘n negatiewe hoofartikel in Beeld, ignoreer dié koerant, asook die Sondagkoerant Rapport, die betoging geheel en al, hoewel dit gaan om geweld teen hul eie lesers.
Dit verteenwoordig min of meer ‘n keerpunt. In die daaropvolgende maande neem ontevredenheid oor sadistiese geweld, regstellende aksie, korrupsie en wanbesteding van openbare fondse drasties toe. ‘n Proses van verandering in die openbare mening wat voorheen jare of selfs dekades sou geneem het, geskied binne enkele maande, danksy Facebook, Twitter, Disqus en ander sosiale media. Afrikaners verdeel in twee groepe: die meer fatsoenlikes wat praat van “keelvol” en die ander wat sommer prontuit vir almal wat wil hoor, vertel: “Ons is gatvol.”
Tussen Krugerdag en Geloftedag van 2013 vind ‘n stille revolusie plaas waaroor die HSM (hoofstroommedia) nie eens berig nie. Soos alle revolusies begin dit klein: in kafees, in huise, komiteekamers, vergadersale waar geen joernalis of TV-kamera ooit kom nie; daar word intens gepraat, met mekaar koppe gestamp, planne beraam en strategieë bedink.
Op die duur besef almal wat hulle te doen staan. Onder die voorwendsel van demokrasie, is die land deur plunderaars oorgeneem. Die wetteloosheid en korrupsie strek hulle ten goede, want almal is omkoopbaar en die staatskas waar al die geld versamel, is die plek waar elke misdadiger en oneerlike sakeman kan kom “skep”. Selfs buitelandse rampokkers is welkom, net nie Afrikaners nie. Dit geld ook die munisipaliteite waar bedrog en korrupsie aan die orde van die dag is.
Jare lank voer mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie reeds hofsake in ‘n poging om munisipaliteite te dwing om hul wanbesteding te staak en behoorlike dienste aan dorpe en stede te verskaf. Hy versprei vergeelde boeke van Leon Louw en Frances Kendall van die Vryemarkstigting waarin ‘n kantonstelsel vir Suid-Afrika in die vooruitsig gestel word.
Tydens ‘n vergadering van aktiviste iewers in Pretoria, staan iemand op en sê: “Hierdie korrupte Afrikastaat en sy groep plunderaars sal vanself in duie stort. Om te oorleef, kort ons twee goed: kapitaal en veiligheid.”
Daar word aan die werk gespring. Landwyd word honderde koöperatiewe spaarverenigings gevestig en binne enkele maande vloei miljarde rande uit die banke daarheen. Agterna word dit in produktiewe toerusting, geboue, goud en buitelandse valuta omgesit. By die Reserwebank van Suid-Afrika, wat deur ‘n Litause goewerneur, me. Gill Marcus, beheer word, word daar kop gekrap oor waarom die land se geldvoorraad skielik met twintig persent gedaal het. Die groot vier banke sukkel om genoeg deposito’s te in en die sentrale bank weet nie of hy rentekoerse moet laat styg of daal nie.
“Hierdie is ‘n oorlog, ‘n lae-intensiteitskonflik,” sê nog iemand in ‘n kafee in Randburg. “Daar is die semantiese oorlog, die daaglikse propagandakanon met woorde soos ‘apartheid’ en ‘rassisme’ wat oopgetrek word, maar dan ook die terreur in die vorm van plaas- en huisaanvalle wat voortwoed. Ons is besig om die semantiese oorlog op die internet en op sosiale media te wen, maar die fisieke oorlog teister ons steeds. Die gruweldade en uitwissing vind deurlopend plaas.”
“Wel, ons is goed op pad om ‘n nuwe finansiële stelsel vir Afrikaners te vestig,” antwoord sy gespreksgenoot. Hy is effens bles, met ‘n welige goudbruin snor. “Ons het reeds meer as 100 miljard rand se deposito’s en met al die geld wat nou in Afrikaner-mikrobedrywe belê is, begin ons ‘n tekort aan mannekrag ondervind en ons wil nie volksvreemdes begin aanstel nie. Dit laat ons met ‘n probleem, ook wat veiligheid betref. Wie gaan ons oppas? Ons kan nóg op die polisie, nóg op privaatveiligheidsmaatskappye vertrou. Ons moet so gou moontlik gemeenskapsveiligheidsdienste vestig, saamwerk met buurt- en plaaswagte. Die resep is reeds daar: dit moet net uitgebrei word.”
Via die internet, sms’e en ander alternatiewe media word ‘n reuseveldtog geloods. Met behulp van amptelike demografiese statistiek oor taal en ras, word min of meer bepaal waar Afrikaners in die land woon en só word sektore afgebaken en die veiligheidsbehoeftes bepaal. In rustige landelike gebiede sonder veel volksvreemdes is slegs monitoring en nooddienste nodig. Maar in stedelike gebiede met groot plakkerskampe, asook landbougebiede waar plaasmoordenaars deur radikale akademici en buitelandse NRO’s aangehits word, is privaatreaksie-eenhede met wapens, voertuie en kommunikasietoerusting nodig. Dit kos ‘n paar honderd miljoen rand.
Geloftedag op 16 Desember 2013 is die eerste keer in die geskiedenis dat Afrikaners nie net toesprake maak en koffie drink nie, maar ook – soos Jode by sinagoges – onder mekaar aandele in veiligheidsmaatskappye en -koöperasies verkoop. Teen Maart 2014 is groot dele van die land reeds baie veiliger. Die ANC-minister van veiligheid en sekuriteit verskyn op TV om aan te kondig dat die misdaadkoers gedaal het, “vanweë die volgehoue harde werk van my amptenare”. Die meeste Afrikaners hoor dit egter nie, want hulle kyk nie meer SAUK nie en lees ook nie die Nasperskoerante wat reeds jare lank ‘n semantiese oorlog teen hul eie lesers voer nie.
Gedurende 2014, 2015 en 2016 ontwikkel daar geleidelik ‘n nuwe kultuur onder Afrikaners. Teenoor die selfvernietigende individualisme en spreekwoordelike broedertwis van die verlede, ontstaan nou ‘n gees van saamstaan en “kom ons word sáám sterk en vry”. Die groot statussimbool is nie meer dié van die Bantoe, “kyk hoe duur is my motor” nie, maar “kyk hoeveel doen ek vir my volk”. ‘n Soort Spartaanse gees van oefening en paraatheid, dog ook trots op Afrikaans-wees, neem oor by die ou, leë materialisme en masochisme waarmee hulle só lank deur die hoofstroommedia en die korporatiewe adverteerders gebreinspoel is.
In dié jare verrys nuwe supermarkte en kafees, maar ook hoëtegnologiebedrywe. By Kleinfontein, oos van Pretoria, word een wolkekrabber ná die ander gebou wat kantore huisves van waar ‘n horde jong Afrikaanse programmeerders IT-dienste aan veral Duitsland verskaf. Afgetrede Duitse onderwysers word opgekommandeer om verkoopsmense taalvaardig te maak. Maar in Duitsland self word kantore in al die vernaamste stede geopen waar die toegewydheid, die hardwerkendheid en professionaliteit van die Afrikaner-Silicon-vallei besig word. Boonop daal die rand aanmekaar en is die Afrikaners se tariewe uiters mededingend as dit in euro omgereken word.
Insgelyks op Kleinfontein, word ‘n hospitaal en opleidingsentrum vir verpleegpersoneel gebou wat nie net mediese sorg aan Afrikaners verskaf nie, maar operasies teen mededingende tariewe aan Britte verskaf. Oral in Brittanje verskyn geteikende internetadvertensies: “Need an op? Come to Kleinfontein, your medical paradise.”
Iewers bestuur ‘n finansiële komitee die toevloei van buitelandse valuta en kapitaal na die Afrikanerekonomie. Heelwat daarvan word op allerlei vindingryke maniere geneutraliseer sodat die res van Suid-Afrika op sy gewone trant voortsukkel, met ‘n swak rand, stagflasie, vervallende infrastruktuur en staatskuld wat hand oor hand toeneem.
Tekens van voorspoed en welvaart begin onder Afrikaners sigbaar raak. Maar hulle ry steeds verslete klein motortjies en bakkies, met ‘n horde volkseie werktuigkundiges wat hul voertuie onderhou. Rondom Orania in die Noord-Kaap verrys ‘n tweede tegnopool waar veral laboratoria opgerig word, wat globale navorsingsdienste aan maatskappye in die Noordelike halfrond verskaf. Daar word ook hotelle, vakansie-oorde en konferensiesentrums opgerig wat toeriste van oor die aardbol aanlok, met goeie diens en volmaakte veiligheid.
Teen 2020 is Suid-Afrika se staatskas so byna-byna leeggesteel. DIe begrotingstekort beloop 30% en die staatskuld trek by 120% van BNP. Tyd om van die staat se bates te begin aankoop. Van die vervalle staatshospitale word vir ‘n appel en ‘n ei aan Afrikaners verkoop, met natuurlik ‘n bietjie omkoopgeld wat die transaksie olie, soos dit maar gewoonlik die geval met ‘n Suid-Afrikaanse staatsamptenaar is. Desperate ANC-amptenare verkoop selfs van hul tolpaaie om inkomste te verkry.
Vanaf 2015 begin Afrikanerkantonne een ná die ander onafhanklikheid van die sentrale regering verklaar, kragtens artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet wat luil:
Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.
In wese is dit ou blanke munisipaliteite, tesame met omliggende plase, wat afstig. Die sentrale regering staan magteloos om die proses van afstigting te keer, want sowel die grondwet as die internasionale reg maak daarvoor voorsiening. Een van die eerste dorpe wat tot dié stap oorgaan, is Heidelberg, hoofsaaklik om die Hoër Volkskool van ondergang te red. Toe die Heidelbergkanton tot stand kom, is dit asof ‘n sluis oopgetrek word en oral in die land vind vergaderings plaas waar selfbeskikking uitgeroep word. In plaaslike en internasionale howe woed allerlei hofsake, maar intussen steur gemeenskappe hulle nie meer aan die ANC-munisipaliteite, die staat of, les bes, die Ontvanger van Inkomste nie. Groot verwarring heers in die Suid-Afrikaanse howe, wat geen saak van die Ontvanger teen ‘n oud-Suid-Afrikaanse belastingbetaler kan aanhoor alvorens daar uitsluitsel kom oor watter hof in die nuwe kantonne oor jurisdiksie beskik nie.
Die Kantonale Bank van Heidelberg doen fluks sake en begin selfs sy eie geldeenheid uitreik wat so min of meer aan die euro gekoppel is. Die eerste wolkekrabber is reeds in Heidelberg in aanbou om in die vraag na kantoorruimte en verblyf te voldoen.
Binne die eerste paar jaar van die nuwe Afrikanerbeweging, ontstaan ‘n groot mannekragtekort. Pensioenarisse word heropgelei, van skootrekenaars voorsien en selfs tieners op skool begin op ‘n vroeë ouderdom deeltyds werk omdat die ontluikende Afrikanerekonomie voortdurend nuwe werknemers benodig. Volgens beskikbare syfers, behaal die groeikoers in sommige jare ‘n ongehoorde 20 persent! Soos wat Afrikaners loskom van die parasitiese, korrupte stelsel van Suid-Afrika, is hulle soos atlete wat met gewigte aan geoefen het en nou skielik vry kan hardloop.
Vliegtuie uit Australië, Nieu-Seeland en Kanada is skielik volgepak met terugkerende Afrikaners wat onmiddellik in die netwerk van kantonne opgeneem word. Hul kinders word weer aan Afrikaans blootgestel met dubbelmediumonderrig in Afrikaans en Engels, met ‘n geleidelike oorskakeling na Afrikaans.
Met die staatskas wat leeg bloei, verklaar die ANC-bewind hom bereid om van sekere kampusse ook ontslae te begin raak. Pretoria, Potch en Bloemfontein word sommer gelyk aan ‘n Afrikanerkonsortium verkoop. Die bestaande kleurlingrektore en blanke apparatsjieks wat dié instellings oor die jare probeer verengels en venietig het, word voor die voet afgedank. Hulle word nie eens toegelaat om hul lessenaars leeg te maak nie, maar word deur veiligheidspersoneel van die perseel verwyder. Die akademiese personeel word insgelyks gesuiwer van marxiste, feministe en ander geestelik versteurdes wat met ‘n pakkie valium huis toe gestuur word.
Teen 2020 doen Der Spiegel die eerste groot artikel oor “Das Afrikanerwirschaftswunder” en ‘n horde internasionale TV-joernaliste sak op die Afrikanerkantonne toe om ondersoek in te stel na die geheim van hul verbysterende sukses. Hulle kom agter die spaarkoers is omtrent dertig persent en daar bestaan ‘n stelsel van permanente opleiding waaraan almal deelneem, van kleuters tot bejaardes in hul sewentiger- of tagtigerjare – alles in Afrikaans. Meesal loop mense in kortbroeke, tweekleurhemde en vellies rond en stel meer in hul finansiële beleggings as in verbruik belang. Kort-kort skenk ‘n ryk Afrikaner ‘n vleuel aan ‘n hospitaal, skool of universiteit wat aangebou word en waar nog werk vir sy volksgenote geskep word.
Selfs met die diaspora-Afrikaners terug in die vaderland, raak die arbeidstekort egter nypend. Soos in Japan, is daar oral outomate wat koffie, tee en koeldranke bedien. Selfbedieningsrestaurante wat deur een of twee mense bedryf word en wat slegs van weggooibare borde en eetgerei gebruik maak, is die norm.
Daarom word ‘n nuwe immigrasieplan soos laas in die vyftigerjare van stapel gestuur. Lande en gebiede in Europa word geïdentifiseer waar armoede en werkloosheid heers en werwingskantore word geopen om jong immigrante na die Afrikanerkantonne te lok. Tot ‘n honderdduisend Europese immigrante word jaarliks met skepe na Suid-Afrika gebring, met Afrikaanse lesse en ‘n inburgergeringskursus wat reeds op die skip begin, nes in die vyftigerjare. Die nuwe immigrante word deur die Afrikanerekonomie geabsorbeer en van die vervalle stedelike gebiede in Pretoria, Roodepoort en Randburg word herwin om hulle te kan huisves. Die Gilde van Afrikaanse argitekte hou jaarliks ‘n groot kongres waar nuwe boustyle en tegnologie wat die minimum arbeid vereis, bespreek word. Dit gaan egter ook daaroor om ‘n nuwe Afrikaanse omgewing te skep, wat tegelyk modern en inheems Afrikaans is. In die kafees waar jy self jou koffie by ‘n masjien moet gaan tap en jou koeksister uit ‘n outomaat val, argumenteer filosowe, kunstenaars en teoretici oor presies wat suiwer Afrikaanse argitektuur of kuns sou wees en wat nie.
Intussen ploeter Suid-Afrika op sy ingeslane weg voort. Die utopie van gelykheid, kollektiwisme, nie-rassigheid, regstellende aksie, diversiteit, bemagtiging en die eerwaarde Jesse Jackson se “reënboognasie” word gaandeweg verwesenlik. Dit lyk min of meer soos Zimbabwe met werkloosheid in die orde van tagtig tot negentig persent. Trouens, vele Zimbabwiese immigrante begin noordwaarts emigreer omdat omstandighede daar beter as in Suid-Afrika is.
Omdat die ekonomiese koek – of eerder ‘n kolwyntjie – al hoe kleiner word, is daar ook meer politieke konflik tussen die lede van die regerende elite. Sluipmoorde tussen leiers van partye, maar ook binne partye neem toe. Mevrou Zille word tussen die oë deur ‘n Zoeloe-sluipskutter uit Nkandla gepot en die gemiddelde standaard van politieke dans op die verhoog styg ‘n paar kerwe.
NAVSFED se embleem, wat reeds vir internasionale byeenkomste gebruik is
Die Afrikanerkantonne het hul eie probleme en word ietwat multikultureel, want al hoe meer Pools, Frans, Duits en Nederlands word op straat gehoor soos wat nuwe immigrante aankom.
Teen 2022 word die netwerk van Afrikanerkantonne die grootste ekonomie in Afrika en steek dié van Suid-Afrika verby. Groot dele van wat steeds Suid-Afrikaanse grondgebied is, word deur Afrikanerboere en -entrepreneurs opgekoop met die oog op herwinning en uitbreiding.
Om lid van die Olimpiese Komitee te word, het mens nie ‘n onafhanklike staat nodig nie. Daarom is die eerste stappe om ‘n Afrikaner- Olimpiese Komitee te vestig reeds in 2012 deur organisasies wat met volkseie sport gemoeid was, soos die Nasionale Afrikaner Volkseie Sportfederasie (NAVSFED) geneem om ‘n aansoek om lidmaatskap in te dien.
In 2014 is die aansoek ingedien en reeds vanaf 2016 neem ‘n Afrikanerspan aan die Olimpiese Spele deel.
* * *
“En al die pad vanuit Suider-Afrika (op Frans praat die aankondiger van Afrique australe wat so min of meer die hele streek beteken, dus van geen spesifieke land nie, want daar is atlete vanuit Namibië ook in die span), die Afrikaners!”
Skielik word die hele Stade de France stil, ademloos. Die skare staar hulle aan, asook die anderhalf miljard televisiekykers wat op daardie oomblik na die openingseremonie van die 2024-spele kyk. Met ligte tred, gemaklik, stap ‘n sestigtal vreemde wesens uit die verre Suide die stadion binne. Hulle dra gemaklike klere: wit linnebroeke, groen kleurbaadjies met ‘n Springbokembleem op, maar – knipogie na ‘n oorlog lank gelede – vilthoedens met die een rand opgeslaan. Die vroue-atlete dra ‘n soort postmoderne kappie, met lang wit linnerokke wat by die mans se broeke pas. Hulle sweef soos Walkurebruide die stadion binne.
Dan haal die mans hul hoedens van hul koppe af en wuif vir die skare, om ‘n verskeidenheid blonde en donker haardosse, met selfs ‘n rooikop onder hulle, te ontbloot.
Die applous is oorverdowend. Nie net is die verwagtinge groot vir die span uit die Suide van Afrika nie, maar met hul ligte dog sonbruin velle, straal hulle iets besonders, amper goddeliks, uit. Voor stap ‘n jong meisie in haar lang rok en stylvolle kappie. Aan ‘n stok dra sy die eeue oue oranje-blanje-blou, waarvan die kleure skokkend helder onder die flitsende kameras vertoon.
In die span is daar ‘n Pool of twee wat inderhaas kantonale burgerskap moes verkry en Afrikaans nog bietjie krom en skeef praat, maar soos wat eers Albanië en dan Algerië agter die Afrikanerspan inval, bestaan daar min twyfel oor wie in dié geledere die ware A-span is.
Op die pawiljoen sê die Franse seunskind aan sy pa: “Natuurlik, dis die Afrikaners!”
“Mais oui, dis hulle,” antwoord die vader, ietwat verleë. “Hoe kon ek hulle met Skandinawiërs verwar? Aan die ander kant, vir Afrikane lyk hulle só… wit. Ek wens die Franse span kon só gelyk het.”
Terwyl Rapport en ander koerante vandag die lof van die wêreldsokkerbeker en sy Afrosentriese openingseremonie besing, staan die res van die wêreld meer krities teenoor die land. Tydens ‘n program wat op die Franse TV-kanaal Télé 1 uitgesaai is, het die vermaarde historikus en Afrikakenner Bernard Lugan Suid-Afrika as “‘n land wat deur ‘n grotendeels korrupte swart elite regeer word” beskryf.
Die program waarop Lugan verskyn het, heet “Ménard sans interdit” (“Ménard sonder taboes”) en reeds met die intrapslag meen die programaanbieder dat Suid-Afrika ‘n “erg verdeelde land is waar uitsonderlike geweld heers”. Lugan het ook ‘n parallel tussen Suid-Afrika en Griekeland getref. Net soos dié land deur die Olimpiese Spele in Athene bankrot gelaat is, is die wêrelsokkerbeker in Suid-Afrika reeds ‘n “ekonomiese ramp”. Volgens Lugan is “kaartjies wat teen R500 verkoop moes word, teen afslag aan die plaaslike sokkerondersteuners teen R150 verkoop”.
Ter inleiding sê sowel Ménard as Lugan dat “Suid-Afrika vandag in ‘n slegter toestand as onder apartheid” verkeer. Terwyl die sokkerwêreldbeker ‘n maand lank die krake in die land probeer toesmeer, heers daar rasse-, maatskaplike en etniese verdeeldheid. Volgens Lugan bestaan daar rasseverdeeldheid tussen blank en swart, maatskaplike verdeeldheid tussen die klein groepie swart begunstigdes en die massa arm swartes “wat van die honger omkom”, asook etniese verdeeldheid tussen die Zoeloes, Xhosas en Sotho’s.
As die land se vigs- en elektrisiteitsprobleme daarby gevoeg word, dan is Suid-Afrika reeds in ‘n krisis gedompel. Aldus Bernard Lugan.
Op die vraag of Mandela darem “‘n bloedbad in die land verhoed het” antwoord die Franse historikus: “Wat het Mandela gedoen? Hy het hoegenaamd niks vermag nie. Hy het nooit Suid-Afrika geregeer nie. Hy het aan bewind gekom in 1994. Gedurende die eerste twee jaar was daar ‘n koalisieregering, dus het hy nie sy mag ten volle uitgeoefen nie. En vanaf 1996 was dit sy kroonprins Thabo Mbeki wat die leisels oorgeneem het.”
Gedurende die warm debat waartydens Lugan sover gaan as om “die tuislandbeleid aan te prys”, maar dan het die blankes die land “onregverdig verdeel” en te min grond aan swartes afgestaan, meen die geskiedkundige dat Suid-Afrika oor ‘n etniese federasie moet beskik eerder as ‘n land wat op grond van “die Marxistiese mistiek” van die ANC aanmekaar gehou word.
Diegene wat Frans verstaan, kan die hele debat hier op YouTube volg.