Produksiekoste is tans buitensporig hoog wat melkboerdery betref. “Teen die pryse wat ons kry, gaan dit broekskeur,” sê mnr. Bernard Maree, voorsitter van die Vrystaatse tak van die Melkprodusente-organisasie.
Produsente in die provinsie verdien R3,65 tot R3,85 per liter melk, terwyl hulle R4,89 per liter nodig het om alle koste te dek. Van dié boere verdien wel R4,10 per liter, maar Maree sê dit hang af van die bottervet-inhoud van die melk wat gelewer word.
Die verhoging van 52% in die minimum lone vir plaaswerkers in Maart vanjaar het die situasie verder laat versleg. “Ons betaal daardie lone, maar verhoogde produksie deur die werker is nie noodwendig aan die beter loon gekoppel nie.”
Melkprodusente in die Vrystaat het egter dié week gehoor dat daar steeds ‘n toekoms vir hulle in die melkbedryf is. ‘n Groot aantal melkprodsusente het reeds die bedryf verlaat.
Op die melkprodusente-organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein, het die hoof van die departement van landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die universiteit van Pretoria, Johann Kirsten, gesê dat verstedeliking en die bevolkingsgroei, verseker dat daar ‘n groot behoefte aan suiwelprodukte is.
