Melkboere trek swaar ‘maar verstedeliking skep suiwelaanvraag’

suiwelProduksiekoste is tans buitensporig hoog wat melkboerdery betref. “Teen die pryse wat ons kry, gaan dit broekskeur,” sê mnr. Bernard Maree, voorsitter van die Vrystaatse tak van die Melkprodusente-organisasie.

Produsente in die provinsie verdien R3,65 tot R3,85 per liter melk, terwyl hulle R4,89 per liter nodig het om alle koste te dek. Van dié boere verdien wel R4,10 per liter, maar Maree sê dit hang af van die bottervet-inhoud van die melk wat gelewer word.

Die verhoging van 52% in die minimum lone vir plaaswerkers in Maart vanjaar het die situasie verder laat versleg. “Ons betaal daardie lone, maar verhoogde produksie deur die werker is nie noodwendig aan die beter loon gekoppel nie.”

Melkprodusente in die Vrystaat het egter dié week gehoor dat daar steeds ‘n toekoms vir hulle in die melkbedryf is. ‘n Groot aantal melkprodsusente het reeds die bedryf verlaat.

Op die melkprodusente-organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein, het die hoof van die departement van landbou-ekonomie en landelike ontwikkeling aan die universiteit van Pretoria, Johann Kirsten, gesê dat verstedeliking en die bevolkingsgroei, verseker dat daar ‘n groot behoefte aan suiwelprodukte is.

 

Wit boere het ‘geen rede tot paniek nie’

Dan Kriek
Dan Kriek

Die voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), het boere Woensdag op dié organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein gerusgestel dat blanke in die Vrystaat geen rede tot paniek het oor grondgryp nie.

Dan Kriek het VL se verbintenis tot ordelike grondhervorming geprys met die aankondiging dat sy provinsiale grondoudit afgehandel is.

Kriek, sê dié inisiatief is die afgelope 18 maande met die samewerking van die staat aangepak en maak die Vrystaat die pionier-provinsie op dié gebied.

Dit is ’n poging om die ongeregtigheid van die nalatenskap van die Wet op Naturellegrond van 1913 reg te stel.

Kriek het vroeër in reaksie op die honderdjarige herdenking van dié wet gesê die nalatenskap daarvan kan nie verdedig word nie.

Kriek sê die regering se mikpunt om 30% van grond wat in 1994 in wit besit was aan swart eienaars te oorhandig, is onafdwingbaar.

Vrystaat Landbou en die provinsie se departement van grondsake se volledige grondoudit wys dat meer as 10,775 miljoen hektaar (86,39%) landbougrond in die provinsie in wit hande is.

Die totale landbougrondoppervlak in die Vrystaat meer as 12,196 miljoen hektaar waarvan 152 700 hektaar (1,22%) in swart privaatbesit is, en 209 000 hektaar deur die staat vir swartes aangekoop is. Ongeveer 5,31% is in staatsbesit.

Prof. Nick Vink, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die hoë persentasie wit grondbesit toon dat grondhervorming ’n “algehele mislukking is”.

Vink en prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, was gassprekers op die kongres.