Twee swart boere vas vir veediefstal

Twee swart boere het Maandag in die Excelsior-landdroshof in Ladybrand, Vrystaat, in die hof verskyn op aanklag van veediefstal.

“Lazarus Thekiso (61) en Petrus Sithole (61) is Saterdagaand voor middernag in hegtenis geneem toe hulle met sewe skape betrap is en nie bewys van eienaarskap van die vee kon lewer nie,” het sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

“Ao Moabi Thekiso en konstabel Ikanyeng Sebitloane het op 8 November die R709-pad tussen Excelsior en Tweespruit gepatrolleer toe hulle ʼn verdagte Hyundai-bakkie opgemerk het,” het Xuma gesê. “Die bakkie het die spoedgrens verontagsaam en die beamptes het die voertuig voorgekeer. Die verdagtes het sewe merinoskape agterop die bakkie vervoer.”

Die skape, ter waarde van ongeveer R10 500, is glo op ʼn plaas naby Phillip Sanders-oord, sowat 20 km buite Bloemfontein, gesteel.

Die polisie het ook die Hyundai-bakkie ter waarde van R100 000 gekonfiskeer. Die skape sal aan die regmatige eienaar terugbesorg word.

Die twee mans boer op buurplase. Hulle moet weer op 17 November in die hof verskyn om formeel aansoek te doen om borgtog. Hulle bly in aanhouding. Die ondersoek duur voort.

DA wil Eskom-wanbetalers in Vrystaat help

Die DA in die Vrystaat gaan ‘n regsmening inwin om te voorkom dat kragtoevoer na drie munisipailiteite in die provinsie afgesny word.

Dit volg nadat Eskom gewaarsku het dat die krag na die Ngwathe, Dihlabeng en Maluti-a-Phofung munisipaliteite teen 12-uur vanmiddag afgesny word as R736 miljoen in agterstallige skuld nie betaal is nie, het RSG berig.

Dit sluit dorpe soos Parys, Betlehem, Clarens, Harrismith en Heilbron in.

‘n Woordvoerder van Eskom, Anthony Scott sê die munisipaliteite het geen reëlings vir die volgende ses tot 18 maande getref nie en kan ook nie hulle huidige rekeninge betaal nie.

Scott sê die afsny van die kragtoevoer is die laaste uitweg, nadat dit reeds tot 31 Augustus en daarna tot 30 September uitgestel is.

Verskeie samesprekings is ook met die provinsiale regering gevoer.

Motsepe ontken dat hy studiefooie beloof het

motsepeVerwarring heers onder honderde studente aan tersiêre inrigtings in Bloemfontein nadat ondernemings van die Motsepe-stigting om hulle studiegeld te betaal, nie gerealiseer het nie.

Die swart miljardêr Patrice Motsepe het voor die verkiesing by die Mangaung Indoor Sports Centre aangekondig dat sy Stigting geld vir studie sal bewillig in die Vrystaat.

In ‘n kort uiteensetting van hoe die fonds aangewend sal word, het Motsepe gesê ‘n R100 miljoen sal gebruik word om beurse en ander ondersteuning vir onderwys te voorsien.

Volgens studente het die stigting die geld nie betaal nie en het die Vrystaatse Universiteit gevolglik baie van hulle se registrasies teruggetrek.

Die studente sal dus moet afsien van hul studies as hul gelde nie betaal word nie.

Die Motsepe-stigting het intussen ontken dat hulle enige beurse beloof het.

Die voorsitter van die Stigting se sub-komitee in Mangaung, Sello Dire, sê hulle het geen magtiging as die sub-komitee om beurse aan studente aan te bied nie.

Dire sê dit is ‘n groot misverstand en die tersiêre instansies het hul aansoeke afgewys.

Swart skare in Vrystaat vermoor man

mesmoord‘n 22-jarige man is buite sy huis in Meloding deur ‘n woedende skare met messe doodgesteek, het die Vrystaatse polisie vandag laat weet.

‘n Groep het Tshidiso Klaas gisteraard in Stiltepark vermoor, volgens die polisie se woordvoerder, Malebo Khosana.

Die groep het hom met klippe gegooi en met messe gesteek, nadat hulle hom by sy huis kom opsoek het.

“Hy is etlike kere oor sy hele liggaam met skerp voorwerpe gesteek.”

Hy het op die toneel beswyk.

‘n Moorddossier is geopen, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

“Geen van die gemeenskapslede wat in groot getalle op die moordtoneel aanwesig was, kon die polisie met inligting help om die saak op te los nie.”

OB-skokverslag dalk binnekort oor Vrystaatse premier

Ace Magashule
Ace Magashule

Die openbare beskermer (OB) gaan moontlik ‘n verdoemende verslag, Operasie Hlasela, oor die Vrystaatse premier, Ace Magashule, voor die verkiesing bekendstel.

Die verkiesing vind oor vyf weke plaas.

Ondersoeke na projekte waaronder die Vrede-suiwelprojek, die visprojek asook die ondersoek na die R40 miljoen-webwerf van die Vrystaatse provinsiale regering, is glo reeds in ’n gevorderde stadium.

Dit is egter nie seker wanneer dié verslae bekend gemaak gaan sal word nie, maar die OB het verklaar dat dit “eersdaags” mag wees.

Thuli Madonsela was die naweek in Bloemfontein ’n gasspreker by die kongres van die Regsvereniging van Suid-Afrika.

Sy het gesê die voorlopige verslag van Operasie Hlasela is reeds opgestel en kan dalk binne ’n maand afgehandel wees.

Sy wou nie sê wat die inhoud daarvan is nie.

Odendaalsrus sonder krag

koperSekere dele van Odendaalsrus in die Vrystaat is sonder elektrisiteit nadat vier substasies gister onder koperdiewe deurgeloop het.

Die Mathjhabeng-munisipaliteit sê daar is sedert die begin van die week meer as R2,5 miljoen se koper by substasies gesteel, het RSG berig.

Volgens die munisipaliteit is die diefstal reeds by die polisie aangemeld.

‘Armes kan ook presteer’

Weskaapse skole vol bendes en dwelms
Weskaapse skole vol bendes en dwelms

Die Departement van Basiese Onderwys het woedend gereageer op oproepe van die Demokratiese Alliansie dat ‘n volskaalse oudit van verlede jaar se matriekuitslae gehou word.

Die DA-leier, Helen Zille het gister gesê die regering moet dringend en onafhanklik die geloofwaardigheid van verlede jaar se uitslae en dié van toekomstige matriekeksamens ondersoek.

Die departement voer aan dat die DA, wat die Wes-Kaap beheer, jaloers is omdat ‘n ander provinsie die beste in die eksamen gevaar het.

Die Vrystaat is vanjaar as die beste presteerder aangewys, nadat die Wes-Kaap sedert 2008 die plek beklee het.

Die departement se woordvoerder, Panyaza Lesufi, sê die DA wil nie erken dat arm mense ook goed kan presteer nie. – RSG

Arm provinsies behaal beste matriekslaagsyfer

matricDie lang wedywering tussen Gauteng en die Wes-Kaap om die hoogste slaagsyfer is deur die Vrystaat getroef, gevolg deur Noordwes.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga het gister aangekondig dat die algehele slaagsyfer het gestyg tot 78,2 %, van 73,9 % in 2012.

President Jacob Zuma het gesê die verbeterde slaagsyfer beteken die klas van 2013 is die beste sedert 1994.

Die provinsie met die hoogste slaagsyfer is die Vrystaat met 87,4% – op van 81,1% – wat die eerste plek wat voorheen deur Gauteng in 2012 beklee is, behaal.

Volgende is Noordwes met 87,2 %, op van die vorige jaar se 79,5 %; Gauteng op 87 % ( 83,9 % ) en Wes-Kaap op 85,1 % ( 82,8 %). Mpumalanga het ‘n slaagsyfer van 77,6 % ( 70 %) behaal, KwaZulu-Natal 77,4 % (73,1 %), Noord-Kaap 74,5 % ( 74,6 %) , Limpopo 71,8 % ( 66,9 %) en die Oos-Kaap 64,9 % ( 61,6 %).

Nege skole regoor die land het ‘n 0 %-slaagsyfer, teenoor 551 skole wat ‘n 100% slaagsyfer behaal het, op van 441 in 2012.

‘n Paar minute nadat Motshekga die 2013-uitslae vrygestel het, is die geloofwaardigheid daarvan toegeskryf aan ander faktore as verbeterde leerlingprestasie.

Die Universiteit van Johannesburg se dekaan van opvoedkunde , Sarah Gravett , het gesê sy het die verbeterde resultate verwag , omdat ekstra matriekklasse en studiekampe gehelp het om die slaagsyfer te lig.

Sy het gesê baie tyd, moeite en geld is besteë aan hulp aan matrikulante.

Maar sy het gesê wat die slaagsyfer nie wys hoeveel swak studente daar is wat slegs 30 % behaal het vir vakke nie. “Die punt is baie misleidend,” het Gravett gesê.

‘N Totaal van  het die einde van die jaar matriek , die grootste aantal in die ses jaar van die Nasionale Senior Sertifikaat bestaan ​​. Daar was 92611 deeltydse kandidate .

‘n Totaal van 439.779 leerlinge uit die 562.112 voltydse kandidate het matriek geslaag. Op 50 % van alle skole in die land het 80 % of meer van die matriekleerlinge geslaag .

‘n Totaal van 136.047 het ‘n universiteitsvrystelling behaal.

Skole in die Wes-Kaap het die grootste persentasie van die leerlinge wat kwalifiseer om aansoek te doen vir studie in die rigting van ‘n baccalaureusgraad .

In Gauteng, het 38,9 % van die leerlinge universiteitsvrystelling en 33% in die Vrystaat

Die swakste provinsie is die Oos-Kaap , waar net 19 % universiteitsvrystelling kon kry.

Motshekga het gesê die idee dat “elite gemeenskappe” die algehele slaagsyfer stut, is ongeldig.

Noordwes en die Vrystaat, die twee topprovinsies, is landelik en arm, het sy gesê. Die slaagsyfer verteenwoordig alle skole , en nie net die meer gegoede kinders nie, het sy bygevoeg.

Motshekga het gesê die verbeterings was deels te wyte aan verhoogde besteding op onderwys, met die begroting wat van R127 miljard in 2009 tot R173 miljard in 2013 gegroei het.

Meer onderwysers het betyds opgedaag vir klasse, die kurrikulum het dieselfde gebly het vir ses jaar sodat onderwysers hulself kon vergewis van die inhoud, en opleiding van onderwysers het gehelp om standaarde te lig.

Motshekga het gesê die aantal matrieks wat wiskunde neem het toegeneem tot 59 %, van 54 % in 2012. ‘n Totaal van 241.509 studente het wiskunde geskryf.

Brande teister Vrystaat

veldbrandBrandspanne het hul hande vol in die Vrystaat waar veldbrande woed. ‘n Sterk wind blaas die vlamme aan en die droë toestande vererger die situasie.

‘n Groot brand woed tussen Rosendal en Fouriesburg. Daar is ook brande op Rouxville, Zastron, Wepener, Hobhouse en Paul Roux.

Twee plaashuise het afgebrand en duisende hektaar weiveld is reeds vernietig.

Spanne van Working on Fire, boere en plaaswerkers bestry die brande. – RSG

Taxi met meer as ‘n ton dagga afgetrek

dagga2
‘n Vorige vonds

Die polisie het Maandag op meer as een ton dagga beslag gelê, wat hulle in ‘n minibus-taxi naby Cornelia in die Vrystaat gevind het.

Sers. Mmako Mophiring het gesê die 41-jarige taxibestuurder van KwaZulu-Natal is op die R103 vir ‘n roetine-voertuigondersoek afgetrek.

Die polisie vermoed dat die dagga met ‘n geraamde straatwaarde van R1,2 miljoen op pad was na Gauteng.

Die meeste van die sitplekke in die Toyota Quantum-bussie is verwyder om plek te maak vir die 81 sakke wat saam 1025, 55 kg geweeg het.

Die bestuurder sal binnekort in die landdroshof op Frankfort verskyn. – Sapa

Melkboere trek swaar ‘maar verstedeliking skep suiwelaanvraag’

suiwelProduksiekoste is tans buitensporig hoog wat melkboerdery betref. “Teen die pryse wat ons kry, gaan dit broekskeur,” sê mnr. Bernard Maree, voorsitter van die Vrystaatse tak van die Melkprodusente-organisasie.

Produsente in die provinsie verdien R3,65 tot R3,85 per liter melk, terwyl hulle R4,89 per liter nodig het om alle koste te dek. Van dié boere verdien wel R4,10 per liter, maar Maree sê dit hang af van die bottervet-inhoud van die melk wat gelewer word.

Die verhoging van 52% in die minimum lone vir plaaswerkers in Maart vanjaar het die situasie verder laat versleg. “Ons betaal daardie lone, maar verhoogde produksie deur die werker is nie noodwendig aan die beter loon gekoppel nie.”

Melkprodusente in die Vrystaat het egter dié week gehoor dat daar steeds ‘n toekoms vir hulle in die melkbedryf is. ‘n Groot aantal melkprodsusente het reeds die bedryf verlaat.

Op die melkprodusente-organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein, het die hoof van die departement van landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die universiteit van Pretoria, Johann Kirsten, gesê dat verstedeliking en die bevolkingsgroei, verseker dat daar ‘n groot behoefte aan suiwelprodukte is.

 

Politiek van die blikbord

Deur die half toegewasemde kombuisvenster sien ek hulle aankom. Netjies agtermekaar karring hul beentjies agter hul “rygoed” aan en trap slordige spore deur die dik, spierwit ryp.

Jonas, die voorste, se “ryding” bestaan uit ‘n bandlose fietswiel wat hy vernuftig met ‘n stok aanjaag. Salmon, die tweede, “ry” met ‘n draadkar wat mens sommer oor die verte kan sien, oor verbluffend baie detail beskik. Die kleinste, skaars twee bakstene hoog, Johannes, sleep sy “ryding” aan ‘n draad agter hom aan. Dit lyk na ‘n langwerpige visblik. Sy boot, het ek later verneem.

Hulle trek langs mekaar voor die agterdeur in.

Oupa Anneries roep huis in na die bulletjies: “Jonas-hulle is hier!”

Die bulletjies was besig om iewers in die opstal ‘n stamoorlog te voer. Dis nog ‘n klomp onopgeloste kwessies van die vorige dag se ver ry plaas toe wat uitgepluis moet word. Maar oupa se nuus laat die bakleilus op slag verdamp.

Met gilletjies van vreugde troep die spannetjie by die huis uit. “Jonas!” “Salmon!”

Johannes was met die vorige jaar se kuierslag op die plaas nog te klein, en dié is nog half vreemd aan die stadsbulletjies.

Die spelery is eers vlak by die agterdeur. Ek kry bitter koud vir hul onthalwe, waar ek hier langs oom Anneries voor die Aga sit.

Vir die kleingoed is oom Anneries “oupa” al is hy ouma Marié se tweede man. Oupa Japie self is ‘n paar jaar tevore oorlede.

Nie lank nie, toe neem Sanna vir Jonas-hulle hul koffie en brood. “Fire buckets” het ons met diensplig daai groot blikbekers genoem. Die snye brood is so dik soos twee duime, en die stoom trek uit hulle uit.

Met die blikbekers en blikborde leeg by die agterdeur gelos, verkas die spelery eers na die stoor toe, waar dit warmer is. Later die dag sal die omgewing aan die beurt kom, en wanneer dit warm genoeg is, sal die spannetjie agterop die bakkie saamry.

By oupa Anneries op die plaas is daar verskriklik baie te doen. Danksy ‘n syferfontein selfs kleilatgooi in die winter. Botterboom-ry nou nie, maar ou sinke waarvan die een punt effe opgebuig word, deug net so lekker om teen die buitekant van ‘n gronddam se wal af te ry.

‘n Paar fietse van bedenklike herkoms wat oom Anneries by ‘n vendusie aangeskaf het, dien as rygoed as die spannetjie haastig is. Die binnebande is lankal met plastiekpyp vervang, en as die fietse ooit remme gehad het, was dit nie onlangs nie.

Is daar bietjie meer tyd, is daar genoeg rygoed om opgesaal te word.

Maar dié vakansie sou anders wees, kom ons oor middagete agter.

“Pa, Jonas wil weet hoekom hulle hul koffie in blikbekers kry?” Oudste Bulletjie roer die saak aan.

“En blikborde,” sit Tweede Bulletjie vers twee in. Jongste Bulletjie se verstaan van politiek lê nog ver in die verskiet, en hy knaag nog te lekker aan ‘n stuk droëwors om hom met kwessies van die lewe te bemoei.

Maar tussen die twee versies het ek al oom Anneries sy asem skerp hoor intrek.

My kop woer-woer nog, toe sê Ouma Marié: “Hoe lank dink julle gaan erdebreekgoed hou terwyl julle so woes speel?”

Verlig sien ek die vrae is behoorlik, deeglik, en duidelik opgeklaar. Wat die Bulletjies betref, in elk geval.

Toe die Bulletjies weer na buite stroom, bly die grootmense agter. Ouma Marié pak die saak sommer dadelik aan: “Voor ‘n mens nou die dam onder die eend se jis uitruk…dit laat my dink aan die ma wat so geskrik het toe haar spruit by die huis kom en vra waar hy vandaan kom. Die ma het gehoop daai vraag sou eers heelwat later kom. Om vir tyd te speel terwyl sy vervaard dink, vra sy hoekom hy wil weet.

“Verduidelik die mannetjie: ‘Toe ons so speel sê Pietie hulle kom eers van Johannesburg af, en Kosie sê hulle kom van Durban af. Nou waar kom ons vandaan?’“

Vroulief giggel verbouereerd. Ek en oom Anneries sit met diep kepe tussen die oë. Iets fluister vir ons dis nie die einde van die storie nie.

En dit was nie.

Aandete: “Jonas sê hulle het nie eens spoellewwies nie.”

“En Jonas sê hulle kan elke dag net ‘n rukkie TV kyk.”

Nou is daar geen keer aan oom Anneries nie. “As daai bl*&sem van St*ntsake weer sy pote op die plaas sit…!”

Ouma Marié druk haar man ferm op die skouer: “Die kinders, my man.”

“Gaan pak jul legkaart by die verwarmer in jul kamer, kinders,” gelas Vroulief.

Die kinders laat hulle nie twee maal nooi “om van tafel verskoon te word nie”. By ouma Marié is aansit by die eettafel ononderhandelbaar. En dit bly nie by net eet aan tafel nie, die kuier moet ook daar voortgesit word. Die kiertsregop eetkamerstoele, glo ouma Marié is goed vir haar rug en dus almal anders se rûe. My rug is na ‘n halfuur morsaf, en ek verlang na die sagte sitgoed in die sitkamer.

Eendag, toe ouma Marié nie by was nie, brom oom Anneries hy kan dit nie verstaan nie. Soos klokslag is die kos nog nie klaar terwyl die tante Sewende Laan kyk nie, maar net soos die TV-nuus moet begin wat hy weer graag wil kyk, word hy tafel toe geroep. Dan is die TV buite sig- en hoorafstand.

“Toe koop ek ‘n klein TV vir die eetkamer, toe wil die tante my skei.”

Ek self was nog nooit in ouma Marié se goeie boekies nie, dus as daar klaar geëet is, sê ek dankie vir die kos, maar nou is my rug af, en ek gaan sitkamer toe. In die proses is ek dieper in die “dog box” maar daarmee het ek vrede gemaak.

Nie lank nie, sal oom Anneries by my kom inval. Dan kyk ons die nuus wat opgeneem is. Dit het ons al geleer om in stilte te doen.

Vroeër het ek en oom Anneries ‘n slag gebrom oor dinge soos die Esybiesie se bevooroordeeldheid, toe kry ons ‘n skrobbering oor ons ongeselligheid om by die gesels aan tafel weg te loop om hier voor die verderflike TV (wat ook Sewende Laan uitsaai) te kom sit en kyk.

Maar vanaand is daar ernstiger sake op die hart. Die weerwanvoorstelling is skaars klaar, of oom Anneries spreek sy woord.

“Daai *&^ vent van Str*ntsake maak net moeilikheid. Van hy tydig en ontydig hier op die plaas aangesit gekom het, is alles te kort of te lank…

“En om te dink, ek was seker die eerste boer wat water en krag na die strooise aangelê het. Ek betaal meer as die minimumloon…

“Nou die ou van Grondsake – kom hy nie die protokol vir plaastoegang na nie?”

Oom Anneries sug.

“Hy sê hy weet nie van die protokol nie, maar al is daar so ‘n protokol, geld dit hom nie want hy is van Lênt Effêrs. Dan bel ek die polisie om hom vir betreding te laat gryp, dan sê hulle hulle weet ook nie van so ‘n protokol nie, en dan bel ek die landbou-unie en na ek met so die derde een gepraat het dan weet hulle daarvan en dan sal hulle die mense weer inlig oor die protokol.

“Maar ‘n dag of twee later dan is die opstoker weer hier en sê hy weet nog steeds niks van die protokol nie. Het al gedink om per ongeluk ‘n skoot tussen sy pote af te vuur, maar ek is nie lus om soos Skip Wandrag die naweek in die selle te sit nie.”

“Maar hy het mos ‘n skadevergoedingseis teen die polisie gewen.”

“Ja, maar hy was nog steeds die naweek in die selle.”

Ons sit ‘n oomblik.

“Jy sal met jou seuns moet praat,” vervat oom Anneries. “Ek kan met Jonas-hulle praat. Maar dan is die ou van Str*ntsake oormôre weer hier en dan het ek weer allerlei moeilikheid. Jy kan nie glo wat ek alles na die tyd moet opvreet nie.”

“Oom Anneries, ek sal met die Bulletjies praat. Maar die winde van verandering het my bietjie onverhoeds gevang…”

“Winde van verandering…” brom oom Anneries. As dit by winde van verandering kom, dan sou hy ‘n orkaan ook terugverander het.

“Dink oom nie dis dalk ‘n grondeis wat broei nie?”

“Nie restitusie nie,” sê oom Anneries. “Met die sluiting was daar beslis geen eis teen die plaas geregistreer nie. Maar grondhervorming, sal ek nie stry nie. Omtrent almal wat nie seuns het nie, begin op hul oudag geteister te raak om die grond via Str*ntsake aan die plaaswerkers te verkoop. Maar dis ‘n erfplaas dié en my dogter kry dit eendag.”

Met dogter bedoel hy vroulief, sy stiefdogter. Sy eerste huwelik was kinderloos.

“Straks kry een van die Bulletjies lus vir boer eendag…”

Dis natuurlik nie iets wat nou vir hulle gevra moet word nie. Die plaas assosieer hulle met vakansie en speel, en op daardie ouderdom klink dit soos die hemel moet wees.

Ek praat met die bulletjies, omsigtig, minder omsigtig ook. Ook hard en duidelik.

Maar die winde van verandering het nie sommer ophou waai nie.

Die volgende dag:

“Oupa, Jonas sê sy naam is eintlik Si..Si..”

“Simon!” val Klein Bulletjie hom in die rede.

“Nee man, nie Simon nie,” sê Groot Bulletjie. Hy kyk hoopvol, amper pleitend na sy ouma.

“Sipho,” help ouma hom uit sy woordstrikke.

“Ja, Sipho,” vervat Groot Bulletjie bly.

“Die ander sê hulle name is eintlik ook verkeerd, maar ek kan nie onthou wat hulle regte name eintlik is nie,” sê Tweede Bulletjie.

Weer is ouma ter hand met ontlontende woorde: “Maar in die stad het julle ook mos ander name. Kobus, François en Stephan. Hier het julle plaasname.”

Die lig gaan vir die Bulletjies op, maar ek begin wonder of hul ouma nie nou net besig is om die oomblik van waarheid uit te stel nie.

Die aand praat ek weer met die Bulletjies. ‘n Bietjie van politiek.

Maar hoe vertel ‘n mens nou vir die knape dat iets wat voor hul geboorte gebeur het, op hul brood gesmeer word en nog baie gesmeer gaan word?

Soos dit is, word die kinders groot met ‘n persepsie dat die juffroue by die skool lieg soos ek en vroulief hulle met huiswerk reghelp, veral as geskiedenis aan die beurt kom.

Hulle glo vas die Esybiesie lieg soos hulle my gereeld hoor raas oor iets wat verdraaid aangebied is…

Om nou te hoor hul vakansiespeelmaats lieg …

Ek gaan slaap met ‘n klip op die bors, daai aand.

Sommer vroeg die volgende oggend breek die slag van Bloedrivier buite uit. Die grootmense los die stomende bekers koffie en storm uit, maar toe is die slag klaar gelewer. Jonas, of te wel Sipho, huil-skree soos ‘n maer vark, en hou sy oor vas.

“Groot Bulletjie, hy Dzônas gemo*r,” doen Salmon verslag. “Dzônas hy gasê oubaas Anneries hy ês die varrik, toe Groot Bulletjie hom hêtte gedônner.”

Jonas het intussen soos ‘n loeiende sirene afgesit na sy stroois toe. Op die “slagveld” lyk dit of Groot Bulletjie ‘n heldedaad verrig het – wit en swart.”

“Daai Dzônas, sy kop hy raas,” verklaar William, die trekkerdrywer wat toevallig op die werf was om te kom roomkanne aflewer. “Es goet die Groot Bulletjie hom hette gemo*r.”

Nie lank nie kom Willemien, Jonas se ronde ma, met ‘n steeds skreeuende Jonas agterna, die voetpaadjie opstal toe aangestoom. Sy is wild boos, kan ‘n mens van ver af sien. Maar Willemien is nog sommer ‘n hele ent van die werf af, toe skree Sanna vir Willemien in Suid-Sotho wat gebeur het. Hier, so diep in die Oos-Vrystaat in, is daar al baie Zoeloes, soos ook Sipho se ouers, maar almal verstaan Sotho goed.

Willemien kom tot stilstand, en Sipho besluit dis nou ‘n gawe tyd om op te hou tender vir ‘n Oscar. Hy besluit ook dis nou ‘n gawe tyd om flink te makeer, maar te laat. Willemien gryp hom aan die arm, en die volgende oomblik val die houe. Die sirene word op slag weer aangeskakel.

Na ‘n ruk kry Sipho homself losgewikkel, en lê die rieme neer.

En net daar het die winde van verandering ook ophou waai. Vroegoggend val Salmon met sy draadkar, en Johannes met sy “boot” voor die agterdeur in. Eers na hulle hul koffie uit die “fire buckets” gedrink en hulle aan die heerlike dik, warm snye brood versadig het, word die spelery na die res van die werf en verder uitgebrei.

Van Jonas is geen teken nie.

So twee dae later is die drie Bulletjies saam met Salmon en Johannes agter op die bakkie. Op pad lande toe. Oupa ry egter ‘n ompad, en hou by Sipho-hulle se stroois stil. Willemien loer uit, en oom Anneries praat met haar Zoeloe. Willemien knik, en is terug die stroois in. Toe gaan daar weer ‘n sirene aan, en kort daarna kom sy met ‘n skreeuende Jonas aan die arm by die stroois uit, en pluk hom onsagkens by die ander agter op die bakkie. Hier sit hy dikbek.

Op die lande wink oom Anneries vir Jonas nader, en Jonas volg hom skoorvoetend ‘n ent weg. Daar sien ek, so op ‘n afstand, praat oom Anneries met hom, praat ernstig.

Jonas skud sy kop op en af. Hy verstaan. Oupa gee vir hom iets wat ek op hierdie afstand vermoed ‘n stuk biltong of droëwors moet wees. Toe kom hulle terug, beide ‘n breë glimlag op die bakkies.

Die spelery vervat asof daar nooit ‘n onmin was nie.

‘n Dag of twee later doen Groot Bulletjie verslag: “Oupa, Jonas sê oupa is Y–wan. Wat is Y-wan, oupa? Ons speel nou so lekker ek wil hom nie onnodig klap nie.”

Ek verduidelik.

So ‘n week na die vakansie is dit oom Anneries wat van die plaas af lui. Dis nog die koffiemeule-model, en om stad toe te lui is ‘n hele storie. Maar oom Anneries moet darem dié nuus rapporteer.

“Die ou van Str*ntsake was weer hier maar iemand het hom met ‘n klip platgegooi. Die spul sweer hoog en laag dit was Sipho…vir ingeval het ek hom ‘n sakkie biltong gegee.”

Ja-nee, nou is daar weer vooruitgang met oom Anneries se boerdery. Hy is mos Y-wan, en niemand stry meer nie. Behalwe miskien die ou van Str*ntsake.

купить кольцеброс детскийДанильченко Юрий Брониславович

ANC gaan Vrystaatse dorpsname verander

Die Vryheidsfront Plus en die publiek in die algemeen het met skok kennis geneem van die beoogde naamsverandering van verskeie dorpe in die Vrystaat.  Abrie Oosthuizen, Leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê dat daar al jare ‘n verstandhouding op provinsiale vlak bestaan dat munisipaliteite en distriksmunisipaliteite Sesotho-name sal kry, maar dat dorpe hulle name sal behou. Daar was enkele gevalle waar die ou en nuwe name gesamentlik gebruik sou word soos Bloemfontein/Mangaung.

Oosthuizen sê dat dit onrusbarend is dat die ANC-regering nie begaan is oor dienslewering wat omtrent nie bestaan nie, maar hulle spandeer al hulle energie en miljoene rande om dorpe se name te verander. “Daagliks sterf mense weens swak diens by hospitale of omdat medisyne nie beskikbaar is nie. Dit is nie vir die regering ‘n bron van kommer nie, maar die name van dorpe is vir hulle ‘n groot probleem.”

Oosthuizen het bygevoeg dat dit kommerwekkend is dat die voorsitter van die betrokke komitee, me. Seipati Dichabe, die hele proses om die name te verander binne drie maande wil afhandel. “Dit is weereens ‘n bewys dat die proses gestoomroller gaan word.  Sake van lewensbelang vir inwoners van die Vrystaat neem jare om aangespreek te word en in die meeste gevalle sonder sukses. Die ANC gebruik naamsveranderinge net om hulle mag te vertoon en Afrikaners te boelie. Dit is sinloos en dra geensins by tot die verbetering van verhoudinge nie.”

Die VF Plus doen ‘n beroep op die ANC-regering om hulle leuse van die verkiesing uit te leef. Die eensydige verandering van ‘n dorp se naam kan geensins ‘n beter lewe vir enige inwoner van die Vrystaat verseker nie.  Beter dienslewering en beter hospitale en klinieke kan duisende mense se lewens red en verbeter.

лампы светильникиОлександр Фільчаков прокурор

Hulle vlieg so lekker want hulle lieg so lekker…

Onlangs maak iemand in ‘n kommentaar op ‘n woernaal-artikel die volgende “stelling” : “Hoe weet ‘n mens as ‘n politikus lieg?”

Hy antwoord self: “Wanneer sy lippe beweeg.”

Oor die jare van my skouerskuurdery met politici het ek dit self menigmaal beleef. Soms het ek die indruk gekry die leuens is kompulsief, ander kere wanneer die spreker tydens ‘n media-onderhoud nie die feite ken nie en in plaas van om te sê hy sal uitvind en terugkom, doodgewoon ongesteurd kluitjies bak.

Trouens, selfs die “uitvind en terugkom” kan in kluitjies bak ontaard. Tydens ‘n voorverkiesingstoer (ek meen voor die vorige landswye munisipale verkiesing) het die ANC op ‘n “road show” deur die Vrystaat gegaan en veral groepe boere toegespreek. In die Oos-Vrystaat het die gewone woordvoerders ander verpligtinge gehad, en moes ‘n ander ringkop instaan. Sommer gou het dit geblyk hy het nie ‘n koekieng kloe nie, en neem hy toe die vrae om later terugvoer te gee.

Die boere wag steeds, en intussen is van hulle verwag om vir die ANC te stem.

Dis egter nie al nie.

By geleentheid spreek eerw. Melkkoe ‘n groep mense in Bloemfontein toe, en ‘n bejaarde dame (toevallig die dogter van ‘n oud-president) vra hoekom die ACXP (onherkenbaar verander) niks oor plaasaanvalle uitreik nie.

Soos blits sê Melkkoe maar die ACXP doen, dis net die media wat dit nie plaas nie.

Enigeen wat meen ek bak nou kluitjies, kan op die ACXP se webwerf deur sy nuusverklarings blaai. As hulle een kry wat Melkkoei uitgereik het, moet hulle my asseblief laat weet by moegoe@voetsek.co.za

Trouens, kort tevore was daar ‘n plaasaanval in Noordwes. Ek het geweet die provinsiale leiers is op pad vir ‘n vergadering met Melkkoe, en sien ‘n kans om dié swye te breek. Ek stel ‘n mediaverklaring inderhaas in Afrikaans en Engels op, en e-pos dit na ‘n provinsiale leier wat nog  nie van sy huis af vertrek het nie, met die versoek – om die tafel – kry asb Melkkoe se OK hiervoor.

En ek wag en ek wag. Die ACXP stuur niks uit nie.

Met terugkeer by die huis laat weet daardie provinsiale leier Melkkoe sê aikôna, elke keer as hy so iets doen sê die ANC hy is ‘n Boeremeeloper. Maar die verklaring kan in die naam van daardie provinsiale leier uitgaan. En het, en het baie mediadekking gekry.

Trouens, die ACXP het heelwat mediaverklarings oor plaasaanvalle uitgereik, gewoonlik my handewerk, en deur die provinsiale leiers uitgestuur, en het heelwat mediadekking gekry. Gaan kyk bv op Volksblad, Beeld en Die Burger se argiewe. Hieroor is gereeld aan Melkkoe verslag gedoen.

Daar was ander voorbeelde met ander, soos die dominee wat met sy motorfiets in die riool gegly het, en volgens ‘n provinsiale leier ‘n eis teen die betrokke misipaal sou instel. Toe dit blyk ‘n duimsuigstorie te wees word ek sommer die sondebok gemaak.

Hierdie ellelange aanloop bloot om te kom by ‘n paar verwikkelings nou.

Seker die eerste is die onderhoud of nie onderhoud nie van Comrade Winnie. Terwyl Winnie ontken het sy het die onderhoud gevoer, plaas die Britse pers ‘n foto van Winnie saam met die artikelskryfster en dié skryfster se Nobelpryswennerman, voor Winnie se huis.

Die internetsoektog om te probeer bepaal of die verslaggeefster ‘n gewoonte maak van stories uit haar duim suig, lewer hoofsaaklik berigte op wat haar lofliedere besing, maar ook ander wat beweer dat sy begin lieg die oomblik as sy haar pen aan papier waag.

Soos die keer toe die media berig dat Zola Budd (Pieterse) wat R10 000 by die regering gekry het na aanleiding van ‘n belofte van Piet Promises dat die eerste Suid-Afrikaner na daardie toespraak wat ‘n wêreldrekord verbeter so ‘n meevaller gaan kry.

G’n niks sprake van nie, en die media het woorde in Piet se mond geplaas. En hier is ‘n kopie van die toespraak – g’n niks g’n so ‘n belofte nie. Toe speel die verslaggewer die bandopname van die toespraak, en daar is die belofte. Terloops, Zola het nié die geldjie gekry nie.

En nou die ANC se bontpratery oor Malema se kafpratery. Die Jeuliga gaan so ver om te sê Malema het g’n dié woorde tydens sy onlangse vergadering by Wits gesê nie. SAPA krap nou kop, want die media het berig dis by die UJ gesê, nie Wits nie.

Presies wat is nou ontken? Ek kry ‘n vreestoeval, want lyk mos nou kepleet Malema maak soos olie Saddam wat dubbelgangers gehad het om die Irakese nog banger te maak. Ek hoop net elkeen van hulle kry nie blouligbeskerming teen R300 000 per maand nie.

Eers haal die media pres. Jacob Zuma wyd aan dat hy sê hy gaan Malema nie aanspreek nie, want dit sou na ‘n teruggryp na apartheid lyk.

Daarna sê sy kantoor dat Zuma in sy gesprek met Afrikanerleiers onderneem het om met Malema te “praat” hieroor.

тамбов лежакидепутат лобановский